Die dag toe Thatcher Afrikaans gepraat het

Margaret Thatcher en haar man, Dennis, op 9 Junie 1983. (AP Photo/Kemp, file)

Min mense weet dat Margaret Thatcher, die beroemde Britse premier, Afrikaans by ʼn universiteit gepraat het. Die geleentheid was toe UJ se voorganger, die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), in 1991 aan haar ʼn eredoktorsgraad toegeken het.

Sy het toe in Afrikaans gesê: “Afrikaners is met reg geheg aan hul godsdiens, hul kultuur en hul taal. Dit is ʼn taal wat uit Suid-Afrika se geskiedenis gegroei het. Afrikaans is die eerste taal van baie blankes, bruines en swartes. Laat Afrikaanstalige universiteite floreer. Laat hulle van krag tot krag gaan en laat hulle oop wees vir almal.”

Daar is egter nie na die Britse Ystervrou, soos sy genoem is, geluister nie. Die RAU het totaal getransformeer en verengels, en dieselfde proses voltrek hom nou by bykans al die voormalige Afrikaanse universiteite. Kom ons wees eerlik: die hele universiteitswese in die land staan voor ʼn bestaanskrisis. Die verdoemende verslag wat ʼn ministeriële komitee onlangs oor die verval en korrupsie by Unisa uitgebring het, is maar net die nuutste hoofstuk in hierdie hartseer verhaal.

Drie fases

Maar hoe het ons hier beland? Hierdie “padkaart na ondergang” het breedweg in drie fases verloop. Die eerste fase was besware dat universiteite soos Tukkies, Kovsies, RAU, Pukke en Maties Afrikaans en wit is.

In fase twee is dit toe na meertaligheid en ʼn betreklike ewewig van wit en swart studente verander. Dit het gou geblyk dat hierdie inderwaarheid toe net ʼn vinnige oorgangsfase was, en universiteite is met wisselende spoed op pad na fase drie, naamlik Engels en oorwegend swart studente. Dit het gebeur ten spyte van die Grondwetlike voorsiening (Artikel 29) vir ʼn enkelmedium Afrikaanse universiteit.

Hiermee saam het die wese en karakter, studentelewe en tradisies van die universiteite verander, en het dit geblyk dat die 4 “T’s” eintlik ʼn vierling was:

  • Transformasie beteken studente en personeel van elke kampus moet die land se bevolkingsamestelling weerspieël, in plaas van alle universiteite gesamentlik;
  • Taalverskuiwing na Engels het op die verandering van die studenteprofiel gevolg, en daar is van die Britse Ystervrou se standpunt vergeet;
  • Tuisvoel: waar transformasie gedryf is omdat sommige swart studente beweer het hulle voel nie tuis nie, voel Afrikaanse studente nou by talle kampusse ontuis en selfs onwelkom weens gereelde onrus;
  • Toegang: al hierdie aspekte beperk die toegang van Afrikaanse studente tot studiekanse al hoe meer, terwyl Afrikaanse studente inderwaarheid volop by minstens vier Afrikaanse universiteite toegelaat moet word.
  • Toe: die staatsuniversiteite is nou al vir bykans twee jaar met Covid-inperkings toe, en studente en dosente moes spook om die gehalte van onderrig hoog te hou, terwyl daar bykans geen studentelewe was nie.

Fase 4

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Dit word al hoe duideliker dat daar ʼn vierde fase aan die kom is, naamlik die “dekolonisering” oftewel “Afrikanisering” van universiteite. Hierdie fase is al by die meeste universiteite aan die gang, wat beweer dat die taal- en rassetransformasie maar net die voorwaardes vir “ware transformasie” van die akademie geskep het. Staatsuniversiteite se finansies begin ook ernstig knyp, onder meer oor die staatskas wat al leër word en die politieke en rassebeleid by hierdie instellings.

Universiteite gaan eerstens nie oor taal nie. Die wese van ʼn universiteit gaan oor wêreldklasopleiding en -opvoeding. Navorsing het oor en oor gewys dat die beste onderrig in ʼn student se moedertaal is, waarna hulle dit goed in hul tweede taal kan toepas. Die beste bewys hiervan is medici wat in Afrikaans studeer het, maar nou baie gesog in Engelse lande is.

Daarby is die kultuur van ʼn Afrikaanse universiteit soos Akademia só dat studente veilig en tuis voel, ook goed in Engels raak, ʼn lewendige studentelewe het, en toponderrig kry omdat ʼn privaat universiteit nie soveel politieke inmenging en rassebepalings het nie.

Dit bly tragies dat Suid-Afrikaanse universiteite nie na die raad van ʼn wêreldleier soos die Britse Ystervrou geluister het nie. Daarom moet ons werk om die bestaande ruimtes van akademiese uitnemendheid te beskerm, en terselfdertyd aan nuwe privaat universiteite soos Akademia bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oemfaan

Fase 1 was 1992 se JA stem. Maar gelukkig speel die bokke (kleinletter met opset) darem weer internasionale rugby.

Nici

As Akademia net vinnig genoeg kan uitbrei om kampusse in die Kaap en elders te bou.

Nici

Jordan Petersen se in sy boek, 12 Rules for Life, dat waar mense saamgegooi word in groepe sal hul altyd hul eie groep bevoordeel, dalk omdat dit hul sosiale voordeel en dus beter rang en uiteindelik magsposisie kan gee. Die uitsondering is waar die persoon sy eie groep as swak beskou. Dus sy eie groep het nie die mag en invloedom hom te gee wat hy wil he nie. In so ‘n geval sal hy ‘n ander groep steun. Dit het my dadelik laat dink aan Universiteit Stellenboch en hoe mense daar in magsposisies onregverdig opgetree het en die universiteit… Lees meer »

Gerhard

Die dominante filosofie van die wêreld vandag is postmodernisme wat basies beginsels soos waarheid, kultuur, gesin, godsdiens, geslag ens. ontken. Die enigste beginsel wat die wêreldsbeskouing wel erken is mag. Daarom sien jy onluste die wêreld oor as mense met so ‘n siening nie hul sin kry nie. Meeste Afrikaners en Afrikaanse instellings leef regtelik steeds met die oorsprongklike wêreldsbeskouing, maar ons maak die fout in dat ons dink almal leef met ons wêreldsbeskouing en sal dan dus ons beginsels respekteer. Hulle doen beslis nie! Wat is die antwoord? Ek dink Afrikaners en meeste konserwatiewe mense die wêreld oor moet… Lees meer »

Marthinus

Ek het Ja gestem, en is nie skaam of spyt daaroor nie. Ek was vir 26 jaar n staatsamptenaar (13 jaar NP; 13 jaar ANC), en, onder omstandighede, doen die staatsdiens nie so slegs as wat almal se nie. Daar is vrot appels, maar genadiglik is die jonges, die nuwe generasie, diegene watn eerstewereld wil he, die korruptes begin uitsnuffel en uitwerk. Oor Engels wat afgedruk word: die groot probleem is Engelssprekende wit vroue (en Indiers), wat weier om enige taal anders as Engels te praat. Hulle is in invloedryke posisies, en druk die verengelsing. (Kyk hoeveel direkteurs-generaal is daar,… Lees meer »