Die einde van ‘Francafrique’

Charles de Gaulle by die inhuldiging van die Brazzaville-konferensie in 1944 (Foto: Wikipedia)

Die Franse president Emanuel Macron het aangekondig dat Frankryk sy 1 500 troepe uit die Wes-Afrikaanse staat Niger onttrek, twee maande na die staatsgreep daar.

Die nuwe bewindhebbers maak geen geheim uit hulle anti-Franse houding nie en het reeds die Franse ambassadeur die trekpas gegee. Daarmee is die samewerking met Niger, tot en met die staatsgreep Frankryk se tweede laaste bondgenoot in die streek, beëindig.

Reeds vantevore het twee ander Wes-Afrikalande, Burkina Faso en Mali, die militêre samewerking met Frankryk beëindig en is die troepe onttrek. In die twee lande het staatsgrepe die pro-Franse leiers verwyder, blykbaar met behulp van Russiese huursoldate van die Wagner-groep. Meer onlangs was daar ook ʼn staatsgreep in nog ʼn voormalige Franse kolonie met tradisioneel sterk bande met Frankryk, naamlik in Gaboen.

Tans is dit nog nie duidelik of die nuwe bewindhebbers ook die bande met Frankryk wil breek nie, maar die afgesette president Ali Bongo was wel ʼn noue bondgenoot van Frankryk. Net met Tsjaad, waar Frankryk ook ʼn militêre basis onderhou, bestaan nog goeie verhoudinge.

Die aankondiging van die onttrekking uit Niger is ʼn verdere spyker in die doodskis van die konsep van Francafrique. Die term verwys na Frankryk se voortgesette politieke, militêre en ekonomiese betrokkenheid in sy voormalige kolonies in Afrika, wat omtrent almal in 1960 onafhanklik geword het, maar sterk bande met die eertydse moederland behou het.

Dit was veral die beleid van president Charles de Gaulle (president van 1959 tot 1969) en is deur sy opvolgers voortgesit. Vir de Gaulle was dit belangrik dat Frankryk sy eertydse glorie en invloed, veral teenoor die ewige kompetisie van die Engelssprekende wêreld, behou. Frankryk se invloedsfere is veral in twee streke sterk, naamlik in Wes-Afrika en Sentraal-Afrika. Die eertydse Noord-Afrikaanse kolonies daarteenoor het na onafhanklikheid ʼn redelike breuk met Frankryk ingelui.

Die noue bande tussen Frankryk en sekere van sy voormalige kolonies was gewoonlik voordelig vir beide kante. Dit het egter ook beteken dat Frankryk sekere diktatoriale leiers finansieel en selfs militêr gesteun het om stabiele verhouding te handhaaf. Eksemplaries is daarvoor die langdurige outokratiese leier Felix Houphouët-Boigny van die Ivoorkus, wie se land een van die meer voorspoedige en stabiele state in Afrika was, in teenstelling met Guinee, wat heeltemal met Frankryk gebreek het en sy heil eerder by die internasionale sosialisme gesoek het, met rampspoedige gevolge.

Frankryk se noue bande met sekere diktators het egter dikwels ʼn verleentheid geword vir ʼn land wat menseregte en demokrasie so hoog op die prys stel.

Ekonomies is die bande tussen Frankryk en die meeste van sy eertydse kolonies vasgeskryf deur die instelling van ʼn gesamentlike geldeenheid, die “CFA-Frank” (CFA staan vir Communaute Financiere d’Afrique) wat binne die Franse Gemenebes geld en aan die Franse Frank, en sedert 1999 aan die Euro, gekoppel is. Dit het handel tussen Frankryk en die CFA-lande vergemaklik. Die CFA-geldeenheid ondergaan egter tans veranderinge om die Afrika-lande groter finansiële soewereiniteit te gee, sodat Frankryk se invloed ook hier taan.

Die geleidelike verandering van die verhoudinge tussen Frankryk en sy voormalige kolonies is al jare gelede ingelui, maar het onder Macron spoed opgetel. Macron en sy twee voorgangers Francois Hollande en Nicholas Sarkozy behoort almal tot ʼn nuwe generasie wat nie meer uit die era van de Gaulle en die strewe na Franse roem en eer kom nie en wat ook nie Afrika verstaan nie.

Hulle denke is gefokus op die vereniging van Europa en hulle het grootgeword in ʼn tyd waar kolonialisme op skool en universiteit as groot euwel daargestel is en Frankryk se hardhandige en paternalistiese optrede in sy kolonies wyd gekritiseer is en sy stabiliserende en beskawingsrol totaal ontken is. Macron het byvoorbeeld Franse kolonialisme as “misdaad teen die mensdom” beskryf, iets waardeur hy net Frankryk se vyande in Afrika versterk het.

Die verhoudinge met Afrika sou volgens Macron, Hollande en ander op gelyke vennootskap berus, wat goed klink, maar die teendeel bereik het: sedert Frankryk nie meer kragdadigheid en trots uitstraal nie en ook nie meer ten gunste van vriendelike regerings optree nie, wend dié lande hulle eerder na state wat bekend is vir hulle hardhandigheid, soos Rusland en China.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Renier ·

Ek bly en werk in Dakar,Senegal. Baie mense hier,veral die jong garde,wil graag ook van die franse invloed ontslae raak. Wat hulle nie besef is dat sodra dit gebeur,is daar geen rede on die cfa gekoppel te hou met die euro,wat sal beteken die geld waarde sal drasties veswak . Dit aleenlik sal baie negatief wees vir die hele wes afrika.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar Franse sportspanne wemel van mense van Francafrique.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.