Die geleentheidskostes van beleidshervorming

Prof. Waldo Krugell (Foto: Verskaf)

Van die min dinge waaroor Suid-Afrikaanse burgers saamstem is die ekonomiese uitdagings wat ons land in die gesig staar – ʼn lae ekonomiese groeikoers, hoë werkloosheidskoers, armoede en ongelykheid. Daar is selfs redelike konsensus oor die oorsake van hierdie probleme. Suid-Afrika het ʼn klein, oop ekonomie wat ver van wêreldmarkte af is, die ekonomie is gebou op mineralerykdom, maar het al gedeïndustrialiseer, en die gevolge van apartheid is nog met ons. Burgers en beleidmakers is dit eens dat ingrypende hervorming nodig is, en dit is waar ons vasbrand.

Die hervormingsplanne wat voorgestel word lê gewoonlik op ʼn spektrum van markgeoriënteerde liberalisering tot ʼn ontwikkelingstaat. Oor die laaste 28 jaar was daar al baie amptelike planne, strategieë en inisiatiewe (en ek gebruik sommer die bekende Engelse akronieme), vanaf die RDP, GEAR, AsgiSA, NGP, NDP, tot die sogenaamde Tesourie-dokument, nog onder Minister Mboweni, en die ERRP.

Tans gaan die regering se planne om die ekonomie aan die groei te kry en werk te skep breedweg oor infrastruktuur-investering in spoorweë en hawes, oor elektrisiteitsopwekking, hervorming van regulering, ondersteuning van klein besighede, lokalisering, arbeidsintensiewe groei in die landbou- en dienste-sektore, en streeksintegrasie. Dit lê iewers in die middel van die ideologiese spektrum waar die mark en die staat ʼn rol het om te speel. Die laaste jaar of wat klink dit of die rol van markkragte die oorhand het. Die vraag word dan, hoekom sukkel ons so met die implimentering?

Die maklike antwoord is om te sê dit is as gevolg van die faksies binne die regering, verskillende departemente wat dwars trek, of sommer net oneffektiwiteit en onbekwaamheid. Dit is sekerlik deel van die storie, maar ek dink daar is ʼn meer grondliggende uitdaging om die staat, arbeid, besigheid en gemeenskap se inkoop te kry, en die opofferings te maak wat nodig is om die planne te laat werk. Een rede hiervoor is dat groot makro-ekonomiese strategieë nooit baie duidelik is oor hulle aannames nie. Die ander is dat hulle ook nie duidelik is oor die afkope nie.

Om oor die aannames van makro-ekonomiese planne te dink hoef nie tegnies te raak nie. Wat sal die privaat sektor se reaksie wees op investering in netwerkbedrywe? Gaan hulle dadelik inspring, of wag en kyk? Hoe sal die markte reageer as deel van Eskom se skuld deur die regering (belastingbetaler) oorgeneem word? Sal ʼn basiese inkomstetoelaag net help om armoede verlig, of veroorsaak dat mense nog hoër lone gaan verwag om te werk? Die meeste strategieë probeer nie om sulke moeilike vrae te beantwoord nie en dan word dit minder van ʼn plan en meer van ʼn groot sosiale eksperiment.

Ekonome dink oor die gevolge van die besluite wat ons neem (of nie neem nie) as geleentheidskoste. Die geleentheidskoste van die opsie wat jy kies, is die waarde van die opsie wat jy nie kies nie. As daar meer geld op toelae bestee word is die geleentheidskoste die infrastruktuur-instandhouding wat jy nie gedoen het nie. As jy die kleinhandel brandstofbedryf dereguleer is die geleentheidskoste die konsolidasie van die bedryf en werksverliese. Gewoonlik word daar maar min gesê oor die geleentheidskoste van verskillende opsies.

ʼn Uitsondering is ʼn onlangse OECD-verslag wat ʼn aantal aanbevelings gemaak het oor beleidshervorming in Suid-Afrika. Die aanbevelings sluit in beter bestuur van openbare ondernemings, meer effektiewe owerheidsinvestering, en verhoging van produktiwiteit deur verbeterde infrastruktuur en opleiding. Hulle stel ook privatisering voor, en die vermindering van die staat se loonrekening, en die hervorming van die kollektiewe bedingingstelsel.

Dit is voorstelle waaroor die meeste van ons instemmend sal knik, maar dan verduidelik hulle wat dit sal kos. Om vir dit alles te betaal stel hulle voor dat die basis van maatskappy- en persoonlike inkomstebelasting verbreed moet word. Om die effektiewe belastingkoers wat betaal word te verhoog, stel hulle voor dat toelaatbare aftrekkings verminder moet word. Hulle stel ook voor dat die BTW-koers met 2 persentasiepunte verhoog kan word vanaf 15% na 17%.

Dit is net menslik om graag die verbeterings of voordele te wil hê sonder die koste, maar dit is nie hoe die lewe of beleidshervorming werk nie. Ons kan nie meer bestee sonder om belasting te verhoog nie. Ons kan nie meer produktief word sonder dat dit lone raak nie. Maar dit is moeilike afkope om almal te kry om oor saam te stem en die gevolg is dat die meeste van die goeie planne net dokumente bly wat oor ʼn paar jaar ʼn nuwe akroniem kry en van vooraf groei en werkskepping belowe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Waldo Krugell

Waldo Krugell is ‘n professor van Ekonomie aan die Noord-Wes Universiteit. Hy stel belang in die ekonomiese nuus asook wat dit vir huishoudings en besighede beteken. Luister ook na sy potgooi: Die Ekonomie Minuut.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.