Die gevaar van digitale onttrekking

Foto bloot ter illustrasie (Foto: Nalau Nobel/Unsplash)

“Waarom het bedrade oorfone ʼn terugkeer gemaak? Ek het letterlik so pas my AirPods gekry.” So vra ʼn Reddit-gebruiker onlangs op ʼn gespreksblad onder die opskrif “No Stupid Questions”.

Dit is inderdaad nie ʼn dom vraag nie. Koordlose (“wireless”) oorfone is uit. Koord- (“wired”) oorfone is in. So kondig talle sosiale- en tegnologieblaaie deesdae aan. Dit is nie net daardie klein Apple-oorfoontjies wat in die mode is nie. Hoe groter die oorfone, hoe beter!

Daar is ʼn paar redes hiervoor, soos dat oorfone met koorde beter klankgehalte bied en dat dit nie batterye benodig nie. Die gewildheid van koordlose oorfone is egter nie bloot om praktiese redes nie. Dit is eenvoudig “cooler” om dit nou maar te sê soos dit is.

Hierdie “cool”-faktor word veral deur twee idees onderlê… En ʼn mens hoef nie lank daaroor na te dink om in te sien dat hierdie twee idees nie met mekaar versoen kan word nie.

Die eerste is dat koorde “outyds” of “retro” is en dat daar veral onder jongmense ʼn hunkering na die “goeie ou dae” is. Dit is die goeie ou dae wat hulle nie self beleef het nie, maar waarvan hulle ʼn idee kry as hulle na ou flieks kyk en na die musiek van jare gelede luister. Hierdie indruk behels dat die goeie ou dae beter en lekkerder was as die hede en dat daar toe aansienlik minder spanning tussen mense was.

Die tweede is dat die koord sosiale onttrekking bewerkstellig. ʼn Koord wat al die pad van jou ore na jou hand of broeksak gaan, skep afstand tussen jou en die persoon wat oorkant jou in die koffiewinkel of die bus sit. ʼn Wit kabel soos Apple s’n is nog beter, want dit is duideliker sigbaar. Die kabel beklemtoon die feit dat jy “op ʼn ander plek” is en maak só jou ontoeganklikheid en afgesonderdheid duidelik. In die hedendaagse wêreld word ontoeganklikheid mos met selfstandigheid verwar. Dit sê terselfdertyd “ek is cool” en “moenie met my praat nie…” of miskien selfs: “moenie met my praat nie, want ek is cool”.

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

Dit behoort niemand te verbaas dat sosiale onttrekking tot ʼn verlies aan sosiale aanvoeling lei nie. Terwyl ons lees hoe mense al hoe meer daarvan hou om hulleself van die wêreld af te sonder en na ʼn digitale wêreld te ontsnap, hoor ons al hoe meer van donker dinge soos depressie en narsisme. Hoewel die wêreld vandag in materiële terme beter daaraan toe is as op enige vorige tydstip in die geskiedenis, is daar hoër vlakke van wantroue tussen mense as wat ooit voorheen vasgestel kon word.

Ek het onlangs geluister hoe ʼn groep laerskoolkinders kuier toe hulle begin tel hoeveel “YouTubers” in hulle onderskeie skole is – met die duidelike aanname dat die skool met die meeste YouTubers die beste is. Ons sien hierdie verskynsel ook in nuwe peilings onder kinders wat toenemend sê dat hulle sosialemedia-beïnvloeders (“influencers”) wil word as hulle groot is.

Om mense deur middel van sosiale media te beïnvloed is nie op sig self goed of sleg nie. Die vraag is natuurlik watter soort beïnvloeding dit is en vir watter doel dit is.

Die gevaarligte flikker egter wanneer mense aan die een kant nie in staat is om vriende te maak of te behou nie, maar dit terselfdertyd hul lewensdoel maak om die einste samelewing waarin hulle self geen rol speel nie deur sosiale media te verander. Hierdie ligte flikker nog helderder wanneer mense uitvind dat jy die “kode” kan kraak deur die algoritmes tot jou voordeel aan te wend om meer “likes” en “shares” te kry. Dit lei tot die eienaardigste dinge wat deesdae in die digitale wêreld beloon word, soos hoërskoolkinders wat ʼn platform bou deur video’s te plaas waarin hulle ʼn wind voor oumense laat, en sosialemedia-“aktiviste” wat sélf niks doen nie, behalwe om luidrugtige politieke uitsprake te maak.

Hierdie “aktiviste” (aan die linker- én regterkant van die spektrum) maak graag uitsprake soos “genoeg is genoeg” en “vandag trek ons ʼn streep in die sand”, tot groot vermaak van hulle gehore, terwyl hulle in die regte wêreld nooit werklik tot die aksie oorgaan waarvan hulle die hele tyd praat nie.

Ons – en veral ons kinders – moet verstaan dat daar inderdaad goeie redes is waarom ons met heimwee oor die “goeie ou dae” kan dink. Die verlede het sy probleme gehad – ander probleme as dié waarmee ons vandag worstel. Dit is wel so dat daar minder spanning en wantroue tussen mense was, veral in gemeenskapsverband. Hierdie verlies aan verbondenheid is juis die gevolg van sosiale onttrekking. Dit is mos ooglopend dat verdere sosiale onttrekking nie die antwoord kan wees op ʼn probleem wat juis deur sosiale onttrekking geskep is nie.

Ons kan nie die digitale wêreld vermy nie. Dit sal tot ons nadeel wees om dit te doen. Die digitale wêreld is deel van ons wêreld en ons moet dit gebruik. Ons moet egter nooit vergeet dat die digitale wêreld nie die regte wêreld is nie. Om te glo dat ʼn persoon se waarde (en waardigheid) gemeet kan word op grond van die dinge wat hy of sy op die internet doen en sê, is die logiese ekwivalent daarvan om te glo dat jou bure se huwelik gesond is omdat hulle mooi foto’s op Facebook plaas.

Dit sal ʼn groot fout wees om ons kinders van die digitale wêreld te isoleer. Om dit vandag te doen is in elk geval ondenkbaar. Daarteenoor moet ons veral daarteen waak dat ons kinders nie na die digitale wêreld onttrek en in die proses van die regte wêreld geïsoleer word nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hussin ·

Sosiale onttrekking is nie die probleem nie.
Mense is nou net in staat daartoe om ander se ware kleure vinniger te sien.
Daar is werklik baie min ware “goeie mense” en dit kom gou na vore met alles tot ons beskikking.
Vertrou en sosiale gemak beteken niks as jy permanent misbruik en bedrieg gaan word. Dit is die meeste mense se natuurlike instink. Self verryking.
As jy dink dit is nie die geval nie leef jy in ‘n lieflike droom wêreld. Dit is die probleem, een wat nooit opgelos gaan word nie.

skurweberg ·

Hussin@. Jy het goeie insig in die realiteit van die invloed wat sosiale media op almal het, nie net op die jeug wat ‘n spesifieke teikens is.

skurweberg ·

Ek sal ouers en opvoedkundiges aanraai om hoofstuk twee “Jeugweerbaarheid in ‘n Tegnologiese Maatskappy” uit die bundel “Jeugweerbaarheid” te lees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.