Die groter ideaal: Taal, onderwys en universiteite in die lewe van die Afrikanervolk

kunste-gebou-van-up

Die ou kunstegebou van die Universiteit van Pretoria soos dit gelyk het in 1910 Foto: en.wikipedia.org

Onder die huidige omstandighede van geen respek vir die tradisie van universiteite, die stigters daarvan, die ontwikkelingsgang en die inhoud van kennisoordrag nie, is dit noodsaaklik om in die herinnering te roep hoe Afrikaners die instellings van kennis in Suid-Afrika help opbou het. Dit is nodig dat ruiterlik erken moet word hoeveel inspanning, inspirasie en materiële goedere onvermoeid gemobiliseer is om die instellings tot stand te bring waardeur die voortgang van die samelewing bedien kan word.

Die anargie op universiteitskampusse sedert 2015 het niks te make met opvoeding of intellektuele vorming nie. Dit gaan nie oor die toekomsperspektief van fondamente lê, ambisie om te presteer of om intellektueel te groei ten einde by te dra tot die voortgang van die samelewing nie. Wat wel seker is, is dat die geskiedenis van Afrikaners en onderwys, opvoeding en hoër onderwys in Suid-Afrika onlosmaaklik gekoppel is aan die sistematiese bou aan ʼn identiteit, ʼn roeping en dienstigheid aan die groter geheel. Mens kan eers die tragiek van die huidige anargie begryp as mens in herinnering roep hoe duur die opbouproses was.

Ons welvarende geslag van die een-en-twintigste eeu laat na om te onthou waar die welvaart vandaan kom. Die grootste gros Afrikaners moes na die Tweede Vryheidsoorlog in grenslose verwesendheid totale uitsigloosheid hanteer. Met die grond verskroei, materiële middele vernietig en vryheid verpletter, was daar net een uitweg. Dit was: herbou. Die heropbou was gesetel in die saamsnoer van alle kragte, leierskap en middele om die verslaenes op te hef.

Die opheffingstaak was nie alleen materieel nie, maar hoofsaaklik in selfrespek en ʼn toekomsgerigtheid. Die proses van heropbou was inderdaad ʼn ‘weer opbou-proses’, dit wil sê die fondamente van volksbestaan was verniel, maar nie vernietig nie. Die eerste hoeksteen van heropbou was om die taal van die Afrikaner, soos wat dit in daardie stadium in wording was, te bevestig in die aanskyn van die meerderwaardige Britse totale verengelsingsbeleid.

Die stryd om die erkenning van Afrikaans, of soos dit destyds genoem is, Vereenvoudigde Nederlands, was reeds diep gesetel in die groter politieke aanspraak om erkenning van die taal van Afrikaanssprekendes in die Kaapkolonie teen die laat 1880s. Die Afrikaanse Taalgenootskap (gestig in 1905), die Zuid-Afrikaansche Onderwysersunie (ZAOU – gestig in 1905) en die Afrikaanse Taalvereniging (1906) het albei aangedring op die erkenning van Afrikaans of Vereenvoudigde Nederlands onder Britse oorheersing. Die taalstryd was ook ʼn stryd om die erkenning van die identiteit van die sprekers.

ʼn Groot deel van die aandrang om die erkenning van die taal was dat dit as onderrigmedium erken moes word. JH Hofmeyr van die Afrikanerbond het selfs daarin geslaag om Cecil John Rhodes daarvan te oortuig om ʼn kommissie van ondersoek in 1891 aan te stel om die onderrig van Nederlands op skool te ondersoek.

Rhodes het ook op aandrang van Hofmeyr daarteen besluit om ʼn uitsluitlik Engelse residensiële universiteit in die Kaapse Skiereiland te stig. Die intense onderhandelings om die Unie tot stand te bring, het herhaaldelik die pleidooi aangehoor dat gelykberegtiging tussen Nederlands en Engels wesenlik was vir die selfrespek van die Afrikaner en dit sou die simbool wees van die gelykheid tussen die twee kultuurgroepe. Die gelykberegtiging tussen die tale is uiteindelik in die grondwet verskans en in 1925 is Afrikaans as tweede amptelike taal in die Unie verseker by wyse van wetgewing.

Die erkenning van taalgelykheid het saamgeval met die oproepe om ʼn grondige studie van Nederlands, sodat Afrikaans as taal uitgebou kan word. Terwyl pogings aangewend is om staatkundige eenheid te bewerkstellig, het die gedagte van wetenskaplike ontwikkeling van Afrikaans geleidelik vorm aangeneem.

Uiteindelik het Afrikaners op eie inisiatief die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst op 2 Julie 1909 gestig. Hierdie gebeurtenis is van groot belang vir die geskiedenis van die omgang van Afrikaners met onderwys, opvoeding en Afrikaans as medium, waardeur volksvoortbestaan bestendig moet word. Die organisasie is breedweg deur Afrikaanse taalorganisasies en koerante beskou as beklee met voldoende gesag om in belang van die taal op te tree. Die organisasie is vandag bekend as die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Met hierdie nederige, maar idealistiese begin, het Afrikaners deur middel van hierdie inisiatief uiteindelik ʼn reusebydrae gelewer tot die ontwikkeling van wetenskap in Afrikaans in letterkunde en in ekonomiese, natuur- en geesteswetenskappe. Deur middel van hierdie private organisasie, wat ingevolge ʼn private wet van die Unie se parlement in 1921 bevestig is, het Afrikaners, sonder enige staatshulp, Afrikaans as wetenskapstaal gevestig.
Afrikanerleiers op verskillende vakgebiede het Afrikaners se toetrede tot en deelname aan die ontwikkeling van wetenskap en kuns bewerkstellig. Afrikaans is as wetenskapstaal uitgebou om die voertuig te wees vir volksbemagtiging op alle terreine van die volk se bestaan.

Afrikaanse studente het hulself in verskeie vakrigtings bekwaam aan die verskillende kolleges tot hul beskikking, naamlik die South African College (gestig in 1829, later Universiteit van Kaapstad) en Victoria Kollege (gestig in 1886 uit die Stellenbosch Gimnasium en later Universiteit van Stellenbosch), die Grey-universiteitskollege op Grahamstad (gestig in 1904) en die Transvaalse universiteitskollege (gestig in 1907). Al hierdie kolleges het eksamens afgelê onder die toesig van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop, wat slegs ʼn eksaminerende liggaam was en dus geen onderrig verleen het nie.

Nederlandstalige studente het hulle ook aan universiteite in Nederland bekwaam. Die Akademie het sedert 1911 vertoë begin rig vir die onderrig in Afrikaans aan die plaaslike universiteite. Daar was reeds voor 1909 inisiatiewe aan die gang om onderwysers in Afrikaans op te lei vir moedertaalonderwys. Toe inisiatiewe ontwikkel is kort na Uniewording om ʼn enkele volwaardige universiteit in Suid-Afrika te vestig, was die gevaartekens vir lede van die Akademie duidelik.

Die promotors van die enkele universiteitsgedagte was Britsgesinde Randlords. Die voorstel het die moontlikheid ingehou dat die onafhanklikheid van die Victoria Kollege in gedrang kon kom en dat daar sekerlik geen onderrig in Nederlands of Afrikaans sou plaasvind nie. ʼn universiteitswaaksaamheidskomitee is in die lewe geroep, waartoe vele Akademielede behoort het, om Stellenbosch te behou vir hoër onderwys aan Afrikaanssprekendes.

Kapp haal die vertoë van die waaksaamheidskomitee aan in ʼn memorandum aan die minister van onderwys, FS Malan: “Stellenbosch is sinds jaren innig verbonded met het geestelik, zedelik en nationaal level van het Hollandssprekende gedeelte van het volk. Zij is de plaats, waar het Afrikanervolk zijn idealen het best kon verwezenlik – …Zij is daarom voor het volk geworden niet een blote opvoedingsinrigting onder andere, maar een symbool en de waarborg van zijn eigen krachtig, groeiend, uitdrukking zoekend nationaal leven’ (Kapp, 2009:336).

ou-universiteit-stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch se administratiewe gebou in 1956 Foto: sun.ac.za

Met hierdie gedagte is alles in werking gestel om ʼn eie universiteit op Stellenbosch tot stand te bring, een waar die taal van die Hollandssprekende in onderrig gestalte sou kon kry. Met die goedhartige skenking van £100 000 deur die weldoener Jannie Marais in 1915, het die Universiteit van Stellenbosch dan die eerste universiteit in Suid-Afrika geword waar die taal van Afrikaners in die wetenskaplike omgewing erken, gebruik en verder uitgebou is.
Die belangrike opmerking is dat Afrikaners self die erns openbaar het om die politieke tendens, wat tot een enkele Engelstalige universiteit sou lei, te beïnvloed. Die taalbeweging, wat uitgeloop het op die Akademie in 1909, het kritiese massa gebou, wat toenemend aangewend is om te verseker dat hoër onderwys deur moedertaalonderrig verseker word.

Afrikaners het self met verdrag op die gebruik van Afrikaans in onderrig aan universiteitskolleges aangedring. In 1919 het studente aan die TUK die senaat gedwing om vakke in Afrikaans aan te bied. Die Akademie het noue bande opgebou met universiteitsbesture landwyd en deur hulle eie fondsinsameling in 1930 die leerstoel in Nederlandse Kultuurgeskiedenis en in 1931 die leerstoel in Afrikaanse Kultuurgeskiedenis laat vestig aan die Universiteit van Pretoria.

Die Akademie het op sy jaarvergadering in 1936 besluit om hom te beywer vir die daarstel van ʼn mediese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria, ʼn inisiatief wat gevolg is deur steun vir die instel van ingenieursfakulteite ook aan UP, US en die latere US mediese fakulteit in 1956.

Die Akademie het nie net daadwerklik hulp verleen met inisiatiewe om bepaalde professionele opleiding aan Afrikaanstalige universiteite te vestig nie, maar ook sistematies gewerk aan taalontwikkeling. Laasgenoemde was die voorwaarde vir die voortgang van Afrikaanse akademici, sakelui, professionele persone en ʼn leierskorps op alle terreine van die samelewing. Vandaar het die stryd begin om die gelykberegtiging van Afrikaans. Dit is beloon met die amptelike erkenning van Afrikaans naas Engels as die amptelike taal.

akademie-berig

Foto: en.wikipedia.org

Die Akademie het taalontwikkeling as erns aangepak met verskeie inisiatiewe. Die eerste was samewerking met die Taalbond sedert 1912, om tweetaligheid te bevorder, deur gereelde taaleksamens landwyd. Dan het vaktaalontwikkeling begin. In 1912 is die Kommise voor Taal en Letteren gestig om die eerste taalreëls vir Afrikaans op te stel. Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls was ʼn Akademie-inisiatief en is tot vandag rigtinggewend.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is deur die regering onderneem, maar sedert die sestigerjare was daar goeie samewerking tussen die WAT en die Akademie. Die Akademie het egter doelgerig vaktaal ontwikkel. Verskeie lede van die Akademie het vrywillig vaktaal vir hulle onderskeie vakterreine ontwikkel.

Op hierdie wyse is vaktaal in Afrikaans ontwikkel vir wiskunde, landmeetkunde, plantkunde, skeikunde, die versekeringswese, landbou en bosbou, tekstielterminologie, ʼn voorlopige geneeskundige woordeboek, ʼn voorlopige fisiese woordeboek en in 1949 het die Akademie die Afkortings van Internasionale Eenhede gepubliseer (Kapp, 2009: 126). Hierdie onderneming het so uitgebrei dat die staat ʼn ooreenkoms met die Akademie aangegaan het om deur sy Vaktaalburo verdere vakwoordeskat te ontwikkel vir Afrikaans. Dit was die eerste keer dat subsidiëring deur die staat bekom is om die woordeskatontwikkeling te doen.

Afrikaans as medium van onderrig, professionele en tegnies gespesialiseerde werk, navorsing en publikasie het dus uit die volk gegroei. Die ander dimensie van bemagtiging was opleiding en onderwys. Die bevindinge van die Carnegie-kommissie van 1932, dat die omvang van wit armoede onrusbarende afmetings aangeneem het, het weereens Afrikanerleiers gemobiliseer om antwoorde te vind.

Naas die ekonomiese bemagtigingsinisiatiewe van die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939, was daar die saamstaan, spaar en opbou-inisiatief deur die Reddingsdaadbond (RDB). Dit is spesifiek aan die RDB opgedra om handels- en tegniese onderwys onder Afrikaners te bevorder. Hoewel die mobilisering van spaarfondse deur die RDB hoofsaaklik aan sake-ontwikkeling toegewys is, is deel van daardie fondse ook gebruik om studielenings toe te staan, veral aan studente in handelsrigtings.

Die Ekonomiese Instituut van die FAK het die RDB gehelp met die bestuur van die fondse. RDB-takke is oor die land heen gestig en lede het maandeliks bydraes gegee waardeur ʼn fonds opgebou is om die doelstellings te verwesenlik. Die RDB het begin juis toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Afrikaners moes onder uiters moeilike omstandighede oortuig word om aan te sluit, by te dra en te werk om die oogmerke te verwesenlik.

Verder het die EVK ook besluit om ʼn Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) te stig om bedryfsleiding en voorligting te gee aan sakelui en praktiese voorligting te doen, veral vir jong sakelui. Die AHI het self ook ondersoeke onderneem oor besigheid, waardeur die opleidingsfunksie van universiteite en kolleges ondersteun is. Die getal studente in handelsrigtings aan universiteite het tussen 1940 en 1960 feitlik verdubbel, ʼn tendens waarop die RBD en AHI hulself geroem het.

Dit het duidelik geword dat ʼn totale netwerk van organisasies en inisiatiewe geïntegreerd saamgewerk het om Afrikaners te bemagtig. Universiteite was deel daarvan. Hierdie direkte betrokkenheid by universiteitsopleiding is verder gevoer tydens die Tweede Ekonomiese Volkskongres (TEVK) in 1950.

Toe die RDB in 1950 ontbind is, het dit meer as £19 000 net aan studielenings toegestaan. Slegs vir hoër- en vakkundige opleiding het die RDB £34 750 aan meer as 400 Afrikanerstudente toegestaan. Dit was volksgemobiliseerde spaarfondse wat versprei is vir opleiding aan instellings van hoër onderwys.

Verder het die RDB handelskole opgerig om Afrikanerkinders te help om die sakewêreld te betree. Uiteindelik het die staat subsidies aan skole, spesifiek in Ermelo en Johannesburg, gegee. Dit het bywoning meer bekostigbaar gemaak, maar die aanvanklike inisiatief het van Afrikaners self gekom. Die besluit om die RDB te ontbind in 1950 is geneem vanweë die feit dat sy doelstellings grootliks verwesenlik is. Afrikaners het ekonomies begin opstaan en die onderrigprogram deur universiteite en kolleges was op dreef.

Dit is ook welbekend dat toe Afrikanerleiers die behoefte aan ʼn Afrikaanstalige universiteit aan die Witwatersrand geïdentifiseer het, fondse oor ʼn baie breë front ingesamel is om die staat te oortuig van die erns van die saak. Die stigting van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg in 1968, was die toonbeeld daarvan dat Afrikaners eienaarskap geneem het van die belangrikheid van universiteitsopleiding vir hulle kinders.

Natuurlik is alle Suid-Afrikaners daar welkom geheet, maar die onderrigmedium was Afrikaans in sy mees verfynde en gesofistikeerde vorm. Die RAU het in ʼn kort tydperk homself gevestig as ʼn instelling wat hoë gehalte graduandi afgelewer het in diens van Suid-Afrika. So het Afrikaners gebou aan universiteite. Onderwys in die moedertaal was die sluitsteen van volkstrots en selfverwesenliking.

Wanneer die anargie op plaaslike universiteitskampusse teen hierdie agtergrond in heroorweging geneem word, is dit duidelik dat Afrikaners konstruktief op armoede en sosiale marginalisering reageer het. Onderwys is sentraal gesien tot die opheffing van mede-Afrikaners uit armoede en magteloosheid. Afrikanerleiers het die verantwoordelikheid aanvaar om strategieë te bedink om universiteitsopleiding te verseker. Onderwys in die moedertaal was sentraal tot identiteitshandhawing en volkstrots.

Wanneer die toestand op sy donkerste voorgekom het, het Afrikaners private organisasies op die been gebring om die doelstellings van taalhandhawing, taalopbou en taalverryking te verwesenlik. Afrikaners het die Akademie gebruik om die omgewing te skep waarin hoër onderwys aan sy volksgenote kon geskied. Terselfdertyd sou dit bydra tot die algemene vooruitgang van Suid-Afrika.

Verder het Afrikaners self hul spaarfondse gemobiliseer om hul jongmense in staat te stel om hoër onderwys te bekom. Afrikaners het nie die staat daarvoor verantwoordelik gehou nie, maar self uitkomsstrategieë bedink. Dit is inderdaad so dat die staat later die dinamiese krag van die Akademie erken het en by wyse van subsidies die taalbouprogramme gesteun het.

Die Akademie het ʼn sleutelrol gespeel in die daarstel van spesialis professionele opleiding deur fakulteite vir daardie opleiding. Afrikaners het self fondse ingesamel om daardie fakulteite tot stand te bring, omdat hulle mede-eienaarskap geneem het van die noodsaak van hoër onderwys vir die vooruitgang van Suid-Afrika. Uiteindelik het die staat ook daartoe bygedra, maar Afrikaners se eie spaarfondse het die grondslag gelê van universiteite.
Die huidige vernietiging onderstreep dat waar mens nie gebou het nie, geen inherente waarde aan geheg word nie. Anton Rupert het in 1966 by die afsluiting van die Akademie se jaarvergadering gesê: goedgesindheid of rykdom word nie deur ʼn weggeebeleid geskep nie. Net so dra die aftakeling van universiteite wat Afrikaners help bou het, vandag nie by tot goedgesindheid nie. Dit mag loon om ʼn veer te neem uit die hoed van Afrikaners wat gebou het.

  • Grietjie Verhoef is ‘n professor in ekonomiese en sake-geskiedenis aan die Universiteit van Johannesburg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Fanie ·

Hierdie uitstekende stuk wys weer hoekom Prof Grietjie Verhoef ‘n top historikus is. Dankie hiervoor. Churchill het gesê hoe verder mens in die toekoms wil sien, hoe verder moet mens in die verlede inkyk. Vandag se krisis is nie nuut nie, Afrikaners het al soortgelyke krisisse oorkom. Kom ons Bou saam aan oplossings, ipv net te kla oor probleme.

JC ·

Baie, baie dankie Prof, kom ons bou saam aan ‘n nuwe pragtige Afrikaanse Universiteit, met kampusse regoor ons land! ONS HET, EN ONS SAL WEER, BOU.
NIKS KAN ONS STOP BEHALWE ONSSELF NIE, ONS IS ONS EIE ENIGSTE BEPERKING OOR HOE VER ONS KAN GAAN!!
KOM ONS BOU VOORT, MY MEDE AFRIKANERS, KINDERS VAN SUID-AFRIKA, TE MIDDE VAN AL DIE AFBREUK RONDOM ONS!!

Pietman ·

Goeie artikel. maar daar altyd initiatiewe wees om ons taal as hoër onderrigmedium te handhaaf.

Steve Hofmeyr ·

Ons het in 2016 ons laaste universiteite weggegee, op ‘n skinkbord nogal. Dit was maklik. Jy begin met ‘n gemoedelikheid oor taalbeleid en die res val mooi in plek, ‘n oorgawe veral deur Afrikaners/Afrikaanses wat bogenoemde inspanning en erfenis nie waardeer nie, wat die gegewe, goue perd van hul vaders in die bek ruk. Ironies dink ek nou aan Johann Rupert. Die saggiespoepklomp wat dink dat wat tans met ons gebeur “goed” is vir Afrikaans as taal, vaktaal, hoër funksie en simbool van selfverwesenliking. Ons is in die moeilikheid. Tersiêre onderrig is duur, vir ons ook, veral so afgesonder weg onder die vlerk van staatsubsidie uit. Ek is dankbaar dat ons bestendige weeskindstatus onafhanklike inisiatiewe inspireer, soos Akademia, maar dis ver weg van die 20 universiteite wat ons gehad het, of selfs die 7 wat ons verteenwoordigendheidsgewys, vandag geskuld word. Die grootste punt is hoe min Afrikamoedertaalsprekers (Xhosa, Zoeloe, Sotho, Venda, ens) gedoen het vir hul eie tong en opvoeding omdat die sagte vangnet van Engels maar altyd daar was. Hierdie opstel bevestig dat die offensief vir Afrikaans ons uitsonderlik maak, dat Afrikaans moontlik die laaste Afrikataal sal wees – en hoe trots ek is om Afrikaanssprekend te wees. Dankie.

Jan Aucamp ·

Geagte Steve…weggegee is die werkwoord hier. Dit is vir my verstommend dat sommige mense kan dink dat jy kan onderhandel met diesulkes wat hierdie universiteit op die spreekwoordelike skinkbord ontvang het. Dit is haas tyd, eintlik reeds te laat dat ons tot die besef moet kom dat die wit vel persona non grata in SA is. Jy kan nou maar op en af spring en sê wat jy wil. Hulle wil ons nie hier hê nie en sal nie rus voor alles “gedekoloniseer” is nie.

Watter gedeelte van “trap hier weg” (of moet ek sê “Voertsek”) verstaan ons nie?

Ons kan nie met die beste bedoelings ‘n [sit naam van dier van jou keuse, hier in] leer sing nie. Ons gaan net kwaad raak en die [jou dierkeuse] gaan gefrustreerd raak. Jy kan nie onderhandel nie.

Wie wil dit wat ek hier gesê het, in eenvoudiger formaat uitgespel hê?

Proefleser ·

Baie insiggewend maar proeflees asb. want daar is heelwat foute. Ek is ernstig.

Suné van Heerden ·

Dagsê Proefleser

Dankie vir jou boodskap. Ons vra regtig groot om verskoning dat hierdie berig só op Maroela Media verskyn het. Ons stel baie dringend ondersoek in. Ons het al die flaters in die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Therese van Schalkwyk ·

‘n Skitterende stuk, oor die vasberade ‘taalbulle’ van die verlede, wat oneindig trots en terselfdertyd bitter hartseer maak. Hartseer, want dis hoofsaaklik Afrikaanssprekendes wat met hul optrede, of meer dikwels gebrek aan aksie, bygedra het tot die haglike posisie waarin die Afrikaanse taal en universiteite tans verkeer.

Dis duidelik dat “Die Akademie” sedert 1911 ‘n reuserol gespeel het in die bevordering van die Afrikaanse taal, onderwys en universiteite. En soos Grietjie Verhoef tereg opmerk, het dit alles “bygedra tot die algemene vooruitgang van Suid-Afrika”. Op geen manier kan Afrikaners dus verwyt word dat hulle slegs in eie belang opgetree het nie.

Juis hierdie feit het die ‘paai- en versoeningsbeleid’ wat instansies soos die Afrikaanse Taalraad uit die staanspoor in die nuwe SA toegepas het so onverstaanbaar en frustrerend gemaak. Daar is hoofsaaklik gefokus op uitreik na ander groepe, handevat en boetedoening oor moontlike onregte van die verlede, en die indruk is geskep dat Afrikaans op die altaar geplaas mag word. Koerantartikels, waarin aanmanings en waarskuwings aan Afrikaners gerig word om tog nie aggressief op te tree namens Afrikaans nie, is volop.

Die hartseer uiteinde hiervan is duidelik daar vir almal om te sien.

John ·

… alles in die verledetyd geskryf… hartseer. Afrikaners staan voor ‘n groot keuse. Ons moet kies om te sterf, of ‘n nuwe manier vind om aan te gaan. Almal in die wereld wat Engels praat word nie as Engelse gereken nie. Die meerderheid behoort aan ander rassegroepe. Diegene wat in Britranje bly word Britse onderdane genoem… onderdane dus. Almal wat in Suid-Afrika Afrikaans praat is nie Afrikaners nie en baie is ook van ander rassegroepe. Laasgenoemde se harte le ten diepste by hul eie rasse en gelowe. Om dus ‘n maklike pad te kies om met gunsies en gawes vreemdes te omhels vir oorlewing, is soos om ‘n koue adder teen die boesem vas te druk. Die byt se gif sal ons harte direk tref.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.