Die harde werklikhede

flip-buys-2017-11-02

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die geskiedenis is vol voorbeelde van regerings wat lande deur hul onwerkbare politieke idees in plaas van deur harde werklikhede probeer regeer. Die wrakke van daardie mislukkings lê oor die ganse aardbol gesaai. Dink maar aan historiese nagmerries soos die kommunistiese Oosblok, hiperinflasie in talle Suid-Amerikaanse lande, die gruwels in Asiatiese lande soos Kambodja en Noord-Korea, en die hartseer verhale van Afrika ná onafhanklikheid. Selfs die Europese geskiedenis blyk ʼn moeisame leerproses te wees, met talle mislukkings wat by tye op bloedige oorloë uitgeloop het.

Die enkele grootste faktor wat al hierdie mislukkings in gemeen het, was regerings wat met onwerkbare ideologiese bloudrukke téén die werklikhede probeer stry het, in plaas daarvan om hulle deur feite te laat lei. Hel op aarde is in die praktyk veroorsaak deur ideoloë wat “hemel op aarde” wou skep. Dink maar net waartoe kommunistiese beloftes van ’n “werkersparadys” gelei het oral waar daar gepoog is om dit ten uitvoer te bring.

In Suid-Afrika het daar ná 1994 ook gaandeweg ’n groeiende gaping ontstaan tussen die werklikheid en die regering se ideologiese bloudruk vir die land. Terwyl dit regerings se taak is om die bestaande werklikhede met werkbare resepte te verbeter, wou hulle die werklikheid heeltemal omskep deur die ideologiese bloudruk van transformasie.

Dit het in die praktyk gou duidelik geword dat “transformasie” net ’n sameflansing was van die uitgediende en mislukte rassesosialistiese resepte van die Koue Oorlog-era en postkoloniale Afrika-regerings. ’n Teleurgestelde land moes toekyk hoe staatsdepartemente, dorpe, openbare ondernemings, hospitale, en mettertyd bykans die hele staatsdiens, onder die gewig van wanbestuur en korrupsie begin verbrokkel.

Maar dit het die regering nie afgeskrik nie. Hulle wou teen wil en dank hul transformasiebloudruk op die privaat sektor afdwing – met wette, beleid, transformasiehandveste en regeringsdruk. Tydens die Zuma-bewind is dit veel verder gevoer en groot dele van die staat is gekaap en gekriminaliseer deur ’n magskliek wat hulself ten koste van die land en al sy mense wou verryk.

Die harde werklikheid het die regering egter vinnig ingehaal, en die gevolge van die onwerkbare transformasie-ideologie het gou duidelik geword. Daar het ’n gapende afgrond ontstaan tussen die regering se onwerklike bloudrukke en die gevolglike werklikhede soos misdaad, werkloosheid, armoede en die lyding van miljoene mense.

Die vuurdoop van enige regering se werklikheidsbegrip word uitgedruk in koue syfers soos ekonomiese groei, misdaadstatistieke, aantal werkloses, ouditverslae van die ouditeur- generaal en die swak prestasie van die openbare skoolstelsel. Daarby spreek die beleggingsgemeenskap se “beleggingstaking” en internasionale graderingsagentskappe se verslae ’n verdoemende oordeel uit oor die regering se omgang met die werklikheid.

President Cyril Ramaphosa het intussen ook agtergekom dat sterk uitsprake oor sake soos onteiening sonder vergoeding miskien groot applous op ’n ANC-kongres uitlok, maar tot groot weerstand in die regte wêreld lei.

Die tekens is daar dat die regerende elite stadigaan besef dat hulle ook nie die werklikhede kan ontsnap nie.

Geen regering kan slaag as werklikhede soos eiendomsreg, die oppergesag van die reg, die vereistes van beleggers, ʼn skoon regering en goeie landsbestuur nie in ag geneem word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

RG ·

Suiwer feite en ‘n kristal helder blik op stand van sake in SA. Puik artikel Flip, dankie.

Goeie idee ·

Ek stem. Wanneer kan ons Mnr. Buys se artikels in een boek koop? En dan ook in Engels?

humor ·

Die groot probleem by sekeres is dat emosie die rede geheel en al oorheers. Sodra n sekere denkrigting posgevat het ontbreek gesonde onderskeidingsvermoe en is dit uiters moeilik om die skip om te draai.

Rupert Ashford ·

Jou stelling oor emosie wat rede oorheers is so raak. En dit is wereldwyd besig om meer en meer pos te vat. Dit is tans omtrent 50-50 tussen die emosie en rede mense in Westerse demokrasiee, die dat daar wereldwyd so ‘n erge polarisasie is, maar ek is bevrees die volgende generasie gaan ‘n meerderheid sulke kiesers lewer.

Trojaanse Donkie ·

My innige simpatie gaan aan wereld leiers en sakelui wat moet luister en moet voorgee dat jy nou net ‘n bogstorie vertel word en dit vir soetkoek moet opeet.

Twakkie ·

Puik opgesom, soos gewoonlik. Die dilemma van Derdewêreldse kulture wat totaal nie in staat is om self welvaart te skep of selfs in stand te hou nie, maar ewigdurend afhanklik bly van die gehate kapitaliste in Eerstewêreldse kulture se hulp. En dan huiwer hulle nooit om klippe te gooi met een hand terwyl hulle die ander hand oop hou vir aalmoese nie, om Nicky Haley te parafraseer.

Anonieme Lafaard ·

Twakkie, ‘n vriend van my parafraseer dit ook mooi. Hy sê iemand staan “bakhand met ‘n attitude”.

Anoniem ·

“Die tekens is daar dat die regerende elite stadigaan besef dat hulle ook nie die werklikhede kan ontsnap nie”?

Flip, brei asb meer uit oor die tekens?

Francois vRvO ·

Die waarheid maak seer , dankie oom Flip. Ek dink die kinders wat nie onder apartheid groot geword het nie , sal nie van beter weet nie , maar tog bespeur hulle die agteruitgang.
Al ooit gewonder wat sal gebeur as die OSV proses deur die ANC gekanseleer word?
Ons bevind ons self in ‘n verloor/verloor scenario , ons lot is klaar bepaal.

Arak ·

Flip, ek hoop jy is reg dat die besef by die regerende elite begin deur skemer, maar as ek kyk na hulle uitsprake wonder ek maar.

Jordaan ·

Ek het dieselfde gedink toe ek dit lees. Ek sien nie die tekens wat Flip van praat nie, miskien is dit maar hoopvolle denke!

Frans C ·

Die harde werklikheid is dat die ANC/EFF se uitgangspunte baseer is op onhaalbare konsepte in die Vryheidsmanifes.

Logika ·

Die Afrikaner self het ook maar ideologie slaafs na gejaag. Ons het Vryheidsmanifes en die NDR geignoreer, en gebasseer op hoop gedink ons kan voortbestaan en floreer in die nuwe bedeeling.

Tot Afrikaner mening vormers dit nie tot elke Afrikaner kan laat deur dring dat ons met ons rug teen die muur staan en besig is om uit te bloei nie, gaan ons binne een geslag koud en wit op die grond lê.

Dit is besig om ‘n “final stand” konflik te word. Elke Afrikaner is daar in nodig.

OWO ·

Uitstekende skrywe mnr Buys.Tydens die begin van 2001 toe ons by my werk ‘n multi kuturele groep geword het,het die mense wat aanboord gekom het, net ‘n swane sang gehad wat ons op daardie stadium bereik het.Alles was uit die boonste rakke.In die tyd daarna is mense gewys hoe dit gedoen moet word en instand te hou.Die skinkbord is aangegee maar in die proses,het die skinkbord ongelukkig op die grond te lande gekom, en is nog steeds daar.Dit gebeur as werkende prosesse afgeskaf word en met niks vervang word nie.Hierdie is ‘n klein voorbeeld van ideologiese verskille.Dankie vir ‘n puik skrywe.

MTSteyn ·

Soos Anoniem hierbo, sukkel ek met die uitspraak oor die regerende elite wat hulle teen tekens in die regte wereld vasloop.

Die ‘regte wereld’ het met erge sanksies, groot befondsing, militere opleiding, verskaffing van militere aparaat en ondersteuning daarvoor gesorg dat Patrice Lumumba vermoor word, dat Ian Smith ontsetel word, dat SWAPO Suid-Wes Afrika neem, dat die ANC die enigste groep word wat namens Swartes in Suid-Afrika onderhandel (ten koste van ander, meer vredeliewende swart organisasies), en dat ‘n welvarende Suid-Afrika oppad na gelyke, vreedsame naasbestaan, vernietig word.

Dit is ook die ‘regte wereld’ wat die Westerse kultuur en vorm van bestaan stelselmatig in elke Westerse land aftakel, wat met sy humanistiese geloof in die eie ek sy rug op sy Skepper gekeer het.

Ek het absolute groot waardering vir dit wat julle doen, maar die werklike verset (indien enige) teen grondroof in SA sal nie van buite kom nie. CR en sy party het die ondersteuning van die internasionale gemeenskap, nie soseer voor die kameras nie, maar wel in die raadsale agter die toe deure, maw waar dit saak maak.

Therese ·

Puik kommentaar, MTSteyn!
Dankie dat jy die situasie, wêreldwyd, so goed verwoord.

JAN ·

Ai MT STEYN so raak beskryf!!
Mag ons dan nie maar bid soos Elisa vir sy slaaf: ” Ag Here maak tog ons oge oop om te sien dat ons baie meer is as hulle!” ai!

Sarie ·

Boeke van Douglas Reed soos Sanity Fair and The siege for Southern Africa beskryf hierdie tendens in die wêreld baie goed. Al is dit ou boeke is dit die moeite werd om weer te lees.

Ai ·

Nee. Dooies preek vir dooies en hoop osmose dra die boodskap internationaal oor.

Dirk ·

So MTSteyn, wat jy en Flip dan nou eintlik se is dat die harde werklikhede opgesom kan word deur die stelling te maak dat apartheid en daarmee saam kolonialisme, gesneuwel het in Suid Afrika, maar dat dit weliswaar nog nie begrawe is nie en dat die nasionale demokratiese rewolusie springlewendig is en dat die NDR dit ten doel het om apartheid saam met kolonialisme te begrawe en dat dit uit n kolonialistiese beskouing mislukking vir SA tot gevolg sal he, maar uit n afrikanistiese beskouing, dit suksesvolle bevryding teweeg sal bring! Hierdie stelling wys net weereens hoe belangrik dit is om beide kante van n muntstuk te dek! Weereens geluk met n interresante artikel en puik kommentare.

Johan ·

Kan ek ‘n ander hoek inbring – kapitalisme vs watse stelsel ookal.

As mens kyk na die w^ereld en die totale stand van armoede ens in die hele ganse w^ereld (hoeveel mense gaan slaap saans honger). Is kapitalisme die antwoord? Ons weet/glo kommunisme en sy nou verwante sosialisme blyk ook nie die antwoord te wees op die w^ereld se probleme nie. Ek dink nie die mensdom het al die regte resep gekry sodat almal in “vrede en voorspoed” kan leef nie. En ja ek erken kapitalisme was goed gewees vir my. Maar kom ons probeer objektief wees en plaas onsself in die grootste persentasie van mense se skoene wat sukkel w^reldwyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.