Die jeug is aan die beweeg

Deur Alistair van Heerden

Foto ter illustrasie (Foto: Papaioannou Kostas/Unsplash)

Nadat daar kommer uitgespreek is oor die verskraling van ons ryk Afrikaner-erfenis, het die Solidariteit Helpende Hand Jeugkongres die afgelope naweek my werklik beïndruk. Die kongres is ʼn stap in die regte rigting om weer ons ryke Afrikanerkultuur te herontdek en uit te bou.

Ons kan die kongres mooi saamvat in drie woorde: begrond, tyd en werk.

Begrond

Helpende Hand spreek drie tipes armoede aan: fisiese, kulturele en geestelike armoede, waarvan die belangrikste die geestelike armoede is, omdat die fisiese en kulturele werklik niks beteken sonder die geestelike nie.

Sonder die geestelike is alles tevergeefs. Ons moenie hier die geestelike waarvan Helpende Hand praat verwar met die wêreld se verskeie afgodedienste nie. Ons moet goed verstaan dat die geestelike armoede wat aangespreek word dié is van die Christelike geloof. Dit was kenmerkend van die kongres hoedat elke spreker f direk vanuit die Bybel die jeug toespreek, óf deur middel van beginsels vanuit die Bybel.

Die kongres dui baie mooi aan dat die jeug van vandag begrond moet wees in die geloof. ʼn Ware geloof wat vertrou op die Here en die beloftes wat Hy maak. Die God wat ons dien is alleen die Enigste Here soos ons lees in 1 Timoteus 2:5: “Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus”.

Die Evangelie van die Here Jesus Christus bring verlossing vir elkeen wat glo, maar so ook toewyding, ywer en ʼn roepingsbesef vir die Here se koninkryk. Sonder hierdie waarheid sou die kongres niks werd wees nie.

Maar nee, die Jeugaksie van Pretoria het verstaan dat om begrond te wees in die geloof krities is indien ons as jongmense enigsins vir ons geslag en opkomende geslagte ʼn toekoms wil bou. Dit is hoe die verbond in die Bybel werk. Die Here se beloftes bly staan deur geslagte heen, en as ons die werk wat ons doen begrond in die Here en doen tot eer van die Here, sal daar vir ons kinders ʼn ryker erfenis wees.

Tyd

ʼn Tyd soos hierdie, dit is waarvoor ons geroep is. Ons tyd is nie 10 jaar terug nie, en dit is ook nie 10 jaar van nou af nie. Ons, die jongmense, word geroep vir ʼn tyd soos hierdie.

Tyd vir ons jongmense is baie belangrik, want tyd op aarde voel vir ons al so lank, maar tog is dit nie. Ons beweeg in die beginjare van ons lewens deur verskeie fases. Laerskool na hoërskool na universiteit na ons eerste werk. Op persoonlike vlak is dit dieselfde; ons het verskeie romantiese verhoudings en dan een blywende verhouding en dan verlowing en dan trou en dan kinders, en so gaan dit met ons almal.

Min van ons besef dit, maar tyd is baie meer as net die horlosie wat aanhoudend vorentoe beweeg. Tyd het verskillende belangrike fasette. Een daarvan is baie mooi tydens die kongres uitgelig, naamlik roeping. Die Bybel sê dat tyd en roeping aan mekaar gekoppel is, al voel dit of dit nie so moet wees nie.

Ons lees in Prediker 3:1-8 die herhalende woorde: “ʼn Tyd om te”, en dit spreek tot die idee dat daar ʼn tyd en seisoen is vir elke aktiwiteit onder die hemel. As Christen dui dit daarop dat God ʼn plan en doel vir elke fase van jou lewe het. Daarom is dit van toepassing op ons as jongmense. Ons het nou ʼn roeping wat ons van die Here ontvang. Hier moet ons nie aards raak en dink dit is om armoede heeltemal op te los of om die Afrikaanse taal te red nie.

Elke jong, gelowige Afrikaner, man en vrou, se roeping in hierdie tyd is om alle eer aan die Here te bring. Dit kan wel insluit om Afrikaans te bevorder of om armoede te verminder ensovoorts. Ons is geroep vir ons tyd.

Werk

Die laaste punt van die kongres vloei baie mooi uit die vorige twee punte. Ons het reeds aangetoon dat as jy gegrond is in die geloof, dan sal jy jou roeping in ons tyd verstaan. Maar wat jy ook sal verstaan, is werk, om op te staan en te doen. Die Afrikanerkreet van ons verbrokkelende land het geword – ons sal self!

Hierdie gesindheid van werk en doen, het ons gehoor tydens die kongres, kom natuurlik voor onder jongmense omdat hulle groot geword het in ʼn land waar niks gewerk het nie, daarom is die jonger geslag gewoond daaraan om dinge self te doen. Dit is reg en mooi, maar ons moenie traag raak nie.

Ons moenie die fout maak om alles alleen te wil doen en daarmee wil staan en spog nie. Ons moet verstaan dat gelowige jongmense saam verbind word deur die geloof en nie alleen staan nie. Ons staan saam, ons is ʼn gemeenskap wat Christelike waardes bevorder, Afrikaans praat, en ons kultuur bewaar. Daarvoor moet ons werk. Ons kan nie hierdie mooi gemeenskap onderhou as ons nie saam werk nie.

Ons lees baie mooi in Kolossense 3:23-24 wat ons gesindheid moet wees, wat ons weer terugvat na die kern, na ons begronding: “Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie, in die wete dat julle ʼn erfdeel as beloning van die Here sal ontvang; want julle staan in diens van die Here Christus.”

Dit is baie kenmerkend dat die kreet gaan – “ons sal self” en nie – “ek sal self” nie.

Daar is die baie bekende woorde van “Die lied van Jong Suid-Afrika”, ek wil met hierdie woorde afsluit. Ek wil eendag die aanskouers van ons jonger geslag kan vra: “En hoor jy die magtige dreuning? Wat oor die veld wyd gesweef kom: die lied van ʼn volk se ontwaking, wat harte laat sidder en beef”.

  • Alistair van Heerden is ʼn teologiese student aan die Teologiese Skool Potchefstroom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Herlewing van jonges se Afrikaner nasionalisme. Ek hou daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.