Die Kleinfontein waaroor jy nie in die koerante lees nie

kleinfontein

Kleinfontein uit die lug

Selfbeskikking vir Afrikaners? Kleinfontein is daar, doen dit en verdien ná 21 jaar, die gratis spreekwoordelike T-hemp.

Ou inwoners vertel met nostalgie van die yskoue wintersdag toe Kleinfontein se inwoners al teen die platorand op ’n mensetou gevorm en vir mekaar emmers vol sand aangegee het tot bo. Die sand was nodig om ’n pyplyn na ’n nuwe waterbron te bed en te omhul, en geen masjien kon teen die steil berghang uit nie.

Aantal inwoners in Kleinfontein grafiekVan sy ontstaan in 1992 het Kleinfontein se inwonertal bly groei (sien grafiek). Met sulke groei moes Kleinfontein mettertyd verander van ’n gemeenskap waar mense, amper soos familie, vir mekaar sand aangee tot ’n goed bestuurde nedersetting met ’n formeler, maar ook meer doeltreffende manier van doen.

Deesdae word ons maandelikse rekeninge feitlik foutloos uitgestuur, ons aandeleregister word presies bygehou en ’n hele span ouditeurs fynkam elke jaar ons boeke. Ons begroot en kommunikeer ook beter en ons kontrakte onder mekaar word regstegnies omsigtiger geskryf. Al is ons almal Afrikaners, het ons te veel geword om mekaar, soos aan die begin, soos familie te vertrou.

En waar Kleinfontein voorheen verkies het om onder die radar te vlieg, en net te bestaan as ’n de facto kultuurgemeenskap soos wat artikel 235 van die Grondwet dit toelaat, moes ons noodgedwonge leer hoe om ons standpunt oor selfbeskikking te stel nadat die owerheid en die media ons “ontdek” het. In 2013 is meer as 50 nuusspanne deur Kleinfontein en is ons minstens vyf keer amptelik deur staatsamptenare besoek.

Ons infrastruktuur en veral ons paaie kan steeds beter. Met die groot reëns in Maart vanjaar was daar plekke in Kleinfontein waar, vir ’n paar dae lank, net diegene met viertrekvoertuie kon rondry. Ons moet ook dringend ons wateropbergvermoë vergroot.

’n Gebrek aan geld kortwiek Kleinfontein. Ons het nie toegang tot ’n reusepoel belastingbetalers soos die staat nie. Dit bly merkwaardig dat ’n duisend mense met net hulle eie kapitaal, ’n 721 hektaar-grootte nedersetting, kompleet met strate, agt waterreservoirs, toegangspoorte en elektrisiteit en water netjies aangelê na elke huis, gebou het en in stand hou. En dit met ’n kapitaalbedrag wat omtrent een tiende is van wat president Zuma aan sy gewraakte sekuriteitsopknappings by Nkandla bestee het. En onthou, Kleinfontein se maandelikse heffings is steeds laer as Pretoria s’n.

Ry perd copyDie nedersetting word gesamentlik deur al die aandeelhouers van die koöperasie besit; die verbeterings op eie gebruikserf is elke aandeelhouer se eie. Onlangs het twee sulke huise vir meer as ’n miljoen rand verkoop en kon hierdie aandeelhouers die geld in hul sak steek toe hulle Kleinfontein verlaat het.

Selfwerksaamheid en arbeidselfstandigheid is van die sleuteleienskappe van ons gemeenskap. Ons leef in ’n land waar handearbeid goedkoop en volop is, en alhoewel ons as gemeenskap graag met ander gemeenskappe saamwerk en baie van ons steeds in die arbeidsveld van Gauteng ekonomies ons kant bring, wil ons klomp Afrikaners hier nie weer vir nie-Afrikaners werk gee en in ons leefruimte toelaat nie, net om ’n paar jaar later uit te vind dat dieselfde nie-Afrikaners nou aandring op seggenskap in ons leefruimte. Op Kleinfontein is handearbeid dus ’n skaars kommoditeit, wat ons versigtig bestuur. Daar is ook die kwessie om mense, wat vir eeue nie meer gewoond is aan handewerk nie, weer op te lei om dit met arbeidstrots te doen. Waar ons dit kan bekostig, meganiseer ons natuurlik.

Ons Kleinfonteiners is nie ryk nie. Wat ons het om te gee, is ons tyd en talent. Maar hoe smee mens die sestig betaalde amptenare en werkers en die entoesiastiese maar onbetaalde vrywilligers saam tot ’n doeltreffende eenheid? Dis ’n vraag waarmee ons betaalde hoofbestuurder, Steyn van Schalkwyk, baie keer worstel. Mense bly mense en Kleinfonteiners is nie engeltjies nie. Dikwels duik die verwyt op: “Hy of sy word betaal om dit of dat te doen, maar ek moet verniet werk. Dis onregverdig.”

Die feit is: almal kan nie betaal word nie, maar party het nodig om betaal te word vir van die dinge wat hulle doen, omdat sekere take gereguleerde en voltydse eise stel soos die daaglikse admin en bestuur van Kleinfontein.

Die FAK het glo ’n studie gedoen waarin hy bevind het organisasies wat betaalde personeel het, vaar beter as die wat met vrywilligers werk. Dis ideaal dat almal betaal word, maar Kleinfontein kan nog nie die mas opkom sonder onbaatsugtige vrywilligers nie. Om maar één voorbeeld te noem: Niël de Beer is ’n professionele siviele ingenieur en stigterslid van Kleinfontein. Hy het oor die jare gratis vir sy gemeenskap siviele-ingenieurswerk gedoen wat gelykstaande is aan miljoene rande en is ook die man wat die meeste doen met Kleinfontein se formalisering.

’n Formele status vir Kleinfontein is waarskynlik die laaste hekkie wat Kleinfontein moet oor in sy omskakeling van ’n informele blyplek vir ’n paar eendersdenkendes tot ’n volwaardige Afrikaner-kultuurgemeenskap wat deur die regering, onder meer die Tshwane Metro, erken en gerespekteer word. Almal werk baie hard om dié proses in 2014 ’n groot hupstoot te gee.

21 ste konsertRoof, moord, verkragting en kaping ken ons nie op Kleinfontein nie. Ons gesin was pas vir ses weke lank nie op Kleinfontein nie en toe ons terugkom het die liewe Leon, ons tuinier, en ons bure na ons huis-sonder-heining omgesien en was daar nie ’n dingetjie soek nie. Ou tannies op Kleinfontein kan ná donker gaan geld trek by ons OTM en niemand moker hulle oor die kop vir hul kontant nie. Kinders ry sorgloos in ons strate fiets of spring gou op hulle perde van die hoewes af om in die dorp te gaan roomys koop.

Maar ’n mens kan sulke soort veiligheid in enige sekuriteitsdorp, soos die een wat Oscar Pistorius berug gemaak het, en wat sowat 20 km wes van Kleinfontein af is, kry. Hoekom sukkel met grondpaaie en om jou altyd te moet verantwoord? En is die onmin op Kleinfontein nie vreeslik onverkwiklik nie? Dis wat buitestanders dikwels vra.

Ja, die rusies is bitter pynlik omdat dit voorkom tussen Afrikaners wat eintlik dieselfde ideale het, maar wat mekaar nietemin meedoënloos, ook in die media, verskeur. Die rusiemakers is egter ’n klein minderheid op Kleinfontein. Verreweg die meeste Kleinfonteiners leef nie net soos indiwidue nie, maar word veranker deur hul gemeenskap.

Ek dink aan die tannie op Kleinfontein wie se man in die middel van die nag aan ’n hartaanval dood is. Sy het nie ’n ambulans gebel nie, maar haar bure. En hulle het by haar gesit tot die dag gebreek het en hulle saam kon begin reëlings tref.

En ek onthou van ons verjaardagkonsert verlede jaar. Die konsert sou die Vrydagaand wees. Maandagaand met die repetisie toe lyk ons vertoning nog maar oes, maar elke groepie wat opgetree het, spring daardie week in, rond sy stukkie af en op die ou end het ons as amateurs ’n heel skaflike konsert op die planke gebring. ’n Groot klomp van die inwoners was vir die slottoneel op die verhoog; ons het ons gate uit geniet.

Ander geleenthede soos die skouspel van CVO skool op Kleinfontein of die wildsfees is net so lekker. Om nie te praat van ons jaarlikse rugby- en netbalkragmeting teen Orania nie.

Maar die helderste “aha, dis waaroor Kleinfontein gaan” het ek verlede jaar gehad toe ek nogmaals ’n fotograaf deur die dorp moes begelei. Hy was van Swede, maar bly in Kaapstad, en sy foto’s was bedoel vir die Washington Post. Hy was skaam en goedgemanierd en daar was redelike rapport tussen hom en my, wel minstens in die sin dat ons al twee ewe gereeld “is” gesê het as dit “are” moes wees.

Toe ons so ry, sien hy ’n gryskoptannie wat in haar tuin werk. Kan hy haar afneem, vra die fotograaf. Hy sê hy vind die kleurkontras tussen die groen plante en haar silwer hare interessant. Ek ken haar nie, maar ek sal gaan hoor, sê ek.

Die tannie was uit die veld geslaan, maar sy stem in. Sy steur haar nie vreeslik aan die Sweed nie en snoei maar voort aan haar blomplante.

“Die oom is daar agter,” sê sy later vir my. “Hoekom stap julle nie om nie?”

Ek snap dadelik sy wil die opdringerige kameralens van haar wegkry, en sê vir die Sweed ons moet agtertoe stap.

Op die tuinpaadjie langs die huis lê ’n bossie beet helderpers teen die grys plaveisel. “Dáár is nou vir jou ’n interessante kleurkombinasie,” sê ek vir die Sweed, maar hy stel nie belang nie. Hy wil mense afneem.

Ons stap deur die oom se groentetuin. Elke groentesoort is geplant in sy eie bedding waarvan die buitelyne met ’n waterpas uitgemeet is, so sekuur is dit. Met selfwerksaamheid en al, is in dié groentetuin net geilte; geen miswurm, slak of roes oorleef hier nie. Ons tref die oom heel agter in die tuin tussen sy vrugtebome aan. Hy lyk éérs uit die veld geslaan oor die versoek vir foto’s.
“Ek praat net nie Engels nie,” sê hy.

Die Sweed se kamera klik en klik.

“Ek gaan wegkruip,” sê die oom vir my waar ek agter die Sweed staan. Hy is nog maar lekker beduiweld oor die onverwagse kuiergaste op ’n middag wat hy net in vrede in sy tuin wil woel, en mik-mik met sy kop agter die knoetserige perskeboom in.

WildsfeesEk rol my oë sameswerend vir hom, self taamlik op vir die media se beheptheid met Kleinfontein, en die glimlag wat hy vir my gee, laat sy blou oë ophelder. En dit was my oomblik van insig, die wete: Ons verstaan mekaar, ek en hy, al ken ons mekaar nie. Ek eien sy behoefte aan alleen-wees, privaatheid en rustigheid; ek herken sy sin vir orde in sy netjiese tuin en sy vaswees aan die grond, die band wat hy met sy vrou, daar voor tussen haar blomme, het – vergestalt in die bossie beet wat hy vir aandete se kook vir haar neergesit het; sy ordentlikheid om teen wil en dank gasvry te wees teenoor ’n nie-Afrikaanspratende vreemdeling.

Ons is immers altwee Afrikaners en dis hoekom ons verkies om op Kleinfontein te bly.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Dannie ·

Ja nee – besonders dat die Sunday Times niks goed te se het van Kleinfontein nie. Hulle vind altyd net die slegste in Kleinfontein – baie dankie vir ‘n puik artikel !

Hendrik ·

As jy die vryheid eers ervaar , wil jy regtig nie terugtrek na al die moeilikhede van die ‘normale’ lewe in die res va S.A.

Susan ·

Dit klink beslis nie soos die Kleinfontein wat ek ken nie!!! Het al baie nare dinge gehoor wat daar ook gebeur. Ek bly ook in ‘n sekuriteits oord in Pretoria al vir 8 jaar VROU ALLEEN!!!! nog geen inbrake, kinders ry op fietse rond, het nie alarm of diefwering nie EN NOG NIKS ooit weggeraak nie. Ek het gehoor dat daar wel 9 kragopwekkers al gesteel is op Kleinfontein (as ons van dieselfde een praat) in een aand!!! Hoekom word dit nie in die artikel gese wat net die goeie punte uitlig nie???

Marisa ·

Susan, soos wat jy uit eie ondervinding praat van jóú blyplek, praat ek uit eie ondervinding van my blyplek. Is jy absoluut doodseker dat daar nog NOOIT enige iets uit jou oord by enigiemand weggeraak het nie? Hoe weet jy dit? Uit ons huis op Kleinfontein is nog nooit kragopwekkers gesteel nie. Soos wat ek probeer wys het, gaan Kleinfontein oor meer as net sekuriteit. Dit gaan eerstens oor deel wees van ‘n aktiewe, meelewende gemeenskap. Jy is bevoorreg om vrou alleen so veilig in jou kompleks te voel. Nie almal kan sulke sekuriteit bekostig nie.

Jaco Grobler ·

Lekker gelees,

Ek stem dat sekere komplekse ‘n ‘beter’ misdaad rekord het as Kleinfontein. Soos in enige gemeenskap het Kleinfontein ook maar misdadigers wat van buite die gebied kom amok maak, en natuurik het die plek het ook sy eie inwoners wat ‘nie so lekker is nie’ maar, as jy die laaste paragraaf raakgelees het, en nog steeds verkies om kommentaar te lewer oor die sekuriteit, dan verstaan ek hoekom jy nie daar aard, of wil aard nie. Dit maak jou egter nie minder mens as enige inwoner van Kleinfontein nie, geniet jou kompleks, hy het ook sy voordele.

Solank jy lekker bly waar jy ookal jou hoed neerle….

AmY ·

Dit lyk darem na ‘n lekker plek om in te bly. So rustig en sonder nonsies en aansit. En alles verloop seepglad daar.

Jacky Hamman ·

Ai toggie, wat ‘n heelike artikel om te lees. Ek is beslis sooo jaloers en sal wat wil gee om ook daar te kan bly!
Marisa Haasbroek jy moet weer vir ons berig oor Kleinfontein!

Awie ·

Ek was al in Kleinfontein op besoek en om uit te vis of ek en gade daar blyplek kan kry. Daar is wel aan my meegedeel dat daar ‘n waglys is vir blyplek-huur of koop. My ander probleem is ook die afstand na my en gade se werk in Pta, hoewel lewenskoste in Kleinfontein blykbaar goedkoper is. Ek vind die mense baie vriendelik, outydse gasvryheid en dit lyk en voel soos ou SA in die kleine- geen hoë elektriese heinings tussen huise wat jou soos ‘n gevangene in jou eie plek laat voel soos in baie plekke in SA-veral stede. In sekuriteits komplekse-veral die hoër inkomste landgoed/”estates” is mens nooit veilig nie, al voel dit so, dit weet ek van vriende en kennisse.

George Barnardg ·

Het, die artikel geweldig geniet.het net een begeerte en cdit is dat ek en my vrou ons daar kan vestig tussen ons blanke Afrikaners

George Barnardg ·

Het, die artikel geweldig geniet.het net een begeerte en cdit is dat ek en my vrou ons daar kan vestig tussen ons blanke Afrikaners

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.