Die konstitusionele hof en Gelyke Kanse: Wat het gebeur?

dr-theuns-eloff

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting en ook die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Foto: Theuns Eloff/Facebook.

Op 10 Oktober 2109 lewer die konstitusionele hof (KH) uitspraak in die saak waarin Gelyke Kanse (GK) aansoek doen dat die 2016-taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) ter syde gestel word omdat dit ongrondwetlik is. GK se aansoek was in wese ’n appèl teen die Wes-Kaapse hooggeregshof se vroeëre uitspraak, en ’n versoek om die appèlhof verby te gaan en direk na die KH te kom. Dit is toegestaan.

Die oorhoofse uitspraak – waarmee al tien die regters saamgestem het – is geskryf deur regter Edwin Cameron (wat onlangs as nuwe kanselier van die US aangestel is). Daar is ook twee bykomende uitsprake, een deur hoofregter Mogoeng Mogoeng en die ander deur regter Johan Froneman, waarin bykomende perspektiewe gegee word.

In ons grondwetlike bestel is dit moontlik dat mens van die uitsprake van die howe en ook die konstitusionele hof kan verskil sonder om vir minagting van die hof aangekla te word. Die voorwaarde is dat dit in redelikheid en met respek gedoen word.

Dit is die uitgangspunte van hierdie artikel.

Die beginsel van “toepaslike regverdiging” (“appropriate justification”)

’n Kernelement in die KH se uitspraak is dié van “appropriate justification” (toepaslike regverdiging). Dit kom uit die bekende KH-uitspraak oor Hoërskool Ermelo se taalbeleid in 2009. Daarin sê regter Albie Sachs dat waar ’n leerder reeds die voordeel van onderrig in keuse van taal geniet, die staat die negatiewe plig het om hierdie reg nie weg te neem of te verminder sonder “toepaslike regverdiging” nie.

Die KH aanvaar die US-bestuur se motivering dat die 2014-beleid, waar Afrikaans en Engels gelyke status geniet het, moes verander. Die redes was dat die swart studente van die US, wat oorwegend nie Afrikaans kan verstaan nie, deur daardie gelyke behandeling “gestigmatiseerd, gemarginaliseerd en uitgesluit” gevoel het.

Dit vloei uit afsonderlike lesings in dieselfde vak (sommige in Afrikaans, ander in Engels), en simultane tolking in lesings wat in Afrikaans aangebied is. Dit het ook gevloei uit die algemene gebruikstaal van Afrikaans op die kampus. Die US voer aan dat die gelyke behandeling van Afrikaans nie meer houdbaar is as dit studente só laat voel nie en dat dit daarom afgeskaal moet word.

Die KH aanvaar dit en gaan selfs verder deur te sê dat die US se mening dat die 2016-beleid nie Afrikaanse onderrig verminder nie, maar net herrangskik, nie waar is nie. Die 2016-beleid gee effektief voorrang aan Engels om die US se doelwitte van “gelyke toegang, veeltaligheid en integrasie” te bevorder. Terloops, hoe die voorkeur vir een taal veeltaligheid kan bevorder, weet net die geagte regters! Die gebruik van Afrikaans by die US is nou onderworpe aan beskikbare hulpbronne – en dit is te duur vir die US om dit redelikerwys doenlik reg te kry.

Daarmee, so verklaar die KH, het die US “toepaslike regverdiging” vir die afskaling van Afrikaans by die US gegee.

Hoe het dit gebeur dat die KH, wat nogal op eie koste die eedverklarings en ander verklarings in Afrikaans ook op eie koste laat verklaar het, tot hierdie gevolgtrekking gekom het?

Daar was hoofsaaklik drie probleme waarmee GK in die hofsaak en uitspraak te doen gekry het.

Die toepassing van die beleid was buite perke

Regter Edwin Cameron is as die nuwe kanselier van die Universiteit Stellenbosch aangewys. (Foto: US)

Omdat GK die eerste aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof gebring het vóór die begin van die implementering van die 2016-beleid, het die KH beslis dat hulle nie die toepassing van die beleid mag gebruik in die saak nie.  Dit het tot gevolg gehad dat baie van GK se goeie getuienis van studente en personeel waaruit die negatiewe implikasies vir Afrikaans alreeds duidelik was, nie deur die KH in ag geneem is nie.

As regter Cameron in sy uitspraak (op grond van die US se versekering) stel dat alle eerstejaarsklasse steeds in Afrikaans aangebied sal word, kon GK se getuienis nie gebruik word om dit as vals te bewys nie – ten spyte daarvan dat talle van die eedverklarings deur studente bewys het dat dit nie waar is nie. Die ironie is dat GK hul saak dalk te vroeg gebring het, voordat die implikasies van die toepassing van die beleid duidelik(er) was en dat hulle waarskynlik nie maklik toegelaat sal word om later ’n “nuwe” saak te bring oor die negatiewe gevolge van die toepassing van die beleid nie.

En dit is die situasie ten spyte van die feit dat die KH self die negatiewe gevolge vir Afrikaans voorsien en selfs (in hoofregter Mogoeng en regter Froneman se bykomende uitsprake) simpatieke geluide daaroor gemaak het.

Die interpretasie van “redelikerwys doenlik”

Die tweede probleem was die KH se huiwerigheid en onwilligheid om die regsfoute van hul uitspraak in AfriForum se Kovsies-saak reg te stel. Selfs regter Froneman, wat in sy bykomende uitspraak baie positief oor Afrikaans as onderwystaal was, bevestig dat die KH gebonde is aan die Kovsie-uitspraak, al was die feite in die GK saak heel anders. Die grootste fout wat die KH in die Kovsie-saak gemaak het, was om die kwalifikasie vir die reg om in taal van keuse onderrig te word, naamlik “redelikerwys doenlik”, normatief te interpreteer en aan gelykheid en regstelling in die volgende sin van art 29(2) te koppel.

Daar word gestel dat om die reg tot onderwystaal van keuse ’n werklikheid te maak, die staat alle redelike opvoedkundige alternatiewe (enkelmediuminstellings ingesluit) moet oorweeg, maar daarby ook gelykheid, doenlikheid en die noodsaaklikheid om die verlede se diskriminerende wette en praktyke reg te stel. Enige eerstejaartaalstudent sal weet dat “redelikerwys doenlik” (Engels “reasonably practicable”) net daarop kan dui dat die kwalifikasie met die praktiese uitvoerbaarheid van ’n saak te doen kan hê, soos dat dit nie onbetaalbaar duur of onimplementeerbaar moet wees nie.

Die Konstitusionele hof van Suid-Afrika (Foto: Stefan Schäfer, Lich – eie werk,via Wikemedia Commons)

Afgesien daarvan dat dit taalkundig onsin is om dit só te interpreteer, moet die bedoeling van die “wetgewer” (in hierdie verband Kodesa en later die Grondwetgewende Vergadering) ook in ag geneem word. Beide Cyril Ramaphosa en Roelf Meyer sal kan getuig dat die bedoeling in die eerste sin van art 29(2) altyd was dat die reg tot taal van keuse die toets van praktiese uitvoerbaarheid moet slaag. Die tweede deel van die sin, waar die moontlikhede om die reg (verder) te realiseer, bring eers gelykheid, regstelling en (weer) doenlikheid na vore. In die gesaghebbende “Bill of Rights Handbook” (2013), verklaar Currie en De Waal dit ook presies as ’n saak van praktiese en redelike toepassing. En die KH se uitspraak haal hulle nogal hieroor aan.

Met respek, ons geagte howe het hier nie die taaltoets geslaag nie. En GK en Afrikaans is die slagoffer daarvan.

Die KH het wel die “redelikerwys doenlik” aan die koste-aspek getoets, en op grond van die US se (ongetoetste) finansiële berekenings, kom die KH tot die gevolgtrekking dat die gelyke behoud van Afrikaans naas Engels by die US te duur sal wees om “redelikerwys doenlik” te wees.

Maar die KH gaan verder en bring ook die feit dat so baie (swart) studente nie Afrikaans kan verstaan en/of praat nie, as ’n verdere element in om die “redelikerwys doenlik” onmoontlik te maak. En die feit dat hulle deur simultane tolking in klasse “gestigmatiseerd”, gemarginaliseerd en uitgesluit voel, is volgens die KH verdere redes dat die behoud van Afrikaans nie redelikerwys doenlik is nie – ten spyte van die feit dat simultane tolking internasionaal beste praktyk by, onder meer, die VN en die EU is. Dit is duidelik dat hierdie redes wat die US bring en deur die KH aanvaar word, nie objektief is nie – en in die ideologie van #FeesMustFall in studente se “lived reality” berus.

Die gebrek aan ’n sistemiese analise

Die derde probleem waarmee GK gekonfronteer is, is dat die KH in ’n saak soos hierdie nie na die groter prentjie van Afrikaanse onderrig kyk nie. Die hof beoordeel die feitestel op die tafel en pas daarop die regsbeginsels toe. Want alhoewel al drie die regters wat die uitsprake geskryf het, erken het dat Afrikaans as onderrigtaal deur die 2016-taalbeleid onder druk geplaas word en selfs kan verdwyn, het hulle hierdie feit nie in hul uitspraak in ag geneem nie. En daarvoor kan hulle gekritiseer word. Regter Cameron gaan sover as om te stel dat die afskaling van Afrikaans ten gunste van Engels – ter wille van gelykheid, toegang en deelname – geweeg op ’n glyskaal van wat taalgewys verlore gaan, en wat verkry word ten opsigte van sosiale geregtigheid, grondwetlik regverdigbaar is. En hier is die kruks: as dit oor taal gaan, weeg die indiwidu se grondwetlike regte in die interpretasie van die KH nie so swaar soos sosiale geregtigheid nie. En Afrikaans en minderheidstaalregte is die slagoffer.

Teen die einde van sy uitspraak maak regter Cameron enkele sydelingse opmerkings. Hy erken dat die lot van inheemse tale (insluitend Afrikaans) ernstige nadenke vereis. Om die US se 2016-beleid as ooreenkomstig met art 29(2) te verklaar, kom met ’n koste wat “ons uitspraak moet erken”.

Maar dan maak die regter ’n ommekeer: hierdie probleem is nie die KH s’n nie. Die hegemonie van Engels is deel van die “mars van die geskiedenis” en is vyandig teenoor alle minderheidstale wêreldwys, ook teenoor Afrikaans. Hierdie mars van die geskiedenis en die feit dat slegs een universiteit nog Afrikaans as onderrigtaal gebruik, is ook nie die US se probleem nie. En ewe vroom sluit hy af: “Yet we should not miss the cost that the diminution of Afrikaans at the University entails not only for Gelyke Kanse and its adherents, but for our world, and for ourselves”.

Met verwysing na een van die argumente van GK, naamlik dat Afrikaans as ’n inheemse en amptelike taal ingevolge art 6(4) “gelykheid van aansien” moet geniet en “billik behandel” behoort te word (en dat dit nie by die US gebeur het nie), noem regter Cameron in die verbygaan dat die Wes-Kaapse hooggeregshof nie daarop ingegaan het nie. Maar daardie element, in samehang met art 6(2) oor die bevordering van inheemse tale “mag oorweging vereis”.

Dit is die naaste wat die KH aan ’n sistemiese analise kom.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: Flickr/GovernmentZA)

Hoofregter Mogoeng bevestig dat Afrikaans ’n Afrikataal is en dat die feit dat dit in die verlede misbruik is, nie die taal se “Afrika-DNS” beïnvloed nie. Dan maak hy die verstommende punt dat, omdat die staat nie nou die geld het om Afrikaans en ander inheemse tale ingevolge art 6 te help nie, die korporatiewe sektor dit tog asseblief moet doen!

Regter Froneman gaan verder en benader die saak wel sistemies. Hy begin met ’n sterk stelling oor die KH se aanvaarding dat die 2016-beleid in ooreenstemming met art 9(2) is.

“Mens benodig nie internasionale studies nie (waarvan daar vele is) om te besef dat hierdie stand van sake Engels as dominante taal bevestig, nie net op tersiêre vlak nie, maar, soos ons sal sien, ook vanaf laerskool na hoërskool tot by universiteit. Menings mag wissel oor die wysheid hiervan, maar dit is seer eienaardig dat hierdie hof, die uiteindelike bewaker van minderheidstaalregte ingevolge die Grondwet, sy goedkeuring daaraan gee.”

Hy wys voorts hoedat die hegemonie van Engels uiters nadelige gevolge vir jong bruin en swart Suid-Afrikaners inhou, terwyl wit Engelssprekendes (met hul eie erflating van kolonialisme) skotvry daarvan afkom.  Hy eindig met die oortuiging dat die grondwetlike bemagtiging vir elke Suid-Afrikaner om op sy/haar taal trots te wees, nie vra vir die vernietiging van ander tale nie. Om Suid-Afrika werklik veeltalig te maak, sal vereis dat almal sal saamwerk. Dit is nie “redelik onprakties” nie.

Regter Froneman se uitspraak erken ten minste die sistemiese krisis van Afrikaans en ander inheemse tale. Maar dit het nie die uitspraak verander nie.

Moenie die boodskapper skiet nie…

’n Mens kan nie anders as om te oordeel dat die KH se uitspraak nie regverdig is nie, veral omdat die hof nie die volle prentjie in ag geneem het nie. Maar dit is belangrik om te onthou dat die instansie wat die Afrikaanse taalgemeenskap by hierdie punt gebring het, nie die KH is nie, maar die US, en die Afrikaanse sakeleiers, ouers en studente wat Engels as onderrigtaal verkies. Hulle moet ten minste deel van die skuld dra.

Wat duidelik is (en verdere ontleding verdien), is dat Afrikaans by openbare instellings ’n gevoelige slag toegedien is, indien nie ’n nekslag nie. Ná die KH se uitspraak het art 29(2) geen waarde meer vir die Afrikaanse taalgemeenskap nie. Ons sal ons nou op art 29(3) moet beroep – en private Afrikaanse instellings bou. Dit is – ironies genoeg – goeie nuus vir Soltech, Akademia en Die MOS Inisiatief.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Allan ·

Goeie en insigewende artikel, baie dankie, maw Solidariteit moet hulle nou beroep op Artikel 29(3), oulik

Feite ·

Dr. Theuns dit is n baie goeie uiteensetting en uiters diplomaties gestel. Die kruks van die ontleding is dus dat alles teen afrikaans by universiteite gedraai het na die afriforum vs UV hofuitspraak. Bestudeer jy die uitspraak en kenners se menings dan kan jy nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat afriforum alles moontlik gedoen het om n ongunstige hofuitspraak te bekom. Dit laat ons by die punt om te vra of afriforum wie inderwaarheid die meeste daarby sou baat, gegewe hulle motief vir die bou van n sakeryk uit afrikaans, met opset aandadig was aan die uitfasering van afrikaans by universiteite, ten einde akademia private onderrig instellings as enigste heenkome vir afrikaans, daar te stel. Ja, dit is so dat daar baie ander faktore was wat ook n rol gespeel het, soos die owerhede se ideologiese aanslag, afrikaanssprekende kinders se ouers wat hulle eerder in engels laat onderrig ens. Geen van die faktore het egter so n groot rol gespeel soos afriforum se gevegtery vir die behoud van afrikaans by universiteite tot en met daardie spesifieke hofsaak teen die UV, wat duidelik blyk dat afriforum in daardie saak, geveg het vir n ongunstige uitslag teen afrikaans. Aangesien universiteite danksy die afriforum vs UV hofuitspraak verengels het is dit seker gepas om met n engelse aanhaling af te sluit, “let us put the blame where the blame belongs”!

Heinrich ·

Ag nee wat edele regters, hierdie is maar net ‘n oefeningetjie uit die ANC se revolusiehandleiding. Kom ons haal die ANC brilletjie af ef kyk gebalanseerd: studente wat hulle reg tot moedertaalonderrig wou beoefen sal nou gestigmatiseerd, gemarginaliseerd en uitgesluit voel omdat die enigste staatsuniversiteit wat Afrikaans moedeltaal onderig gebied het weer deur die ‘imperialists’ geboelie word. Ons sal weer soos van ouds tot selfhelp oorgaan en ons sal weer soos in die verlede uitstyg bo omstandighede.

Stephan de S ·

Dankie vir hd goeie ontleding vd situasie. Mag daar Afrikanerleiers opstàan om ons om hd struikelblokke te begelei na n punt waar ons onbevrees n gemeenskap kan wees met eie taal en kultuurgoedere. Ek dink ook aan die insigtelike artikel v Alana Bailey oor die bewaring v kultuurgoedere .

Leopold Scholtz ·

Briljante artikel. Ek haal my hoed vir Theuns Eloff af.

Hendrik Biebouw ·

Tyd vir n privaat Afrikaanse universiteit in Stellenbosch.

Fanie ·

Dr Theuns, baie dankie vir ‘n gewigtige en ewewigtige ontleding. Dankie ook dat jy die Puk vir ‘n geslag studente Afrikaans gehou het, en vir wat jy steeds vir ons taal doen.

Realis ·

Baie dankie Dr. Theuns Eloff vir baie insiggewende artikel wat mens stem tot diepe nadenke.
My versugting: In ‘n tyd soos hierdie waar die aanslag teen die Afrikaner, sy Taal en kultuur fel is, het ons almal se lojale samewerking nodig om in die bres te staan.
Kom ons hou op om mede stryders, waaronder iemand soos Dr. Theuns en AfriForum, aan te val, te verwyt en verdag te maak. Ons verswak daardeur net ons eie linies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.