Die leuen van apartheid

Deur Arthur Kemp

Foto geneem op 1 Maart 1989 van ‘n bord wat sê “Whites only / Slegs Blankes” in die myndorpie Carletonville. (Foto: Philip LITTLETON / AFP)

Dit is een van die bitterste ironieë van Suid-Afrika dat die beleid van apartheid – waaraan Afrikaners vir dekades vasklou as hul enigste hoop en redding teenoor oorheersing – eintlik ʼn onuitvoerbare en onwerklike stelsel was wat direk tot die Afrikaners se ondergang gelei het.

Politieke mag spruit uit fisiese besetting: nie historiese regte nie, nie titelaktes nie, nie “morele reg” nie – slegs besetting. Die mense wat ʼn gebied beset, bepaal die aard van die samelewing daar.

Twee voorbeelde sal hierdie realiteit bewys.

Die eerste. Die Amerikaanse Indiane was die dominante kultuurskeppers in Noord-Amerika vóór 1500. Na daardie jaar, het die kontinent egter volgeloop met Europese immigrante. Die Indiaanse beskawing is dus vervang deur ʼn Europese beskawing omdat Europeërs die kontinent fisies beset het.

Die tweede. Die staat van Israel het eers ʼn politieke realiteit geword nadat die Zionistiese beweging verseker het dat Jode ʼn meerderheid van die bevolking in Palestyne word. Voor hierdie meerderheidsbesetting, het die staat van Israel nie bestaan nie.

Wat dan van Suid-Afrika?

In 1904 is die eerste amptelike sensus in die Transvaal deur die Britse owerhede uitgevoer. Daar was 297 277 blankes en 937 127 nieblankes in die Transvaal. (Sien “Transvaal”, 1911 Encyclopedia Britannica). Die laasgenoemde syfer het 135 042 buitelandse swart mense wat in die myne gewerk het, ingesluit, wat dus tydelike inwoners was. As hierdie getal uitgesluit word, was die werklike inheemse swart bevolking van die Transvaal in 1904 dus net 802 085.

Sowat 55 jaar later, in 1960, was daar in die Transvaal 1 455 372 wit- en 4 769 680 swart mense (Sien “Transvaal”, Encyclopedia Britannica, 1966). Vir die hele land was die syfers selfs meer onrusbarend: 4,5 miljoen wit teenoor ongeveer 35 miljoen swart mense, plus 3 miljoen bruin en amper ʼn miljoen van Asiatiese herkoms.

Wat het hierdie massiewe bevolkingsverandering binne ʼn skamele 50 jaar veroorsaak?

Die antwoord is eenvoudig. Die gebruik van “goedkoop” arbeid. Afrikaans- en Engelssprekende wit mense in Suid-Afrika het verslaaf geraak aan die gebruik van goedkoop swart arbeid. In elke huis was daar bediendes. In elke tuin was daar ʼn “tuinjong”.

By elke bouterrein is volksvreemde arbeiders gebruik. In elke fabriek is “goedkoop” swart arbeid gebruik. Elke myn en elke bedryf was afhanklik van swart arbeid. Geen boer kon ʼn boerdery dryf sonder dosyne nieblanke arbeiders… en die lys gaan aan en aan.

Reguitgestel: Wit mense se gebruik van hierdie goedkoop arbeid het die swart bevolking in staat gestel om in getalle toe te neem totdat hulle “wit Suid-Afrika” in getalle oorrompel het.

Dié toename is gegrond op die feit dat swart mense van die voordele van ʼn moderne samelewing voordeel kon trek: medisyne, skole, geordende dienslewering, en ʼn moderne, funksionerende staat.

Gevorderde mediese dienste het ʼn dramatiese verlaging in die swart kindersterftesyfer veroorsaak met die aanwas wat dieselfde gebly het.

Die werk, geld, en die daaropvolgende moderne infrastruktuur deur wit mense verskaf, het hierdie massiewe bevolkingstoename veroorsaak.

Apartheid het nooit eens probeer om hierdie kernprobleem aan te spreek nie. Inteendeel, die gebruik van swart arbeid is in die sisteem ingebou – die paswette is vanselfsprekend hiervan bewys. Die geordende gebruik van swart arbeid was deel van die apartheidswette!

Daar was nooit ʼn voorbeeld waar ʼn beskawing, enige beskawing, geskep deur enige groep behoue gebly het in ʼn gebied waar daardie groep ʼn minderheid geword het nie.

Apartheid se plan was om sosiale segregasie bo-op ekonomiese integrasie af te dwing. Hierdie beleid is gegrond op ʼn blatante wanvoorstelling, naamlik dat swart arbeid gebruik kon word om die wiele van die samelewing aan die gang te hou, maar steeds wit heerskappy sou bevorder.

Dit was dus die leuen van apartheid. Dat dit moontlik was, deur segregasie, om te verseker dat swart mense nie oor ʼn land kon regeer waarin hulle die meerderheid is nie.

Dit moet genoem word dat baie wit Suid-Afrikaanse burgers werklik hierdie leuen geglo het. Daar kan sonder enige opsetlike ironie gesê word dat die definisie van ʼn wit Suid-Afrikaanse burger is “iemand wat eerder in sy bed vermoor sou wil word as om dit self op te maak”.

ʼn Siniese waarnemer het gepraat oor die “grassnyer-sindroom” onder Suid-Afrikaanse wit burgers. ʼn Grassnyer sit stil in sy berging totdat dit nodig is. Dan sny dit die gras, en word terug “op sy plek” gesit, waar dit nooit probleme veroorsaak nie.

Die werklikheid van volksvreemde arbeid is, natuurlik, dramaties anders.

Wie het regtig gedink dat massas swart burgers, wat al die werk in die stedelike gebiede doen, tevrede sou wees om hul politieke regte net in die “tuislande” uit te oefen? Blykbaar net die apartheid-gelowiges.

Nog ʼn belangrike deel van die apartheid-leuen was dat militêre mag die stelsel in plek kon hou.

Die demografiese werklikheid weerspreek hierdie stelling. Die wit bevolking was, op sy hoogtepunt, sowat 5 miljoen, terwyl die swart bevolking meer as 30 miljoen (op daardie tydstip) beloop het.

Van die 5 miljoen wit mense, was minder as 800 000 mans van militêre diensbare ouderdom, maar dit was ook nie moontlik om hulle almal op een tydstip op te roep nie.

Die staat moes dus staatmaak op ʼn militêre mag van sowat 120 000 soldate en 60 000 polisiebeamptes (waarvan die meerderheid van laasgenoemde swart was, natuurlik…) om wet en orde oor ʼn bevolking van miljoene te handhaaf.

Gegewe daardie demografiese werklikheid, kan daar gesien word dat apartheid nie deur militêre middele volhoubaar was nie.

Tog het die leuen voortgegaan, en jong wit Suid-Afrikaanse burgers is in die weermag en polisie ingelyf om te veg en te sterf vir ʼn stelsel wat verdoem was.

Die tweede been van die apartheidsbeleid was sogenaamde Groot Apartheid – die skepping van onafhanklike swart tuislande.

Daar is geen vraag daaroor of die tuislande wel die gebiede was wat deur die swart stamme oorspronklik besit is nie. Maar net ʼn dwaas sou ontken dat die aanbod van werk by die witmense – met die gepaardgaande verbeterde lewenstandaarde – dit onvermydelik gemaak het dat swart mense buite die stamtuislande sou gaan woon.

Hierdie situasie het daartoe gelei dat selfs die sogenaamde “blanke gebiede” in die stede nie eintlik blank was nie – as ʼn mens die teenwoordigheid van swart bediendes, tuiniers, arbeiders en so meer in ag geneem het.

In ʼn neutedop, die apartheid-stelsel het geweier om die basiese demografiese werklikheid te aanvaar: diegene wat ʼn ruimte beset, bepaal die aard van die samelewing in daardie ruimte, ongeag aan wie daardie ruimte oorspronklik behoort het.

“Blank Suid-Afrika” se lot is bepaal toe die territoriale verdeling nie aangepas is om die demografiese werklikhede in ag te neem nie. Die afhanklikheid op swart arbeid was die primêre dryfveer van hierdie wanopvatting.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die gebruik van swart arbeid die direkte oorsaak was van die val van apartheid en ook wit heerskappy in Suid-Afrika.

Die vraag ontstaan dus. Gegewe die huidige situasie, kan die Afrikaners gered word?

Die antwoord is relatief eenvoudig. In ʼn verenigde Suid-Afrika, waarin hulle die permanente minderheid is, is die antwoord “nee.” In ʼn kleiner streek waar Afrikaners die meerderheidsbevolking vorm, is die antwoord “ja”.

Geen minderheid het ooit onbepaald oorleef in die aangesig van ʼn groeiende vyandige meerderheid nie – veral een in Suid-Afrika waar die materiële verskil tussen wit en swart so groot is nie.

Daar is net een manier waarop Afrikaners gered kan word. Eerstens, moet daar ʼn algemene aanvaarding plaasvind van die verwantskap tussen demografie en politieke mag. Tweedens, moet daar ook aanvaar word dat oorlewing afhang van eie arbeid en meerderheidsbesit van ʼn geografiese gebied.

Slegs as ʼn meerderheid van Afrikaners hierdie twee waarhede verstaan, kan daar selfs begin word om te praat oor ʼn praktiese plan om hulle te red.

In praktiese terme beteken dit dat Afrikaners ʼn gebied of streek moet skep waarin hulle die demografiese meerderheid vorm. Hierdie gebied sal, bloot as gevolg van demografiese realiteite, ʼn veel kleiner gebied wees as dié wat destyds as “blank Suid-Afrika” opgeëis is.

Selfs meer belangrik, en hier is die begrip van die verhouding tussen eie arbeid en demografie van toepassing, moet almal wat na so ʼn gebied trek bereid wees om hul eie arbeid te doen.

As 500 000 Afrikaners byvoorbeeld in die Orania-streek hulself sou kon vestig, sal daardie gebied oornag de facto, en later, onvermydelik, de jure, ʼn Afrikaner-staat word.

Dit is die enigste manier waarop Afrikaners gespaar kan word van die lot van alle moderne minderhede in Afrika. Hulle moet hul afhanklikheid op swart arbeid vaarwel roep, en hul redding soek in ʼn kleiner gebied waar hulle ʼn demografiese meerderheid vorm.

Dit is die harde werklikheid. Alle politieke aktiwiteite wat nie hierop gerig is nie, is irrelevant en kaf in die wind.

  • Arthur Kemp is ‘n gepubliseerde skrywer en oud-joernalis.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

melaney ·

Ek het ingels grootgeword. Van vroeg af geleer om almal met respek te behandel, sonder uitsondering. My eerste werk tussen sowat 120 Afrikaanssprekendes. Met my gebroke afrikaans het ek kliphard probeer om in te pas. Meerderheid was vriendelik teenoor my. Twee senior bestuurders glad nie. Kon nooit verstaan waarom ek so stief behandel was nie. My sonde? My moedertaal. My medewerkers kon maak en breek soos hulle wou, maar nie ek nie. Toe trou ek met ‘n regte boer. Hy het die mooi in my gesien en ons kinders is tweetalig grootgemaak. Nooit ‘n ‘domestic/tuinier gehad. Anderkleuriges was verstom om te hoor ons werk ‘self’. My swart (geleerde) buurvrou praat om die rede nie met my nie. Reënboog nasie? Wys my.

Hendrik ·

Ons werk al 25 jaar alleen sonder enige werkers en het nog niks oorgekom nie.

Harley Davidson ·

Die Afrikaners het ‘n lui nasie geword en die vermoë om dit om te keer gaan ons toekoms bepaal.

Hendrik ·

Dit is beslis jou mening. Kom werk ‘n bietjie saam met ons , sonder werkers.

Goldy ·

Dat Afrikaners se gemaklikheid die hoofrede is vir die val van aparte ontwikkeling is so waar, en kan gesien word tot vandag in mense wat sê dat SA steeds beter is as Australia, Amerika ens. want daar moet jy als self doen. Ek weet ook van baie mense wat geemmigreer het en daar die end van hul huwelik of hoop tegemoedgekom omdat dit nie so gemaklik daar was nie. Die artikel is uitstekend. In alle opsigte. Die outeur is duidelik n persoon wat baie diep kan dink en by kernoorsake uitkom, ek hoop ons kan baie meer artikels van die skrywer kry.

Goldy ·

Werklik, sie enigste hoop is eie land, al is dit klein soos israel. Met vandag se tegnologie het mens nie n reuseland nodig nie. Water al is dit seewater, en lekker sterk son, en n gebied groot genoeg om in te ontspan, rondbeweeg, hoë tegnologie sagteware industriee te bou en te verdedig, is oorgenoeg.

Werner ·

Soos die artikel aandui, bestaan hierdie land, waarna jy verwys, reeds. Baie water (Oranjerivier), baie son en genoeg plek. Al wat kort is jy en ander soos jy. Waar is jy? Wat ons wèrklik nodig het, is minder praat en meer doen.

groenboer ·

Op die oomblik is dit nie so maklik nie, want geleenthede in Orania is beperk. Maar dit is ‘n ding wat homself voed: hoe meer mense daar is, hoe meer geleenthede ontstaan, sodat self nog meer mense daar gaan woon, ens. Stede se groei is aanvanklik uiters stadig, maar dit kan vinnig versnel.

Dit het Orania 30 jaar geneem om te groei van ‘n paar honderd inwoners na drieduisend. Maar dit beteken nie dat dit nog 30 jaar gaan neem voor daar sesduisend is nie!

Goldy ·

Reg, en baie mense weet nognie maar hulle gaan ekonomiese vlugtelinge na orania word soos die res van die land almeer gaan vergaan. Orania, solank dit produktiewe westerse werksetiek en waardes handhaaf, sal bly goei en die groei sal spoed vang soos die en besigheid die volgende lok.

Koen ·

Net bedoel vir die uitverkore volk soos gebreinspoel. lank, blond, maer. Geen vettes, kortes, mense met gebreke atieste en gays teogelaat nie. Vrouens onderdanig aan mans en kinders word geslat. Maar julle bly nog in SA. Miskien moet LL vir julle gaan besoek en Julius saamneem sodat julle kan wakker word.

Goldy ·

Klink asof jy die liberale lande met hul diskriminerende rasbeleid beskryf, en die vryheid wat hulle gee aan kriminele om aan vroue, kinders,, bejaardes, almal aan te doen net wat hulle wil sonder gevolge.

Goldy ·

Ongelukkig nie, Orania is ten volle van die Oranje rivier afhanklik en daarom ten volle uitgelewer van dat SA regering stroomop met die water wil doen of stroomaf vereis. Die oranjerivier is in droee jare alreeds teen volle kapasiteit benut en gaan erger raak. Meer plek is nodig en dit kan gekry word want ons leef.

Goldy ·

Waarom nie, daars meer as 200 ander lande om te kies en te keur as jy nie in n Christelike staat met pre-woke westerse waardes wil bly nie.

Hendrik ·

n Baie goeie inset wat die werklikheid bevestig. Die probleem het reeds sederd 1652 begin. Blanke seuns moes eerder as touleiers gebruik word.
Vandag is die skokkend stelling waar,nog steeds verkies ons om eerder in ons bed vermoor te word as om dit self op te maak.

groenboer ·

Alles baie waar. Afriforum en Solidatiteit praat van “ankerdorpe” waar Afrikaners die meerderheid is of sal wees. Maar solank daardie dorpe (wat natuurlik ook sentra van uitnemendheid sal wees in terme van dienste en lewenstandaard) aanhou om van volksvreemde arbeid gebruik te maak, help dit nie, want dit sal ‘n massale toestroming van werksoekers tot gevolg hê, tot die “ankerdorp” nie meer ‘n Afrikaanse meerderheid het nie.

Hendrik ·

Wel daar is beslis nie ‘n toestroming van blenke werkers na ons gebied toe want hulle moet werk. So stukkie vir stukkie draai vorder ons sonder volksvreemde arbeid en dan ook so sonder misdaad. Ons het nie misdaad nie!

Richard ·

Wel wel. Nou kom die waarheid uiteindelik uit. Tien uit tien vir vir Arthur Kemp. Die Afrikaner en wit Engels sprekendes is nog vandag nog baie gemaklik. Ek ken talle vriende kennisse en familie wat sal vergaan as daar nie ‘n huishulp of tuinjong is nie. (uitgesluit die wat weens siekte of gebrek nie anders kan nie) Dan moet jy die ekskuus hoor van ons werk hard. My kinders is te besig, Daar is nie tyd nie dis die dis dat en nog meer. Jammer, maar jy maak tyd. Dit gaan oor prioriteite. Dank vader my ouers het my van kleins af geleer niemand gaan agter jou skoonmaak nie. Vandag doen ons alles self.

Hussin ·

As goeie betroubare huiswerkers en tuin hulp maar beskikbaar was in Suid-Afrika, maar dit is nie. Jy moet alles self doen. Daar is GEEN hulp hier nie. Suid-Afrika is uiters ongerieflik.

Hendrik ·

Al ons vriende het geen huiswerkers nie en die enigste mense wat wit huiswerkers het is die oumense. Dit verstaan ons goed.

Richard ·

Wonder hoeveel van die kommentators het huishulpe en tuinjonge……….. ????

Koen ·

net soveel soos die wat nie 7de laan kyk nie, nie by spur eet nie. Nie by dischem koop nie en hulle DSTV skottels opgekap het. Dws, amper die hele volk. Bahahahahahaaaaaaa

Laeik ·

Nie ek nie. Al vir 10 jaar geen huis of tuinhulp,en mos dit nie. Mens pas jou lewe aan rondom dit.

Ek bly in Australië.

Hendrik ·

Ons het geen werkers binne of buite die huis en is al 20 jaar sonder volksvreemde werkers. Dit hang ook natuurlik in watter gemeenskap jy woon. Hier by ons het ons net eie volk arbeiders en ons gebruik hulle ook nie.

Piet ·

Die waarheid maak soms seer, maar dit maak ook vry – as die Afrikaner maar net vry wou word.

Conrad ·

Hierdie is ‘n duur les wat Orania poog om van grondslag af reg te kry. (En reg gekry het)

Eie grond. Eie Arbeid. Eie instellings.

Koen ·

eie taal, eie godsdiens, eie ek. Soos eendtjie, eendtjies, stap in ‘n ry. Een twee, drie vier gaan hul verby. Daar gaan so baie inbreeding wees dat julle nageslag nie herkenbaar sal wees nie.

Hendrik ·

In Kleinfontein met 1500 inwoners, 500 huise het ons net wit werkers. Hulle is min maar hulle werk hard saam met ons.

Hussin ·

Suid-Afrika, grieflik? Waarkom julle daaraan? Ongemaklikste plek denkbaar. Gaan Dubai toe, Abu-Dhabi, dit is gerief. Betroubare inwonende hulp, diens van die hoogste gehalte oral waar jy gaan. In Suid-Afrika is dit net ‘n droom.

annie ·

‘n Mens moet regtig bietjie onthou wat jy aan die begin van jou skrywe betoog het en weer aan die einde sê: Apartheid is verkeerd en apartheid is reg. Hierdie tipe skrywes gaan ook Orania sy deure moet laat sluit en die Kaapse trek in die ANC-modder laat vasval. Afrikaners doen eers en dan dink hulle… dalk.

Republikein in die Wes Kaap ·

En party Afrikaners dink en doen niks. ‘n Goeie Feëtjie gaan nie kom help nie.

Hendrik ·

Wel in enige land in die wereld word werkers gebruik wat beskikbaar was op daardie gegewe oomblik in die geskiedenis. Net so het die Engelse swart arbeid uit die kolonie gaan haal om in die myne te werk.. Die rede was goedkoop arbeid. SA is nie uniek nie en in Amerika word werkers uit Suid-Amerika gebruik en In Oz is alles so duur dat jy niemand kan bekostig nie. Wel in ons gemeenskap doen ons alles self en ons het feitlik geen misdaad, baie water en Elektrisiteit. Julle keuse waar julle wil woon en wie julle wil huur as werkers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.