Die negende verlore generasie

“Toe die pasiënt se skedel so oopgeflap word en die brein met die tumor so oop en bloot daar lê, was dit die mooiste ding wat ek in my hele lewe gesien het.”

Ons vyftienjarige kleindogter sit ná nog ‘n dag se skaduwerk in ‘n Bloemfonteinse hospitaal op ‘n toonbankstoel in ons kombuis. “Wat máák ek nog in die skool?” vra sy. “As ek graad 11 en 12 in een jaar kon doen, het ek dit gedoen.”

Tieners wat dinge soos anatomie-ensiklopedieë, mikroskope, olieverf, musiekinstrumente, kookboeke of gereedskapstelle op hulle wenslyste plaas, is nie terloops geïnteresseerd of impulsief nie. Hulle behoort waarskynlik ook nie tot die negende verlore generasie nie.

Daar moet ‘n logiese verklaring vir die feit wees dat twee tieners wat in min of meer dieselfde sosio-ekonomiese omstandighede grootword, op dieselfde uur van die dag by die hekke van twee stadskole uitgestap kan kom – en dat een tot die negende verlore generasie behoort en die ander een níé.

Daar is baie soorte verlorenheid, afsonderlik en kollektief veroorsaak deur die dwaashede, vergrype, hebsug, kortsigtigheid, materialisme, boosheid, blindheid, nalatigheid en magsug van maghebbers, regeerders, vreesagtiges, selfsugtiges en hoogmoediges.

Die aarde is ‘n plek van verlorenhede: Apartheidsverlorenheid, sosio-ekonomiese verlorenheid, oorlogs- en na-oorlogse verlorenheid en die verwaarlosingsverlorenheid van groot welvaart en min persoonlike kontak. Daar is die huidige resessie-depressieverlorenheid van gekwalifiseerde jongmense wat tevergeefs aansoek doen vir die soort werk waarvoor hulle opgelei is. Daar is hongersnoods- en vlugtelingkampverlorenheid. Daar is die verlorenheid – die wegraak uit die landskap van eie identiteit – van die kinders van emigrante. Daar is die verlorenheid van die struggle wat nooit ophou nie. Waar jongmense deur opruiende leiers begeester word, waar eise nooit ophou nie, is dié wat met die plakkate loop ‘n verlore geslag. Hulle word asof deur die rottevanger van Hamelen dieper in hulle verlorenheid ingelei in plaas van daaruit. Oral op die aarde waar jongmense klippe gooi en buitebande aan die brand steek, verwoesting aanrig en voertuie omkeer, gaap die afgrond dieper. En dit wat ten aanskoue van die Rottevangers met hulle gebalde vuiste in die dieptes afstort, is die potensiaal en die krag, die energie en die talente van ‘n generasie wat iets beters verdien.

Oor elkeen van hierdie verlorenhede kan ‘n paar doktorale tesisse geskryf word. Maar dis die negende verlore generasie wat by my en my tydgenote spook. Dis die negende verlore generasie – en die oorsake vir hulle verlorenheid – wat ons woedend en wanhopig maak. Of selfondersoek moet laat doen.

Die kind kom van die skool af. Skoolnuus: geen nuus nie. Alles was boring. Nee, hulle het nie huiswerk nie, derde kwartaal of te not. Hoekom nie? Die onderwyser was nie daar nie, twee onderwysers het die hele periode grappies gemaak; die hele skooldag het uit toesigperiodes bestaan. Gesprek afgesluit; onder die tafelblad aan etenstafel is daar heelwat Mixit of Blackberry tot Blackberry boodskappe om op te reageer. Na ete is dit Facebook. “Maar Ouma/Oupa/Tannie/Ma, ons hét nie huiswerk nie…”

Skouerophalend – darem wel fronsend – sê een lid van my generasie (Baby Boomers, so behep met heropbou en ambisie en ideale en so deurtrek van alle argaïese euwels) vir die ander: “Hoe kan dit wees? Waar gaan die wêreld heen?”

Dalk moet ons ophou om retoriese vrae te vra. Met tienduisende leerders in hierdie land – ook leerders aan vooraandstaande skole – wat die negende verlore generasie kan word, kan die vraag nie net in die lug bly hang nie.

Die negende verlore generasie is die geslag vir wie min dinge saak maak, die rondhanggenerasie. Dis die ongemotiveerde, ongeïnspireerde segment van die jeug van enige land. Dit is die leerders en studente wat vir kwaadgeld skool toe gaan en onleerbaar geword het.

Wie en wat kweek die negende verlore generasie? Een van die ongesiene tragedies wat tans in ons land afspeel, is dat kinders op wie sorg, liefde, tyd, energie en entoesiasme van ouers, grootouers, kleuterskool- en laerskoolonderwysers in die tydperk tussen geboorte en hulle tienerjare uitgegiet is, in hoërskole beland waar entoesiasme, lewensdrif, passie en toewyding uit die mode is.

Op die drumpel tussen die ouerhuis en die groot lewe daarbuite is daar ‘n bepalende moment. Die leerder moet kies waar hy/sy hom/haar voortaan wil bevind: in die milieu van toewyding en lewensdrif wat hy/sy as jong kind geken het, of in die gees en atmosfeer van die skool wat hy/sy betree. Geseënd is die kind wat ontdek dat die atmosfeer aan weerskante van die drumpel dieselfde is: dat die hoërskoolmilieu so gesond, so uitdagend en so dinamies is, dat die skooldag te kort en die ure te min is.

Waar die keuse tussen ou lewensdrif en inwees is, sal 9 uit 10 leerders inwees kies. Om in te wees in kwaadgeld en rondhang, is nie moeilik nie. En dit werk. Hierdie keuse deursuur uiteindelik die kind se hele lewe.

Laat ons maar ophou om die kop oor skole in voorheen of steeds benadeelde gemeenskappe te skud. Laat ons ‘n slag in die oë en in die gesig van die leerders kyk wat smiddae by enige skoolhek in die land uitgestap kom. Laat ons maar ophou om die skouers so op te haal oor “vandag se hoërskoolleerders.”

Ouers betaal vir die onderrig van hulle kinders. Indien kinders keer op keer met die storie by die huis aankom dat daar niks in die klaskamer aangegaan het nie, moet die saak aangespreek word, en gou ook. Die kliënt word ingeloop. Die skoolhoof moet daaroor gespreek word.

Die kind wat elke dag met die storie by die huis aankom dat daar niks by die skool gebeur nie, vertel die waarheid: óf oor wat in die klaskamer aangaan, óf oor wat in hom/haarself aangaan. Iets gaan aan: onduldbare verkulling van die ouer en leerder as kliënt in die klaskamer, of wilsverstopping in die kind.

In laasgenoemde geval is daar ‘n blokkasie in die kind self. Die kanaal waardeur kennis en lewenstoerusting opgeneem word, het om een of ander rede verstop geraak. By die prop in die kanaal moet ons uitkom. Indien ons net hieroor skouers bly ophaal, beland nog ‘n kind in die geledere van die negende verlore generasie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Maretha Maartens

Meer oor die skrywer: Maretha Maartens

Maretha Maartens is die skrywer van meer as 100 gepubliseerde boeke en meer as 1000 tydskrifartikels en koerantrubrieke. Sy wil nêrens anders as in (Suid) Afrika leef en werk nie. Haar lewensleuse is om lig en eenvoudig te leef. Haar God is die God van die Bybel.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Helizna Kilian ·

En wat kan ons hieraan doen? Hoe motiveer ‘n mens kinders en onderwysers wat nie wil werk nie? Hoe kry ‘n mens daardie blokkasie in beide groepe en hoe verwyder ‘n mens dit?

Philip Minnaar ·

Selfs al sou daar iets aan die dienslewering by skole gedoen word, oordeel ek dat dit nie die situasie van wilsverstopping drasties by die kinders sou kon verbeter nie. Miskien is dit eerder ‘n wilsverstopping by sommige ouer generasies. Ek vermoed dat die ouer generasies ‘n groter aandeel het as wat hulle regtig wil glo. Dit gaan oor die reg van ander om ander realiteite as joune te mag hê. Dit gaan oor die reg tot ‘n opinie wat van joune mag verskil. Dit gaan oor die vermoë om na die wêreld uit ‘n ander se oë te kan kyk. Dit gaan ook oor ‘n vermoë om die “skuld/skande/vrees” -bril te kan afhaal en die “tradisie”-jasse te kan uittrek. Maar ek dink dit gaan veral oor die vermoë om geborgenheid te skep, om erkenning en unieke individualiteit aan elke mens te erken. Watter ouer sien kans om hulle skoolverlater-kinders die geleentheid te bied om sonder veroordeling te kan vertel hoe hulle die ouerskap van hulle ouers beleef het – en ouers kan erken dat hulle metode van opvoeding nie die volmaakte resep was nie. Ek vermoed die sleutel tot die verstaan van die wilsvertopping by kinders lê by die onvoorwaardelike erkenning van hulle mens-wees. Reeds van kleintyd af. En net miskien word ‘n ou seerkry by die ouer ook in die proses genees en lei dit tot ‘n beter verstaan van die self.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.