Die nuwe proxy-oorloë

(Foto: Stefani Reynolds/AFP)

Die Oekraïne-oorlog is nie net ʼn oorlog tussen twee state waarvan een ʼn grootmoondheid met kernwapens is nie, dit is ook in die wyer konteks ʼn konflik tussen die Weste en die Ooste.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, het dit in ʼn onlangse toespraak in dié konteks geplaas, maar ook in die VSA word dit by implikasie as deel van ʼn groter konflik oor die toekomstige magsewewig van die wêreld gesien. Rusland is daarby net die juniorvennoot van China, wat wel nie self militêr betrokke is nie, maar wat graag die VSA se posisie wil verswak om onder die vaandel van ʼn multipolêre wêreld self die wêreldleier te word.

Tydens die Koue Oorlog van weleer was bykans elke konflik tussen state, en meer dikwels tussen verskillende groepe binne state, ʼn volmagstryd (proxy-oorlog) tussen die supermoondhede – die VSA en die Sowjet-Unie. Daarby moet egter nie vergeet word nie dat daar egte griewe en haat op grondvlak was en die supermoondhede wel ingemeng het, maar nie die oorsake van konflikte geskep het nie.

Behalwe vir die konfrontasie in Oekraïne is daar ander sones van konflik wat deel uitmaak van die groter konflik tussen die VSA/Navo/EU en bondgenote, aan die een kant, en China/Rusland en hulle verskeie bondgenote, aan die ander kant.

In die Stille Oseaan is daar primêr die konflik tussen China en Taiwan, asook tussen Noord- en Suid-Korea, wat beide moontlik ʼn warm oorlog kan word. China het in die streek vir Noord-Korea en Rusland, wat ook aan die Stille Oseaan grens, as bondgenote, Japan, Suid-Korea, Taiwan en Australië deel almal die vrees vir China en beweeg naby aan die VSA.

In die Midde-Ooste is die oeroue konflik tussen Israel en die Arabiere ook ʼn botsing tussen die VSA as sterk bondgenoot van Israel, en Iran, aardsvyand van Israel en die VSA en bondgenote met Rusland en in ʼn mindere mate ook met China. Die Golfstate asook Egipte is eerder aan die Weste se kant (alhoewel groot dele van die bevolking anti-Israel en anti-Westers is), en Jemen, Irak en die Palestyne is vriende met Iran. Turkye is wel deel van Navo, maar probeer sy brood aan albei kante botter en sy eie streekspolitiek te bedryf. As Iran sy eie kernwapens vervaardig (blykbaar is hulle baie naby) en daarmee Israel aanval, of Israel ʼn voorsprongoperasie doen om dit te verhoed, is die kans vir ʼn streeksoorlog groot. Reeds nou val Iran se pionne, in die vorm van verskeie terreurgroepe, Israel vanaf sy buurlande Libanon, Gaza en Sirië aan.

In Europa is daar in die Balkan die onopgeloste Kosovo-vraagstuk, wat ook ʼn dimensie van die Oos-Wes-konflik het: Serwië is tradisioneel vriende met Rusland. Kosovo het sy staatskap aan Navo en die se lugaanvalle op Serwië te danke en indien Kosovo aangeval word, mag Navo verplig voel om tot die mini-staat se redding te kom. Die onderdrukking van die klein Serwiese minderheid in Kosovo kan Serwië noop om dit as rede te gebruik om Kosovo aan te val en weer by Serwië in te lyf, of die noordelike deel waar die meeste Serwiërs woon, van Kosovo af te sny, na die lees van die Russiese anneksasie van die Krim. Ook in naburige Bosnië-Herzegowina is die ou konflik tussen Serwiërs en Moslem-Bosniërs nog nie opgelos nie en kan dit by ʼn moontlike Kosovo-oorlog ingetrek word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Die EU is lakeie van die VSA en NATO (plus IMF en die res). Dat die Europese kiesers toelaat dat die EU hulle so laat swaarkry weet geen mens nie – daar lê n moeilike koue winter voor vir Europa sonder goedkoper energiebronne. Dit lyk na hardkoppigheid of domonnoselheid van die EU se kant. Die US was nog altyd te grootdoenerig en aggressief en vir Europa voel hulle vere. Dit is ook geen verrassing dat die US al soveel landbougrond in die Ukraiene spotgoedkoop opgekoop het nie. Dan moet die Ukraiene ook weet alles wat hulle kry word opgeskryf in die vorm van skuld wat hulle moet terugbetaal. Zelensky het sy land se mense verkoop vir 30 sikkels silwer en die slawe geword van die IMF. Dis maar my mening. Ek voel ook nie jammer vir die VK nie, Hulle was nog altyd die eerste om Afrika op te koop en om te koop

Groen Ghoen ·

Die astronomiese bedrae wat die VSA aan wapens na Zelensky toe stuur beteken eintlik dat die Amerikaanse wapenvervaardigers die geld ontvang. Dit terwyl die VSA se totale skuld alreeds $30 triljoen bedra. Rusland vernietig die Ukraine met goedkoop artillerie bombardemente. Hoe gaan die EU na die winter daaruitsien? Iewers maak iets nie sin nie.

Braam ·

Spot-on Maria. Die skrywers, joernaliste en ‘navorsers’ se artikels en skrywes is maar vaal, hieper versigtig, eensydig, veralgemenend en polities korrek. Van die atrikels skree soms van eensydigheid en anders as wat die joernaliste beweer, is daar weining of geen navorsing van die onderwerp gedoen nie.
Dus kan ons nie anders as om ‘kommentaar’ te lewer, meer feite aan die lig te bring en meer geballanseerde kommentaar te lewer. Soms is dit nodig om krities te wees, maar ‘Ooo Weee’ moet net nie een van die rubriekskrywers kritiseer nie, Dan verdwyn jou kommentaar vinniger as ‘n toyota uit ‘n sandton parkeer area.

Autobahn ·

Maria, ek stem saam, behalwe, die regerings in Wes-Europa en van die EU weet presies wat hulle doen. Die eie ekonomieë word doelbewus opgeoffer vir een of ander agenda. Miskien om die VSA ekonomies weer op die bene te kry of om Sjina as wêreldmag te installeer. Maar ´n mens kan verseker sê dat die groot ekonomieë in die EU doelbewus gedeïndustrialiseer word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.