Die tolpad na nêrens

Deur Charné Mostert

Sindisiwe Chikunga, Panyaza Lesufi, Themba Mhambi, Reginald Demana, SANRAL, e-tol, Gauteng premier, minister van transport, departement van transport

Panyaza Lesufi, Gautengse premier. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Dis waar: Waarde lê nie daarin om die oue vir die nuwe te verruil nie, maar om nuwe lewe in bestaande stelsels te blaas.

Een ding wat die ANC bemeester het, is om wanfunksionerende stelsels onder die mat in te vee en dan ʼn nuwe vertoonstuk aan te bied – soos ʼn gepoleerde koffietafel met ʼn bos pragtige rose bo-op – om die aandag van die onderliggende probleme af te trek. Innovering behoort te fungeer as ʼn verbetering, en nie vervanging nie, van die fondamente wat ons ten spyte van nuwe tegnologiese horisonne gebou het.

Om boonop nuwe vervangende stelsels in werking te stel as benadering om probleme te verhoed gee nie aan die regering ʼn verskoning vir die foute wat dit in die vorige jare gemaak het nie.

Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, het motoriste rooi onder die kraag gelaat toe hy op 14 Februarie vanjaar aangekondig het dat alle Gautengse voertuigeienaars nuwe nommerplate sal moet kry. Dit blyk net nóg ʼn duur onderneming te wees, natuurlik ten koste van die belastingbetaler, wat onvermydelik nie in die doel sal slaag wat dit voorgee om te wil bereik nie.

ʼn Paar dae nadat die nuwe nommerplate aangekondig is, het die opspraakwekkende e-tolstelsel in Gauteng tot ʼn einde gekom. Dié stelsel is in Desember 2013 van stapel gestuur as ʼn elektroniese tolinvorderingstelsel om te verhoed dat motoriste by tolhekke hoef te stop, terwyl die e-proses die geld outomaties sou invorder.

Die publiek het die stelsel verwerp, wat uiteindelik in ʼn kultuur van openbare weiering ontaard het. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en die regering het saam aangekondig dat die e-tolstelsel op ʼn pad is wat na nêrens heen gaan en dat dit ná 11 jaar van werksaamhede afgeskaf gaan word. ANC-amptenare het die einde van die e-tolstelsel gevier asof dit Nuwejaar was. Hulle het die aftelling na middernag op 11 April dopgehou en in toejuiging uitgebars toe die horlosie middernag aankondig.

Waar een reis tot ʼn einde kom, begin ʼn ander.

(Foto: City Press)

Te midde van dié feestelike atmosfeer by die konferensie om die besluit oor e-tol aan te kondig, het die ANC geen tyd verspil om ʼn ander belangrike bywerking bekend te stel nie: Die inwerkingstelling van die nuwe bestuurslisensiekaarte gebeur in April. Stel jou die toneel voor: Terwyl die hoofstuk oor e-tol toeslaan – ʼn simbool van ʼn stelsel wat deur openbare weiering verslaan is – verskuif die aandag vinnig na ʼn indrukwekkende hardehoutkoffietafel.

Onder die glimmende konferensieligte spog die koffietafel met nommerplate wat deur die regering uitgereik is, vlekkeloos gepoets. Asof om die toeskouers verder te betower, versier helderrooi rose die tafel; tegelykertyd word die nuwe bestuurslisensiekaarte onthul. Sou dié spektakel voldoende wees om die publiek te tevrede te stel en die aandag af te trek van die verskriklike miljarde wat op die e-tolstelsel vermors is? Moontlik nie.

Die hoofrede vir die kritiek was die persepsie van onbillikheid teenoor en koste vir gewone mense wat reeds met finansiële uitdagings te kampe het. Die e-tolstelsel het ʼn fundamentele gaping tussen die regeerder en die geregeerdes uitgewys. Terwyl amptenare die voordele besing, bejeën die publiek dit as net nóg ʼn voorbeeld van ʼn besluit deur die elite wat ver van die werklikheid van die daaglikse lewe verwyderd is.

(Argieffoto)

Wat die ondergang van die e-tolstelsel versnel het, was ʼn onwankelbare ingesteldheid van openbare weiering. In ʼn verrassende vertoon van eenheid het voertuigeienaars van dwarsoor Gauteng eenvoudig geweier om hul voertuie te registreer of hul e-tolrekenings te betaal, wat die stelsel onbeduidend gelaat het. Hierdie breë weerstand was meer as bloot openbare ongehoorsaamheid; dit het die potensiaal van kollektiewe aksie teen onverdedigbare, onregverdige beleide ten toon gestel.

Die ondergang van die e-tolstelsel het ook die belangrikheid van gemeenskaplike aksie aan die lig gebring as katalisator vir betekenisvolle verandering. Die stelsel is beëindig nié weens hiërargiese direktiewe of politieke manipulasie nie, maar weens die verenigde pogings van gewone mense wat geweier het om voor onregverdige eise die knie te buig. Dit is ʼn treffende herinnering dat suiwer demokrasie op voetsoolvlak voortleef, waar onderverteenwoordigde stemme resonansie vind.

Charné Mostert (Foto: Verskaf/ AfriForum)

Organisasies uit die burgerlike samelewing het ʼn fundamentele rol daarin gespeel om die publiek teen die e-tolstelsel saam te snoer. Burgerregteorganisasies soos AfriForum het teen die e-tolstelsel baklei sedert die stelsel vir die eerste keer in werking gestel is. Vanuit die staanspoor het AfriForum aan die openbarekonsultasieproses oor e-tol deelgeneem en dit as ʼn gebrekkige projek bestempel. Die afskaffing van e-tol dien as ʼn soete handhawing van die kritiese uitsprake van jare gelede.

Soos wat Suid-Afrika vorentoe beweeg, behoort die e-tolpad na nêrens as ʼn streng waarskuwing te dien vir diegene in gesagsposisies. Dit beklemtoon dat gesag nie absoluut is nie en dat daar gevolge is as die wil van die mense geminag word. Die ondergang van e-tol demonstreer die volgehoue krag van openbare weiering in veranderende beleidsuitkomste.

Hoe dit ook al sy, terwyl ons na die uitreiking van nuwe nommerplate en bestuurslisensies uitsien – vergestalt deur die asemrowende visie van rooi rose op ʼn gepoleerde koffietafel – moet ons steeds bewus wees van die tapyt waarop dié stukkie afleiding staan.

As die publiek van enige nuwe stelsel se regsproses uitgesluit bly, loop dit die risiko om soos e-tol op te eindig: ʼn pad wat nêrens heen gaan nie, geplavei met gevolge vir ʼn afsydige regering wat gebroke stelsels onder peperduur tapyte in vee.

  • Charné Mostert is ʼn veldtogbeampte by AfriForum. Sy het ʼn honneursgraad (cum laude) in internasionale politiek en is tans besig met haar meestersgraad in sekuriteitstudies by die Universiteit van Pretoria. Charné publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen Twitter), LinkedIn en TikTok.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Die ANC was en is net ‘n groot bende struikrowers wat wag dat ‘n volgepakte koets verbykom om dit te konfiskeer, die inhoud van ander etikette te voorsien om te verkoop en die res te gebruik, soos die munt, en te verdeel. Die koetse raak skaars en dié maklike lewe ongemaklik. Planne word nou gesmee om die oorsprong van die weelde bloot te gaan vat. Ha, ha!

Mari ·

@Annie,
Jou kommentaar laat my dink aan die boek wat ek gelees het wat vertel het van híerdie struikrowers langs die hoofpaaie in Frankryk (honderde jare gelede) wat die verbykomende koetse so beroof het. Hulle oplossing vir díe probleem was om die struikrowers, as hulle gevang word, langs hierdie paaie op te hang in die bome vir almal om te sien. Daarna het dit gestop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.