Die president hét die mag om die land reg te ruk

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

ʼn Gewilde verskoning vir die gebrek aan leierskap van pres. Cyril Ramaphosa is dat hy graag die land wíl regruk, maar ongelukkig nie kán nie. Die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat sy posisie nie sterk genoeg is nie as gevolg van die verdeeldheid en politieke “burgeroorlog” in die ANC.

Hierdie verskoning hou nie water nie. Dit is natuurlik so dat hy ten spyte van ʼn verkiesingsfonds van ʼn paar honderd miljoen rand, net naelskraap in Desember 2017 as ANC‑president verkies is. Dit is ook so dat die ANC diep verdeeld is en dat ʼn faksie onder leiding van die party se sekretaris‑generaal, Ace Magashule, hom openlik beveg. Daarby is daar nog Zuma-aangestelde persone soos die Openbare Beskermer, wat lyk of hulle grondwetlike instellings misbruik om Ramaphosa se blapse te gebruik om hom te probeer kelder.

Maar Ramaphosa het as president van die land geweldige mag weens sy grondwetlike aanstellingsmagte. Die vorige adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke, het al tydens sy ampstermyn gesê dat die Grondwet te veel mag in die hande van ʼn president plaas deurdat hy die belangrikste sleutelaanstellings kan maak. Zuma kon dit regkry om die staat te kaap deur hierdie magte te misbruik om sy lojaliste regdeur die staat aan te stel. Ramaphosa kan mos daardie selfde magte gebruik om die land weer reg te ruk.

Aanstellings

Ingevolge die Grondwet stel die president ministers aan, hoofde van nasionale staatsdepartemente, die hoofregter en ander regters in oorleg met die Regterlike Dienskommissie, die hoofde van die weermag, die polisie, die geheime diens, die hoofde van die 715 openbare ondernemings soos die SABC, Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens, asook sleutelinstellings soos Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die president van die Reserwebank. Maar dis nie waar dit ophou nie. Hy stel ook die hoofde en lede van die artikel 9‑grondwetlike instellings aan wat oor die grondwetlike demokrasie moet waak, onderworpe aan die aanbeveling en goedkeuring van die ANC-beheerde parlement.

Hierdie is grondwetlike instellings soos die Openbare Beskermer, die ouditeur‑generaal, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Menseregtekommissie en ander grondwetlike liggame. Daarbenewens het Ramaphosa as ANC‑leier ʼn groot invloed in die aanwysing van provinsiale premiers, uitvoerende burgemeesters en ander invloedryke besluitnemers soos die hoof van die spesiale ondersoekeenheid (Valke).

Instellings

Ramaphosa het as ANC-leier wel nie die mag om die party se verkose sekretaris‑generaal te ontslaan nie, maar hy kan bloot toesien dat goeie aanstellings gemaak word en dat die land se instellings hulle werk begin doen. Indien die hoofde van die polisie, die Valke en die openbare vervolger byvoorbeeld bekwaam en onbevooroordeeld is, lyk dit op die oog af of daar oorgenoeg redes is om Magashule krimineel te vervolg.

Net een of twee sulke hoëprofielvervolgings wat suksesvol deurgevoer word, sal die land se vertroue in die strafregstelsel begin herstel. Hierdie vertroue sal dadelik begin deurspoel na die ekonomie, omdat dit ʼn aanduiding is dat die oppergesag van die reg weer begin geld.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

James ·

Hy het nie die mag nie.
Kyk hoe lyk alles inSA.
Vernietig en korrup
So waar is die mag om dit reg te ruk?

Sarel ·

Daar is die afgelope paar jaar geen Politieke Leier in die land met ” guts ” nie. Almal werk eers vir homself dan sy Party dan familie en dan die land.
Van Staatspredident tot Minister van Polisie is bereid om geweldadige betogings in die bek te ruk nie . Fobie vir nie popular te wees indien hulle sou optree nie. Rhamaposa moet net voet neersit en sy staal wys

Hendrik ·

Sarel jy praat sekerlik van die ANC leierskap. Vanuit on minderheidsposisie kan ons natuurlik niks verwag van die Suid- Afrikaanse leierskap. Ons kan op die oomblik eintlik net staatmaak op die burgerregte leierskap.

Jerry ·

Stem saam dat CR die mag het om die land enige tyd reg te ruk, maar hy sal nie, nie voordat die swak ekonomie die klimaat geskep het wat verandering vir doeltreffende de-kolonisasie sal vergemaklik. CR wil deur doeltreffende de-kolonisasie die ANC eers agter hom verenig voordat die ANC die ekonomie met buitelandse hulp en belastingbetalersgeld herstel vir die ANC!

honourable member ·

Wat het geword van al die werk wat hy die massas so belowe het. Mense word daagliks afgedank. Weer net lee beloftes.

Anoniem ·

‘n Regering wat nie sy land kan dien nie, hoort nie daar nie en moet weg. Wel dit is hoe dit in ‘n beskaafde land werk, maar in ‘n land met etlike miljoene morone werk dit anders.

Frm ·

Sou hy al hierdie goed doen gaan hy net herroep word en wat dan? Hy ploeter maar voort want hy het tenminste nou aansien en n vet salaris.

George in Bloem. ·

All die mag in die wereld beteken absoluut niks sonder die wil nie.

koos1 ·

Ek het vroeër gelees dat hy of die land of die ANC kan regruk, maar nie albei nie.
Hy is net die gesig van die ANC en die top 6 van die ANC kan hom enige tyd herroep.

Michelle ·

Nee hy kan nie die land reg ruk nie hy moet homself eers reg ruk mens maak eers by jouself skoon dan in jou huis rondom jou huis dan buite daar is nie meer vertroue nie die lysie is te lank

Hein ·

Hy het beslis genoeg mag, maar ek dink dit wat ons onder regruk verstaan en dit wat sy siening van regruk ookal mag wees, stem dalk nie mooi ooreen nie. Ek dink sy persepsie van regruk hou dalk min voordeel in vir minderhede. Met hom weet niemand eintlik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.