Die ‘probleem’ van Afrikaans

Prof. Wannie Carstens, direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, neem deel aan die gesprekreeks, Probleme en Oplossings vir Afrikaans.

Afrikaans is nou eenmaal nie vir sissies nie, kan ek getuig.

Die weeklikse woelinge rakende Afrikaans maak dat baie mense moeg word vir die ‘stryd’ en hulle dan onttrek, dikwels met ’n gemor en skree van die kantlyn af. Mense wat soos ek by die prosesse oor Afrikaans betrokke is, raak natuurlik ook moeg en soms ook moedeloos, maar ons durf nie moed opgee nie – daar is bloot te veel vir Afrikaans op die spel. Ons taak is om hoop te gee vir Afrikaanssprekendes, hoop dat Afrikaans sal voortbestaan, dat Afrikaans ’n vaste plek in hierdie land het, dat die Afrikaanse gemeenskap onontbeerlik vir die ekonomie van die land is, dat die lede van die Afrikaanse gemeenskap op grond van hulle kundigheid ’n enorme rol speel om die land se prosesse en strukture aan die gang te hou, dat ons nie gaan toelaat dat ons eenkant toe geskuif word nie, dat ons hier is om te bly.

Hier waar ek op Potchefstroom die direkteur is van die NWU-PUK se Skool vir Tale, merk ek deesdae ’n soort gelatenheid onder die 46 personeellede van die skool, so asof van hulle al aanvaar het dat Afrikaans vir hulle ’n funksie verrig, maar dat hulle die woel en werskaf rakende Afrikaans eerder oorlaat aan die instansies wat veronderstel is om daarmee besig te wees. Dit plaas die druk op plaaslike vlak dan op die koppe van die personeel van die vakgroep Afrikaans en Nederlands van die instelling om te doen wat reg en goed is vir Afrikaans. Die vraag is wat hulle kan ‘doen’ wat die groot verskil moet maak?

Die antwoord is myns insiens heel eenvoudig: hou aan om doseerwerk en navorsingsuitsette van ’n hoë gehalte te lewer, hou aan om deur ’n toegewyde en professionele manier van doen studente te inspireer om te studeer en ook hoogtes in Afrikaans te bereik (as dosente en as meningvormers oor Afrikaans, as gebruikers van Afrikaans in die kunste, in die kulturele wêreld en in die ekonomie). Dus: inspireer deur mentorskap, voorbeeld en dade. Minder as dit kan nie verwag word nie en minder as dit word ook nie gegee nie, wel heelwat meer.  Dit is wat saak maak vir ons konteks op die kampus.

En die res van die personeel van die Skool? Die skool is ’n plek waar ’n verskeidenheid tale gebruik word (benewens Afrikaans ook Engels, Duits, Frans en Setswana) en hierdeur illustreer ons die belang en waarde van meertaligheid. Afrikaans is weens die samestelling van die personeelkorps en die studente-aanbod die primêre kommunikasietaal in die skool, maar dit beteken nie dat ander tale en gebruikers van daardie tale uitgesluit word nie. Inteendeel. Ons gebruik die tale wat nodig is om ons dagtaak as dosente op ’n toegewyde en verantwoordelike wyse te verrig in die klaskamers en in die vergaderlokale. Ons is dus ’n smeltkroes van tale en individue wat elkeen ’n besondere voorkeur het vir ’n taal of tale en dit word ook gerespekteer. (Van die personeel moedig my egter aan om eerder Afrikaans te praat as ek Engels wil gebruik omdat my Engels nog te veel van my Suidwes-agtergrond weerspieël …)

Elkeen van ons werk dus in ons eie konteks met Afrikaans en die uitdagings wat die gebruik van Afrikaans daagliks bied. Ek is van oordeel dat die Skool vir Tale op die bogenoemde wyse wel sy deel doen vir Afrikaans en dit is goed so. In my eie hoedanigheid doen ek wel veel meer as dit, maar dit is dan ’n rede vir ’n ander gesprek op ’n ander tyd.

Lees ook dr. Pieter Mulder van die VF+ en dr. WF Botha van die WAT se bydraes.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.