Die repokoers gaan jou beursie laat ril!

Prof. Waldo Krugell (Foto: Verskaf)

Die Reserwebank gaan hierdie week weer die repokoers verhoog en dit gaan dinge vir baie mense moeilik maak.

Voor die besluit Donderdag, staan die repokoers op 6,25% en die prima-uitleenkoers op 9,75%. Die afgelope week het ABSA en Standard Bank gesê verbruikers wat in 2020 voertuie en huise gefinansier het, toe die primakoers 7% was, trek nou swaar.

Daar is tans ʼn toename in aansoeke om lenings te herstruktureer en meer voertuie word teruggeneem.

Die konsensusvoorspelling van ekonome is dat die repokoers met 75 basispunte verhoog gaan word. Die meeste kommentators is eens dat dit nodig is, maar verduidelik die redes daarvoor nie altyd ewe goed nie.

Daar gaan na die verhoging mense wees wat op Facebook sê dat die inflasie wat ons beleef grootliks veroorsaak is deur ʼn prysskok in internasionale markte. Asook dat ʼn verhoging van die repokoers geen verskil maak aan die pryse van ru-olie of voedselkommoditeite nie – dit wurg net die reeds sukkelende ekonomie.

Hulle is nie verkeerd nie, maar ons inflasiesyfers is al verby die punt waar dit gaan oor koste-druk of vraag-trek inflasie. Die goewerneur van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê weer:

“As daar ʼn slang in jou huis is, vra jy nie of dit van die vraagkant of die aanbodkant van die veld af kom nie, jy kry dit uit die huis uit!”

Ek kan ʼn lang verduideliking skryf oor hoekom dit nodig is om inflasie te beveg, maar die belangrikste punt is dat inflasie die mees kwesbare mense in die gemeenskap die hardste tref. Dit vreet die koopkrag van toelae en die pensioene. Hoe beter af jy is, hoe meer maniere het jy om jouself teen inflasie te verskans, maar dit maak arm mense net armer.

Jy wonder dalk, is stygende rentekoerse die beste manier om dit te beveg? Dit is ongelukkig die enigste bewese manier wat die Reserwebank het. Prysvasstelling en inkomstebeleide het nog nooit volhoubare verminderings van inflasie verseker nie.

Die idee met die stygende rentekoerse is dat dit verbruiksbesteding inperk. Die monetêre beleidskomitee wil hê jy moet twee keer dink oor jou Swart Vrydag-aankope en jou Desember-vakansiebesteding.

As jou huis, jou kar en winkelkaartskuld jou al hoe meer kos, begin jy terugsny op ander nie-noodsaaklike besteding en jy soek goedkoper alternatiewe vir die noodsaaklike besteding. Eindelik sien besighede dan dat verbruikers nie koop nie en dan kan hulle nie die kosteverhogings wat hulle ervaar deurgee as hoër pryse nie. So word inflasie gestuit. Dit werk indirek en is swaar vir almal, maar dit is al instrument wat die bank het.

In die hele proses is dit beter om nie uitsonderings te maak nie. Die Reserwebank kan nie nou sê dat hulle inflasie maar ʼn bietjie gaan los omdat verbruikers swaar kry, of die ekonomie ly onder beurtkrag nie. Dit gaan oor hoe die geloofwaardigheid van die inflasiemikpunt ons inflasieverwagtinge beïnvloed. Ons almal het verwagtinge oor wat inflasie volgende jaar of die jaar daarna gaan wees. Dit bepaal die salarisverhoging wat jy vir jou baas vra en die salarisverhoging wat hy of sy kan gee. Dit bepaal ook die prysverhogings wat jy bereid is om te betaal.

Nou die dag het ʼn kelner by ʼn plaaslike restourant mooi vir my verduidelik dat alles nou duurder is en daarom het die prys van ʼn sny koek ook met R5 toegeneem. Die Reserwebank wil hê ons inflasieverwagtinge moet geanker wees by die teikenband van ʼn inflasiekoers van 3 tot 6%. Daardie R5-stygings is meer as 6% van die ou prys van ʼn sny koek.

As monetêre beleid werk soos dit veronderstel is, moet my huispaaiement my so knyp dat ek eerder die sny koek los. Dan sal die koffieplek sien hulle kan nie pryse met meer as 6% verhoog nie, want dan hou mense op om te koop.

Om die mikpunt so geloofwaardig te maak, moet ons weet dat die Reserwebank sal aanhou om die repokoers te verhoog totdat inflasie onder beheer is. Hulle moet bereid wees om so ver te gaan as om ʼn resessie te veroorsaak om dit reg te kry.

Hopelik kry hulle dit reg om die rem net genoeg te trap sonder dat die enjin dood ruk en teen volgende jaar kan inflasie en rentekoerse begin daal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Waldo Krugell

Waldo Krugell is ‘n professor van Ekonomie aan die Noord-Wes Universiteit. Hy stel belang in die ekonomiese nuus asook wat dit vir huishoudings en besighede beteken. Luister ook na sy potgooi: Die Ekonomie Minuut.

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

Nee, die bank sal aanhou terwyl dit wêreldwyd mode is want die rykes skep so lekker want die armes maak die goue skottel so lekker vol. Die logika dat armes die skuld moet dra vir besluite van regerings is bowe begrip. Groot opstande broei met skade sonder keer. Plaaslik is die Reserwebank lank reeds in teer punt plus die baie ander skade en vergrype deur arrogante hogeres terwyl die nasie sukkel om sy lewensstandaard te handhaaf onder ‘n bultende skuldlas plus groot infrastruktuur- en kragprobleme…

Pietertjie ·

In die Middeleeue het “regerings” hulle onderdane onderdruk deur beslag te lê op hulle bates, en om oorloë te voer. Hedendaagse regerings gebruik inflasie en oorloë vir dieselfde doel.

Treurwilger ·

Prof. Waldo Krugell verduidelik hierdie kwessies briljant.
Baie dankie!
Sal die artikel herhaaldelik moet lees, want ek vergeet kort-kort waarom dinge gedoen word soos dit gedoen word.
As sosialistiese politici tog net dié artikel kon lees en verstaan dat hoër salarisse nie die oplossing is nie.
Hulle moes eerder nóóit die wêreld toegesluit en tot stilstand gedwing het tydens Covid nie.

annie ·

Wat jy sê is dat regerings die eintlike sondaars was wat covid-beperkings geplaas het wat die oorsaak van die inflasie-groei veroorsaak het wat besighede aangepor het om pryse te verhoog wat verbruikers dwing om meer vir produkte te betaal. So wie moet eintlik dan gestraf word. Die regerings… die onskuldige skatryk topstrukture.

CA ·

Miskien is dit nie heeltemal so eenvoudig nie – die koffieplek verhoog dalk nie sy pryse om dowe neute nie, maar omdat energiepryse wêreldwyd klim, en sy koffiebone heelwat duurder word.

Ek is nie seker of hierdie tegnokratiese rentekoers-ingrype meer voldoende gaan wees nie, daar is groter dinge – veral op energievlak – aan die gang waaroor die Reserwebank nie beheer het nie – inteendeel sy ingrype met monetêre instrumente wat in ander tye dalk gewerk het, kan dinge nou vererger deur die Koffiewinkel kostes te laat besnoei deur mense af te dank ens…

George ·

Elke keer as ek die foto sien, dan dink ek dis Murray van Impractical Jokers. As dit maar net was…

Corne123 ·

Ag mee wat SA is daarmee heen almal gedink Zuma land leeg gesteet maar ek weet nie meer so mooi nie onder CR gaan ons so vinning agteruit ons amper zimbabwe al verby gevat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.