Die rits rassewette van die ANC

* Hierdie artikel is ʼn verwerking van die artikel getiteld “The many, many race laws of the ANC” soos geskryf deur James Myburgh en oorspronklik gepubliseer op Politicsweb.

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Helen Zille het onlangs op Twitter die uitlating gemaak dat daar vandag meer rassewette is as wat daar tydens apartheid was. Sy het verder erken: “All racist laws are wrong. But permanent victimhood is too highly prized to recognise this”.

ʼn Mens kan natuurlik aanvaar dat Zille hiermee nie die destydse rassewette probeer regverdig nie, maar dat sy eerder die kollig probeer plaas op die oorweldigende teenwoordigheid van soortgelyke wette in vandag se samelewing.

Ten spyte van die teenkanting wat haar stelling natuurlik uitgelok het, het min van haar opponente werklik gepoog om die meriete van haar stelling te ondersoek. Haar uitlating is eerder tegemoet gekom met regverdigings vir die rassewette wat ons vandag het, eerder as ʼn ondersoek na die omvang daarvan.

Hierdie is dan ʼn poging om die ware omvang én oorsprong van die rassewette in Suid-Afrika vandag te ondersoek. Hoeveel wette is daar? Hoeveel sfere van die samelewing word daardeur gereguleer? Wat is die oogmerke van hierdie wette? En waarom is rassewette stééds ʼn skreiende werklikheid in Suid-Afrika?

Die ANC se historiese missie

In 1962 het die SAKP ʼn dokument getiteld “The Road to South African Freedom” vrygestel. Volgens hierdie dokument het al die teëspoed wat swart mense nog ooit in Suid-Afrika ervaar het, gespruit uit die aankoms van die eerste Europese setlaars in 1652.

Hierdie denke veronderstel dat enige denkbare vorm van rasse-ongelykheid die nalatenskap van honderde jare se onderdrukking is. Dié ongelykheid is as inherent onaanvaarbaar beskou. Aan die kern van hierdie denke is die idee dat enige vergestalting van rasse-ongelykheid een ras se meerderwaardigheid impliseer.

Soos wat die probleem in die bogenoemde 1962-dokument uiteengesit is, is die oplossing daarvoor ook verskaf – die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR). Hiermee sou die nalatenskap van kolonialisme reggestel word deur stelselmatig die welvaart terug te neem vanaf die diewe (kolonialiste) en aan die regmatige eienaars (swart mense) terug te gee. Hierdie idees is deur die ANC as party amptelik in 1969 aangeneem.

In die laat 1980’s en vroeë 1990’s het dit vir die ANC en SAKP duidelik geword dat ʼn gewapende oorname van mag nie ʼn goeie mediumtermyn-strategie was nie. ʼn Beter opsie sou wees om deur ʼn onderhandelingsproses mag te bekom.

Die ANC se eerste prioriteit gedurende magsoorgang was om ʼn gladde regimeverandering te bewerkstellig. Dit het behels dat hulle beheer oor die uitvoerende en wetgewende bene van die regering sou verkry en die finale weergawe van die grondwet te skryf. Daarna was die plan om volledige beheer van die staatsmasjinerie en semistaatsinstellings te kry en terselfdertyd die howe te neutraliseer. Uiteindelik sou die ANC dan staatsmag gebruik om die privaat sektor en patrone van eiendomsbesit te transformeer.

Die oogmerk hiervan was dat demografiese verteenwoordiging en gelykheid van nie net geleenthede nie, maar spesifiek uitkomste op elke vlak van die samelewing deur die regering bewerkstellig word.

In sy memoire het oud-IVP-LP dr. Mario Oriani-Ambtossini vertel dat president Ramaphosa tydens die onderhandelinge oor die finale grondwet die volgende vir hom gesê het:

“Of the ANC’s 25-year strategy to deal with the whites: it would be like boiling a frog alive, which is done by raising the temperature very slowly … He meant that the black majority would pass laws transferring wealth, land, and economic power from white to black slowly and incrementally, until the whites lost all they had gained in South Africa, but without taking too much from them at any given time to cause them to rebel or fight.”

Transformasie van die staat en openbare instellings

Argieffoto

Een van die grootste prioriteite van die ANC tydens die onderhandelingsproses was om hulle pad te vergemaklik vir die daaropvolgende oorname en transformasie van die staatsmasjinerie. Reeds in 1991 in hulle Handves van Regte was dit die oogmerk om die staatsdiens, weermag, polisiemag, korrektiewe dienste en die regbank so vinnig as moontlik te transformeer.

Die belangrikheid van hierdie eerste stap in die rewolusie was eenvoudig. Diegene wat oorgebring is vanaf die vorige bestel is as inherent dislojaal beskou. Die ANC wou staatsdienswerkers hê wat gemotiveer was om die sogenaamde demokratiese wil van die mense af te dwing.

Dit was egter nie genoeg om die staatsmasjinerie met enige swart persone te transformeer nie. Die ANC se mag en invloed moes in die proses uitgebrei word, aangesien die ANC die organisasie was wat die demokratiese wil verteenwoordig het. Die staatsmasjinerie moes dus gevul word met mense wat nie net reg lyk nie, maar ook wat reg dink.

Hierdie doelwit het hulle aanvanklik in die 1993 interim-grondwet vasgelê en later ook in die finale grondwet van Suid-Afrika. Dus sou die ANC nie net die politieke wil hê om dit deur te voer nie, maar ook oor die grondwetlike raamwerk beskik. Die ANC wou van die begin af seker maak dat nóg die grondwet nóg die howe wat dit sou onderhou as struikelblok tot die rewolusionêre doelwitte sal dien. Derhalwe is die regbank van die staanspoor af ook as prioriteit vir rasse- en ideologiese transformasie geïdentifiseer.

Die ANC se oogmerke vir hierdie transformasie het nog altyd behels dat die verskillende sfere van die samelewing volgens ʼn streng demografiese formule saamgestel word. Gegewe die demografiese werklikhede van Suid-Afrika het dit in der waarheid bloot wit oorheersing met swart oorheersing vervang.

Reeds in die 1990’s het die ANC se sentralistiese neigings ook in hierdie beleid na vore gekom. Transformatiewe beleid het nog altyd alle ANC-kaders en strukture deur die bank gebind. Kaders moes getrou bly aan die party en die NDR, om sodoende die ANC se mag in alle sfere en op alle vlakke te versterk. Kaders moes daarmee saam alles in hulle vermoë doen om daar waar hulle is die rewolusionêre doelwitte te implementeer.

Binne die eerste vyf jaar van bewind het die ANC daarin geslaag om byna volledig die staat op nasionale sowel as provinsiale vlak te transformeer. Die ANC het in hierdie tyd die provinsiale en nasionale regerings, die SAPD, tersiêre onderriginstellings, die regbank, intelligensiedienste, die nasionale vervolgingsgesag, die weermag en korrektiewe dienste met byna 30 stukke rassewetgewing geteiken. Vaardighede en ervaring is met eendersdenkende swart mense vervang.

Vanaf die 2000’s is plaaslike regering en semistaatsinstellings getransformeer in die voltrekking van die eerste stap in die Nasionale Demokratiese Rewolusie.

Transformasie van die samelewing

Die ANC se doelwit was egter nooit om rassetransformasie tot die staat en semistaatsinstellings te beperk nie. Reeds in hulle 1991 Handves van Regte het hulle verklaar dat die oogmerke van die nasionale rewolusie ook oor die breë samelewing heen geïmplementeer moet word.

In hierdie handves is daar ʼn gedeelte oor sogenaamde ‘positiewe aksie’ ingesluit wat dit bevestig: “Legislation may be enacted requiring non-governmental organisations and private bodies to conduct themselves in accordance with the above principles.”

Uiteindelik is hierdie sentiment in ʼn gelykheidsklousule in die finale weergawe van die Grondwet se handves van regte vasgevang. Hierdie deel van die handves het aanvanklik bloot bepaal dat wetgewende of ander stappe gedoen kán word ten einde gelykheid te behaal. Hierdie gedeelte in die Grondwet is natuurlik deur die ANC en die grondwethof na aanleiding van die oorspronklike sentiment daaragter geïnterpreteer. Hierdie interpretasie het mettertyd die rewolusionêre doelwitte van die ANC geakkommodeer sonder om die letter van die wet self te verander. Sodoende kon die ANC – binne die grondwetlike raamwerk – deur staatsmag alle sfere en instellings van die samelewing forseer om in hulle oogmerke van gelykheid van uitkomste te deel.

Hierdie sentiment is uitdruklik met ten minste 10 stukke bykomende wetgewing tot die sfere van sport, ontspanning, opleiding, privaat sekuriteit, vissery, bosbou en talle ander uitgebrei.

Transformasie van die ekonomie

Teen die 2000’s het die ANC daarin geslaag om mag vanaf die sogenaamde ‘ou klasse en strata’ na die staat en semistaatsinstellings te verskuif. Die volgende stap in die rewolusie sou wees om dieselfde tipe transformasie in die privaat sektor teweeg te bring.

Die eerste stap hiertoe sou wees om verkryging deur die staat en semistaatsinstellings te transformeer deur invloed oor die tenderproses uit te oefen. Sodoende sou tenders nie meer uitsluitlik op grond van kwaliteit en prys toegeken word nie, maar oorwegend op grond van die ANC se rasseformule ten einde transformasie teweeg te bring.

Die eerste gekoördineerde stappe om die ekonomie te transformeer, het in 2002 onder president Thabo Mbeki plaasgevind. In daardie jaar het Mbeki by die ANC se nasionale kongres aangekondig dat dit natuurlik is vir die ekonomie van ʼn Afrika-land dat Afrikane verteenwoordig word in alle vorme van besitreg, bestuur en vaardighede deur aktiewe en sinvolle deelname. Sodoende het die ANC hul mandaat gekry om die rasseformule waarmee hulle die staat omvorm het, nou ook in die privaat sektor toe te pas.

Die meesterstuk van die ANC se rassebeleid is hulle wetgewing om swart ekonomiese bemagtiging moontlik te maak. Hierdie wetgewing wat vir die eerste keer in 2003 aangeneem is, was die eerste groot stap in die vaartbelyning van SEB in die privaat sektor. Die sogenaamde kodes van goeie praktyk waarmee dié wetgewing die privaat sektor reguleer, het die rassebeleid van die ANC met die doeltreffendheid van die privaat sektor gekombineer om die grootste transformasieprojek in die land van stapel te stuur. Met privaat maatskappye wat tot die groter transformasieprojek inkoop, het die privaat sektor die regering se werk namens hulle begin doen.

Hieruit het talle handveste gespruit wat verskillende sektore van die ekonomie sou reguleer – landbou, die finansiële sektor, eiendomsektor, vervoer, bosbou, bemarking, toerisme, brandstowwe, dobbelary, hawens en talle ander. Sedert die aanvang van ekonomiese transformasie is daar bykans 30 stukke wetgewing aangeneem om hierdie doelwit na te jaag.

Transformasie in die post-Mbeki era

Die laaste fase van die NDR is gemik op die onteiening van eiendom en grond in wit besit. Hierdie fase het ten doel om die sogenaamde belofte van gelyke toegang tot Suid-Afrika se hulpbronne – soos vervat in artikel 25 van die Grondwet – te bewerkstellig.

Die verwesenliking van hierdie doelwit is egter verlangsaam deur die verlore jare onder president Zuma. Met die oorgang van Mbeki na Zuma het die ANC tot ʼn groot mate hul ideologiese dryfveer en doeltreffendheid verloor. Zuma het in sy termyne natuurlik meer na sy eie belange as na die party s’n omgesien.

Ten spyte van die afname in ideologiese motivering en doeltreffendheid, het die ANC steeds getrou gebly aan die NDR. In Zuma se ‘verlore jare’ is daar steeds wetgewing aangeneem om die rasse-agenda te bevorder. Diensbillikheid, swart ekonomiese bemagtiging, die regbank, voorkeurverkryging, die breër regsveld, eiendomspraktisyns, die mynbousektor en die gesondheidsektor is van die velde wat in hierdie tyd deur sowat 16 afsonderlike stukke rasse-wetgewing geteiken is.

Met die aanvang van president Ramaphosa se termyn het die ANC ʼn groot ideologiese herlewing beleef. Reeds in president Ramaphosa se eerste jaar as president is die gronddebat ernstig hervat met ʼn voorgestelde grondwetwysiging wat deurgevoer is. Die ANC het hierdie drastiese stap soos volg regverdig:

“The return of the land to the rightful owners, who are the indigenous Blacks and Africans in particular from whom the land was stolen is a critical imperative.”

Onder Ramaphosa se leierskap het die ANC selfs nie eers in ʼn pandemie van die oogmerke van die NDR afgewyk nie. Die hulppakkette soos verskaf deur die regering in hierdie tyd word óók volgens ras toegeken – hierdie besluit is selfs deur die howe onderhou.

President Ramaphosa het in ʼn onlangse vraag-en-antwoordsessie in die parlement weereens bevestig dat swart ekonomiese bemagtiging as beleidsinisiatief steeds deur die regering voortgesit en selfs verhoog sal word.

Gevolgtrekking

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Die rassewette wat vanaf 1910 aangeneem is asook die gevolge daarvan is destyds nougeset gedokumenteer en teengestaan deur kritiese joernaliste, akademici en politici van die opposisie. Teen die 1970’s het die Nasionale Party self vertroue in die segregasie-projek begin verloor en stadigaan rassewette begin afskaf.

Vir slegs ʼn paar jaar in die vroeë tot middel-90’s was Suid-Afrika vir die eerste en laaste keer vry van enige rassewette.

Oor die afgelope 26 jaar het die ANC stelselmatig ʼn allesomvattende web van rassewette deur elke liewe sfeer en op elke vlak van die samelewing geweef. Elke raswet wat aangeneem is, het sy rol vervul in die verskillende stadia van rewolusie – alles met die uiteindelike doel om die hele samelewing na aanleiding van hulle rasseformule te verander.

Hierdie artikel het na meer as 80 ANC-rassewette verwys, maar beswaarlik by alles uitgekom.

Hoewel Zille se opmerking waarskynlik nie heeltemal waar was nie en effe oordrewe is, is sy ongelukkig nie heeltemal verkeerd nie. Die probleem wat egter deur haar opmerking uitgelig is, is dat ʼn baie groot deel van die media, burgerlike samelewing en opposisiepartye geen fout met die post-94 rassewette vind nie. Sommige van hierdie rolspelers is skaars bewus van die feit dat dit bestaan.

Dit is egter onmoontlik om Suid-Afrika se huidige krisis te verstaan sonder om die aard, omvang en gevolge van die ANC se omvattende rasseprojek in ag te neem.

* Die artikel is deur Monica Mynhardt verwerk. 

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Adam Adriaan ·

Dit wys weer dat dit die ergste vorm van kommunisme is( Direk georgistreer deur die vader van die leuen, begin van die groot afval). Daar is ook nie omdraai in die pad voorentoe nie. Met gebeure in die wêreld (VSA)vandag, strook dit met die doelwitte van die Global Elite, wat die NWO wil implimenteer. Die regering word voorgeskryf deur hierdie instansie, presies wat om te doen, ongeag die sg beste grondwet in die wêreld. Die pad voorentoe lyk nie baie rooskleurig nie. Ons moet ons gereed maak vir ‘n baie groot verrassing en dit is net ‘n kwessie van tyd. So wees paraat. Hou die olie lampe vol olie, met reserwes ook.

Jaco ·

Niemand luister na my voorstel nie, maar ek dink steeds dit gaan werk:
Die ANC moet begin om VOLLE apartheid teen die wit mense toe te pas, presies soos wat ons voorouers met die swart volke van SA gemaak het.
Onteien sonder vergoeding in 8 van die 9 provinsies en pas gedwonge verskuiwings toe om al daardie wit mense in die Wes-Kaap te kry. Maak die Wes-Kaap n wit tuisland met beperkte selfregering, net soos wat die ou SA met transkei, venda, kwazulu ens gemaak het. Laat buitelandse belegging daar toe. Dis wat China met Hong Kong doen en dit werk. Soos wat die buitelandse beleggings in die Wes-Kaap toeneem, kan die belastings daar ook styg. So kry die regering in Pretoria steeds ‘n sny van die koek en dan is die gehate wit mense mos eenkant. Hulle hou dan van ons nie.
Wat ek voorstel sal binne 5 jaar n reuse sukses wees. Baie wit mense is klaar in die Wes-Kaap en 90% van die infrasruktuur om ‘n tuisland daar te laat werk, is klaar daar.

Pieter Rubeus ·

Die hele NDA is besig om in die ANC se gesig te ontplof met die Corona virus pandemie. Hulle is so desperaat dat hulle die verkiesings probeer uitstel want selfs die swartes is dik vir hulle stelery en selfbehep. Hulle waarde was nog nooit die bree publiek nie. Niks anders as self gesentreerde idees wat net soos Hitler se bewind sy gat sal sien.

Jaco ·

helen zille moet eerder stilbly. haar lelike onnadenkende uitsprake gaan eendag nog maak dat die ANC gaan besluit “tot hierdie en nie verder nie”. En dan begin hulle met regtige ernstige onderdrukking van alle wit mense, selfs die van ons wat nie met helen zille saamstem nie.
Maar dan is sy weg, want sy kan Duitse bugerskap kry deur haar oupas en oumas aan moederskant en vaderskant. Maar 4 miljoen of meer wit mense wat nie daardie voorreg het nie, sal dan moet ly onder erge onderdrukking terwyl mev Zille lekker veilig in Duitsland sit.

Wilhelm ·

Ok Jaco, so ons moet stilbly uit vrees vir die ANC. Bly jy dan maar stil, maar ek sal nie, en verder sien ek geen probleem met Helen Zille se uitspraak nie. Daar IS te veel ras wette, en die regering probeer ons stil maak, en die regering wil juis hê ons moet stilbly van bangegeit.

Jaco ·

wanneer AL die wit mense gestraf word oor helen zille se lelike uitsprake, dan sit sy veilig in duitsland. ek en jy wat stilgebly het, moet dan ly. Moenie dink “dit kan nie hier gebeur nie”. Beskaafde Duitsers het dit aan 6 miljoen Jode gedoen. En onthou ook maar Rwanda in 1994: die Hutustam het in net 1 maand 1 miljoen van die Tutsi-stam vermoor.

Vrijburger ·

Ai Jaco. Jou “tot hierdie en nie verder nie” is reeds besig om te gebeur. Jare lank al, en dit gaan net vererger en eskaleer. En dit gebeur nie of eskaleer nie oor uitsprake van blankes of weerstand van blankes nie – dit gebeur want dit is die wese van die ANC, dit was nog altyd hul plan en strewe.
Die vlam onder die paddapot kan nou net groot gedraai word omdat die situasie hom daartoe verleen en die weerstand minder is.

marius ·

As jy help om ‘n riool sloot in die park te grawe moet jy nie huil as die stank jou lewe versuur nie …..

JJ ·

Wat is die oplossing? Enige goeie voorstelle? Enige plan? Enige teenvoeter?

Chris ·

As mense nog enigsins glo dat ons in ‘n demokratiese bestel lewe/oorleef kan hulle ook aan krismis vader en Rooikappie en die Wolf glo. Dit is die mees subtiele anti-wit rassistiese wetgewing waaraan jy kan dink. Gelukkig ontbloot die persone wat die wetgewing bedink en tot uitvoering bring hul eie onvermoe om iets daardwerkliks te doen en sodoende hul totale onbevoegdheid ontbloot. Totale waansinnigheidswaansin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.