Die saak oor godsdiens in skole raak almal

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die afgelope week is die saak oor godsdiensbeoefening in skole in die Suid-Gautengse hoërhof aangehoor. Dit het groot aandag geniet en die debat oor die vraag of openbare skole ʼn godsdiensetos mag hê, het in verskeie media plaasgevind.

Ongelukkig het van die openbare deelnemers aan debatte se argumente op misverstande berus. Die skole wat aangekla is op grond van hulle godsdienstige etos, is nie aangekla omdat hulle godsdiens as vak aanbied nie. Dit het gegaan oor aspekte soos “saalopening” en ander funksies volgens ʼn bepaalde godsdiensoortuiging, en in die ses skole se geval, die Christelike geloof in die besonder.

Daar bestaan duidelike riglyne oor hoe kinders wat van die godsdiensetos van ʼn skool verskil, hanteer moet word. Daar is deur die aansoekers aangevoer dat die skole nie hierdie riglyne volg nie. In die geval van ʼn afwyking, soos waar ʼn skool of onderwyser ʼn kind probeer dwing om aan enige soort godsdiensseremonie deel te neem waarmee hy of sy nie saamstem nie, sou dit wees om die bestaande kanale te volg en ʼn klag teen die onderwyser wat die kind viktimiseer te lê, maar dit was na die aansoekers se mening nie genoeg nie. Hulle voel geen godsdiens het die reg om die etos van ʼn skool te bepaal nie. Skole mag geen godsdienstige aard vertoon nie en godsdiens mag nie deur onderwysers of in skooltyd beoefen word nie. Kinders kan maar self iets reël, soos voor of ná skool, of tydens pouses, is in die hof geargumenteer.

Dit op sigself is dan ironies genoeg ook die afdwing van een bepaalde godsdiens op ʼn hele skool, net dan in plaas van byvoorbeeld die Christelike of Moslemgeloof, die geloof dat geen God bestaan of aanbid mag word in skooltyd nie.

AfriForum het as vriend van die hof (amicus curiae) aan die saak deelgeneem, omdat die geleentheid wat vir ouers en voogde bestaan om self oor kinders se onderrig te besluit vir ons van groot belang is, en ook omdat ons glo die vryheid van gemeenskappe om self oor openbare skole se etos te besluit van groot belang is.

Baie mense voer aan dat dit ouers se plig is om kinders tuis aan godsdiens bloot te stel en daar moet dit eindig. Ongelukkig het verbrokkelende gesinne en ekonomiese druk tot gevolg dat kinders oor die algemeen al minder tyd by ouers deurbring. Ouers, veral enkelouers, werk lang ure en het soms meer as een werk om die pot aan die kook te hou. Dan is daar ook koshuiskinders wat ouers soms so min as een keer ʼn kwartaal sien. As ouers ʼn skool vind met ʼn etos waarmee hulle gemaklik is, kan hulle met geruste harte die kinders daar inskryf.

Openbare skole word deur belastingbetalers gefinansier. Daarom behoort alle ouers se standpunte in ag geneem te word en alle kinders geakkommodeer te word, soos wat dan tans inderdaad plaasvind. Dit moet so gedoen word dat kinders leer om mekaar se uiteenlopende oortuigings te akkommodeer en ook gemaklik met hulle eie oortuigings te wees.

Deesdae gebeur dit al meer dat wetgewing die diversiteit van Suid-Afrika sogenaamd erken deur dit te onderdruk. Ons moet almal eentalig Engels wees, ons mag net een weergawe van die geskiedenis aanvaar en nou is daar ook die betoog van een oorheersende godsdiens, naamlik dié van geen godsdiens nie.

Sou iemand daarteen protesteer, word gou gesê: “As jy nie tevrede is nie, doen dit dan anders tuis of gaan stig jou eie skool.” Op dié wyse word onverdraagsaamheid eerder bevorder en die beginsel van gekoopte eksklusiwiteit versterk, in plaas daarvan dat ons te midde van diversiteit van jongs af leer om mekaar met respek te behandel.

Of ʼn mens kinders op skool het of nie, die saak sal ons almal raak, want dit gaan die wyse waarop die breër samelewing in die land funksioneer, ingrypend bepaal. Gaan ons toenemend in ʼn staat leef waar wette aan ons voorskryf hoe om verskillende identiteite te hanteer (of moet ek sê ontken of onderdruk) en waar enige afwyking voorkom, dit onverkwiklik straf? Of gaan ons toenemend toegelaat word om ons uiteenlopende identiteite uit te leef met erkenning en inagneming van lewensuitkyke wat daarvan verskil?

Die uitspraak in hierdie saak sal die koers aandui.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

41 Kommentare

Bees ·

Sure- kinders wat geviktimiseer word moet kanale volg- asof ‘n kind dit nou sou doen wetende hy gaan gebrandmerk word as satanis en derglik. Dit is juis die hele probleem. Gaan groot OGOD!

Alana ·

Hallo Bees & Koos, ja, ek was ook in die 1980s op skool en daar was ook maar ‘n paar boelies onder ons onderwysers. Ook het ek die afgelope tien jaar baie skole besoek waar kinders met uiteenlopende oortuigings saam skoolgaan en leer om mekaar met respek te behandel. Dis tog deel van die opvoedingsproses om ‘n gebalanseerde volwassene te word. Waar daar respekvolle onderwysers en ouers is, leer die kinders om ook so op te tree. Dis tragies as ons enigste oplossing is om te voorkom dat kinders met een oortuiging of afkomstig uit ‘n huis met een oortuiging, geboelie word, is om kinders met ander oortuigings te boelie om dit wat vir hulle belangrik is, prys te gee. As ons almal nie kan leer om mekaar met respek te behandel nie, lyk dinge maar donker. En dit geld nie net onderwys nie, maar enige ander aspek waaroor ‘n kind deur onderwysers of maats geboelie kan word, soos voorkoms, spraak, taal, finansies, ensovoorts.

Koos de la Rey ·

Alana

Ek bedoel boelies onder die christen kinders, nie die onnies nie. Respek is definitief belangrik. Ek verstaan net nie hoekom christene voel dis hulle reg om hulle geloof op ander af te forseer in ‘n publieke skool nie. Ek sien uit na OGOD se oorwinning in die verband

MissDemeanor ·

Ek stem saam jou Bees. Godsdiens is volgens my primitief en hoort nie in n beskawing nie.

Matianne de Swardt ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mense wat nie in die Christelike geloof is nie lol om hul kinders wel in sulke skole te plaas. Waaroor begin hul nie hul eie onheilige skool nie en kyk dat hul kinders daar kry wat hul dan wil he. Hoekom moet die meerderheid altyd by die minderheid aanpas?

Willem ·

Want dis PUBLIEKE skole Matianne, nie privaat skole nie – wat op staatsgrond staan en bevonds word deur almal se belastingsgeld – nie net die christene nie

Janie ·

Dis nou net mooi waar jy die punt verloor. Dis openbare skole, vir almal. As jy eksklusiewe Christenskole wil hê moet JULLE dit stig.

Louise ·

100% agter OGOD, ek hoop hulle wen die saak!!!! My kind moet volgende jaar na grad 1 gaan en ek wil nie he sy moet leer dat die wereld net 6000 jaar oud is of dat sy minder waarde het omdat sy ‘n dogtertjie is net omdat iemand se “godsdiens” so se nie. Dit is tyd dat ons aanstap en kennis na streef op skool vlak, nie bygelowe nie!

MissDemeanor ·

En wat van k8ndwrs wie se ouers gelowig is. Maar die kind is ongelowig. Ek is een van daardie onheiliges van wie jy so praat. Almal het altyd die bybel in my keel afgedwing. So bly dat ek nie meer daardwur hoef te suffer nie.

Koos1 ·

Die stelling Openbare skole word deur die belasting betalers gefinasier is nie heeltemal so akkuraat nie. Sommige skole wel, maar die skole in die voormalige “KP” gebiede (soos Spur dit sou stel), kry net hulp van die belasting betaler wat die geboue, en sommige poste betref. Ons het ‘n klein skool en die beheerliggaam betaal vir beheerligaam poste (wat meer is as die staatsposte), water en ligte, onderhoud en sekuriteit. O ja en ook subsubiseer die betalende ouers die wat nie kan betaal nie, en van die kostes kry ons net sowat 10% terug van die regering. So die ouers en skole wat betaal is soort van semi staat skole of die voormalige model C skole. Met dit in gedagte glo ek die ouers het die reg om Godsdiens keuse uit te oefen en te leef soos in die skole wet vervat!

Willem ·

Koos, as hulle enige geld vat van die regering dan is dit mos publiek? En aan wie behoort die grond waarop die skool staan?

Willem ·

Koos, ek baklei mos nie. My punt is slegs dis ‘n maklike argument hierdie, dis ‘n staatskool, dus, kan jy nie een geloof bo ander bevoordeel nie – punt en klaar

Janie ·

Betaal dan die R80 miljoen + aan die staat vir doe fasiliteite en jy kan die skool joune noem, en dit Christelik maak. Dis jou keuse as julle ekstra onderwysers aanstel.

MissDemeanor ·

Nee koos jy neem aan almal in ou “KP” gebiede is “superstitious”. Maar baie van ons is ateiste…en ons is meer as wat jy dink.

Willem ·

Ek kan nie wag vir die uitspraak van die hof nie – en vertel my, gaan julle die uitspraak aanvaar?

Louw Wepener ·

“op die wyse word onverdraagsaamheid bevorder” – en is dit nie presies wat die christene, wat meeste Afrikaanse staatskole besoedel het met hulle geloof, sê vir die wat nie saamstem met die indoktrinasie nie? Julle is lief daarvoor om te sê “as julle nie hou van ons christen skole nie, gaan stig julle eie” …. ?

Koos de la Rey ·

Haha, net so! Dis nie lekker as die skoen aan die ander voet is nie

Willie ·

Alana, julle mense by Afriforum & Solidariteit moet dalk besluit of julle nou vir minderheidsregte of vir meerderheidsregte is. As dit by BEE, taalregte by universiteite ens kom skreeu julle blou moord vir die regte van minderhede, maar as dit by regte van minderhede (nogal kinders ook nog!) om nie a.g.v die meerderheid se godsdiensvoorkeur benadeel te word nie kom, dan is julle gemaklik….nee vasbeslote, dat die meerderheid die reg van weg het….go figure. Ek vind ‘n mate van intelektuele oneerlikheid (of dalk onkunde) in hierdie benadering -jy kan nie jou brood aan altwee kante gebotter hê nie!
Ek vermoed die hofuitspraak gaan die behoudendes nog laat gal braak.

Dawie ·

Willie, ek het dieselfde opgemerk. Ja, daar word goeie werk gedoen maar soos jy tereg sê wees dan konsekwent. Hierdie godsdiens kwessie is in enige geval iets waar jy jou moet uithou. Ek dink hulle wil net probeer populêr wees. Kyk hoe leeg loop die kerke dan vermoed ek hulle onderskat die ondersteuning vir hierdie saak.

Alana ·

Willie en Dawie, AfriForum is ‘n burgerregte organisasie. Minderheidsregte en meerderheidsregte is deel daarvan. AfriForum fokus wel op Afrikaner minderheidsregte, maar nie eksklusief nie. As ons dan byvoorbeeld optree vir die reg van die Afrikaanse minderheid om in Afrikaans onderrig te ontvang, eis ons nie dat geen ander taal in onderrig gebruik mag word nie. Net dat die keuse van Afrikaanse studente geakkomodeer moet word soos ons dit vir enige ander taal gun.

In hierdie hofsaak gaan dit nie alleen oor godsdiens nie, maar ook oor hoe ons in ons baie diverse gemeenskap moet kan funksioneer. Vandag was ek by ‘n kongres waar kundiges van al die kontinente saamgestem het dat die afdwing van homogeniteit sonder uitsondering op die langduur tot konflik en geweldpleging lei. Ons moet leer om mense se regte en keuses te erken en respekteer, nie om te eis dat net een stem gehoor en afgedwing word nie.

Willem ·

Alana,

Dankie vir jou kommentaar. Jou laaste sin voel vir my presies wat nou huidiglik gebeur – die christen etos en idees word, as een stem, afgeforseer op almal, en dit met my belastinggeld. Sekerlik is die neutrale posisie, waar alle gelowe behandel word, of geen geloof, die mees redelikste posisie?

Hoe word ongelowige kinders geakkomodeer? Hulle word vertel hulle is sataniste en gaan hel toe.

jaco ·

ek onthou hoe het godsdiensonderrig in die ou SA se wit skole gelyk: die wit Broederbond- en Nasionale Party-gedomineerde NG Kerk het ‘n monopolie gehad oor wat aangebied is. Ons het net die NG Kerk se Psalms en Gesange gesing. So die arme Doppers moes maar gesange sing en die AGS en ander pentecostals moes die Here loof op 16de eeuse hartseer trekkerige wysies. Die arme Baptiste moes hoor dat net babadoop reg is en dat grootdoop ‘n sektariese dwaling is. En die arme Rooms-Katolieke net waarskynlik bitter min verstaan van alles wat aangebied is. En dan, om alles te kroon, is ons in die godsdiensklas geleer dat apartheid die wil van God is.
So almal 50 jaar en ouer wat nou so godsdiensonderrig in skole verdedig, moet maar net bietjie gaan terugdink oor hoe dit in die “goeie ou dae” gelyk het. Dit was toe ook maar vol foute. In Amerika is AL die kerke ten gunste daarvan dat skole NIE moet godsdiensonderrig aanbied nie, juis oor hierdie rede: die kleiner kerke is bang dat die groter kerke ‘n monopolie gaan hê oor wat aangebied gaan word.

Leandra ·

Ek sien julle punt in, maar kom ek vra so….As ek ‘n trok sien aankom wat jou sal tref en doodmaak, moet ek jou se daarvan of nie? Doen ek en jy het nou maar eenslag besluit jy weier om die trok te sien, want as jy jou blind hou kan jy jouself dalk nog oortuig die trok sal jou nie tref nie. Doen ek nie, dan sien jy die trok op nr 99 dan is ek ook verkeerd omdat ek jou nie gese het nie. In hierdie tiepe debat sal die kind van God altyd verloor. Want ek sal jou nou maar once se dat die Goddelose nie wil hoor wat jy se nie. Kyk na Amerika, dis mos hoekom hierdie hof besigheid gedoen word. Ipv om hul voorbeeld te vat en NIE te doen wat hulle verkeerd doen nie, sal ons dit nou wraggies doen. Hoeveel keer se ons as Suid-Afrikaners, kyk hoe gedra die Amerikaanse kinders hulleself. Sies. Maar nee. Hier gaan ons alweer. My hart breuk vir julle wat nie glo nie ek treur vir julle. God het julle nogsteeds lief. Net omdat jy se jy het nie ‘n Pa nie, maak dit nie waar nie. Ek kan my lewe nie indink om te dink ek is so onbelangrik om gebore te wees net om te werk en te dood nie. Ek het ‘n doel en al hoe ek ‘n doel kan he is as ek ‘n Vader het.

Willem ·

So, met ander woorde, dis jou plig om ander te waarsku teen ‘n ewigheid in die hel? Die punt is Leandra, daar is geen bewyse vir die bonatuurlike nie, en nes jy glo in jou godsdiens, is daar baie ander gode en mense wat glo hulle is reg en het die antwoord.

Ek, vir een, was lank ‘n christen – maar gelukkig het ek genoeg vrae gevra dat ek myself kon losmaak van dit.

Maar niks van dit is relevant tot die debat oor godsdiens in skole nie – dit hoort net eenvoudiglik nie in publieke skole nie – jy is vry om dit by die huis te beoefen.

Louw Wepener ·

Leandra, jy sê jy sien die ander kant se punt in – m.a.w. stem jy saam godsdiens moet uit publieke skole uitgehaal word?

Leonard van der Dussen ·

Die hele struktuur van die skoolstelsel in Suid-Afrika moet verander. Hierdie hofsaak is maar net nog ‘n nuttelose oefening in die eindelose problematiek van menseregte, iets waarin die mens probeer wyser as God wees, en wat dus heeltyd net stryd en twis veroorsaak. Die huidige skoolstelsel is ‘n oorblyfsel van ‘n vorige bedeling en moes eintlik saam met die oorgee van die land aan ‘n nuwe bedeling, heeltemaal hersien gewees het; en Afrikaners moet ‘n slag tot die besef kom hulle het die regeermag en dus die besluite oor hoe die staat optree en hoe die geld bestuur word prysgegee. Hofsake plak net ‘n pleister hier en daar op. Die energie en geld moet aan die onderhandeling vir ‘n nuwe skolestruktuur gewy word wat in ooreenstemming met die nuwe Suid-Afrika se “diversity” is, en intussen moet Afrikaners ook besef dat daar in elk geval baie meer privaatskole nodig is. Die Engelse is ver voor met onafhanklike onderwys. Ons het net op die oomblik net groot christelike breedsprakigheid om te wys.

Akademikus ·

Suid-Afrika se openbare skole het nie ‘n goeie geskiedenis in die aanbieding van Bybelonderrig nie. Indoktrinasie/evangelisasie, ondersteuning vir politieke beleid en CNO was deel van die kurrikulum. Eksklusiwiteit was die basis van CNO beleid. Kinders van spesifieke Christelike denominasies of groepe was ook uitgesluit. Die onderwysbeleid vir Religie in skole (2003) is vir alle openbare skole en word godsdiensbeoefening workship/devotion en evangelisering verbied. Met watter kennis en wie se professionele opleiding word dit geregverdig dat enige onderwyser of ouer Bybelonderrig kan aanbied. Teoloe neem 6 jaar akademiese opleiding om die hermeneutiek, eksegese en homelitiek van die Grieks en Hebreeus te bemeester. Onderwysersopleiding voorsien geen opleiding in bybelkunde en/of inligting oor religieuse/spirituele ontwikkelingsfases van kinders nie. Ons verkies opgeleide wiskundeonderwysers vir kinders maar enige onderwyser sonder akademiese opleiding kan religieuse waarhede aanbied, interpreteer en moreel regverdig. Religieuse leiers, ouers en gemeenskappe moet ‘n slag hulle werk doen soos dit van hulle moreel verwag word. Dis verregaande om enkelouers en/of armoede te blameer vir morele verval of te insunieer dat slegs religiee die waardes en moraliteit vir ‘n gesonder samelewing kan bied. SA is nie 80% Christene nie (Win-Gullup International pole). Humanisme en ander religiee streef ook na basiese morele waardes waarvan respek vir ander mense die belangrikste is en ook in al die religiee en waardeorienterings voorkom. Gesonde waardes/moraliteit word onderskryf.

Alana ·

Beste Akademikus, soos genoem gaan die saak glad nie oor godsdiensonderrig in skole nie.

Akademikus ·

Die saak gaan m.i. primer oor inklusiwiteit en hoe diversiteit verstaan word. In ‘n diverse multi-kulturele/multi-religieuse/ multi-linguisitiese/multi-gender samelewing en ‘n grondwet binne neo-liberalisme is respek en verdraagsaamheid teenoor “ander” ‘Othering” die basiese vertrekpunt. (Ek gebruik nie die begrip toleransie nie – weens die teoretiese aanvegbaarheid daarvan). Religie in onderwys en die prosesse daarmeesaam is slegs die kulminering van hoe alle ouers en kinders se waardes en lewensbeskouings nie in ag geneem word nie. Dit is ook ‘n bewys dat die volle begrip en omvang van die impak van ons Grondwet op ons daaglikse skoolomgewings en onderwysinstellings nie altyd eerbiedig word nie – die voorbeelde is legio.

Janie ·

Ek verstaan dat 85% van die bevolking Christene is en dat Christelike morele waardes vreeslik hoog is en belangrik is. As dit so moreel was , hoekom is die land se misdaad so erg? Waarheen het daardie morele waardes verdwyn. Tronke sit propvol Christene. As ń beskuldigde sê “ek het dit nie gedoen nie want ek is ń Christen”, weet jy hy/sy is die skuldige. Hoekom is die Skandinawiese lande, wat hoofsaaklik ateïsties is, basies misdaadvry en bonoop vooruitrewend? Hoekom maak tronke in Nederland, wat al meer ateïsties raak, toe terwyl kerke in kuierplekke omskep word? Laat mens wonder oor Christelike morele waardes…

Derick ·

Ek dink daar is tans geen akkurate statistiek oor die persentasie “christene” in SA nie.

Ernst ·

Genade wat het skielik geword van die Afrikaner? Maak my sommer trots!! As ek so deur bogenoemde kommentaar lees, lyk dit vir my ‘n groot meerderheid het tot hulle sinne gekom om te besef wat die werklikheid is & dit is dat geloof uit skole gehaal moet word om dit vir almal leefbaar te maak, van Christen, tot Muslim tot Ateïs. Wow, ek is geskok, trots & sommer baie bly wat ek sien!!! Gee my weer hoop vir die samelewing!

Gatvol ·

My kind is ongelowige kind van enkel ouer. Ons spandeer genoeg tyd saam dankie, daar is niks fout met sy morele kompas nie.
In die week wat sy ” ons bou in geloof” skool gebedsweek het, bly hy by die huis. Hy word gedwing om die gebede by te woon as hy daar is. Hy haat dit. Sy mede ongelowige vriend moes n klag le teen kinders om hom uit te los oor sy geloofsoortuigings. Sy mede hoogheilige christen skoliere se morele kompasse is gereeld in die moeilikheid, want hulle kan mos als reg bid. Hy weet hy kan net op homself vertrou en neem verantwoordelikheid vir sy eie gedrag.
Maar lewe in sy skool is baie keer vir hom bitter moeilik weens sy ongeloof.

Derick ·

Dis skokkend en hartseer. My kind se morele kompas is ook niks mee fout nie, maar maaitjies vertel hom hy gaan brand in die hel. Die bybel vertel hom die sondes van die vaders word hom toegereken en hy is in sonde gebore. Dis indoktrinasie – en die christene sal nie so stil wees as dit moslems was wat moslem mites in hulle kinders se koppe kom inforseer nie.

Milan ·

“Daarom behoort alle ouers se standpunte in ag geneem te word en alle kinders geakkomodeer te word, soos dit tans plaasvind.” Uhm… Nope. Dit is juis wat nié op die oomblik plaasvind nie. In my ervaring as ouer word alle kinders juis nié geakkomodeer nie – daarom die hofsaak. Die staatskool waarin my kinders tans is, wei hierdie Vrydag ‘n groot gedeelte van die dag aan hemelvaart vieringe. Ek het egter nie die keuse om my kinders uit die skool te hou nie, want daar word toetse geskryf. Daar is wel ‘n Christenskool op ons dorp, en dit was my vrye keuse om my kinders nie daar in te skryf nie. Ek ondersteun heelhartig dat gelowe hulle eie skole kan vestig, met rituele en waardes waarmee ouers bekend en gemaklik is. Gun my asb dan ook die reg om my kinders tuis spiritueel te rig, en dan ‘n uitstekende staatskool te kies waar hulle akademies opgelei word.

Willem ·

Net so. As mens die storie los, dan kry die kinders nog plakkertjies in hulle biologie handboeke binnekort om hulle te herinner “evolusie is net ‘n teorie”. Hoekom moet godsdiens enigsinds op staatsskole voorkom?

Derick ·

Ek is bly om te sien daar is soveel Afrikaners wat verlig is en helderdenkend oor die aangeleentheid. Daar is soveel meer “ongelowiges” as wat die christen Afrikaners besef – ons is maar net stil daaroor oor die algemeen weens die genadelose viktimisasie wat ons oor die jare van christene ervaar het. Die tyd het gekom om nie meer terug te sit en toe te laat dat die gelowiges alles oorneem en beheer nie.

Derick ·

My wens sou wees dat Solidariteit vir ALLE AFRIKANERS sal baklei, nie net die wat hulle geloof deel nie. As my kind ‘n uitstekende akademiese rekord het en aansoek doen vir ‘n beurs van Solidariteit, maar nie ‘n christen is nie, en ‘n uitgesproke ateis – sal hy daardie beurs kry? Ek twyfel baie sterk, want uit baie van die kommentaar op MaroelaMedia blyk dit dat mede-Afrikaners dink slegs christene mag Afrikaners genoem word en dat as jy nie saamstem met hulle nie, jy uitgejou word as “libtard” of kommunis.

Hartseer stand van sake, anders het ek finansieel bygedra…

Alana ·

AfriForum se argument is die skoolgemeenskap moet self kan kies. Julle betaal belasting, julle het die reg om aan ouerbeheerliggaamverkiesings deel te neem en saam te besluit oor die skool se etos. Dit hoef nie ‘n meerderheid of minderheid se besluit te wees nie – raak betrokke en onderhandel vir julle kinders se belange. Daar is skole wat al verander het van etos, bv van Christen na Moslem, omdat die ouers so besluit het.

Die OGOD argument is een van geen keuse nie. As ek julle argumente lees, klink dit vir my asof almal een of ander tyd ‘n slegte ervaring gehad het met Christene, waaroor ek jammer is, maar nou lyk dit my, is daar behoefte aan wraak (en sommer teen alle godsdienste want alle openbare skole in die land is hoegenaamd nie Christelik nie) in plaas daarvan om ‘n oplossing te vind wat ‘n volgende geslag help skep waar enige kind, Hindoe, Boeddis, Ateis, Christen, Moslem, wie ook al, hulle geloofsidentiteit kan uitleef sonder vrees vir viktimisasie.

Natuurlik is die geloof dat daar geen god is nie ook ‘n geloofsoortuiging, nes die geloof in enige spesifieke godheid. Nes kaalkop ‘n haarstyl is. Ek kan kies om my hare af te sny, of nie, of dalk mag dink my kaalkop of pruik lyk snaaks, meen egter nie as ons almal gedwing word om ons hare eners te dra, gaan almal meer laat tuis voel nie. Om dit te bereik, moet kinders met selfvertroue en respek teenoor ander bemagtig word.

Lourens Botha ·

Alana vanwee die right click wat nie werk op die blad nie kan ek nie regtig illustreer wat ek wil sê nie. Jy maak growwe logiese redenasie foute: Die soektog na ander skool as dit jou nie pas nie, sny beide kante toe en jy probeer dit hier insleep om jou punt te bewys. Dan om die sprong te maak van “alle gelowe gelyke benadering” na n “geloofs posisie van ongeloof afdwing” is werklik uiters lagwekkend. Gaan lees daardie stukke deeglik EN dink daaroor…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.