Die Senekal-suksesstorie

Dit moet een van die grootste suksesstories wees van die afgelope jaar of twee…

Vroeg Saterdagoggend kom honderde burgers van alle rasse, geslag en ouderdom van Senekal en Matwabeng in die township byeen. Almal lag en skerts. Daar is geen suur gesigte nie, geen sprake van onmin en verskille nie.

Almal het net een doel: Kom ons maak ons plek skoon en mooi. Dit behels maar klein dingetjies, soos rommel optel, gras sny en wit strepe op paaie verf. Ook om reg te maak wat stukkend is, soos vensters van geboue en slaggate in paaie. En om dit ’n groen paradys te maak deur bome te plant en tuin te maak in openbare ruimtes. Dit is die eenvoudige formule van die organisasie South Africa Day om goeie verhoudinge te bevorder en mense saam te snoer rondom ’n gesamentlike visie van ontwikkeling en voorspoed. Dit word genoem die SRVP-konsep: Skoonmaak, Regmaak, Verf en Plant.

En dis wat Saterdagmôre gebeur het – ’n groot vrywillige aksie van vele burgers.

Verlede jaar in Oktober was die prentjie heel anders. Die hele land het asem opgehou dat grootskaalse rassegeweld kan losbars. Die snellergebeurtenis was die wreedaardige moord op die jong Brendin Horner, ’n voorman van ’n plaas in die omgewing. ’n Klompie boere het by die landdroshof waar twee aangehoudenes oor die saak sou verskyn, gaan betoog. Sake het amper handuit geruk toe van die betogers die hof wou binnegaan om die verdagtes te konfronteer. ’n Polisiewa is omgekeer en aan die brand gesteek. Gelukkig het die emosies bedaar sonder enige verdere voorvalle. Maar toe het die EFF aangekondig dat hy op 16 Oktober ’n groot opmars sou hou in die strate van Senekal. Boere en ander belanghebbendes het die pad geblokkeer en die EFF-ondersteuners gekonfronteer. Hoewel dit spanningsvolle oomblikke was, het niks verder gebeur nie.

’n Plaaslike pastoor, John Mathuhle, het besluit dat die hele gemeenskap moet begin saamwerk om te sorg dat die toksiese atmosfeer verander en ’n positiewe gees gevestig word. ’n Vergadering is vir 20 Oktober 2020 belê en alle belanghebbendes is genooi: kerke, boere, sakemense, politieke partye op die stadsraad en gewone burgers. South Africa Day se Barend la Grange was ook daar om te verduidelik hoe ’n gemeenskap selfverantwoordelikheid kan neem om eenheid te bevorder en aktief betrokke te raak by ontwikkeling. Dit is al met groot sukses toegepas op dorpe soos Coligny, Cradock, Waterval-Boven, Delmas, Brits, Kuruman, Kroonstad, Reitz en Alexandra. By nog ander word aktief gewerk. (Ironies is dit die soort inisiatief wat ook toegepas word deur die Solidariteit Beweging, naamlik: selfsorgsaamheid).

Daar is toe besluit om die Senekal-Matwabeng-gemeenskapsforum te stig. Die voorsitter is ’n boorling van die dorp, prof. Giel Bekker. Hy is ’n dosent in projekbestuur aan die Universiteit van Pretoria. Met al sy kundigheid het hy die projek: Senekal-Matwabeng gepak. Wetende dat ’n eie gemeenskapsprojek soos dié maklik negatiewe reaksie van die munisipaliteit kan ontlok, het die forum ’n formele memorandum met die Setsoto-raad onderteken (dit sluit in Ficksburg, Clocolan en Marquard.) In die ooreenkoms word, onder meer, bepaal watter projekte aangepak sal word, hoe dit sal begin, uitgevoer, voltooi en onderhou sal word. Groot kapitaalprojekte soos watervoorsiening en sanitasie word deur die munisipaliteit gehanteer (wat hoeka sulke probleme het.)

Prof. Bekker verduidelik dat die forum die uitgangspunt van die Broken Window-teorie[1] het. Navorsing in die VSA het bewys dat die gebrek aan optrede om klein dingetjies (soos ’n gebreekte venster in ’n gebou) reg te maak, gou lei lei tot meer en erger misdaad. Volgens hom moet die krag van klein verandering nie onderskat word nie. Dis die soort klein veranderinge wat elke vrywilliger Saterdag help maak het. Daar is wonderlike stories. So ’n stuk of ses jongelinge het etlike weke gelede besluit om op eie inisiatief die slaggate in die paaie te begin opvul. Hulle het hier en daar materiaal gebedel en begin. Waar hulle werk het, hulle ’n beker neergesit waar mense vrywillig geld kan skenk. So het hulle al genoeg geld gekry om ’n kruiwa te koop. Nou kan hulle meer doen. Tot dusver het die groepie al meer as 600 slaggate opgevul.

Saterdag was daar boere met trekkers en implemente. Een het gehelp om die lang gras en bossies af te sny op ’n sokkerveld. Die veld is langs ’n skool, maar die kinders kon hoegenaamd nie daar speel nie. ’n Ander boer het ’n stootskraper gebring. Daarmee het hy ’n ander veld mooi netjies geskraap. Op versoek van die inwoners het hy sommer die strate ingevaar en die stofpaaie geskraap wat vol dongas was.

Van die kritiek teen die gemeenskapsforum is dat die belastingbetaler reeds vir dienste betaal. Die munisipaliteit se oorbetaalde, ondergekwalifiseerde amptenare moet net hul werk doen. Dis waar. Maar almal weet dat dié soort konfronterende ingesteldheid geen oplossing sal bied nie. Barend la Grange meen munisipaliteite moet eerder deel van die oplossing gemaak word as om deel van die probleem te bly. Met die memorandum wat onderteken is, word die munisipaliteit ingebind in aksie om dienste aan die gemeenskap te verbeter. Daar word saam besluit wat gedoen moet word en wat elk se rol daarin is.

Dit is verkiesingsjaar op plaaslike vlak. Natuurlik sal politici die grootste eer uit enige suksesvolle onderneming wil opeis. In die samewerking met die gemeenskap sal hulle minstens deel van die eer tereg kan opeis. Maar dit sal binne perke wees, want die gemeenskap weet wie wat gedoen het en dat ’n deel van die eer hulle toekom. Die meer aktiewe rol van die burgery dwing die politici om self meer betrokke te raak soos ons Saterdag gesien het.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Verteenwoordigers van die DA, EFF en die Vryheidsfront Plus was daar. Hulle het skouer aan skouer met die gemeenskapslede gewerk. Hulle het dit duidelik gemaak dat hulle nie daar is as politici nie, maar as mense wat deel van die gemeenskap is. Die aksie van gewone mense om die klein dingetjies te doen, soos rommel op te tel, maak die hande van die munisipaliteit los om ander, duurder dinge te doen, soos infrastruktuurontwikkeling. Daar behoort ook dan meer geld daarvoor beskikbaar te wees. En dis wel bekend dat die meeste munisipaliteite in die land bankrot is. Sonder die hulp van die gemeenskap sal min in elk geval gedoen word.

Dit was Saterdag ’n belewenis om so deel van ’n gemeenskapsprojek te wees. Om die vriendelike atmosfeer te ervaar, en hoe jy deur ’n klein daad, dadelik ’n verskil maak. Ek kan aan die inwoners van Senekal-Matwabeng met trots sê: “Ek was deel van die mooimaak van jul dorp. Die wit streep waaraan ek help verf het by die besige vierstopkruising, sal nog vir jare daar wees as getuienis van my bydrae in jul vernuwingsproses na eenheid en vrede.

[1] George L. Kelling and James Q. Wilson het in 1982 ’n artikel oor hierdie teorie in die Maart-uitgawe van The Atlantic geplaas. Hulle het beweer dat vandalisme en kleiner misdaad na alle waarskynlikheid groter misdaad sal lei.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Freek Robinson

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Ek kan nou nie raaklees hoe die munisipaltiteit op die “self help” gereageer het nie?

Baardman

Goeie nuus, hoop die hele land wil sulke projekte aanpak. Hopelik gaan almal se oë oop en sien dat samewerking die enigste oplossing is vir die land se probleme

Philip

Dit is n wonderwerk gewoonlik is sulke samewerking en entoesiasme net moontlik as daar T hemde en kos uitgedeel word.

MT

Munisipaliteite is absoluut VERSOT op hierdie tipe sef-help projekte waar belastingbetalers nie net getrou hulle belasting aanhou betaal nie, maar sommer ook self die werk doen waarvoor hulle sopas opgedok het!

En inteendeel met wat die skrywer beweer, maak dit nie die munisipaliteite se hande los om groter projekte aan te pak nie, maar versterk dit bloot hierdie groep luiaards se gevoel van ‘entitlement’.

Tutu se reenboognasie is dood, al gebruik ons watter grimeringstegnieke (soos wat begrafnisondernemers gereeld doen) om die teendeel te probeer bewys.

Piet parys

Sukses word nie behaal wanneer die paaie geskraap en lyne geverf en gras gesny word nie . Dis n baie kort termyn oplossing . Die probleem is dat die stoel sitters in die dorpsraad moet gefire word wat nie in staat is om hulle huise te bestuur nie wat nog te sê n dorp . WANNEER DIE STEMGEREGTIGES OPGEVOED WORD OM DIE REGTE BESLUITE TE NEEM BY DIE STEMBUS EN NIE NET OMDAT HULLE WIL WEN OF DEEL TE WEES VAN DIE GROOTSTE PARTY IN DIE LAND NIE .