Die stand van selfbeskikking in Suid-Afrika

Flip-Buys-krisisberaad

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Beweging se krisisberaad op 5 Mei 2015 by die Voortrekkermonument. Foto: Reint Dykema

Selfbeskikking. ʼn Gelaaide woord met uiteenlopende betekenisse vir verskillende mense. ʼn Woord wat oor die eeue al vir menigte vryheid gebring het, maar waarvan die regte betekenis al net soveel uitgehol en misbruik is om opstand of verdrukking te probeer regverdig. ʼn Woord met ʼn skynbaar magnetiese aantrekkingskrag, maar wat al die slagoffer was van woordkapers soos kommuniste, linkse en regse nasionaliste en liberaliste. Maar wat beteken selfbeskikking regtig, en is dit nog toepaslik vir die moderne Afrikaner in Suid-Afrika?

Daar is reeds gesê dat selfbeskikking uiteenlopende betekenisse het. Rasse- of politieke meerderheidsgroepe soos die ANC vertolk dit as die vryheid van die bevolking van ʼn land. Hulle sien dit as algemene demokrasie sonder beheer deur  ʼn buitelandse moondheid soos in die koloniale tyd. Liberaliste sien dit as vryheid vir  ʼn individu. Waar die meerderheid dus net die bos raaksien, sien die liberalis net die boom raak. Maar volke, etniese groepe of kultuurgroepe vertolk selfbeskikking nog altyd as hulle reg op vryheid.

Selfbeskikking is ʼn reg, maar…

Daar bestaan min twyfel in die internasionale reg dat vryheid vir volke of kultuurgroepe die moderne opvatting van selfbeskikking is, maar sonder om die ander twee vertolkings uit te sluit. Dis nie net die meerderheid of die individu wat die reg op selfbeskikking het nie ‒ volke, etniese groepe en kultuurgroepe het ook daardie reg. Maar dis nie die einde van die storie nie. Hierdie reg van volke het “bepalings en voorwaardes”. Dit geld nie oral, altyd, dieselfde en onder alle omstandighede nie. Daar is min homogene lande in die wêreld. Die reg op volle selfbeskikking, soos ʼn eie land en regering vir alle volke en kultuurgroepe sal tot die grootskaalse ontwrigting en verbrokkeling van die huidige staatsorde lei as dit tot sy uiterste gevoer word. Die wêreld vrees altyd dat dit moontlik erger gevolge sal hê as die huidige verdrukking van hierdie groepe in baie lande.

Bepalings en voorwaardes

Daar is verskeie beperkings en voorwaardes vir die uitoefening van die reg op selfbeskikking:

  • Eerstens word ʼn volk se reg op selfbeskikking opgeweeg teen ʼn staat se reg op staatseenheid.
  • Tweedens kan ʼn volk nie sy reg op selfbeskikking uitoefen ten koste van ander volke se reg op selfbeskikking nie. ʼn Minderheid kan byvoorbeeld nie ʼn onafhanklike staat uitroep teen die wil van die meerderheid in die bepaalde gebied of ten koste van hulle vryheid nie. Voorbeeld: Die wêreld het die volle selfbeskikking van die 90%-meerderheid in Kosovo gesteun, maar die minderheid Serwiërs bloot minderheidsregte gegee.
  • Derdens moet laer vlakke van selfbeskikking, soos korporatiewe selfbeskikking (groepsregte) en interne selfbeskikking (gebiedsregte), eers oorweeg word. Volle selfbeskikking word eers ná ʼn lang proses as die laaste uitweg gesien, gewoonlik ná grootskaalse verdrukking deur die meerderheid en ʼn bloedige geveg.
  • Vierdens moet die praktiese voorwaardes vir selfbeskikking bestaan, soos die meerderheidsbesetting van ʼn omlynde grondgebied, die meerderheidsteun van die betrokke kultuurgroep en die demokratiese uitputting van makliker opsies soos groepsregte of interne selfbeskikking soos gebiedsoutonomie. Hierdie laaste praktiese voorwaarde bied die grootse struikelblok vir Afrikaner-voorstanders van selfbeskikking. Afrikaners het nie ’n “Skotland” wat net met ’n besluit onafhanklik kan word nie. Maar selfbeskikking het baie vorme, en is nie dieselfde as ’n “volkstaat” nie. Dit gaan ook oor die reg op besluitneming van ’n enkelpersoon, van ‘n skool se beheerliggaam en ’n universiteit se raad of ’n maatskappy se bestuur. Minderhede het ruimtes nodig waarin hulle die meerderheid is. Die Solidariteit Beweging se strategie om gevorderde vlakke van selfstandigheid te bou met sterk selfhelpinstellings, is ’n voorbeeld van ’n verbeeldingryke metode om die reg op selfbesluitneming uit te oefen.
  • Vyfdens sal ’n plan wat algemene instemming vereis oor ’n bepaalde model vir groter selfstandigheid of selfbeskikking nie werk nie. Almal stem eenvoudig nie oor alles saam nie. Daarom sal ’n oplossing soos ’n breë “staatkundige spyskaart” moet wees waar mense self kan kies wat hulle wil ondersteun en wat nie. Daar moet dus ruimte vir verskille wees, met ’n plan wat wyd genoeg is om uiteenlopende sienings te omvat. Die verstandhouding moet net wees dat mense nie dit waarmee hulle verskil, teenstaan nie. Só ’n plan is dus eenheid in verskeidenheid, of volksveelheid in plaas van volkseenheid.

Verweer van regerings

Regerings verweer hulle gewoonlik teen aansprake op selfbeskikking deur te sê dat die bevolking reeds vry is, dat die minderheid volle demokratiese regte geniet, dat individuele regte vir almal beteken die groep is ook vry, dat daar nie genoegsame bewese steun vir selfbeskikking is nie, dat Afrikaners wat dit steun net terugverlang na apartheid, en dat die praktiese voorwaardes vir selfbeskikking nie bestaan nie. In kort gebruik hulle hul meerderheidsregte om minderheidsregte te dwarsboom. Minderhede se antwoord hierop is dat algemene demokrasie in ʼn groepsgebaseerde land bloot neerkom op die strukturele oorheersing deur die meerderheid, omdat minderhede demokraties van die politieke mag oor hulself uitgesluit is.

Suid-Afrika

Wat is die huidige stand van selfbeskikking in Suid-Afrika? Die antwoord is nie positief nie. Selfs bekende voorstaanders daarvan, soos wyle prof. Carel Boshoff van Orania, het die ingewikkeldheid van die probleem goed ingesien. Hy het vereenvoudigde vertolkings van die probleem en oplossings daarvoor opsygeskuif met ʼn reguit uitspraak: “Die Afrikaner se verspreidheid oor die ganse Suid-Afrika en die daarmee gepaardgaande vervlegtheid met die SA ekonomie en die afhanklikheid van nie-Afrikanerarbeid wat ook sy ondergang as staatkundige moondheid teweeg gebring het, maak die herstel van sy vryheid nog steeds onmoontlik.”

Daar is dus ʼn direkte verband tussen die bevolkingswerklikhede en die onderskeie groepe se kanse op selfbeskikking. In ʼn vervlegte gebied word die kans op selfbeskikking beperk deurdat die meerderheidsgroep daarvoor toestemming moet gee, omdat hulle ten nouste daardeur geraak word. Hulle bly immers naby mekaar in dieselfde gebied, en modelle soos ’n soort “kultuurstad” kan ’n moontlikheid wees. Maar in ʼn redelik leë en onderontwikkelde gebied kan daar prakties tot hoë vlakke van selfbeskikking ontwikkel word sonder dat die meerderheid se instemming verkry hoef te word. Die voorwaarde hiervoor is dat dit ’n prakties uitvoerbare plan moet wees, soos die bou van ’n stad en nie ’n groot “volkstaat” nie.

In Eerstewêreldlande soos Switserland waar daar ʼn getalle-ewewig en magsewewig tussen die verskillende Eerstewêreldgroepe is, is dit normaalweg in almal se gemeenskaplike belang om vir mekaar ’n hoë graad van selfbeskikking of outonomie te gun en grondwetlik te erken. Waar daar soos in Kanada nie ʼn getallebalans tussen Eerstewêreldgroepe in ʼn Eerstewêreldland is nie, voer die kleiner groep gewoonlik ʼn politieke stryd om erkenning. Hulle lojaliteit aan die land word verkry deur hoë vlakke van interne selfbeskikking waar hulle die meerderheid vorm, en uitgebreide groepsregte waar hulle verspreid woon. Maar, soos Donald L. Horrowitz in sy gesaghebbende Ethnic Groups in Conflict opmerk, verskil dit in gemengde Eerste- en Derdewêreldgroepe en -gebiede. Waar ʼn Eerstewêreld-minderheidsgroep ʼn Derdewêreld-meerderheidsgroep oorheers, kom laasgenoemde in opstand en is die oorheersing nie volhoubaar nie. Waar ʼn Derdewêreld-meerderheidsgroep ʼn Eerstewêreld minderheidsgroep oorheers, trek die minderheidsgroep na ʼn Eerstewêreld-gebied. Dit verklaar die grootskaalse na-’94 emigrasie na Westerse state.

Die antwoord oor die stand van selfbeskikking is dus dat daar tans nie geleenthede vir volle selfbeskikking (onafhanklikheid) vir Afrikaners is nie, maar dat die deur vir ʼn proses om groter selfbeskikking te ontwikkel darem nog oop is. Die kans is dus nie groot nie, maar miskien minstens net so groot as die kans op sukses van ander strategiese opsies, soos om met die partypolitiek die meerderheidsteun te probeer kry.

Die stand van selfbeskikking kan soos volg opgesom word:

  • Die Grondwet erken die reg op selfbeskikking van die bevolking in geheel, maar laat die deur vir die selfbeskikking van kultuurgemeenskappe op ʼn skrefie oop. Die kanse vir interne selfbeskikking is natuurlik groter, maar dit sal steeds moeilik bereikbaar wees.
  • Die ANC is hewig teen etniese selfbeskikking gekant, sien dit as apartheid en as ʼn bedreiging vir nasionale eenheid, vir ANC-oorheersing en vir hulle alleenreg op die besluitneming oor die belastingbetalers se geld.
  • Die internasionale reg steun vorme van etniese selfbeskikking, maar stel streng voorwaardes daarvoor. Die internasionale reg is egter nie afdwingbaar nie en moet dus nie oorskat word as ʼn bron van hoop vir selfbeskikking nie.
  • Die grootste struikelblok vir Afrikaner-selfbeskikking is dat die praktiese voorwaardes daarvoor ontbreek. Hier word veral verwys na vereistes soos meerderheidsbesetting van ʼn omlynde grondgebied, saam met meerderheidsteun van die inwoners.
  • Die aandrang op selfbeskikking sal weer opvlam hoe swakker die ANC die land en groepe soos die Afrikaners regeer. Soos Boshoff gesê het oor die toekoms: “Die grondvraag bly die grondvraag.”

Om al hierdie redes is die grootste struikelblok vir Afrikaner-selfbeskikking nie die ANC nie, maar die feit dat die praktiese voorwaardes daarvoor tans nie bestaan nie. Die bal is dus nie in die ANC se baan om vir Afrikaners kragtens die internasionale reg selfbeskikking te “gee” nie. Daar bestaan nie ʼn voltooide gebied soos ons eie “Skotland” met meerderheidsbesetting wat net “gegee, geëis of gevat” kan word nie. Daarom sal die voorstaanders van selfbeskikking self hierdie praktiese omstandighede vir selfbeskikking moet skep as hulle vryheid wil verwerklik.

In die afwesigheid van ʼn “pasklaar” gebied kan selfbeskikking nie van “bo” af beding of gevat of deur die internasionale gemeenskap gegee word nie, want dit bestaan eerstens nog nie. Die voorstaanders daarvan sal dit moeisaam van “onder” af moet opbou. Natuurlik probeer die linkse ANC en liberale groepe om Afrikaner-selfbeskikking te dwarsboom. Dit is heeltemal te wagte, want hierdie groepe is ideologies daarteen gekant. Dis nie hulle beleid nie en daarom sal hulle dit nie bevorder nie en sal hulle dit teenstaan. Daarom is die enigste kans vir Afrikaner-selfbeskikking dat die voorstanders daarvan self die praktiese omstandighede daarvoor skep.

Alternatiewe vir selfbeskikking

Die geweldige praktiese, politieke en ekonomiese uitdagings vir selfbeskikking is presies hoekom die oorgrote meerderheid Afrikaners opsies wat makliker lyk voorstaan. Soos die Romein Sallustius gesê het: “Min mense wil vryheid hê. Die meeste verkies regverdige heersers.” Daarom probeer hulle partypolitieke opposisiestrategieë en ander planne wat makliker en meer uitvoerbaar klink. Maar as dit nie werk nie, groei die steun vir selfbeskikking weer sterk, veral as dit die enigste oorblywende moontlikheid vir voortbestaan is.

Die probleem vir minderheidsgroepe wat teen selfbeskikking gekant is, is dat hulle in ʼn bestel vasgevang is waar die meerderheid oor hulle beskik. Dit beteken dat die meerderheid oor hulle veiligheid, gesondheidsorg, dorpe en stede, pensioene, werkgeleenthede, kinders se skole, in kort, oor hulle toekoms beskik. Natuurlik beteken dit nie dat hulle die wanbestuur van die ANC voorstaan nie, maar bloot die stelsel wat hierdie wanbestuur moontlik maak. Hulle probeer “die stelsel” van binne af “regstem” deur die meerderheidsteun te probeer verkry. Dit kom neer op ʼn strategie van “regeer my beter”, eerder as “ek wil myself regeer”.

Maar daar is groot struikelblokke in die pad van ʼn gewone liberale demokrasie. Die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger het dit treffend saamgevat: “In die Weste het demokrasie uit homogene samelewings ontwikkel. Daar was nie institusionele versperrings vir ʼn minderheid om ʼn meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ʼn tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitwissing.”

Daarom het wenlande soos Switserland, Kanada, Spanje en talle ander moderne state die gewone liberale demokrasie wat net op individuele regte gegrond is, verder ontwikkel om vir kultuurgroepe ook voorsiening te maak. Hulle grondwette gee nie net regte aan groepe nie, maar ook die magte om daardie regte uit te voer!

Suid-Afrika se Grondwet voldoen nie aan die nuutste internasionale standaarde en beste praktyke vir die beskerming van kultuurgroepe soos die Afrikaner nie. Die reeds afgewaterde groepregte in die Grondwet word magteloos gemaak deurdat die magte om dit toe te ken steeds by die meerderheidsparty berus. Daarom word die regte wat wel bestaan bloot as “verdraagsaamheidsbepalings” gesien. Ons Grondwet beskerm net meerderheidsregte ‒  soos affirmative action. Die regerende meerderheid wat oor die staatsmag en -hulpbronne beskik, word grondwetlik beskerm teen ons as maglose minderheid. Raar maar waar.

Gevare vir selfbeskikking

Benewens die struikelblokke vir selfbeskikking wat hierbo genoem is, is daar nog ʼn paar gevare vir selfbeskikking. Dit is:

  • Die gebrek aan ʼn praktiese en haalbare plan vir selfbeskikking;
  • die privatisering van die Afrikaner en die afgradering van sy historiese nasionale strewe tot dié van ’n verbruiker of individu;
  • die morele vergiftiging van die selfbeskikkingsbegrip deur dit as ʼn sinoniem vir die terugkeer na ʼn vorm van apartheid te probeer aanwend, soos om selfbeskikking as dekmantel vir rassistiese planne te probeer misbruik;
  • onoordeelkundige of onverstandige gebruik deur swak ingeligte kortbroekpolitici in ʼn poging om die Afrikaner se regmatige frustrasies te gebruik om steun vir hulle onwerkbare planne te werf; en
  • ʼn gebrek aan begrip van die internasionale reg se bepalings oor selfbeskikking, wat gewoonlik neerkom op ʼn oorskatting van die mag van internasionale handveste. Die dwaling is dat die internasionale reg gebruik kan word om selfbeskikking prakties in te stel, dit wil sê dat die reg die praktyk skep. Die werklikheid is dat die praktyk geskep moet word en dat die internasionale reg dan gebruik kan word om daardie praktyk juridies te erken.

Die toekoms van selfbeskikking

Geen verstandige minderheidsgroep op hierdie gevaarlike vasteland behoort die skrefiesdeur van selfbeskikking toe te maak nie. ’n Mens weet nooit. Daardie reg staan in die Grondwet, en in ons situasie moet álle grondwetlike ruimtes en geleenthede gebruik, beskerm en bevorder word. ʼn Grondwet is tog nie soos ʼn spyskaart waar net party regte gekies word nie. Teen die tempo waarteen die land demoderniseer en die ANC radikaliseer, sal net polities roekeloos-nalatige groepe moontlike grondwetlike opsies wegskuif. Maar daar is twee belangrike voorbehoude vir selfbeskikking. Die eerste is dat weens die Afrikaner se getalle en sy verspreiding oor die hele land, gebiedsgegronde selfbeskikking nooit die allerantwoord vir alle Afrikaners kan wees nie. Dit kan ʼn belangrike deel van die oplossing wees, maar ander planne sal steeds gemaak moet word. Tweedens sal die aansprake op ʼn gebied baie afgeskaal moet word ooreenkomstig die getalle Afrikaners wat hierdie opsie steun. In plaas van ʼn staat sal daar waarskynlik net na ʼn stad gekyk kan word, met ʼn goedgesinde omliggende gebied wat later daarby kan inskakel.

Die laaste voorwaarde vir die verwerkliking van selfbeskikking is dat die ruimtes vir selfbeskikking op ʼn wetenskaplike, planmatige en verstandige wyse benut word en nie verder polities vergiftig word met ondeurdagte planne en uitsprake nie. Alhoewel die voorwaardes vir onmiddellike en volle selfbeskikking nie nou bestaan nie, kan gebiedsgebaseerde interne selfbeskikking byvoorbeeld van onder af in laebevolkte gebiede tot hoë vlakke van outonomie soos in die geval van ʼn provinsie ontwikkel word ‒ binne die huidige grondwet.

Aanvullend of as alternatief kan ʼn Westerse stelsel binne ʼn Afrikastaat ontwikkel word deur self gemeenskapsinstellings op belangrike terreine te vestig. Dit is ʼn model van gemeenskapsgedrewe of selfdoen- kulturele selfbeskikking. Die voordeel is dat minderhede binne hierdie instellings meerderhede word wat só vir hulself selfstandige ruimtes skep waarbinne hulle belange veilig kan wees. As hierdie instellings in ʼn sambreelliggaam georganiseer word, kan dit ook as ʼn sentrale punt vir gesprekke met die regering dien. Die beste voorbeeld van hierdie strategie is waarskynlike die Solidariteit Beweging.

Indien die regering nie gehoor wil gee aan billike oproepe van Afrikaners om ons beter te regeer en om ons grondwetlike regte te respekteer nie, is die ondervinding in ander dele van die wêreld dat daar ʼn groeiende aandrang onder Afrikaners gaan kom om hulself te regeer. Soos Leopold Takawira, stigterslid van die NDP in Zimbabwe, voorloper van die ZANU, in 1960 gesê het: “We are no longer asking Europeans to rule as well. We now want to rule ourselves.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

24 Kommentare

Frik Lotz ·

Baie goeie artikel geskryf deur Flip Buys. Ja, daar is verskeie vorme en vlakke van selfbeskikking en ons sal moet kyk hoe ons dit gaan toepas. Minderheidsregte is uiters belangrik en die Afrikaner sal moet opstaan vir sy regte en dit ook opeis. Die enigste party wat realisties en logies dink oor hierdie aspekte is die VF Plus, vir jare al. Dit kan net voordelig wees vir die Afrikaner as die Solidariteitbeweging en die VF Plus nouer saamwerk wat betref minderheidsregte en selfbeskikking. Solidariteit beweging buite-parlementêr en VF Plus binne die parlementêre stelsel. Feit van die saak is is dié twee sal moet saamwerk.

Jaco Prins ·

Frik, ek stem volkome met jou saam, dit sal baie goed wees om te sien dat die party en die bewegings saam werk.

Hendrik ·

Ek woon in ‘n kultuurdorp en sal dit nie maklk verruil vir ‘n ‘gewone’ dorps/stads gebied. Om hier te woon is beslis bevrydend al moet ek elke dag stad toe ry om te gaan werk. Jy dink eenvoudig net anders oor alles. Jy dink skeppend omdat jy alles self moet doen. Dit is juis wat ons nodig het vir werkskepping en die toekoms. Dit is lekker, probeer dit!

Ampie ·

Baie nugtere uiteensetting sonder die gewone emosies oor selfbeskikking. Ek dink Mnr Buys verwoord die praktiese en onpraktiese goed. Feit van saak is dat die meerderheid Afrikaners tans nie Orania model voorstaan nie. Daar is wel opsies vir ander tipes selfbeskikking oftewel om oor jou eie bevolking te heers, wat ‘n staatkundige model in baie lande bv die Katalane is. Hierdie opsies moet plaaslik uitgebou word en prakties geimplimenteer word om te wys hoe Afrikaners selfstandig binne stede en dorpe kan funksioneer. Soos dinge nou aangaan mag dit dalk die enigste funskionele strukture wees wat oorbly.

Hendrik ·

“Soos dinge nou aangaan mag dit dalk die enigste funskionele strukture wees wat oorbly.” Ons (ek en my vrou) praat gister daaroor en ons dink nie dat dinge in die Metro enigins sal verbeter nie. Daar sal moet sulke (selfbeskikking) strukture binne dorps/metro grense ontwikkel. Ons praat nou nie van “veiligheids” dorpies nie. Hulle is in ‘n sekere mate veiliger as normale woongebiede omdat die rondloper aspek binne in die gebied beperk word. Wat van mense wat dit nie kan bekostig nie?

Henk Celliers ·

Dit is die EENIGSTE oplossing,ek besit reeds eindom,en gaan binnekort bou,in kleinfontein,wat n hemelse op aarde.

Lido Pellencin ·

Henk, versigtig. Vind eers uit of jou bouery toegelaat word deur die dept van omgewing. Jy mag dalk uitvind jy is besig om onwettig te bou.

Thomas van Dalen ·

Uitstekende eksegese van die begrip in ons Suid Afrikaanse konteks. Ek glo die Solidariteit beweging is op die regte pad om ‘n geloofwaardige alternatief te skep. Die grootste struikelblok vir die sukses daarvan, is die onvermoe van ons Afrikanernasie om saam te staan.

Stephan ·

Komplimente aan Flip.

Ek dit al telkemale op verskeie platvorms genoem, maar kry eenvoudig nooit n antwoord nie. Dit is algemene kennis dat die Afrikaner stadig maar seker weens oa “transformasie” -aksies /-beleid verarm. Predikante vertel hie baie lidmate in middeklas woonbuurtes desperaat klou aan hul huise, maar ook dat vele al stilweg “verdwyn” het. Rede is inkomste & werk of te wel die tekort daarvan.

Die wat dit kan bekostig kan in kultuurdorpe koop & bou en pendel na werksplekke, ens. Die wat reeds finansieel uitgewis is krepeer in krotbuurtes en plakkerkampe, maar wat van die wat nog op ren of ander stadium van die glybaan na lg is? Om eie sake te begin verg kapitaal, meermale as nie bestuurshulp, struktuur, ens. Dan praat mens nie eers van n mark nie.

Ek hou van en steun Solidariteit se benadering. Skitter werk en wonderlike bystand aan brand armes. Maar selfs Sol sal dit nie maak as die Afrikaner sodanig verarm dat broodnodige fondse wat benodig word om hul aksies deur gevier te kry onbekombaar raak.

Baie moeilike uitdaging en miljoene Rande sal benodig word, maar ons benodig n organisasie soos na die Depressie wat hierdie vraagstuk, sonder staatshulp, aan te vat. Net voordat ek beskuldig word as n saam prater of klaer; ek is bereid om in die Wes-Kaap betrokke te raak by so n organisasie.

Pretorius ·

Ek sal ook graag vir my n plekkie in Orania wil bou alhoewel ek nog nooit daar was nie. Ek wil graag wegkom uit hierdie land waar die ANC die vomag het en diktimineer teen wittes. Die feit van die saak is dat die ANC regering ons haat en alles in hulle vermoee doen om teen ons te diskrimeneer. In groot maatskapye soos mv die Poskantoor, Spoorwee, Eskom, Sasol en die Myn bedryf word daar openlik teen ons gediskrimeneer en ons is magteloos om iets daar omtrent te kan doen. Ek dink op die ou end sal ons almal geforseer word om maar eerder n model soos Orania te aanvaar.

Hannes Nel ·

Ek het gisteraand na jou en Theuns Botha op KykNet (ek dink die program was FLITS) geluister. Natuurlik is jou standpunt ‘n weldeurdagte en verantwoordelike een. Ongelukkig kan ek nie dieselfde sê van Theuns Botha nie. Om te sê dat Afrikaners wat nie saamstem met sy standpunt nie hulle tasse kan pak en padgee, is kinderagtig en aanmatigend. Die land behoort nie aan hom nie en hy het nie die reg om te besluit wie moet ry en wie mag bly nie. Dit bring my by die leemte in jou standpunt.
Ek het groot waardering vir dit wat Solidariteit vir die Afrikaner doen. Trouens, as dit nie vir julle was nie, was ons waarskynlik teen hierdie tyd in ‘n veel groter gemors. Desnieteenstaande is dit wat julle doen ook maar net die behandeling van die simptome – ‘n pleistertjie hier en daar om die ergste eina te versag. Om kosblikkies vir arm kindertjies te gee, briewe aan internasionale organisasies te stuur, hofsake teen die regering te maak vir onreg teenoor die Afrikaner is alles nodig, maar dit gaan nie ons probleemsituasie oplos nie.
Dit help niks om te aanvaar dat ons eenheid onder alle bevolkingsgroepe moet nastreef as die meerheidsgroep ons uitskuif, beroof, marginaliseer, uitbuit en misken nie. Die Afrikaner het nog altyd alles in ons vermoë gedoen om vreedsaam met ander groepe saam te leef. Ons het nog altyd probeer om die sogenaamde reënboognasie te verwesenlik. Trouens, ek is redelik seker dat die meeste van ons net begeer dat die regering, ekonomie, landbou, sport en nywerhede sal werk. Ons wil graag hê Bafana Bafana moet ook darem nou en dan ‘n wedstryd wen. Ons wil help. Intussen is ons uit die staatsdiens geskuif en maak wetgewing dit vir ons bykans onmoontlik om besighede sinvol en winsgewend te bedryf. Selfs in sport word teen ons gediskrimineer. Maar jy weet dit tog alles.
Wat kom volgende? Die onverantwoordelike radikales het sukses behaal met die beskadiging en selfs verwydering van standbeelde. Hulle is vinnig besig om dieselfde te doen met ons skole en universiteite. Elke klein suksessie wat hulle behaal, spoor hulle aan om nog meer kanse te waag. Hulle moor, verdryf en beroof mense van ander Afrikalande net omdat hulle jaloers is oor die klein suksessies wat daardie mense met hulle piepklein ondernemingkies behaal. Kan jy jou voorstel hoe hulle hul vingers lek vir die huise, besighede en besittings van die Afrikaners?
Kom nou, meneer Buys, dit het tyd geword om ‘n bietjie visie aan die dag te lê. Waar dink jy is ons heen op pad? Hoe gaan Suid Afrika tien jaar van nou af lyk? Hoe gaan die Afrikaner tien jaar van nou af lyk? Nog meer korrupsie, nog meer plaaslike regerings wat nie eers die eenvoudigste dorpies kan bestuur nie, dalk burgeroorlog? Eskom? Marikana? Die polisiediens? Die poskantoor? Die paaie, spoorweë, plase? Hoe gaan julle projekkies dit alles omkeer?
Intussen is die Afrikaner vinnig besig om te leer hoe om te rasionaliseer, om die sigbare agteruitgang van die land te ontken, om kortermyn te dink. Ons is besig om ons nageslag van ‘n toekoms te beroof net omdat ons korttermyn dink en doen.
Selfbeskikking vir ‘n eksklusief Arikanergroep is nie haalbaar nie, daarmee stem ek saam. Selfbeskikking gegrond op meriete is wel haalbaar. Natuurlik sal selfs dit nie sonder stampe en stote verwesenlik kan word nie, maar as ons nie nou ons ruggraat begin reguit maak nie, kan ons net sowel ons tasse pak en padgee. Wat dink jy gaan dan van diegene word wat om watter rede ookal hier bly? Is dit wat jy vir jou kinders wil hê?

Rudi ·

Baie goeie stuk skrywe van Flip maar beter komentaar van jou. Daar is net een manier om die ANC te “beat”. Ons moet slim wettige maniere uitdink om ons geld vir onsself te hou. Ons kan skole, hospitale, wildsplase, welsyn, sekuriteit, dienste, howe(?Oscar) en alles reg maak wat krom is. Ons moet elke liewe “loophole” soek om geld te weerhou. Ek myself dink al lank hoe mens dit kan doen en daar is baie praktiese goed soos: Vermy tolpaaie, staan saam teen e-tol, verlaat groot maatskapye waar mens “black diamonds” dra en waar belasting maklik afgetrek word, kom van die Eskom “grid” af, beweeg uit ANC munisipaliteite uit soos na Kaap

Gemsbok ·

Flip, jy skryf: “Die antwoord oor die stand van selfbeskikking is dus dat daar tans nie geleenthede vir volle selfbeskikking (onafhanklikheid) vir Afrikaners is nie, maar dat die deur vir ʼn proses om groter selfbeskikking te ontwikkel darem nog oop is. Die kans is dus nie groot nie, maar miskien minstens net so groot as die kans op sukses van ander strategiese opsies, soos om met die partypolitiek die meerderheidsteun te probeer kry.”

Die kans is dalk om te ewe tussen selfbeskikking en meerderheidsteun, maar ek stel voor dat eersgenoemde ‘n meer volhoubare en dus groter prys is.

Ek huldig hierdie mening omdat dit klaarblyklik ‘n onmoontlike taak is om Suid-Afrika suksesvol te regeer en gelyktydig nie jou aansien oneer aan te doen nie.

Om regering oor te neem is soos om vir al jou sondes in ‘n vorige lewe gestraf te word, want jy word gedwing om met ‘n sak klippe om jou nek te swem.

Niemand kon nog die land susesvol tot voorspoed van al sy inwoners regeer nie. Nie die Britte, die Sappe, die Natte of die ANC (met beide Xhosa of Zoeloe regerende faksies nie).

Jaco Prins ·

Post 1994 het die ANC in meeste gebiede waar hulle nie die meerderheid was nie busvragte vol swart ANC ondersteuners ingery en plakkerskampe begin om sodoende die meerderheid in die gebied te word, dit ten koste van die groep wat op daai stadium die meerderheid was, voorbeelde hiervan kan maklik gesien word op die platteland maar veral op die Skiereiland in die Kaap waarvan Houtbaai ‘n klassieke voorbeeld is, die vreedsame dorp is vir altyd versteur en sal nooit weer dieselfde wees nie. Sprake dat dieselfde op Mc Gregor in die Wes Kaap gaan gebeur loop ook rond (als onder die dekmantel van INTEGRASIE) , hoe gaan ons selfstandig wees as oorals waar ons ‘n meerderheid is ons oorspoel word deur busvragte plakkers wat die ANC aanry om te verseker dat ons nooit ‘n selfstandige grondgebied sal he waar ons die meerderheid is nie. Wat kan ons omtrent hierdie gevorseerde migrasie doen?

Evert ·

volg orania se beleid ‘self werk’ met ander woorde as ons mense al hul werk self doen sal daar geen werk beskikbaar wees vir nie volksgenote nie. As die titel aktus van n sekere gebied in ons besit is en ons volg die beleid kan geen bus die anc help nie.

Andre Visagie ·

Sonder om die omvangryke organisasie, beplanning, voorsorg en onderhandelinge wat deur die verkryging van selfbeskikking vereis word te onderskat, klink dit regtig of Flip Buys vir elke oplossing ‘n probleem het!!! Diegene wat nie verslaaf is aan knegskap van swart etniese volkere nie, moet maar by die geledere van die Boere aansluit, en die Afrikaners die geleentheid bied om verswelg, verdruk en vernietig te word. Selfmoord is steeds vir elke volk ‘n opsie, soos ons in die SA geskiedenisboeke lees oor die Xhosa! Die pleidooi om weg te beweeg van selfbeskikking is onoortuigend en ‘n hopelose stryd teen die 93% Rapportlesers wat ten gunste van selfbeskikking gestem het die afgelope week! Die 7% wat daarteen gekant is, is werklik ‘n “negeerbare minderheid”

Fanie ·

André, as dinge dan so eenvoudig is, hoekom het Afrikaners dan nog nie Selfbeskikking nie? Die rede is reeds omdat talle ‘selfbeskikkers’ die begrip polities onbruikbaar gemaak het deur ondeurdagte planne en rassistiese uitsprake. Flip se stuk spel nie net die struikelblokke uit nie, maar gee ook ‘n uitweg uit die politieke doolhof waarin demografie, die Kodesa onderhandelinge en dom regse leiers ons beland het. Kragdadige uitsprake gaan ons nie uit hierdie doodloopstraat lei nie.

Dr. Jacques van den Berg ·

Daar is groot bestaande blokke Afrikaners en knapstede “smart cities” is ‘n wereldtendens. Om sulke blokke beter en meer homogeen te vestig, is gevolglik haalbaar. Selfbeskikking is derhalwe wel haalbaar. Ons moet net aanhou werk daaraan. Stap vir stap vorder. Daar is ‘n aantal sterk organsiasies in SA wat daaraan werk. Die Afrikaner bereik gewoonlik sy mikpunte.

Tertius Theron ·

Dankie Mnr Buys, uitstekend uitgele. Solidariteit doen fantastiese werk. Afrikaners behoort lid te word en die organisasie te ondersteun. Ek sou se dat Afrikaners nie die Orania model summier moet ignoreer nie. Orania se leiers het al veel vermag die afgelope 20 jaar en dit is ‘n model wat werk veral ten opsigte van hoe ‘n kultuurgroep kan getalle en gemeenskaplike belange konsentreer en ‘homself’ goed en volhoubaar bestuur. Dit gaan baie beteken vir Afrikanerselfbeskikking om ‘n meesterplan saam te stel ten einde groeisentrums soos Orania op te rig en eie finansiering daarvoor te bekom.

Juan Olivier ·

Min Afrikaners wil selfbeskikking hê. Dit is die Boere wat selfbeskikking wil hê, nie die Afrikaners nie. Meeste van die mag wat Jan Smits en Louse Botha gebruik het om die Boere rebellie te onderdruk was Afrikaners.

Frik Lotz ·

Daar is geen verskil tussen n Afrikaner en n Boer nie. Dis een en dieselfde volk. Ons kan nie ons besig hou met sulke onsinnighede nie. Laat ons eerder konsentreer op minderheidsregte en selfbeskikking vir ons volk. Die tyd loop uit en ons moet nou eendragtig saamstaan!

Dup du Plessis ·

Sou graag wou weet waar die destydse gevolg van die ou Keiser sonder klere vandag hul kruisies sou trek as hulle dit weer sou kon doen. Sou die KP se volkstaat / tuisland model steeds so onrealisties gelyk het? Ons sou met ‘n baie klein tuisland baie beter af gewees het as dit wat is en dalk nog wag. Die grondwet sou ons beskerm was die versekering volgens die slim mense, maar in Afrika beteken skrif op papier nie veel nie – dis ‘n westerse ding – daarom is ons grondwet maar nes ‘n stel rugbyreels. Alles hang af van wie die fluitjie blaas, en in Afrika is dit iemand met ‘n swart trui. Ja, papier is geduldig het ‘n goeie ou oom eendag aan my gese, jy vee jou alie daarmee af. Dieselfde ou oom het in die tagtigs passievol stemme vir die destydse KP gewerf en net anderdag dink ek hieraan:- as die ou oom dit vandag moes doen sou dit darem maklik vir hom gewees het want daar is feitlik geen NAT in Suid-Afrika oor nie. ” Where did all the people go?” Die ander groot bangmaak storie was dat oorlog onvermydelik sou wees, en ek stem saam niemand wil onnodig oorlog maak nie – maar wat is die realiteit, daar is al meer lewensverlies a.g.v. plaasmoorde as wat in groot oorloe verloor is. Persoonlik wil ek nie eers daaraan dink hoe moelik dit al vir ouer weerlose mense raak in ons wettelose en geweldadige land nie. Dis nou maar vasbyt, en mens moet maar elke oomblik so goed as moontlik beplan en bestuur. Begin vandag by jou huis, en brei dan uit na ‘n volksgenoot wat jou hulp nodig het. Bly glo, dalk is die reen naby.

Johannes Meintjes ·

Inderdaad, een doelwit, een fokus, een volk. Wie egter die selfbeskikkingsaak doelgerig sal kan koordineer, orkestreer en uitvoer, met inagneming en erkenning aan elke instansie, organisasie en kultuur belangegroep is nog vir my ‘n ope vraag wat ons spoedig en in toegewyde erns in eendrag moet aanpak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.