Die tesourie se balanseertoertjie

Deur Chris Hattingh

Enoch Godongwana (Foto: Presidensie)

“Oor die volgende drie jaar gaan die regering gemiddeld R553,7 miljard per jaar leen.” Die staat sal dus R1,5 miljard per dag moet leen.

Hierdie enkele feit vang die verskeie kritiese punte die beste vas wat inspeel op die 2023-mediumtermynbegrotingsbeleidsverklaring, wat op 1 November Enoch Godongwana, minister van finansies, gelewer is.

In ʼn toespraak gekenmerk deur terme soos herprioritisering, aanpassing, identifisering van ondoeltreffendheid en vermorsing, en prioritisering van hervormings, het die ernstige erkenning van die land se fiskale verknorsing soos ʼn paal bo water gestaan.

Of die res van die regering van dié krisis oorreed kan word om die nodige stappe vorentoe te neem, moet nog gesien word – veral met nasionale en provinsiale verkiesings wat in 2024 dreig.

Met skulddienskoste wat besteding aan die polisiediens, die onderwyssektor en die gesondheidsektor oorskry, is mnr. Godongwana se insig dat “elke bykomende Rand van inkomste wat ingesamel word, een Rand minder is wat ons moet leen” veral gepas.

ʼn Opvallende daling in maatskappyebelastinginkomste, veral uit die mynbedryf, maak die tesourie se aanhoudende pogings om besteding met fiskale verantwoordelikheid te balanseer, des te moeiliker.

Met die land se risikopremie wat oor die afgelope twee jaar geleidelik toegeneem het, het dit ook moeiliker geword vir die regering om fondse in te samel deur staatseffekte te verkoop. In Oktober het die gemiddelde opbrengs op staatseffekte 9,5% bereik. Binne hierdie konteks beoog die tesourie nou om binnelandse effekteverkope met 14% in die huidige boekjaar te verhoog.

Vanaf R5,24 triljoen in 2023/-24 sal openbare skuld na verwagting toeneem tot R6,52 triljoen in 2026/-27. ʼn Inkomste tekort van R56,8 miljard in die huidige boekjaar beteken die tesourie se beweegruimte het word des te meer ingeperk – dit binne die wyer konteks van ʼn geprojekteerde inkomste tekort van R178,1 miljard oor die volgende drie jaar vanaf 2023/-24.

Die begrotingstekort word nou op 4,9% van die BBP voorspel (4% is geraam in die begroting in Februarie). Daar word nou verwag dat bruto skuld R6 triljoen sal oorskry teen die einde van 2026. Die Februarie-voorspelling vir die skuld-tot-BBP-verhouding was 73,6% – dit sal na verwagting groei tot 77,7% in 2025/-26.

ʼn Klap van die sweep kan dalk die beste op Eskom toegepas word in die Suid-Afrikaanse fiskale konteks. Dié entiteit in staatsbesit sal geen bykomende reddingsboei ontvang nie. Daarbenewens sal die regering se R254 miljard van skuldverligtinglenings nou rentedraend wees, eerder as rentevry soos vroeër aangedui.

Mits munisipaliteite voldoen aan “gestelde voorwaardes”, sal munisipale skuld aan Eskom oor ʼn driejaartydperk afgeskryf word.

Transnet sal (nog) nie bystand ontvang totdat dit verbeterings toon nie. Die entiteit se nuwe omkeerplan het ʼn behoefte aan ʼn kontantinspuiting van R47 miljard aangedui, tesame met die regering wat R61 miljard van sy skuld opneem.

Volgens die mediumtermynbegroting het die logistieke krisis die ekonomie in 2022 tot 5% van die BBP gekos.

Maatskaplike verligting deur noodtoelae is weereens verleng tot 2024/-25, teen ʼn koste van R33,6 miljard. Die konsolidasie van hierdie toelae kan heel moontlik manifesteer in ʼn nuwe basiese inkomstetoelaag oor die langtermyn, sonder om dit as sodanig te benoem.

Die 2023/-24-loonverhoging bly beskerm, met bykomende befondsing van R24 miljard wat in 2023/-24 toegeken is, en R74 miljard oor die mediumtermyn.

Die begroting dui verder aan dat staatsbesteding inkomste-invordering elke jaar sedert 2008 oorskry het. Skulddienskoste word geraam op R385,9 miljard in 2024/-25, en R455,9 miljard in 2026/-27. Hierdie beteken dat die regering nuwe skuld teen ʼn vinniger tempo aangaan as wat hy ou skuld delg. Dit dui ʼn openbare-sektor-skuldspiraal aan wat gekenmerk word deur ʼn steeds groeiende skuldstapel, wat toenemend onhanteerbaar sal word, en dreig om staatsbesteding op ander gebiede soos infrastruktuur, gesondheid en onderwys te verdring.

Die mediumtermynbegroting het veral enige melding van die Nasionale Gesondheidsversekering weggelaat, ʼn as nog onbekostigbare maar seker ʼn uiters duur regeringsprojek.

Die eksterne skokke van Covid-19, die Russiese inval in die Oekraïne, die einde van ʼn kommoditeitsopbloei, en mees onlangs verhoogde konflik tussen Israel en Hamas in die Midde-Ooste, moet hier in konteks gesien word. As die regering pro-groeibeleide nagevolg het tesame met ʼn meer redelike bestedingstrajek, sou die moeilike besluite van vandag nie so onmiddellik en skerp gewees het nie.

Dit moet uitgelig word dat mnr. Godongwana die belangrikheid van ekonomiese groei beklemtoon het. ʼn Mate van groei sal bereik word met nodige, maar moeilike hervormings in elektrisiteits-, logistieke- en arbeidsmarkte. ʼn Element van desperaatheid was duidelik in sy toespraak, aangesien mnr. Godongwana herhaaldelik die behoefte aan elektrisiteits- en logistieke hervormings benadruk het. Daardie oproepe kan dalk op dowe ore val.

Die tesourie verwag nou Suid-Afrika se BBP gaan vanjaar met ʼn skamele 0,8% groei (teenoor die 0,9% wat in die Februarie begroting voorspel is) en met ʼn swak gemiddeld van 1,4% per jaar van 2024 tot 2026 (1% in 2024, 1,6% in 2025 en 1,8% in 2026).

Om groeivlakke van hoër as 1%-2% te ontsluit, moet baie meer gedoen word as om elektrisiteitsvoorsiening en logistieke kettings te herstel. Dit vereis die skep van ʼn omgewing wat bevorderlik is vir substantiewe kapitaalvorming en investering, onder meer deur bedreigings vir eiendomsreg (soos onteiening sonder vergoeding) te verwyder, deur herstel en versterking van die oppergesag van die reg, en deur die vermoë om te lewer as die hoogste prioriteit in openbare verkryging en indiensneming – eerder as politieke verbondenheid of rassetransformasie, soos dit tans die geval is.

Nietemin het markte positief gereageer op die mediumtermynbegroting, met die Rand wat van R18,72 tot R18,60 versterk het teenoor die dollar ten tyde van die skryf hiervan.

  • Chris Hattingh is ‘n senior beleidsanalis by die Centre For Risk Analysis (CRA). 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.