Die waarde van georganiseerde landbou

(Argieffoto)

Die TLU SA (vroeër bekend as die Transvaalse Landbou-unie) se vaste begronding is om ons kultuuropdrag uit die Bybel na die beste van ons vermoë uit te voer. Dit beteken dat ons moet fokus op ekonomiese bemagtiging in plaas van rasgedrewe uitgangspunte. Deur ekonomiese bemagtiging is daar geen uitsluiting nie – enigeen wat self die verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie lewe, kan sy eie talente dan gebruik om homself te bemagtig. Met hierdie benadering word ekonomiese groei geskep, en dit is die enigste volhoubare wyse waarop die nodige kapasiteit geskep kan word om die land se knellende probleme op te los.

Die omstandighede in Suid-Afrika het sedert 1994 drasties verander en feitlik alle sektore moes aanpas by nuwe spelreëls. Die landbou kom uit ’n era waar die vorige regering die waarde van produserende kommersiële boere begryp het. Die regering het toegesien dat die noodsaaklike dienste wat bydra dat landbou optimaal produseer, ondersteuning bied. Maar hierdie ondersteuning het verdwyn, inteendeel, dit het in vele opsigte selfs ’n bedreiging geword.

Vandag moet ’n landbouer nie net omsien na die normale aspekte van die produksieproses nie, maar ook na verskeie ander aspekte wat sy aandag vereis:

Veiligheid

Buiten die ongekende aantal aanvalle wat soos ’n swaard oor elke plaasboer, -gesin en -werker se kop hang, word plaasprodukte voortdurend geplunder. Die beskerming wat die regering volgens die Grondwet moet bied, is grootliks afwesig. Die swaardmag van die staat – die SAPD – is in sommige gevalle deel van die probleem en dra nie by tot ’n misdaadvrye omgewing waarin voedsel geproduseer kan word nie. Verder word polisiebrutaliteit gereeld aangeteken. Boere word daarom kollektief gedwing om na hul eie veiligheid om te sien.

Ideologie

Die ideologie wat die ANC aanhang en met wetgewing probeer afdwing, het wêreldwyd nog net armoede veroorsaak. Vele van die bykomende probleme waarmee landbouers te doen kry, is die simptome van dit wat die ANC probeer forseer.

Die proses waarmee die ANC die Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR) probeer implementeer, is omvangryk en bring verskillende dimensies na vore: Baie mense glo dat die sogenaamde transformasieproses die regte ding is om te doen, maar dis waarskynlik eerder ’n misplaaste skuldgevoel. Die transformasie wat die ANC implementeer – en wat uit verskeie oorde van stapel gestuur word – handel nie oor regverdigheid of billikheid nie. Dit is eerder ’n proses vir kaders om beheer te neem van die land se bates.

Die TLU SA was die enigste landbouorganisasie wat nie die dokument oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) afgeteken het nie, en is daarom deur al die ander rolspelers gemarginaliseer. Die gevare van SEB is toe reeds uitgewys en het inderdaad vandag gestalte gekry. Die prys hiervan is te groot vir Suid-Afrika om te absorbeer.

Gelyke indiensneming, regstellende aksie en grondhervorming ressorteer ook onder die breër begrip van transformasie.

Onder die ANC se bewind is mineraal- en waterregte ontneem en is die uitgangspunt van tenderprosedures die blatante bevoordeling van kaders. Korrupsie is skaamteloos deel van die ANC se DNS en lei tot die staatskas wat op alle vlakke geplunder word.

Die omvang van hierdie aspekte is net te veel vir enige boer om as individu te kan hanteer. Dit is hier waar die krag van georganiseerde landbou inkom. Kollektief word die kapasiteit geskep om die bedreigings eerstens te identifiseer en dit dan ook gesamentlik die hoof te bied.

Wyle Dries Joubert het ’n treffende vergelyking gemaak oor hoe georganiseerde landbou funksioneer. Hy het gesê dit is soos ’n skuifsleutel wat in die stoor lê. As die boer nie self die skuifsleutel optel en stel na die grootte wat hy dit nodig het nie, en dan ’n bout daarmee vas of los draai, sal niks gebeur nie.

Die krag van georganiseerde landbou skop in wanneer die boer op sy eie nie voldoende wringkrag kan genereer nie. Dan sal die boerevereniging of boereunie simbolies ’n stuk pyp in die skuifsleutel sit om meer wringkrag te genereer. As daar nog wringkrag benodig word, tree die streek en selfs nasionale struktuur in. Die lesse wat in die proses geleer is, word met mekaar gedeel en elke boer deel dus in die ondervinding van ander boere.

Dit is belangrik dat ’n gemeenskap op ’n georganiseerde basis moet hande vat. Daar is nie iewers ’n span mense wat gereed sit en wag om te kom help nie. Dit is elke gemeenskap se verantwoordelikheid om self ingevolge die riglyne wat beskikbaar gestel word, handelend op te tree tydens bedreigings soos brande, plaasbesettings of aanvalle. Vir enige gemeenskap is die grondvlakstruktuur die belangrikste element van enige stabiliseringsplan. Media-aankondigings op nasionale vlak sonder enige inbinding op grondvlak, hou ’n gemeenskap kwesbaar. As ’n buurplaas val en byvoorbeeld in ’n plakkerskamp omskep word, versteur dit die stabiele boerdery-omstandighede van al die aangrensende plase.

Laat ons elkeen ons eie skuifsleutels in die hand neem om die werk te doen en wringkrag in die gemeenskap te skep. Met die gesamentlike wringkrag word gemeenskappe in stand gehou. Ons is maar net so sterk soos wat ons in ’n gemeenskapsketting ingebind word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Landbounuus, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.