Die waarheid agter woorde

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

Die benutting van ʼn taal is inderdaad ʼn wonderlike ervaring van ontdekking en die gepaardgaande verryking van ʼn mens se eie vermoë. Dit is altyd heerlik om te luister na iemand wat ons pragtige taal suiwer besig en inhoud help gee aan ʼn taal met begrip soos min ander tale dit kan doen.

Ons taal het sy ontstaan te danke aan ʼn harde leerskool en ervaring in die praktyk van vele uitdagings wat oorbrug moes word – vir dit alles het die pragtigste beskrywende woorde en uitdrukkings die lig gesien. Die ander wonder van Afrikaans is dat ons taal skeppend en positief is, steeds leef en aanmekaar groei om elke moontlike terrein van die samelewingsorde in ʼn spreektaal, maar ook ʼn opgetekende taal, te laat vergestalt.

Die hartseer vandag is dat die woorde waarmee ons grootgeword het in die politieke omgewing gekaap is. Dit is hier waar die rooi ligte flits en elkeen mooi moet besin oor wat ek bedoel as ek ʼn woord gebruik en wat die ANC vanuit die politieke arena daarmee bedoel.

Daar is verskeie voorbeelde van hierdie tendens, soos hervorming, transformasie, regstellende aksie en bemagtiging.

Vir my, wat vanuit ʼn bepaalde geloofsbeskouing as my fondament bou aan die toekoms ingevolge my kultuuropdrag, het die begrip hervorming ʼn dieper betekenis. Die feit dat Martin Luther in 1517 sy 95 stellings aan die kerk se deur in Wittenberg vasgespyker het, was die begin van ʼn omwenteling om die Woord van God sentraal as die bron van waarheid en lewe – wat vir ons die evangelieboodskap bring met die wete dat alle eer aan God alleen gegee moet word as die Gewer van alle goeie dinge;  Soli Deo Gloria – te plaas.

In die algemeen en deur my lewe, beteken die begrip ook om iets te verander of om te skakel na iets beter. Die ANC-regering het die woord egter gekontamineer en gekaap deur te begin praat van grondhervorming. Deur hul eie erkenning ʼn jaar of so gelede, het meer as 90% van die grond wat hulle “hervorm” of oorgedra het, uit produksie gegaan. Gewis nie ʼn geval om iets te verbeter nie, maar eerder te vernietig – ons mooi woord met goeie betekenis het deur ʼn politieke agenda oorgeskuif na die anderkant van die skaal.

Ons sal moet besef dat dit wat ons bedoel met ʼn woord gewis nie meer vandag dieselfde betekenis in die politieke omgewing gaan hê nie. Daarom kan ons nie ongekwalifiseerd goedbedoelde woorde gebruik en dink ons het ʼn verbintenis tot iets mooi nie. Die praktyk moes ons teen hierdie tyd al geleer het dat ons ongelukkig moet verduidelik wat ons sê en bedoel. Indien ons dit nie doen nie verbind ons onsself aan iets wat heel moontlik in ons gesigte gaan bars.

Elkeen van hierdie woorde en vele ander behoort in perspektief gestel te word wanneer ons dit gebruik. Die beste voorbeeld van die ommeswaai van ʼn goeie woord na ʼn vernietigende ideologie, is seker die begrip “transformasie”.

Oorkoepelend het die ANC ʼn transformasiebeleid. Daarbinne verpak hulle ʼn verskeidenheid aspekte wat ideologies gedrewe is, soos kaderontplooiing, SEB en dies meer. Dit is betreurenswaardig dat persone en organisasies wat ingelig behoort te wees, ongekwalifiseerd sodanige beleide onderskryf.

In kort kan ons in 1994 begin om die gevaar te verduidelik. Op daardie stadium het die ANC-regering ʼn hele reeks instellings in ʼn werkende toestand ontvang wat almal op hulle manier ʼn bydrae gelewer het tot Suid-Afrika se effektiewe funksionering. SAL, Denel, die poskantoor, spoorweë, Eskom, Onderstepoort, munisipaliteite met dienslewering soos riolering en waterverskaffing, en vele meer. Watter van hierdie instellings is steeds funksioneel doeltreffend? Deur die bank het hul almal disfunksioneel geraak. Die rede? Getransformeer tot mislukking.

Voedselsekerheid is seker een van die belangrikste aspekte om na te streef om te verseker dat daar nie anargie in ons land losbars nie. Dit begin by ʼn kommersiële boer wat kos vir die mark produseer. Daarom betreur ons dit dat sommige organisasies in die landbou-omgewing ten spyte van waarskuwings, selfs op skrif, voortgegaan het om ongekwalifiseerd af te teken op ʼn landbouplan wat grootliks fokus op “transformasie”.

In praktyk is die werklikheid dat niemand wat hierop afgeteken het enigsins die voorreg gaan hê om inhoud aan die ANC se ideologiese “transformasie” te kan gee nie. Dit is die praktyk sedert 1994 en dit gaan nie ʼn ander uiteinde as die ander vernietigde instellings hê nie.

Hierdie transformasie-agenda van die ANC kom al hoe meer na vore in aanloop tot die verkiesing. As party is hulle nou in ʼn doodloopstraat en spartel met die belaglikste aankondigings om te kyk of hulle nog enigsins die stemmers kan oortuig van ʼn beter lewe vir almal. Die jongste konsepregulasies oor waterlisensies kan gevoeg word by die lys van “transformasie”-resultate soos wetgewing oor gelyke indiensneming en onteiening sonder vergoeding.

Suid-Afrika is tans nie op ʼn goeie plek nie. Die privaat sektor volhard steeds om sukses te probeer bereik, ten spyte van ʼn beleidsomgewing wat sterk daarop fokus om vertroue af te breek (te “transformeer”) en chaos op elke lewensterrein. Ons het geneig geraak om deurlopend te kyk of ons oplossings vir die velerlei probleme kan kry. Die probleme is egter die simptome of gevolge van ʼn oorsaak – ʼn beleidsomgewing wat wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het. Indien die oorsaak van ons land se legio probleme nie reggestel word nie, sal ons deurlopend dieselfde simptome ervaar.

Solank Suid-Afrika se mense in onkunde of naïwiteit gaan toelaat dat ons onsself laat meesleur op hierdie vernietigingspad wat tans elke instelling verguis, beweeg ons al verder weg van ʼn toekoms vir ons land en sy mense. Die hartseer is dat mense wat beter behoort te weet hulle verbind tot hierdie ideologiese vernietingspad en selfs meedoen om dit te implementeer.

Suid-Afrikaanse burgers sal moet kies – gaan ons volstaan om die ANC se ideologiese pad van vernietiging te ondersteun of gaan ons kies om ekonomiese volhoubaarheid na te streef, waar daar geleenthede geskep sal word om die ekonomie te groei om ons polities-geskepte sosio-maatskaplike werkloosheidkrisis om te draai?

Elke persoon sal moet besluit wat hul nalatenskap sal wees – die keuse sal gevolge hê vir die nageslag en die geskiedenis sal ons daarop oordeel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jack ·

Ja dit is waar.Elke man gaan deur sy stem iets nalaat vir die volgende geslagte.Die onmiddelike toekoms van Suid Afrika sal gemaak of gebreek word in 2024.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die skrywer se sagte boodskap sal werk in ‘n ontwikkelde land met goed opgeleide burgers. Die realiteit hier is dat bitter min burgers dit sal begryp. Die meerderheid het beperkte lees- en begripsvermoë en ploeter maar voort. Ons word maar almal saamgesleep na vernieting en ondergang. Gaan die stembus werk? Dis te betwyfel. Die opgevoede minderheid moet hul basse lig en aktief protes aanteken. Wanneer ingenieurs, predikante, onderwysers, prokureurs, rekenmeesters, klerke of wie ook al die strate invaar sal dit aandag trek. Wees meer prominent in die openbare oog. Ideale om die land “om te draai” sal later volg. Ongelukkig word protesaksies as minderwaardig bestempel.

Treurwilger ·

Republikein, ek voel presiés soos jy oor hierdie saak, maar het jare gelede al ophou hoop dat die mense wat jy hier noem met een magtige beweging sal aandag vestig op die hopelose regering en onregte in SA.
Die teendeel is eerder waar … mense werk saam om transformasie en hervorming te bespoedig.
Voorbeeld:
Prof. Anton van Niekerk van Stellenbosch sê “dit is nie die taak van die universiteit om Afrikaans te red nie”.

annie ·

Woorde het betekenis maar dit kan nie net in voornemens sonder doen eindig nie. Sonder geloof in die Drie-enige Goddelike Skepper kom mens nêrens. Dít is afwesig in SA. Ons godsdiensleiers is totaal afwesig of te bang om hul amp te beoefen. Sulke werkers beteken niks. As ons nie reg bid nie help dit ook nie. Om te glo jy is sonder sonde is selfbedrog. Wat beteken dit om mense te skrobeer of te waarsku of te kla dat dit of dat die of daai gevolge het? Niks. Hulle vrees niks of niemand. Selfverrykings blink en dit is al wat tel. Hoe verander ons dit?

De Bok ·

Luther se reformasie was ‘n konserwatiewe refomasie: die protestante wou die kerk reformeer volgens die oorspronklike beginsels waarmee dit gestig is.
Die ANC is ‘n linkse party, so met “reformasie” bedoel hulle noodwendig ‘n progressiewe reformasie: hulle wil die grond, land, wet ens. reformeer volgens nuwe beginsels.

Hendrik ·

Die teleurstellende is dat sekere groot maatskapye deur hd anc verleiding tog gekaap word. Dit veseker blykbaar hul winsgewendheid en toekomsbestaan. Dit is n tipies kommunisties werksmetode. Hul benut jou tydelik en iewers in die toekoms word jy weggegooi soos n uitgesuigde lemoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.