Dirk Hermann antwoord: “Hier is ons, Jan van Afrika – ons kan nie anders nie”

Rohan Germishuys van Swellendam het vir Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, ‘n ope brief geskryf na aanleiding van Hermann se ope brief aan pres. Jacob Zuma.

Hermann antwoord op Germishuys se brief:

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Beste Rohan,

Baie dankie vir jou openhartige brief. Die kritiese punte dra by tot die debat en help om ons gedagtes oor Afrikaners se unieke plek in Afrika te slyp.

Ons is Afrika. Ons het nie tydelik hier aangeland nie, maar is oor ʼn lang tyd hier geplant, het wortel geskiet en het hier gegroei. Dit maak ons anders. Ons is ʼn unieke verskynsel – ʼn wit stam in Afrika. Afrika is ons plek. Ons noem onsself Afrikaners. Ons praat Afrikaans. Dit alles wys op ʼn gebondenheid aan Afrika.

Ons storie het egter nie hier begin nie, maar het hier geëindig. Soos ons kinders is van Afrika, is ons ook kinders van die Reformasie, Westerse waardes, denke en tegniek. Uit die Reformasie het ons gebring roeping, werk en verantwoordelikheid. Dit alles het ons gevorm en ons in staat gestel om ʼn unieke bydrae in Afrika te maak.

Hierdie unieke bydrae tot Afrika is ook deur Afrika opgeneem: die argitektuur, vervoerstelsels, ekonomiese stelsels en sekere waardestelsels in die land getuig daarvan. Dit is nie so simplisties om te sê dat al hierdie dinge die gevolg van kolonialisme en die begin van probleme was nie. Afrika hou dit in stand en geniet ook die welvaart en gemak wat dit meebring.

Indien iemand Afrikaners wil verstaan, moet hy of sy albei kante verstaan – waar ons vandaan kom en wat ons geword het. Ons is kinders van Europa wat eeue gelede op Afrika geënt is. Ons is ʼn nuwe tak wat unieke karaktereienskappe na Afrika toe gebring het.

In dié sin is ek Jan van Afrika. Dié Jan is Jan van Riebeeck uit Europa met ʼn unieke godsdiens en waardestel. Van Riebeeck het egter aanbeweeg in opdrag van die Verenigde Oos Indiese Kompanjie se Europese base en het in Indonesië gesterf. Afrikaners het in Afrika aangebly. Ons het dus Jan en Afrika in ons.

Ons het ʼn unieke rol in Afrika en spesifiek Suid-Afrika, maar ons sal ons taak versaak as ons ons unieke karakter en manier van doen opgee. Daar is verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika en elkeen het unieke eienskappe wat almal saam ’n unieke Suid-Afrika vorm.

Afrikaners is ʼn minderheid en as ons bloot soos die meerderheid wil wees en in die meerderheid opgeneem word, sal ons net eenvoudig as gemeenskap ontbind en is vrugbare interaksie tussen gemeenskappe nie moontlik nie.

Dit is juis op die vlak van gemeenskap waar ons en Afrika mekaar vind. Afrika ken gemeenskappe en Afrikane kry hul energie uit hul gemeenskappe.

Vir vrugbare interaksie tussen gemeenskappe is dit egter noodsaaklik dat die gemeenskappe mekaar ken. Ons moet verstaan hoe mekaar se kultuur, taal en lewens werk. Ons moenie mekaar word nie; maar ons moet mekaar leer ken. Om die gemeenskaplike tussen ons te verstaan, moet ons mekaar se uniekhede verstaan en waardeer. Vir onderlinge respek en vreedsame naasbestaan is begrip noodsaaklik. Die vraag is dan tereg of ons genoeg moeite met mekaar doen.

Verhoudinge en begrip is dus noodsaaklik vir ons oorlewing in Afrika. Dit is egter nie al nie.

Afrikaners is ʼn Afrika-gemeenskap en ons hoef nie ons uniekhede en styl prys te gee om Afrika te word nie. Deel daarvan is ons siening oor die wet, gesag en privaat eienaarskap wat direk uit ons reformatoriese wortels spruit. Vir ons is dit belangrik om orde deur die wet in stand te hou. By die Solidariteit Beweging maak ons dus gebruik van die regstelsel om ons plek in Afrika te verseker. Ons maak gebruik van die howe, die VN en ander ordelike strukture en ons gaan daarmee voortgaan. Ons mag dit nie opgee nie, want ʼn land sonder orde is te erg om jou in te dink.

Ons is egter nie naïef oor die rol van die regstaat en grondwette in Afrika nie, daarom bou ons ook. Ons veg nie net in howe nie, maar ons bou fisiese instellings. Ons bou ʼn universiteit en ’n tegniese kollege. Ons bou ʼn maatskaplike en ’n burgerregte-organisasie. Ons bou ʼn vakbond. Ons bou kulturele en media-instellings en ons bou finansiële instellings. Ons glo dat ʼn gemeenskap deur sy instellings leef en uitreik.

Wie is dan nou die groot De la Rey wat die volk moet kom lei? In 1915, kort ná die Rebellie, is die Helpmekaar Beweging begin. Geld is ingesamel om te help om die rebelle se skuld te betaal. Soos J.D. Kestell in die Helpmekaar-gedenkboek skryf – niemand het dit gesien kom nie; dit het net gebeur. Dit was nie ʼn groot plan, ʼn groot leier of ʼn groot politieke party nie, maar het bestaan uit klein dade. Elkeen het bloot verantwoordelikheid aanvaar om iets te doen vir die saak. Daar is gebak, gewerskaf en gebrei. Mans het met kollektelyste rondgeloop, vroueverenigings het konserte gehou en jeugverenigings het debatsaande gehou. Die gees van Helpmekaar het gelei tot die stigting van Nasionale Pers, Die Burger, Santam, Sanlam, Volkskas en later die Voortrekkers, die AHI, ATKV en vele ander gemeenskapsinstellings.

Hendrik en Miems van der Westhuizen is die “burgemeesterspaar” van Waverley, die woongebied waar ek bly. Hendrik is die burgemeester, maar sonder die ketting.

Hy is nie ʼn verkose politieke leier nie, maar die gemeenskapsleier. Hy organiseer die patrollies, organiseer die radionetwerk, is voorsitter van die atletiekklub en reël alles en nog wat.

Miems maak toebroodjies vir arm Afrikaners en is oral betrokke in die gemeenskap. Al twee is betrokke by ʼn suksesvolle Christelike privaat skool. As fondse ingesamel moet word, is Hendrik en Miems daar.

Hulle is baie betrokke by die kerk en die kerk is meer ʼn gemeenskap as bloot ʼn gemeente.

As ons praat van Afrikaner-leiers moet ons nie soek na groot politieke leiers wat vanaf ʼn sentrale stelsel regeer nie, maar die Van der Westhuizens wat vanuit die gemeenskap werk.

Moet dus nie meer soek na die groot leier nie – dit is jy.

As jy dus wonder oor die toekoms, raak betrokke by jou skool, by jou kerk, by die plaaslike beveiligingsaksie. Gaan ry patrollie; gaan gee om; gaan reik uit; help ʼn kind om te studeer; raak betrokke by plaaslike instellings; help nasionale instellings; koop ʼn Afrikaanse boek; koop ʼn Afrikaanse CD; gaan woon ʼn konsert by en wees ʼn betrokke ouer. Al hierdie honderde aksies is elk ʼn steen in ʼn groter toekoms vir ons hier in Afrika.

Die geheel raak baie groter as die dele. Klein druppels word klein stroompies; word ʼn rivier en maak ʼn dam vol.

As jy dus twyfel oor die toekoms, bou dit.

Hier is ons, Jan en Maria van Afrika – kom ons reik uit, bou, veg en help mekaar, ons kan nie anders nie.

Groete

Dirk Hermann

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rene

Ditsem! “Ons is Afrika. Ons het nie tydelik hier aangeland nie, maar is oor ʼn lang tyd hier geplant, het wortels geskied en het hier gegroei. Dit maak ons anders. Ons is ʼn unieke verskynsel – ʼn wit stam in Afrika. Afrika is ons plek. Ons noem onsself Afrikaners. Ons praat Afrikaans. Dit alles wys op ʼn gebondenheid aan Afrika.”

anet

Dirk, baie dankie dat jy ons Afrikaners so mooi beskryf. Dit is ‘n riem onder die hart.
Ek wonder soms oor hoe ons Afrikaners dit gaan oorleef in hierdie mooie Suid-Afrika as jy daagliks lees oor hoe wreed ons uitgemoor word. Ek dink aan die jong manne wat hulle lewe verloor het op die grense om ons land veilig te hou, en nou word ons elke dag blootgestel aan
ongekende wreedheid.
Ons kan net elke dag Bid dat ons almal veilig gehou sal word

Hanno Visagie

Treffend en waar, dankie Dirk. Ons het eerstens ons Here Jesus Christus as Leidsman. Soos Openbaring 16:15 meld: “Salig is hy wat waak…” Lees asb http://bibleguidance.co.za/Afrartikels/Waaksaam.htm

Jakes

Dit bekommer my erg as ek daagliks kommentaar lees van swartmense op sosiale media . Dit wil voorkom asof die idee dat: ‘Afrika aan die swart man behoort, en die res moet nou hulle ry kry’ al hoe meer posvat. Hoe veg jy daarteen? Ek stem saam met Dirk, groepe moet nie mekaar word nie, ons moet mekaar verstaan. Wat van, byvoorbeeld, ons stig iets soos ‘n opvoedkundige ‘Afrikaner Museum’? Iets wat die diep spore wat die Afrikaner in afrika getrap het beklemtoon. Iets wat vir alaml bewys hoe deel van afrika ons is. Iets waarheen skoolgroepe en toeriste kan… Lees meer »

Ilze

Bravo!