Dis waarskynlik Donald Trump teen Liz Warren in 2020

Pres. Donald Trump. (Foto: Evan Vucci, AP)

Die Amerikaanse presidentsverkiesing is nog meer as ’n jaar weg, maar baie gaan nog in daardie jaar gebeur en die stryd in die Demokratiese Party is reeds vuurwarm. Pres. Donald Trump dryf ook reeds sy herverkiesing met oorgawe.

Daar was al etlike debatte gehou tussen ’n magdom Demokratiese kandidate en wat al daaruit voortgespruit het, is om van naar te word. Op enkele uitsonderings na (soos Joe Biden, wat meer sentristies in sy ideologiese beskouings is), probeer elkeen meer sosialisties as die volgende een wees. Leuens en skynheiligheid floreer. Die sakesektor en rykes word pal verdag gemaak en sukses (iets wat histories aanbid word in die VSA) is heiligskennis onder hierdie klomp.

Dit is ongelooflik hoe soveel ryk mense wat as indiwidue niks vir die armes doen, so oordrewe empaties voorkom en gretig is om ander mense (veral die middelklas) se geld deur middel van staatsinmenging te herversprei nie. En dan die vermetelheid te hê om in so ’n sterk ekonomie met ongekende lae werkloosheid, aan te voer dat als ver tekort skiet!

Op die keper beskou en ondanks die groot aantal kandidate wat met hernieude linkse energie vir Trump wil aanvat, blyk dit asof hierdie wedloop een van drie (en toenemend slegs twee) moontlike wenners gaan hê. Die jonger en minder bekende kandidate is besig om op te gee en die res het nie juis steunbasisse of aansien om van te praat nie. In die politiek is persoonlikheid net so belangrik soos beleid en hierdie groep kandidate gaan nie maklik die soort skares trek wat Trump nou al (selfs in liberale “blou” state soos Nieu-Mexiko) byeenbring nie.

Biden is aanvanklik as die onbestrede gunsteling beskou en is tot ’n groot mate steeds die gunsteling (as die peilings geglo kan word). Hy is matig en kan straks vir Trump die beste onder onbesliste en matige kiesers, asook wit bloukraagwerkers, aanvat. Hy was al adjunkpresident, word beskou as ’n veteraan as dit by buitelandse beleid kom en geniet die beste steun onder swart kiesers. Hy was al twee keer vantevore (1988 en 2008) ’n (onsuksesvolle) kandidaat om die Demokratiese Party in ’n verkiesing te lei.

Die ander twee is Elizabeth Warren en Bernie Sanders. ’n Paar maande gelede was Sanders gemaklik in tweede plek. Sedertdien het Warren in sekere peilings heelwat nader aan Biden begin beweeg en hom selfs begin oortref. Albei het Sanders begin agterlaat en sy steun het heeltemal gestagneer.

Daar is baie redes hiervoor, maar dis nie te moeilik om te verklaar nie. Warren en Sanders hang heelwat van die dieselfde beleide aan, maar styl en geskiedenis speel ook ’n rol. Net soos in 2016, skree Sanders soveel dat hy permanent kwaad lyk en sy verlinkse ideologie vind nie wyd aanklank in meeste van Amerika nie. Tewens, hy lyk verfomfaai en dit kom ontsaglik onpresidensieel voor.

Warren het terselfdertyd heelwat van Trump se ekonomiese beleid oorgeneem met haar doktrine van “ekonomiese patriotisme” – wat sinoniem is met “Gemaak in Amerika” met ’n omgewingsvriendelike geur. Sy wil werkgeleenthede teruglok na Amerika en handel in die VSA se guns swaai. Hiermee saam is sy sosiaal baie liberaal en steun aborsie sterk. Ongelukkig vir haar gaan die meeste Amerikaners Trump eerder vertrou om China aan te vat en die ekonomie te bestuur terwyl hulle eerder sy standpunte oor aborsies en ander sosiale kwessies sal steun. ’n Voordeel van Warren is egter dat sy net meer verkiesbaar voorkom as veral Sanders en nie ’n geskiedenis van mislukking op hierdie vlak het nie.

Die wiele is ook besig om van Biden se veldtog af te kom. Die 78-jarige veteraan raak strykdeur belaglikhede kwyt. Trouens, hy is al sy hele loopbaan daarvoor bekend, maar dit is besig om verregaande afmetings aan te neem.

“Arm kinders is net so begaafd soos wit kinders” en die feit dat sy ekonomiese plan 720 miljoen vroue deel van die werkmag sal maak (terwyl Amerika oor slegs 330 miljoen mense beskik), is net twee van die menige voet-in-die-mond-opmerkings wat hy onlangs gemaak het.

Soos ras altyd iewers in sulke stryde figureer, is ouderdom deesdae ’n pertinente besprekingspunt. Biden is 77 en Sanders 78 terwyl Warren vanjaar 70 geword het. Al die voorlopers is dus bo 70 (Trump is 73), maar Biden en Sanders sal byna 80 wees indien hulle president word. Oudpres. Jimmy Carter het onlangs aangevoer hy sou nie die eise van die presidensie kon baasraak op 80 nie en spottenderwys die hoop bygevoeg dat daar ’n ouderdomsbeperking op die presidensie is – ’n nie-so-subtiele stekie na Biden se vergeetagtigheid en blapse.

Dit is om al hierdie (en nog ’n klomp ander) redes dat ek glo Warren hierdie wedloop sal wen en Trump gaan aandurf.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Attie. ·

Al het die wêreldpers hul uiterse bes probeer om Trump sleg te maak en al het Trump ook sy bes gedoen met sy twiets hoop ek vir die Christendom dat Trump herkies word. As ons eie leiers maar was soos Trump wat glo “Amerika eerste” dan sou dit dalk hier ook beter gegaan het.

Jerry ·

Die politieke vrugte is ryp en reg om deur n vrou gepluk te word, veral nadat Hillary Clinton uit die presidentskap uit verneuk was. Wat Elizabeth Warren laat uitstaan, is dat sy nie oor haar woorde struikel wanneer beleidsake tersprake is nie. Anders as Trump, die ewige “con artist” wie probeer chaos saai deur gereeld soos n bedorwe brokkie sy poppe uit die “pram” te gooi, het Elizabeth Warren goeie inbors, integriteit en “Big Match Temperament”! Trump se hantering van die Iran kwessie is besig om Amerika se beeld as n sterk militere moontheid, groot skade te berokken en dit kan hom kos teen n vrou soos Elizabeth Warren, wie al hoe meer gewilder raak onder alle Amerikaanse kiesers, juis omrede sy by uitstek meer en meer na vore tree as n vrou wat haar man kan staan!

Kaspaas ·

Is dit inbors en integriteit wat haar vir jare herhaaldelik laat verkondig het sy is Indiaans (en sodoende ń pos bekom het wat vir minderhede gereserveer was )? Agv D. Trump, die con artist, het sy met DNS-toetse ontdek wat almal reeds geweet het:- sy is toe al die tyd leliewit! En o ja! Google bietjie hoe sy ń bier drink as jy gedink het haar hérkoms is “fake”.

Therese van Schalkwyk ·

“Hail to the Chief”! – aanhaling geleen

As die Amerikaners haar wil hê, verdien hulle elke sekonde van daardie vier jaar, plus jare se gevolge.

Jac ·

Ek het nogal gehoop Tulsi Gabbard doen goed.

Sy is heeltemal gekant teen die VSA se militêre inmenging in die buiteland.

Jerry ·

Alhoewel Elizabeth Warren n groot uitdaging vir Trump inhou, gaan Trump se grootste toets vanuit sy eie republikeinse geledere kom!

Kaspaas ·

Behalwe natuurlik as die stemmers in 2020 vir Elizabeth Warren ook verneuk deur vir Trump te stem.

John ·

… praat jy nou van die antie wat smeek om gekleurd te wees om stemme te trek. Hoe hardop kan mens wees. Biden was ‘n voorbok op Maidan-plein in die Oekraìne en sy seun ‘n bloedbroer van die sjokolade-om-die-bek-smeerder. Carter het nou nie eintlik gedurende sy termyn vonke laat spat nie… en moet dus nou ook maar as ‘n oudste sy mond hou. En Jerry glo elke woord van CNN en sy entourage oor Trump…

Rubber ·

Lol. Dankie liberale anti Christ Dems julle maak dit so maklik vir Trump.

Root ·

+1 hehehe

Die demokrate het groot probleme as Fauxahontas hulle prize fighter is!

Riaan ·

Donald Trump het nog baie oemf in hom. Hoop hy sal nog genoeg krag he om n sekere ander party en al hulle clowns bietjie aan die keel te ruk. Mag nie meer se nie……

Humam ·

The weakest link is Tantrum Trump. Die GOPe is besig om hulle siele te verkoop aan die Duiwel met die kuif en wat jy saai gaan jy maai en dit van ‘n land wat die sogenaamde leier is van die westerse beskawing oppad na die ashoop van die beskawing. Sies dis ‘n skande en daar is nie genoeg woorde om hierdie patetiese President van die VSA te beskryf.

Tobie Klarens ·

Waar in Luthulihuis sit jy? Trump is die mees suksesvolle president in die geskiedenis van Amerika

Root ·

Ou Human hang seker aan hulle lippe as hulle sulke nonsens soos sosialisme en man made climate change verkondig

Kobus ·

Dit is nie nodig om D.Trump se gabba te wees om te sien wat hy vermag nie. Trump weet nou wel nie veel van protokol of politieke korrektheid nie maar almal weet presies waar hulle met hom staan. Word ń president gekies vir sy haarstyl, sy aangename persoonlikheid of omdat hy ń taak het om te verrig?

Human ·

Wat jy sien en wat ek sien verskil hemelsbreed, maar nou ja party mense wil glad nie sien. Dit gaan nie oor ‘n aangename persoonlikheid, dit gaan oor integriteit en karakter waarvan Tantrum Trump zero het en die taak wat hy verrig is om ‘n rat voor sy aanhangers se oe te draai.

Peter Kleynhans ·

Hahaha. Pocohontas het geen inbors nie. Trump is ‘n Karakter ja maar kyk maar net na hoe sterk ekenomie en werksyfers is soos artikel. Hillary is ‘n skuimbal en die hele Amerika weet dit sy hoort in die tronk Trump het haar regverdig gewen met die “Electoral College”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.