Dricus du Plessis: Die allemansheld

Dricus du Plessis het gedoen wat hy beloof het – hy is die nuwe UFC-middelgewigkampioen! (Foto: Vaughn Ridley/Getty Images via AFP)

Ek hou van ʼn man wat sy man kan staan;

ek hou van ʼn arm wat ʼn slag kan slaan,

ʼn oog wat nie wyk,

wat ʼn bars kan kyk;

en ʼn wil wat so vas soos ʼn klipsteen staan!

– Jan FE Cilliers

Jan FE Cilliers sou ongetwyfeld ʼn aanhanger van Dricus du Plessis gewees het. Nie alleen omdat Dricus – met sy arm wat ʼn slag kan slaan – as die UFC-middelgewigkampioen bekroon is nie, maar ook weens sy onwrikbare standvastigheid oor wie hy is en waarin hy glo.

Dricus se opmerking in ʼn onderhoud kort voor sy oorwinning, dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn voorloper is in die wedloop om die wêreld se slegste en korrupste regering te wees, het sosiale media laat gons. Met sy terugkoms in Suid-Afrika het Dricus sonder om te huiwer bevestig dat hy bankvas staan by hierdie opmerking. ʼn Skare mense het hul dankbaarheid en waardering uitgespreek dat Dricus so dapper was om sy internasionale platform te gebruik om hulle frustrasies te verwoord.

Nes Jan FE Cilliers, het CJ Langenhoven ook ʼn paar wyse woorde neergepen oor hoe ʼn eerbare man handel: “Gee my ʼn man wat sê wat waar is as die duiwel daar is.” Dricus het nie doekies omgedraai toe hy sy hart uitgepraat het nie.

Miljoene kykers regoor die wêreld het ʼn fantastiese lugskoot van die Voortrekkermonument gesien in Dricus se lokprentvideo toe hy die arena betree. Vir Afrikaners wat hul erfenis na aan hul harte hou, was dit ongelooflik hartroerend om te aanskou. Dricus is ʼn trotse ambassadeur vir die Vootrekkermonument en verkondig die belangrikheid daarvan om jou kulturele erfenis te koester en te bewaar, jou geskiedenis te ken en te eer. Dricus maak nie ʼn moordkuil van sy hart oor kwessies wat ná aan sy Afrikanerhart lê nie. Hy doen byvoorbeeld gereeld en onbeskaamd bewusmaking en fondsinsamelings om plaasmoorde te beveg.

Dricus se prysenswaardige, dapper dade ontlok – soos wat ʼn mens te wagte kan wees – nie uitsluitlik positiewe reaksie nie. ʼn Handjievol beterweters het puntenerig uitgewys dat Dricus se opmerking oor die Suid-Afrikaanse regering nie “tegnies” 100% korrek is nie. Die skrywer van ʼn meningstuk in Citizen het voorgestel dat Dricus eerder opmerkings oor die politiek moet oorlaat aan die deskundige politieke analiste.

ʼn Paar randfigure het ook aanstoot geneem omdat Dricus onbeskaamd is oor sy erfenis en ʼn gesonde gevoel van kulturele trots toon. Selfs Dricus se opmerkings in 2020 oor plaasmoorde is kwaadwillig opgegrawe en vertoon as sogenaamde “bewyse” van gebreke in sy karakter.

Al hierdie pogings om te gryp na strooihalms van “kritiek” op Dricus in sy oomblik van glorie, dien egter as klinkklare bewys van sy groeiende reputasie as die gewone man op straat se held en spreekbuis. Dricus praat in die openbare oog oor politiek soos die meeste van ons rondom die braaivleisvuur daaroor gesels. Jan Alleman wat die alledaagse vernietiging wat voortspruit uit die ANC se korrupsie, wanbestuur en kortsigtige beleide eerstehands aanskou, ervaar die Suid-Afrikaanse regering eerlikwaar as die slegste en korrupste regering in die wêreld.

Net soos Dricus, is die oorweldigende meerderheid van Afrikaners nie etnomasochiste nie. Hulle deel Dricus se gesonde sin van trots op hulle kulturele erfenis en kultuur. Dricus se prestasies en deursettingsvermoë is diep gewortel in sy kennis oor waar sy kanniedoodkrag vandaan kom. Dricus laat hom soos volg uit daaroor: “Afrikaners is bekend vir hul deursettingsvermoë, hulle dryfkrag en hul vasbyt en ek vind regtig baie inspirasie hierin, veral voor ʼn groot geveg.” Dricus skroom ook nie om sy Christelike geloof in die openbaar te verkondig nie.

Soos Dirk Hermann al geskryf het, “[Vele van] hulle bly nie meer op plase nie, maar daar is ʼn stukkie plaas in elke Afrikaner.” As jy sien hoe passievol Dricus oor plaasmoorde voel, en hoe hy ten spyte van fel kritiek sy internasionale platform gebruik om bewusmaking oor hierdie kwessie te bevorder, is daar duidelik ʼn groot stuk plaas in hom ook.

Dricus preek nie dweperig vir sy ondersteuners vanuit ʼn ivoortoring nie. Hy laai nie sy onderhoude met deugseine uit vrees vir die giftige penne van sommige lede van die kommentariaat nie. Hy sê ondubbelsinnig wat hy bedoel en hy bedoel presies wat hy sê. Ten slotte beledig en verkleineer Dricus nie sy kultuur en sy erfenis, soos party ander bekendes, om die vooroordele wat sommiges teen Afrikaners hou, te streel nie. Dricus se optrede, uitsprake, mentaliteit en prestasies beklemtoon een feit hard en duidelik: hy weet wat ons weet.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Hoor-hoor!
“Deugseine” wat ‘n pragtige Afrikaanse woord vir ‘virtue signaling’.

Andre ·

…almal weet die A en C laat nie kritiek ongestraf nie .
Versigtig wees, kêrel, dis ‘n klomp skurke daar buite

Treurwilger ·

Mooi so en doen so voort!
Die sportsóórt staan my nie aan nie, maar die sportmán en sportstér, Dricus du Plessis, wel baie deeglik!
Hoeveel keer al gewens die rugby-en krieketkapteins wil hul wye gehore vertel hoe sake staan.
Maar, nog nooit is selfs net ‘n Afrikaanse bedanking bv. op ‘n internasionale podium geuiter nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.