Ekonomiese adviseurs is rubberstempel op ANC-beleid

kompas-op-syfers-ekonomie

Foto: AbsolutVision/Unsplash.com

Pres. Cyril Ramaphosa se splinternuwe ekonomiese adviespaneel (hoewel hy al lank daarvoor voorbrand maak) het gemengde reaksie uitgelok.

Sommige mense met weliswaar min kennis van die ekonomie of die individuele lede op die paneel beskryf hulle as “topkundiges”. Dat daar wel kundigheid tussen hulle is, is nie te betwyfel nie.

Die probleem is egter dat omtrent almal die verkeerde soort ideologiese ingesteldheid openbaar en ’n minderheid werklikwaar swaargewig-ekonome is. Wandile Sihlobo en dr. Grové Steyn is straks uitsonderings op albei hierdie gebiede.

Prof. Mariana Mazzucato van die University College in Londen is iemand wat glo dat kapitalisme in ’n krisis is en nie kan werk nie. Sy is glo ’n spesialis op die gebied van staatsgeleide groei. Mens sou niks minder van Ramaphosa verwag as om so iemand te betrek nie.

Ayabonga Cawe is nog iemand waarvan niemand gehoor het nie en sy betrokkenheid by die anti-Semitiese en anti-Westerse Oxfam spreek boekdele. Hulle vra deurgaans vir sanksies teen Israel en wil armoede beveg deur kapitalisme en privatisering ook te bestry en die rykes en ryk lande te demoniseer.

Cawe en ander lede van die nuwe adviespaneel was ook deel van die Nasionale Minimumloon-adviespaneel wat die R20 per uur vir werkers voorgestel het. Die werkloosheidskoers het sedert die inwerkingstelling daarvan tot 29% toegeneem en niks veel aan die koopkrag of verbruikersvertroue gedoen nie. Ten minste is Cosatu gepaai.

’n Paar van hulle het ook al die regering raad gegee oor grond en energie. Watter advies presies gegee is, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat Eskom met R450 miljard se skuld en geen werklike reddingsplan sit en onteiening sonder vergoeding ’n albatros om landbou en die ekonomie se nek is.

Hoekom is hierdie groep byeengebring? Om groter samehorigheid en konsekwentheid te skep met die inwerkingstelling van ekonomiese beleid, aldus Ramaphosa. Hierdie adviseurs gaan dus nie werklik ekonomiese beleid skép nie, maar seker maak dit word strykdeur reg toegepas. En waar word dit geskep? In die ANC se hoofkwartier, Luthuli-huis, en ook in die Marxistiese dampkringe van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en vakverbond Cosatu.

Hierdie adviseurs gaan dus net saamsing in die koor van die staatgeleide en ondoeltreffende beleid wat ons gebring het waar ons nou is. Indien u my nie glo nie, kyk maar net wat besig is om met Tito Mboweni se meer verstandige ekonomiese beleidsplan gebeur: Dit val vas in die ideologiese benepenheid van die ANC en sy vennote.

So moenie vir een oomblik glo dat hierdie kenners met die “beste praktyke en lesse van elders” (om Ramaphosa se woorde te gebruik) gaan kom om die ekonomie skielik reg te toor nie. Nie as die ANC die Sowjetunie, Kuba, China en Venezuela as ekonomiese leidsterre gebruik en weier om by ware suksesvolle lande – soos Singapoer, Finland en Nieu-Seeland – te leer nie. En ook nie as hulle sosialistiese akademici van veral die Universiteit van die Witwatersrand vir advies gebruik nie.

In dieselfde week as wat hierdie paneel aangekondig is, het die regering ook weer eens gewys dat hulle weier om die strukturele probleme in die ekonomie te takel en dit trouens te vererger.

’n Algemene onderwyssertifikaat gaan van volgende jaar af uitgereik word aan gr. 9’s. Myns insiens is dit ’n soort “troosprys” vir kinders wat skool op 15 verlaat. Ofskoon dit reeds bestaande werklikhede weerspieël, is dit ’n verdere aanmoediging vir veral swart kinders om laag te mik. Die departement en minister van basiese onderwys mag dalk nie so dink nie en hoop iemand met só ’n sertifikaat verdere tegniese of beroepsopleiding sal najaag, maar dit is ver van die waarheid. In ’n kennisekonomie is inligting en kennis baas en iemand wat nie eens gr. 9 kan of wil voltooi nie, gaan waarskynlik nie verdere kennis kan of wil opdoen nie.

Negentien adviseurs gaan nie verby hierdie werklikheid kan kom nie. Hulle gaan ook nie vir Ramaphosa die moed van oortuiging gee om skadelike beleide en wetgewing te laat vaar of af te skaf nie. Of om sy eie vennote en lede van sy party teë te gaan nie. Hulle gaan hom ook nie aansê of die mag gee om die rompslomp en reusestaatsburokrasie weg te kalwe nie. Of om die werklike aanspreeklikheid deel van regeerwese te maak en korrupsie te beveg nie.

Kortom, hierdie paneel gaan binne die perke van die politiek moet beweeg en in wese bloot ’n rubberstempel op ANC-beleide moet wees. Enige afwykende sieninge sal nie geduld word nie – soos Mboweni nou met sy plan ook agterkom.

In die eerste uitgawe van sy nuwe nuusbrief From the desk of the President skryf Ramaphosa dat dit duidelik is dat ons as ’n land besig is om doelbewuste optrede aan die dag te lê om die ekonomie te groei en werk te skep.

Niks kan verder van die waarheid af wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Naïef ·

Net sekere mense verwag beskawing en vooruitgang in Afrika. En almal moet dit glo?

Arak ·

Die las op die gewone belasting betaler is buitensporig in die land. Ek het die week besef dat van die 5 dae, 8 ure per dag wat ek in ‘n week werk, ek basies net Donderdagmiddag en Vrydag vir myself werk. Die res van die tyd het ek net gewerk om allerhande belastings te betaal. Hierdie belastinglas druk alle groei dood. Wil die regering die land groei; verlaag die belastings drasties. Ongelukkig is die regering se doel nie groei nie, maar eerder om almal van die staat afhanklik te kry sodat hulle totale beheer kan hê.

Brulpadda ·

Die water vir die paddas wat stadig moet look sal nie koeler gestel word nie!

Gert ·

Dit bevestig my vermoedens toe ek hoor van die paneel wat aangestel is. As jy sosialiste kry om jou te adviseer, gaan jy waarskynlik advies kry om die vrye mark verder te beperk en meer regeringsinmenging te implementeer.

Dj ·

Die ANC is al geadviseer dat HIV nie deur ń virus maar deur armoede veroorsaak word. Dit het direk tot die dood van 300 000 mense gely.Hulle het vir hulle sogename kenners vergader wat gesê het wat hulle wou hoor.Hulle doen dit nou weer.

Marthinus Willemse ·

Eugene, ek stem nie saam met jou tipering van Gr 9 nie. Ons maak asof matriek die alfa en omega is: ons kinders word uitgebrand vir matriek; hulle moet soos Halley se komeet verblindend helder skyn, maar na matriek verdof hulle glans; jy sien hulle nerens, nooit weer nie. Wat `n vermorsing van talent.

Duitsland werk anders: jy word vroeg reeds geidentifiseer, waarna jy (sonder matriek) opgelei word as elektrisiën, bouer, ingenieur, messelaar, gieter, passer en draaier, ens. En kyk hoe sterk is hulle. Gr 9 is hopelik die begin om ons manie met matriek te vervang met opvoeding wat meer sin maak.

In `n kennisekonomie het jy nog steeds elektrisiteit nodig, nog steeds geboue, nog steeds rekenaars en penne en selfone en yskaste en TV’s wat gebou moet word, nog steeds matrikse wat gemaak en gebruik word om dinge te giet, goud en platinum gemyn word, ens. Gr 9’s is nie intellektueel noodwendig swakker nie, baie van hulle is weens omstandighede gedwing daartoe. (Ons het onlangs gelees van boere in drooggeteisterde gebiede wie se kinders uit die skole gehaal moet word weens gebrek aan geld.)

Van die suksesvolste entrepreneurs was disleksies, en het nie hul skool voltooi nie, bv Tony Factor, Richard Branson.

Kerneels ·

In Duitsland en ander lande in Europa is daar top instansies waar die voornemende vakmanne opgelei word. Hulle word gekeur voordat hulle begin met hul opleiding. Hier is niks.

HEVW ·

Stem Kerneels. Ons groot probleem is dat ons onbevoegde regering drome droom wanneer na hulle na hoogsontwikkelde lande kyk en dan totaal vergeet dat hierdie lande met n vryemark ekonomie, kapitalistiese stelsel funksioneer. Die westerse lewens en wereld beskouing en die van die Afrika- mens is onversoenbaar. Sekere mens is met totale blindheid vir hierdie werklikheid geslaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.