Ekstremiste in noorde van Mosambiek se uitdagings aan SA

Mosambiekse vlag (Foto: Pixabay)

Deur prof. Theo Neethling

Sedert Maart 2020 het ’n groeiende insurgensie die noorde van Mosambiek toenemend nuuswaardig gemaak. Nou is daar selfs sprake dat die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) in die noordelike Cabo Delgado-provinsie betrokke gaan raak in ’n poging om sake onder beheer te bring. Indien dit gebeur, sal dit primêr daarop gemik wees om ’n ekstremistiese en militante Islamitiese groep, wat plaaslik bekend is as Al-Shabaab, aan te vat. Ofskoon dié groep geen formele bande met Al-Shabaab in Somalië het nie, is dit ewe radikaal en uiters gewelddadig. Dié groep is trouens veel meer radikaal as ander Moslems in Cabo Delgado, wat ’n oorwegend Moslemprovinsie is, en beoog die daarstelling van hul eie moskees en opleidingsinstellings in die gebied om hul leerstellings uit te dra.

Daar is tereg wye kommer oor die situasie in die noorde van Mosambiek. Sou die SANW in Mosambiek betrokke raak, sal hy hom in uiters uitdagende omstandighede in ’n baie uitdagende teenterreuroperasie moet begeef. Dit is algemeen bekend dat die Nigeriese weermag nou jare lank reeds ’n teenterreurveldtog teen Boko Haram voer en in Somalië is Al-Shabaab lank reeds ’n gedugte mag wat diep ingegrawe is – al die internasionale pogings om dié organisasies veral militêr die hoof te bied ten spyt.

Die vraag is: waarom is daar tans soveel kommer oor gebeure in die noorde van Mosambiek? Daar kan minstens vier redes aangebied word. Eerstens is die toenemende manifestasie van terreur in Cabo Delgado die eerste geval van ’n militante Islamitiese insurgensie wat relatief na-aan Suid-Afrika manifesteer en boonop is daar sterk aanduidings van bande met die Islamitiese Staat (IS). In Suider-Afrika was daar tevore weliswaar dade van terreur in Tanzanië en Zanzibar, maar dit het Suid-Afrika nog nooit regtig geraak nie. Wat die konflik in Cabo Delgado van verdere belang maak, is dat die betrokke ekstremiste ’n hoogs militante houding inneem en nie skroom om polisie- en militêre basisse aan te val nie, hoewel veral ongewapende burgerlikes onlangs die teikens was.

Tweedens is daar groot kommer omdat Cabo Delgado ook die provinsie is waar massiewe projekte in die see deur groot multinasionale olie- en gasmaatskappye bedryf word. Van die wêreld se grootste name in die olie- en gasbedryf is betrokke, waaronder Total (Frankryk), Eni S.p.A. (Spanje), Exxon Mobil (VSA), BP (Brittanje), Shell (Nederland), CNPC (China) en andere. Ontginning van vloeibare gas in die Cabo Delgado-omstreke is tans Afrika se derde grootste projek van dié aard en kan Mosambiek help in armoedeverligting. Beleggings van miljarde Amerikaanse dollar is gemaak en nou word die gasprojekte skielik ernstig bedreig deur ekstremistiese gewapende aanvalle.

Hoewel die gasvelde in die see geleë is, is baie van die ondersteuningsfasiliteite op land en gevolglik uiters kwesbaar. Die betrokke maatskappye voel uiteraard onder groot druk omdat die Mosambiekse regering etlike jare reeds bewus is van die groeiende veiligheidsrisiko’s, maar niks daaraan kon doen nie. Daar is ook ’n Suid-Afrikaanse belang in die saak. Sasol beskou Mosambiek as uiters strategies in sy sakebedrywighede en het veral sedert 2014 groot beleggings gemaak deur reservoirs en reusepyplyne op te rig, terwyl daar beplan word om verdere gasbronne te vind en te ontwikkel.

Wat egter opval, is dat baie inwoners van Cabo Delgado nie die buitelandse olie- en gasmaatskappye goedgesind is nie. Talle inwoners is met min of geen kompensasie verskuif om plek te maak vir infrastruktuurontwikkeling en voel gevolglik diep verontreg, asook dat hulle min of niks baat by die reuse-opbrengste uit die gasvelde nie. Armoede en slagofferskap vier dus hoogty onder baie inwoners.

’n Derde rede vir groeiende kommer oor sake is dat die Mosambiekse veiligheidsmagte oor die afgelope jare bloot te swak was om op te tree en eintlik net maar kon toekyk hoe die Islamitiese ekstremiste hulle goed ingrawe in die Cabo Delgado-provinsie en selfs die strategiese noordelike hawestad, Mocimboa da Praia, oorneem. Tussendeur het die Mosambiekse regering sake lank afgemaak as blote kriminaliteit in die noorde. Uiteindelik het die Mosambiekse regering in 2019 met pres. Vladimir Putin ooreengekom om die Russiese paramilitêre Wagner-groep betrokke te maak in die stryd teen die ekstremiste. Niks het egter verander nie en die Wagner-groep het trouens sleg daarvan afgekom met lewensverlies. ’n Suid-Afrikaanse privaat veiligheidsmag, die Dyck Advisory Group (DAG), het skynbaar ook betrokke geraak, maar eweneens sonder sukses. Deur alles het honderde mense volgens intelligensieverslae sedert 2017 omgekom met duisende wat ontwortel is.

Syfers is nie altyd kontroleerbaar nie, maar verslae dui daarop dat tussen 600 en 1 000 mense omgekom het met tussen 150 000 en 200 000 wat ontwortel is. Daarby het die ekstremiste onlangs ook begin met aanvalle op minibusse en vragmotors en in van die gevalle is mense lewendig in voertuie verbrand of met pangas stukkend gekap. Talle winkels, skole kerke en regeringsgeboue is ook aangeval.

Wat voorts gemeld moet word, is dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) vir ’n lang tyd geen aandag aan die saak gegee het nie. Eers op 19 Mei 2020 het die SAOG ’n troika van drie belanghebbende staatshoofde (Zimbabwe, Botswana en Zambië) bymekaargebring en vir die eerste keer die erns van die situasie bevestig.

’n Vierde rede waarom die onstabiliteit in Cabo Delgado van groot belang is, is dat verskeie verslae – waaronder een van die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Georganiseerde Kriminaliteit – Cabo Delgado aantoon as ’n deurgangsroete vir dwelms van Afghanistan wat na Europa vervoer word. Suid-Afrika word eweneens as ’n bestemming uitgewys. Dit het spesifiek betrekking op die produksie van heroïen, waarvan die produksie in die afgelope dekade verdriedubbel het met die noordelike dele van Mosambiek wat as ’n sleutelpunt in die vervoerketting dien.

Een knelpunt met die dwelmsmokkelary in Mosambiek is dat navorsers en joernaliste nie toegang tot die betrokke gebiede kan kry nie. Juis daarom meen sommige waarnemers dat elemente van die Mosambiekse regering hierby betrokke is. Die Mosambiekse regering het egter in Desember 2019 aanspraak gemaak op die onderskepping van 430 kilogram dwelms in die baai van Pemba, Cabo Delgado se provinsiale hoofsetel. Aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens met Mosambiek het die Suid-Afrikaanse Polisiediens op 26 Mei vanjaar beslag gelê op heroïen ter waarde van ’n half miljoen euro. Daar is dus min twyfel dat Cabo Delgado wel as ’n deurgangsroete vir dwelmhandel dien. Hoewel die Islamitiese ekstremiste skynbaar nie by die dwelmnetwerke betrokke is nie, lei hul aktiwiteite die aandag af van hierdie netwerke, asook ander smokkelbedrywighede in verband met onwettige handel in wildlewe, hout, goud en selfs mense.

In die lig van dit wat hierbo aangevoer is, moet Suid-Afrika en die SANW behoorlik katvoet loop voordat die land in dié hoogs gekompliseerde Mosambiekse konflik betrokke raak. Militante Islamitiese ekstremiste kan nie sonder handskoene aangepak word nie en die Mosambiekse regering of ander rolspelers wat tot dusver daar betrokke was, kon min uitrig. Terselfdertyd is daar te lank gewag in streeksverband om iets aan die probleem te doen en dit kan nie langer uitgestel word nie.

Kortom, te midde van al die uitdagings wat Covid-19 tans inhou, wag hier baie moeilike besluite op Suid-Afrika as ’n streekleier om ’n oplossing te probeer vind vir die toenemende bloedvergieting in Mosambiek.

  • Prof. Theo Neethling is verbonde aan die departement politieke studie en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

As SA nie so ń swak verhouding met die VSA en Europa gehad het nie,sou ons baie beter presteer het die afgelope 26 jaar. Maak vrede met die Trump administrasie,hulle gaan nog lank daar wees,baie lank!

Baardman ·

SA het nie eers geld om hulle self te help nie. Laat VSA, Spanje, UK, China, Nederland en Frankryk hulle eie olie belange gaan beskerm

Hekwag ·

Ons Weermag *lag* kan nie eers die bendegeweld op die Kaapse vlaktes uitsorteer nie *lag*. Die regering beter BAIE vinnig DENEL geldelik bystaan en aan die gang hou anders sal hulle maar met fietse en taksies die sogenaamde soldate soontoe moet aanry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.