Elektrisiteitsprivatisering vind reeds plaas

Deur Nicholas Woode-Smith

(Foto: Hennie Stander/ Unsplash)

Privatisering is nie net die enigste werklike oplossing vir Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis nie, dit is so ooglopend nodig en onstuitbaar dat dit gebeur of die regering daarvan hou of nie.

André de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het voor sy bedanking geraam dat die private sektor reeds 66 000 MW se hernubare energieprojekte in ontwikkeling gesit het. Dit is 25% meer as Eskom se totale elektrisiteitsvermoë.

Boonop klim al hoe meer Suid-Afrikaanse verbruikers van die netwerk af, met meer as 4 400 MW sonkrag wat deur private burgers geïnstalleer word. Dit sal na verwagting eksponensieel in die nabye toekoms styg.

RMB voer aan dat teen die huidige tempo van private investering en ontwikkeling in elektrisiteitsopwekking die private sektor teen 2025 meer elektrisiteit as Eskom sal produseer. Ander kenners het hierdie bevindinge bevestig.

Hierdie positiewe nuus kom omdat Eskom enorme gedeeltes van sy opwekkingskapasiteit vanlyn neem om instandhouding in te haal, maar steeds nie in staat is om tred te hou met verrottende aanlegte en infrastruktuur nie. Apatie, korrupsie en pure onbevoegdheid het die semistaatlike, en die hele regering, al dekades lank geteister. Maar solank ons op hierdie koers bly, sal Eskom al hoe meer irrelevant raak.

Ons oplossing was deurgaans privatisering – soos soveel kenners en klassieke liberale al dekades lank sê. En terwyl die regering steeds daarop aandring om staatseienaarskap oor Eskom te behou, word sy monopolie minder betekenisvol.

Maar ons is nog nie heeltemal veilig nie. Hierdie regering is oorweldigend korrup en ideologies daarop ingestel om nie net staatsoorheersing oor die ekonomie te verseker nie, maar ook om die vernietiging van die vrye mark te verseker.

Terwyl die privaat sektor en burgers besig is om die las op die netwerk te verlig, gaan dit nie die verstand te bowe dat die regering weer die opwekking van die private sektor in die netwerk sal beperk nie. As dit gebeur, sal nie net ʼn ongoddelike hoeveelheid private investering tot niet gaan nie, dit sal ook beteken dat ons weer ten volle op Eskom en sy ontoereikendheid moet staatmaak.

Transmissiestelsel

Selfs sonder dat die regering terugtrek, is daar steeds die probleem van transmissie. Terwyl die private sektor nuwe opwekkingskapasiteit kan ontwikkel, is maatskappye steeds aan ʼn transmissienetwerk in Eskom en munisipale besit verplig. Baie van die probleem met Suid-Afrika se elektrisiteitsekonomie spruit juis uit hierdie stadium van die proses.

Baie munisipaliteite was diep korrup, apaties oor die betaling van hul skuld, en weier eenvoudig om te betaal vir elektrisiteit wat hulle gebruik het – dikwels omdat hulle elektrisiteit op ʼn enorme skaal aan nie-betalers gelewer het.

Een van die deugde van die vrye mark is dat die aansporing om goed te produseer gebaseer is op betaling. Daar is geen politieke bedreiging nie. Dus, terwyl die regering dalk vrees om nie-betalers te hef omdat die regerende party hul stemme wil hê, sal ʼn private maatskappy nie omgee nie. ʼn Maatskappy wil net sy geld hê, want daardie geld is nodig om die besigheid aan die gang te hou.

Waar dit ook al kan wees, moet transmissie geprivatiseer word. Die netwerk moet onder privaatsektorbeheer geplaas word sodat skuld doeltreffend ingevorder kan word en daar aangedring kan word op betaling vir dienste gelewer en produkte wat verkoop word.

Soos belowe is, kom die private sektor tot die redding. Suid-Afrika het ʼn robuuste, entrepreneuriese en vindingryke galery van private maatskappye en beleggers. Hulle moes net die groen lig kry om die oplossing vir ons probleme te verskaf.

Al wat nou nodig is, is dat die regering heeltemal uit die pad moet kom. Eskom moet moed opgee met sy vergeefse pogings om sy monopolie te behou. Sy bates moet opgeveil en sy netwerk geprivatiseer word.

Ons sakelui en industrie het bewys dat hulle baie beter is om Eskom se werk te doen as Eskom self. So kom ons laat hulle Eskom heeltemal vervang. As dit gebeur, sal beurtkrag nie teen 2025 eindig nie. Dit kan vanjaar eindig.

  • Nicholas Woode-Smith is ʼn skrywer, historikus, politieke ontleder en bydraende skrywer vir die Vryemarkstigting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

vuurvliegie ·

Baie eensydige berig van min waarde. Watter maatskappy het die geld om Eskom se bates te koop? Eskom bates is trijoene werd. Plaas dat die skrywer die maatskappy se name noem wat dit kan koop. Nee wat ek sluk swaar aan hierdie berig. Dis maklik om ‘n storie te skryf en dis n ander ding om dit tot uitvoer te bring. Nicholas Woode-Smith moet maar by geskiedenis en politiek hou.

Fanie ·

Die een groot ding wat die mense in beheer onder enorme vals indruk bring , en maak dink hulle bereik enigsins iets, is die massa privaat offgrid sonkrag stelsels, maw. stelsels groot genoeg om nie afhanklik van eskom te wees nie, wat deur privaat landsburgers geinstalleer word – hier waar ek bly is ons groep van 22 kleinhoewes – nie upmarket nie, net gewone mense, van die 22 is 10 plotte op stelsels wat nie netwerk nodig het nie….. en die stelsels het meestal in die afgelope 12 – 18 maande aan lyn gekom.

Anel ·

Nou wat gaan die regering doen as die privaatsektor oorneem? Boetes gee wat wie gaan betaal of die krag afsny wat hulle hoe gaan doen? Mens moet net ophou om bedreig te word en aangaan om die regte ding te doen, wat hierdie regering duidelik nie kan of wil doen nie.

vuurvliegie ·

@Anel. Hoe gaan die privaat sektor hulle krag by ‘n huishoudings kry? Dit gaan van die Eskom Transmissie en dan Distubisie netwerk deur na die munisipale netwerk na die huishoudings. Dink jy regtig Eskom en die munisipaliteite sal dit verniet doen? Met Eskom se split is hulle nou drie maatskappye. Hulle sal die een heffing op die ander instel wat die privaatsektor ook duur sal maak. Wie gaan onderhoud doen op hierdie reeds vervalle netwerke, die privaatsektor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.