Entstowwe soos voorbrand

Deur Nikolaas Pienaar

(Argieffoto: Unsplash)

Deel van my werk as predikant is om gelowiges te help om, wanneer dit by aktuele sake kom, volgens oortuiging te dink en op te tree: Om die lig van God se Woord op sake soos onder andere onteiening sonder vergoeding, die wysigings aan die Pepuda-wetgewing en selfverweer te laat val sodat gelowiges die lig van die Here in hierdie donker wêreld kan laat skyn.

ʼn Saak wat veral na grondliggende denke en optrede vra, is die gebruik, al dan nie, van entstowwe.

Indien u ervaringsveld enigsins met myne ooreenstem, is u vanaf die begin van die Covid-19-pandemie eers met video’s en stemnotas oor die koronavirus en meer onlangs met video’s en stemnotas oor entstowwe gebombardeer. Ek wil nie die inhoud bespreek nie, maar wel die beginsels. Die inhoud help wel om die beginsels te verstaan.

Aan die een kant is daar boodskappe wat die rondte doen wat sommer uit die staanspoor “stroomop” is. Om stroomop te wees, is ʼn goeie eienskap wanneer dinge wat stroomaf is stink. Baie van die stroomopboodskappe is egter ver van gesonde denke verwyderd:

  • Tannies in die ouetehuis wat die entstof weier in vrees dat dit hulle steriel gaan maak. Dit is ʼn geldige vrees by ʼn jong dame, maar nie ʼn vrou van 70 nie.
  • Ander boodskappe het dit gestel dat die entstof mense MIV kan gee; iemand wat oënskynlik voor die entstof MIV-negatief was, maar na die tyd MIV-positief. As dominee wat so ʼn ietsie van mense weet wat sondes probeer wegsteek, is hierdie storie bietjie dik vir ʼn daalder.

Aan die ander kant weer is diegene wat “stroomaf” is. Die goedgelowiges. Die wat elke woord wat enigiemand met ʼn wit jas of ʼn amptelike baadjie sê vir soetkoek opeet. Die wat weer vyandig teenoor dit wat teen die amptelike narratief is staan.

  • Mense wat geldige kwellings ignoreer.

En tussen hierdie duiwel en die diep blou see kan ʼn mens nie anders as om aan die refrein van Akkedis te dink nie: “Om uit te wees, dit is mos in. Om in te wees, it feels like a sin …”

Hoe behoort ʼn gelowige oor die saak te dink?

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ek sou hoop dat die gelowige, omdat dit ʼn persoon is wat uit die staanspoor krities na God se Woord luister (nie krities om dit te verwerp nie, maar krities om dit reg te verstaan en veral of die dominee dit reg preek), vanuit daardie godsdienstige raamwerk ook krities na inligting rondom entstowwe sal kyk.

Christenskap is immers ʼn godsdiens wat nie bloot oor die siel besorgd is nie, maar oor die ganse skepping en alles wat in die wêreld gebeur. Hierdie wêreld is immers Christus s’n.

Die Skrif het geen uitspraak oor die gebruik van entstowwe nie. Nes dit ook nie direkte uitsprake oor sitplekgordels, voorbrande, sonbrandroom óf die gebruik van Doom het om miere uit jou kombuis te hou nie.

Gelowiges moet dus in hul beredenering oor hierdie sake op beginsels uit God se Woord steun. Hierin is die leer oor die skepping, die mens se rentmeesterskap oor die skepping en die sesde gebod (ses rym met mes, jy mag nie doodmaak nie) belangrik.

Wat is die tersaaklike beginsels:

God is ʼn God van orde en het ʼn wetmatige skepping geskep. In kontras met die postmodernisme wat die begrip van waarheid ontken, glo gelowiges dat waarheid kenbaar is (vir sowel die ingenieur wat brûe bou as die bioloog wat deesdae blyk om te sukkel om te tel hoeveel geslagte daar is).

Die gelowige – wat tot eer van God in die skepping wil leef – ondersoek, ontdek en beskryf die waarheid van die skepping. Hy doen dit eerlik, want God sê jy mag nie valse getuienis lewer nie (die negende gebod). Hy doen dit om die lewe vir die weduwee en wees makliker te maak, want God het nie net ʼn agenda vir die elite nie, maar ook vir die kwesbares (Psalm 68:6-7). Die Egiptenare in Josef se tyd het ongetwyfeld oor silotegnologie beskik, maar dit het ʼn gelowige geverg wat hierdie tegnologie met toekomsvisie vir sewe maer jare sou aanwend (Genesis 47-48).

Die gereformeerde teologie bely die algemene genade dat God sowel gelowiges as ongelowiges met goeie gawes van intellek en vaardigheid seën, maar dit is veral die gelowige wat tot eer van God en tot heil van sy naaste hierdie gawes en die opbrengste daarvan nie vir homself hou nie, maar tot diens van ander aanwend.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Een van die velde waar dit gebeur is dié van die mediese wetenskap.

Die beste mediese wetenskap (nes alle tipes wetenskap) is die Westerse mediese wetenskap. Dis nie omdat Westerlinge slimmer as ander is nie. Daar is immers geskiedenis van mediese wetenskap uit antieke Egipte, Persië en Sjina met tegnologie wat die Weste eeue vooruit was. Wat die Weste egter anders gemaak het, was die invloed van die Christendom wat veral daarna gesoek het om vanuit naasteliefde genesing vir siekes te bewerk.

Die diensmotief van Christenskap in navolging van ons Here wat melaatses aangeraak en genees het (Markus 1:40-45), het die wêreld op sy kop gedraai.

Dit was gewoon ondenkbaar dat die elite baie jare van hul lewens en finansiële middele aan skoling sou wy om letterlik vuilwerk te gaan doen. Om met siekes te werk is nie juis idillies nie.

Tot in die moderne era sien ons in Indië hoe ʼn volk wat nog nie gekersten is nie byvoorbeeld die bevalling van vroue – selfs in die geval van die opperste Brahman kaste (stand) – aan die sogenaamde “untouchables” oorlaat. Dis die invloed van Christenskap wat hierdie stand van sake verander het.

Natuurlik weet ons dat die Weste, veral sedert die Franse Rewolusie, begin sekulariseer het. Dit het die produk van die ou Christendom behou, maar die hart daarvan verloën. Ons beskawing is besig om te val omdat geloof in dinge soos waarheid, naasteliefde, eerlikheid en getrouheid nie meer deugde is wat tot eer van God en heil van die naaste aangewend word nie.

Ons beskawing het egter nog nie geval nie. Ons is nog nie waar Rome in die jaar 395 AD was nie. Dit beteken, genadiglik, dat baie van ons wetenskapsbeoefening, nywerheidsetiek en sosiale standaarde dié van die Christenskap navolg.

In die mediese wetenskap beteken dit dat winsgrens nie alles is nie, dat medici tyd, geld en moeite opoffer om menselewens te red, dat navorsing gepubliseer word en portuurbeoordeling ondergaan, dat kennis uitgebou en aangewend word om die kwesbares te beskerm.

Dit beteken, in praktyk, dat mediese navorsingsmaatskappye tyd, geld, moeite en beleggings aanwend om medisynes te ontwikkel wat mense nie sieker maak nie, maar gesonder (anders as wolf wat op jakkals se rug gery en gesing het “die sieke dra die gesonde”).

(Argieffoto: GCIS)

Hiermee saam, soos reeds genoem, is die wetenskaplike eerlik (onthou die negende gebod). Dit beteken dat hierdie maatskappye en wetenskaplikes hul ontdekkings in die openbaar publiseer – in die lig. Hulle is nie kwaksalwers wat in duisternis en tussen rookdampe blinde geloof vra nie, maar nes die Christenskap ʼn redelike geloof begrond op kenbare feite vanuit God se openbaring in die natuur. ʼn Universiteit in Suid-Afrika wou eens sy wetenskap juis op hierdie wyse beoefen met “in U lig” as leuse.

Die punt is: omdat hierdie wetenskap in die lig beoefen word, kan u en ek die navorsingsuitsette nagaan:

  • Ek kan die voubiljet van my Panado lees en dit teen Disprin opweeg. Net so kan ek oor entstowwe gaan oplees.
  • Ek kan met my huisdokter en apteker gaan gesels.
  • Ek kan na die beste professore van die beste universiteite in die wêreld op YouTube en podsendings luister.
  • Ek kan akademiese joernale lees.
  • Ek kan na mense ín die stroom en ouens téén die stroom luister.

Ek kan leer, ek kan weeg, ek kan besluite neem

En dan, as rentmeester oor my eie liggaam wat God daarmee wil eer en ook die gebod tot naasteliefde wil onderhou, neem ek ʼn besluit met die kennis wat ek het.

Ek neem in ag wat die voor- en nadele van bepaalde entstowwe is. Ek dink na oor hoe ek God wil eer en naasteliefde wil beoefen. Ek dink na oor waarom die Weste die beste beskawing geword het en sy mediese wetenskap wat lewens gered, verleng en verbeter het (nie sonder ʼn paar foute langs die pad nie).

Ek dink na oor die sesde gebod; dat ek nie my eie of ander se lewens mag bedreig nie. Ek dink oor die tweede bede van die Onse Vader: “Laat u koninkryk kom.” Ek dink na of hierdie entstof ʼn middel is wat God gee om sy kerk te bewaar en te laat groei, en of dit iets is wat gevolge van die sondeval teëwerk, of nie …

En dan, omdat die Skrif nie voorskriftelik oor die saak van entstowwe is nie, oefen ek my Christelike vryheid uit om ʼn berekende besluit te neem om ʼn entstof te gebruik al dan nie.

(Foto: Justin Tallis/AFP)

In hierdie besluit kan ek myself verantwoord teenoor die Here en my naaste (en veral as ek ʼn pappa of ʼn mamma is, veral teenoor die kleintjie wat die Here aan my sorg toevertrou het).

Omdat hierdie keuse tot die terrein van Christelike vryheid behoort, oefen ek nie dwang uit om my naaste (wat die saak anders as ek sien) te forseer om ʼn entstof te gebruik of nie. Ek en hy kan ʼn gesprek voer, ons kan ons menings en argumente teen mekaar toets, maar een ding wat ons nie kan hê nie is ons eie feite, want waarheid is kenbaar en absoluut.

Ek sluit af deur my eie siening van die saak te verwoord: Ek beskou entstowwe soos voorbrande.

Die Skrif is stil oor die gebruik van voorbrande om gewasse en vee teen die gevaar van veldbrande te beskerm. Die Skrif se beginsels van voorsorg maak wel die gebruik van voorbrande een wat algemeen deur mense aangewend word. Natuurlik gebeur dit soms dat ʼn voorbrand buite beheer raak. Vuur is altyd gevaarlik. Maar dit is die minderheid kere wat dit wel gebeur. Die meerderheid kere doen ʼn veldbrand presies wat dit bedoel is om te doen. Dit beskerm teen groot skade, teen lewens- en inkomsteverlies. Dit doen sy job. Dit gee die boer ʼn soort vryheid. Een minder ding om oor besorgd te wees in hierdie gevalle wêreld. Minstens tot die volgende winter.

  • Nikolaas Pienaar is ‘n leraar verbonde aan die Gereformeerde Kerk Oos-Londen asook medewerker van Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Madeleine ·

Hoeveel navorsing het u op die ‘inenting’ self gedoen?

Alisia ·

Gaan jul nou elke dag n artikel plaas om mense te probeer oortuig om die inentings te vat? Elke mense moet self besluit. En Dominee, dieselfde “wetenskaplikes” wat so “eerlik” is het vir ons al n jaar lank gelieg en vertel die virus kom natuurlik van n vlêrmuis af!!! So verskoon my maar as ek hul ook nie glo dat die inenting “veilig” is nie.

OW ·

Veronderstel dit is ‘n soönose en dit kom van ‘n vlêrmuis af wat covid veroorsaak,maar terselfdertyd is daar ‘n enstof ontwikkel om dit te voorkom.Ek dink mens moet mooi die voor en nadele opweeg voor mens as indiwidu ‘n finale besluit neem.Dit bly egter elke mens se keuse. Ek laat my ook nie vertel dat die enststowwe wat op groot skaal vervaardig word soos tans die geval is, bedoel is om die mensdom te vernietig nie.Die entstof tegnologie is vandag gevorderd teenoor 80 jaar gelede en in hierdie tydperk is meer lewens gered as voor dit. Ek probeer niemand beïnvloed nie.Maak jou eie keuse.

Jannie ·

Ek stem saam dat elkeen ‘n ingeligte besluit self moet neem. Ongelukkig moet daar dan beperkings ingestel word op die vryheid van dié wat nie ingeënt is nie, ten minste tot tyd en wyl ons kudde-immuniteit bereik. Andersins stel ons almal in gevaar en die inentings word later heel oneffektief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.