Eskom – die donker kant van regstellende aksie

Memorandum: Aan die mense van Suid-Afrika

Van: Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Onderwerp: Eskom – die donker kant van regstellende aksie

Inleiding

Argieffoto

Argieffoto

Hierdie memorandum het ʼn drieledige doel:

Die eerste doel is om die invloed van regstellende aksie op die huidige elektrisiteitskrisis te boekstaaf. Die memorandum gaan oor hoe Eskom van sy ervare en bekwame personeel ontslae geraak het en hoe dit daartoe bygedra het om ’n samelewing in duisternis te dompel.

Die tweede doel van hierdie memorandum is om die amptelike swye oor die verband tussen regstellende aksie en die gebeure by Eskom uit te daag sodat daar tot nugtere gesprek oor die toekoms oorgegaan kan word.

Derdens wil die memorandum waarsku dat die ideologie van rasseverteenwoordigendheid wat Eskom ernstig gekwes het ook onherstelbare skade aan ander staatsdepartemente, munisipaliteite en ondernemings kan aanrig.

Die memorandum probeer objektief kyk wat gebeur as vaardighede en institusionele geheue vernietig word. Die memorandum voer dus nie ʼn rasargument aan nie, maar reageer op ʼn oordrewe rasse-ideologie wat nie die mense in en die ekonomie van Suid-Afrika in ag neem nie.

Die memorandum poog ook nie om al Eskom se probleme voor die deur van die maatskappy se regstellendeaksiebeleid te lê nie, maar sien dit as minstens ʼn baie belangrike faktor wat tot vandag se krisis bygedra het.

Die memorandum ontken ook nie probleme wat al voor 1994 by Eskom aanwesig was nie en wat onder meer ʼn tradisie insluit waar die voorsiening van krag as ’n monopolie bedryf word.

Ek was persoonlik ten nouste betrokke by regstellendeaksieprosesse by Eskom, hofsake daaroor en akademiese studie met regstellende aksie by Eskom as onderwerp.

Die donker kant van regstellende aksie

Die uitwerking van Eskom se regstellendeaksiebeleid was vernietigend en Suid-Afrikaners betaal vandag die prys daarvoor.

Regstellende aksie by Eskom en die huidige kragkrisis kan nie van mekaar geskei word nie. Daar is ʼn direkte verband tussen die twee, maar niemand wil dit sê nie.

Intussen betaal gewone burgers die prys van Eskom se regstellendeaksieramp.

Terwyl niemand oor die donker kant van Eskom se regstellendeaksiebeleid wil praat nie, tref die uitwerking van regstellende aksie munisipaliteite, staatshospitale en die SAPD, maar ook daaroor wil niemand praat nie.

Eskom het destyds die voortou geneem met die instelling van regstellende aksie in Suid-Afrika en is gesien as die markleier in dié verband. Met die aanvaarding van die Wet op Gelyke Indiensneming in 1998 het Eskom regstellende aksie reeds fluks geïmplementeer.

Die Breakwater Monitor, ’n inisiatief wat deur die Universiteit van Kaapstad se besigheidskool onderneem is, het gereelde opnames gedoen oor maatskappye se regstellendeaksieplanne. Hierdie monitor het Eskom vanaf 1992 tot 1995 onder die topdrie- “regstellendeaksiemaatskappye” geplaas. Baie maatskappye het begin om Eskom se voorbeeld en regstellendeaksiemetodes na te volg.

Thula Bopela is in 1995, drie jaar voor die Wet op Gelyke Indiensneming aanvaar is, as korporatiewe regstellendeaksiebestuurder by Eskom aangestel. Volgens ʼn artikel wat hy op die Friends of Jacob Zuma-webwerf gepubliseer het, was sy eerste taak om die rassesamestelling van Eskom se werknemers te evalueer.

Sy bevinding was dat die Eskom-bestuur nog oorweldigend wit en manlik was. Volgens hom was die opdrag wat hy vanaf die raad ontvang het om met ʼn plan na vore te kom om swart werknemers se getalle op bestuursvlakke voor die einde van 1996 van 10% tot 25% op te stoot. Volgens hom sou die plan waarmee hy na vore gekom het massiewe bevorderings vir en aanstellings van swart werknemers op bestuursvlakke behels.

Hy skryf verder dat weerstand in die vorm van vereistes vir jare diens asook posvereistes teen die plan opgeduik het. Hy het toe ʼn opdrag van die raad gekry om swart Suid-Afrikaners aan te stel; nie volgens hul geskiktheid vir poste nie, maar volgens die potensiaal waaroor hulle beskik het om mettertyd wel daarvoor geskik te wees. Volgens hom het die weerstand veral vanaf wit mense gekom omdat hulle besef het dat as hulle kennis op dié manier moes oordra, hulle hul eie graf sou grawe.

In 1997 het Eskom se waarnemende bestuurshoof voor die Waarheid-en-versoeningskommissie getuig dat Eskom onderneem dat 50% van alle professionele, toesighoudende en bestuursvlakke teen 2000 deur swart mense gevul sou wees.

Eskom se fokus het van kragopwekking en -verspreiding na rassetransformasie begin verskuif. Die maatskappy het vanaf 1994 tot 2000 ʼn obsessie ontwikkel om sy rasseprofiel te verander.

Wit mense voel nie meer welkom nie

Solidariteit (destyds nog bekend as die MWU) se eerste regstellendeaksiesaak was ʼn Eskom-saak waarin hy namens Sarita van Coller opgetree het. Sy is in 1997 ʼn bevorderingspos geweier al was sy die beste kandidaat daarvoor. Nog voor regstellendeaksiewetgewing aanvaar is, was Eskom dus al in ’n dispuut met Solidariteit gewikkel en het die maatskappy bloedneus in die hof gekry.

Solidariteit se eerste saak namens ʼn bruin werknemer oor regstellende aksie was ook in Eskom. In die saak namens Leon Christiaans het Eskom getuig dat bruin Suid-Afrikaners minder teen gediskrimineer is in die verlede en dat dit daarom geregverdig was om ʼn swart kandidaat bo Christiaans aan te stel.

In ʼn regstellendeaksiehofsaak in 2000 tussen die MWU (wat namens Snyman en ʼn ander opgetree het) en Eskom, het Eskom getuig dat regstellende aksie deel is van bestuurders se sleutel-prestasiegebiede. Volgens die getuienis het Eskom gepoog dat al sy poste wat tot die jaar 2000 ekstern geadverteer sou word deur swart kandidate gevul moes word.

Dit was ook in dié tyd wat Eskom “plekmaakpakkette” aan wit personeel aangebied het. Miljoene rande is betaal om van wit mense ontslae te raak om “plek te maak” vir swart mense. Dit is veral ouer wit personeellede in meer senior posisies wat padgegee het. Volgens Eskom se eie getuienis in die Snyman-saak het die pakkette R800 miljoen beloop. In vandag se geldwaarde, aangepas volgens die verbruikersprysindeks, is ’n bedrag gelykstaande aan R1,8 miljard dus aan pakkette uitbetaal.

In 2001 het ek navorsing vir my meestergraad in bedryfsosiologie onder wit Eskom werknemers gedoen. Ek het bepaal wat die invloed van regstellende aksie op vervreemding van wit werknemers in Eskom was. In 2006 het ek die studie opgevolg met ʼn doktorale studie oor die invloed van regstellende aksie op die nie-aangewese groep.

Die uitkoms van die studie het ons almal geskok. Die vervreemdingsvlakke van wit werknemers was totaal onaanvaarbaar. Altesame 93% van die respondente het gemeen dat bevordering nie moontlik is deur eie harde werk nie. Ook het 93% gemeen dat hul bevordering bepaal word deur regstellende aksie. ’n Nog groter persentasie, 96%, was van mening dat bevordering nie volgens meriete geskied nie. Altesame 85% het gevoel hulle is nie deel van Eskom se toekomsplanne nie en 75% het gevoel hulle is nie meer deel van Eskom nie. Uit die respondente het 64% gevoel dat hul verhouding met hul swart kollegas as gevolg van regstellende aksie verswak het. Meer as die helfte van die respondente het gesê hulle oorweeg dit om Eskom te verlaat omdat hul geleenthede as gevolg van regstellende aksie beperk is. ’n Beduidende groot persentasie respondente (86%) was van mening dat regstellende aksie ʼn negatiewe invloed op produktiwiteit het.

Ek het die resultate met Eskom se menslikehulpbronhoof bespreek. Ek het toe aangedui dat die vervreemding van die organisasie se wit personeel te hoog is. Kennisoordrag gaan nie plaasvind nie; dit gaan ʼn invloed hê op produktiwiteit; daar is gevaartekens van grootskaalse depressie onder werknemers en ʼn reuse-uitvloei van vaardighede en kundigheid kon verwag word. Daar is ook aan die hoof genoem dat die uittog van wittes aan die hand van die studie verklaar kon word en dat die operasionele invloed van dié uittog op Eskom vernietigend kon wees.

As voorbeeld van hoe ernstig vervreemding van ʼn groep kan wees, het ek na die gedokumenteerde voorbeeld verwys van Indiese studente wat hulself in die 1990’s aan die brand gesteek het uit protes teen regstellende aksie.

Wat was haar reaksie? Sy het voor Solidariteit se Eskom-verteenwoordigers gesê dat ons onsself dan maar aan die brand moet steek.

ʼn Klimaat is geskep waarin wittes nie welkom voel nie. Wittes het Eskom in groot getalle verlaat. Van 1994 tot 2002 het minstens 10 207 wittes Eskom verlaat wat meer as die helfte van al die wit werknemers was.

In dieselfde tyd het die instelling slegs 546 swart werknemers verloor. Van 2002 tot 2014 is bykomend ongeveer 15 000 swart werknemers in diens geneem en die getal wit werknemers het dieselfde gebly.

Vaardighede en institusionele geheue

Die probleem is nie soseer dat die werknemers wat Eskom verlaat het wit was nie, maar dat dit mense was met bestuurs- en tegniese vaardighede. Dit was ook nie net vaardighede wat verlore gegaan het nie, maar ook institusionele geheue.

Indien 10 000 swart werknemers met ondervinding van tien jaar of meer Eskom vandag sou verlaat en hulle sou vervang word met wittes met geen ondervinding nie, sal dit ook uiters negatiewe gevolge inhou. Die argument is dus nie ʼn rasargument nie, maar wel ʼn argument oor die gevolge daarvan as ervaring en institusionele geheue vernietig word, of dit nou dié van swart of wit werknemers is.

Ongelukkig kan die verlies nie net met vaardighede vervang word nie. Institusionele geheue en die natuurlike aanvoeling wat met ondervinding gepaardgaan, is nodig in ʼn hoogs tegniese omgewing soos dié by Eskom.

Die verlies aan vaardighede en institusionele geheue het ʼn vertraagde effek – die gevolge daarvan word eers jare later gevoel.

Geen instelling kan so ’n verlies van vaardighede en institusionele geheue oorleef nie. Regstellende aksie het Eskom so gewond dat hy nooit herstel het nie.

Die ligte word nie in jaar een afgeskakel nie. Ons beleef nou die gevolge van Eskom se status as markleier wat regstellende aksie betref.

Die maatskappy het sy rassetransformasiedoelwit behaal, maar misluk wat sy vermoë om krag te voorsien betref. Etlike duisende mense is in poste, maar etlike miljoene mense se krag word daagliks afgeskakel.

Dít is die donker kant van regstellende aksie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Bruno Stef ·

Dirk dit is die waarheid en ons geaffekteerde personeel kan nog baie by jou skrywe byvoeg .Dit is net jammer dat ons nie sulke gerespekteerde bestuurders soos Dr Strazenzacker en John Maree kon dupliseer waarmee ons n leeftyd mee saamgekom het nie.Die probleem het in die 1990 ontstaan onder Ian mc Crae se kruiperigheid en misgeplaasde Do gooder filosofie.

Tommie ·

Die resultaat van regstellende aksie waarborg altyd swak diens en lae kwaliteit produkte. Ideologie is die belangrikste. Zimbabwe het dit al dekades gelede bewys!

Chris ·

Ja Dirk, jy slaan die spyker sekuur op sy kop met jou artikel. Ek wil net weet hoe dit moontlik is vir ‘n klomp volwasse mense om nie die gevolg van regstellende aksie raak te gesien het nie! Kan groot mense so dom wees? Veral waar jy mense met jare se ondervinding en opleiding bloot uit hul poste verwyder en mense met geen opleiding en ondervinding in hul poste aanstel. Dit is net soos wanneer ek ‘n jare lange elektrisien vervang met iemand wat nie eers elektrisiteit kan spel nie. En moenie ‘n fout maak nie! Dit gaan dwars oor die land so. Dit is hoekom die munisipaliteite, binnelandse sake, die poskantoor, die weermag, waterwese, die nasionale lugdiens, die polisie, noem maar op, uitmekaar val, en nie dienste lewer nie. Dit is hoekom daar ten duurste vanaf die buiteland, veral Kuba “kenners” ingevoer word om kamtig hier te kom help, maar uiteindelik gaan hierdie “kenners”
na ‘n tyd terug met sakke vol Suid Afrikaanse geld, en die probleme is nog steeds met ons.
Groete.

Dave ·

Onthou ook dat dit nie slegs voor die deur van die regering gelê moet word nie maar ook is elke enkele DA-ondersteuner skuldig daaraan want hulle ondersteun die regerende party se regstellendeaksiebeleid.

HARM ·

EK VERSTAAN DIE BESTUURDER VAN ARNOT KRAGSTASIE IS N VERPEEGSTER. KAN IEMAND UITVIND WAT HAAR KWALIFIKASIE IS

K. Watt ·

25 Maart. Daar werk tog beslis wel ‘n paar mense by Eskom wat verstand het. ‘n Fluitjieblaser het nl. ‘n baie vertroulike dokument laat uitlek. Eskom gaan volgende week Woensdag al sy krag verander van 220 V na 110 V. wat eintlik al ons probleme gaan oplos. Elektrisiteit sal nou tweekeer so lank hou; daar sal minder spanning en slytasie aan drade wees; die prys vir die gebruiker sal halveer (kan) word, maar die besluit hieroor sal later geneem word sodat Eskom eers uit die rooi kan kom; die koste om elektrisiteit te produseer sal halveer (uiteraard ook die salarisse van die topbestuur); dit sal baie veiliger wees vir mense om ongeoorloofde aansluitings te maak; dit sal baie werksgeleenthede skep om alle elektriese toestelle, motore, ens. ens. om te skakel; alles sal teen halwe spoed gedoen word wat ons arbeidsbevolking beter sal pas. Bogenoemde is maar net enkele voordele maar daar is baie meer, wat nie nou almal hier genoem kan word nie. Dit was ‘n voorstel wat ‘n pasgekwalifiseerde student gemaak het en die bestuur het hulle hande teen hul koppe geslaan dat hulle dit nog nooit besef het nie. Die grootste argument was dat Amerika ‘n man op die maan gesit het met 110 V, dus waarom moet ons met 220 V aansukkel ?
HOU VOLGENDE WOENSDAG DOP !!!!!
Vir Eskom het uiteindelik ‘n lig opgegaan !
K.Watt.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.