Eufemistiese terminologie van onteiening sonder vergoeding

Deur Martin van Staden

Martin van Staden.

Stel jou voor: Iemand stap by ‘n winkel in, vat ’n produk van die rak af, en stap uit sonder om daarvoor te betaal. Die eienaar storm uit, skreeu op die dief en bel die polisie. Duidelik het iemand nou net iets gesteel. Die volgende dag vind jy jouself in dieselfde winkel. Iemand stap in, vat ʼn produk van die rak af, loop na die betaalpunt en betaal niks. Nadat hy niks oorhandig het nie, stap hy uit. Die eienaar gaan aan met sy dag en niemand bel die polisie nie. Niks is gesteel nie, word jy vertel, want die persoon het mos betaal, al was dit R0,00.

Hoe nou? Wat is die verskil tussen die twee situasies? In die eerste situasie het die dief geloop sonder om te betaal. In die tweede situasie het die koper tegnies nul betaal. Lees mooi: Die koper hét betaal, maar die bedrag wat hy betaal het, was R0,00.

Indien jy dink hierdie spul maak geen sin nie, sal jy korrek wees. Maar dit is nie ’n grap nie. Dit is hoe die Suid-Afrikaanse regering die konsep van onteiening sonder vergoeding benader in sy wysigingswetsontwerp op artikel 25 van die Grondwet.

Volgens die voorgestelde 18de wysigingswetsontwerp op die Grondwet mag die regering eiendom onteien vir “nul” vergoeding. Dit is regstaal vir: Die regering mag eiendom konfiskeer sonder om daarvoor te betaal. Teen dié tyd verstaan baie Suid-Afrikaners wat onteiening sonder vergoeding is, waarom die regering sê hy hom daarmee ophou, en hoekom dit rampspoedig gaan wees. Maar die terminologie van “sonder vergoeding” en vir “nul vergoeding” is ook regtens relevant, want dit is bedrieglik en eufemisties.

In middel Februarie 2021 het die parlement se kantoor vir konstitusionele- en regsdienste, in ’n voorlegging vir die parlementêre ad hoc-komitee wat verantwoordelik is vir die wysiging, dit duidelik gestel. Vergoeding vir onteiening is internasionale beste praktyk: Dit is ’n wêreldwye verskyning dat vergoeding betaal word wanneer ’n regering privaat eiendom onteien. Suid-Afrika kan nie teen hierdie universale neiging gaan nie. Daar moet ’n betaling van vergoeding wees, aldus die parlementêre regsdienste.

Maar aangesien die parlement besluit het dat die regering die mag moet hê om te onteien sonder vergoeding, gaan die regsdienste voort, kan die bedrag van vergoeding – wat moet betaal word – nul wees. Met ander woorde, die regering moet, soos internasionaal verwag word, betaal wanneer hy eiendom vat, maar die hoeveelheid wat die regering “betaal” kan R0,00 wees.

Dus, argumenteer die regsdienste, moet die parlement nie die frase “sonder vergoeding” gebruik nie, maar “nul vergoeding”.

“Die wetsontwerp kan dus nie die konsep van vergoeding (deur om ‘sonder vergoeding’ te gebruik) uitsluit nie, maar kan wel die hoeveelheid vergoeding nul rand maak, wat in die praktyk dieselfde effek het, maar regstegnies korrek is,” aldus die regsdienste.

Waarom is dié storie relevant, mag jy vra? Hulle wil eiendom vat sonder om daarvoor te betaal, en dit is al wat saak maak. Maar terminologie is belangrik, en veral in die openbare diskoers moet eufemismes beslis vermy word. Tydens die Joodse volksmoord het Duitse staatsbeamptes en hoë-offisiere ná die uitwissing van die Jode verwys as “ontruiming” of “spesiale behandeling” om die werklike aard van wat hulle mee besig was, weg te steek. Ander vergelykbare voorbeelde was teenwoordig tydens die Rwandese volksmoord.

Maar dit is nie beperk tot sulke gruwelike gebeurtenisse nie. Wanneer iemand aangerand word, word dikwels gesê dat hulle ’n “les geleer” word. Ook in die ontduiking van belasting word inkomste as “donasies” voorgehou. Hierdie is alles gevalle waar ‘n tegniese vorm gebruik word om die werklike inhoud van ’n aksie of transaksie weg te steek.

Die verwysing na “nul vergoeding” in die plek van “sonder vergoeding” het reeds die regering se misleidende narratief in die internasionale diskoers bevoordeel. Onlangs het ’n Kanadese kollega, wat in alle ander opsigte met my sal saamstem oor die belangrikheid van eiendomsregte en die gevare van onbeperkte regeringsmagte, die wysigingswetsontwerp as “goedaardig” beskryf.

Maar die wysigingswetsontwerp is alles behalwe goedaardig. Waar Suid-Afrikaners tot op hede ’n ongekwalifiseerde reg tot vergoeding gehad het – ’n internasionaal-erkende basiese mensereg – gaan ons voortaan ’n erg ingekorte “reg” tot vergoeding hê wat heeltemal afhang van hoe regeringsamptenare hul diskresie uitoefen. Die regering word in staat gestel om op die ingewing van die oomblik te besluit of hy vergoeding vir eiendom wil betaal of dan nie.

Gewone landsburgers en buitelandse investeerders, wat geen misdaad of onregmatige daad gepleeg het nie, sal deur die regering finansieel heeltemal uitgewis kan word. Slegs diegene met die hulpbronne om so ’n saak hof toe te neem en vir jare te litigeer, sal ’n kans staan om iets te kry vir hul eiendom, en slegs indien die regering se besluit arbitrêr of willekeurig was.

Dit is dié realiteit wat die parlement probeer wegsteek met sy “nul vergoeding”-eufemisme. Ons sal altyd betaal, moet nie bekommer nie! So sê die regering. Dat die wanvoorstelling wel werk – dat regsgeleerdes en internasionale waarnemers daarvoor val – is self vir my verwarrend. Dit bly nietemin belangrik dat ons herken wat die regering werklik mee besig is: Grootskaalse diefstal geklee in die skyn van legaliteit.

  • Martin van Staden is ’n regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga. Hy studeer tans aan ’n doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Pretoria. Vir meer inligting besoek martinvanstaden.com.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bees Boer ·

Dankie vir die insiggewende artikel, Martin. Doen so voort.
Nog ‘n eufemisme is “vryheidsvegter” i.p.v. “terroris”.

annie ·

Navorsing toon dat alle grootmense (diegene wat die verskil tussen hul linker- en regterhand ken) gewetens het en weet wanneer hul verkeerd optree. Nou wil mense deur sulke verdraaiings hulself en ander probeer oortuig dat hulle binne die wet van die staat of die gewete, reg doen, om nie skuldig te voel of te wees nie. Selfgeregtiging is dus vooropgestel. Dis waar human rights vandaan kom. If it is (a) right it is right.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.