Europa in stroomversnellings

Europa beleef naas die impak van geopolitieke grondverskuiwings en oorlog ook demografiese verswakking, interne veelgroei en fel ideologiese stryde wat nuwe kulturele, ekonomiese en politieke ordes skep. Dit bly te besien in watter mate Wes-Europese denkers, amptenare, politici en sakelui beter sal vaar en in watter mate hulle vervang moet word voor nuwe uitkyke, lewenskrag en prestasies na vore kan tree.”

Vlag van die Europese Unie (Foto: Elias/Pixabay)

Die uitbreek van Russies-Oekraïense oorlog in Februarie 2022 was vir baie Wes-Europese rolspelers ʼn wakkerskrikoomblik. Jarelange oortuigings oor hoe die wêreldpolitiek werk en ʼn gevoel van morele meerderwaardigheid oor hoe dit behoort te werk, is as kragteloos onthul.

Die idee dat globalisering noodwendig demokrasie en vrede bevorder, het lank Wes-Europese regerings se beleid teenoor Rusland en China help vorm. Vrede sou daarvolgens veral verseker word deur internasionale reg, internasionale handel en multilaterale instellings. Daar was te min aandag vir magsverhoudings, afskrikking, en verskillende perspektiewe oor belange.

Die hoonlag van Duitse diplomate oor die Amerikaanse president Donald Trump se aandrang dat hulle hul 2% bydraes aan NAVO-verdediging gee en minder afhanklik raak van Russiese gas, het intussen verdwyn. Die Duitse leër se inspekteurgeneraal moes in Februarie 2022 toegee dat die Duitse weermag nie behoorlik sy vyande kon afskrik of sy NAVO-verpligtinge kon nakom nie.

Die Duitse reusebeleggings in hernubare energie, die veroordeling van kernenergie en die veldtog teen olie en gasbronne is lank as deugdelik geprys. Skielik het dit geblyk dat die Duitse en etlike ander Europese regerings nie daarmee energieveiligheid verseker het nie. Hulle moes skarrel om alles van steenkool en ingevoerde kernkrag tot heronderhandelde gasvoorrade en olie te verkry.

Veelgroei in Europa

Die EU se hoofdiplomaat, Josep Borrell, het ietwat gefrustreerd in 2022 in die publiek sy amptenare betig dat hulle ʼn beeld van morele meerderwaardigheid en tegnokratiese selfoorskatting het. Die selfgenoegsaamheid is egter nie ʼn onlangse tendens nie. In 2011, toe die Arabiese Lente uitbreek, was daar groot geloof dat demokrasie nou aan baie deure in die Midde-Ooste gaan klop. Ek het ʼn Israeli-diplomaat destyds gevra hoe hy Europese denke daaroor sien, en sy antwoord was: “Ek voel soos Alice in Wonderland.”

Josep Borrell, hoof van buitelandse beleid van die Europese Unie, op 18 April 2023. (Foto: Frederick FLORIN / AFP)

In 2014 was dit my beurt om só te voel. In daardie jaar het pro-Russiese rebelle in Oekraïne op Europa se oosgrens aktief geraak en het die Islamitiese Staat dele van Irak en Sirië oorgeneem. Ek skryf in September 2014 in ʼn internetblad, World Politics Journal, dat dit ʼn tydperk van onderbroke ekwilibrium is. Europa maak prosesse van veelgroei of multimorfose wat uiteenbeur mee, wat nuwe komplekse uitdagings meebring. Die oordeel oor veelgroei was in stryd met die amptelike propaganda van een al hoe meer eensgesinde transnasionale orde in die Europese Unie (EU):

Sleutelstate soos Duitsland en Frankryk sal dikwels die sterker kaarte hê. Die politieke sentrum in baie individuele lidstate het ook verswak. Die politiek van klas, generasie en identiteit leef op van Vlaandere en Katalonië tot Italië en Hongarye. […] Die hulpbronne, demografie en kragte om Europese waardes te verdedig is nie optimaal vir die take wat wag nie. […] In die komende jare sal Europese geopolitiek onderworpe bly aan snel verskuiwings en ongerigte ontwrigtings.”

Die proses van multimorfose is miskien die beste versinnebeeld deur die Visegrad-lande in Oos-Europa se optrede en die referendumuitslag ten gunste van Brexit of Brittanje se verlating van die EU. Wes-Europese ontleders wat bloot die moontlikheid van ʼn ja-stem in die Brexit-referendum in 2016 erken het, is skeef aangekyk asof jy die Brexit-kamp steun. Globalistiesgesinde meningsvormers het dit ondenkbaar geag dat kiesers hul voorkeur vir meer nasionale beheer oor politieke, ekonomiese en migrasiebeleid bo die ekonomiese voordele van EU-lidmaatskap sou laat seëvier.

Brexit is ten spyte van direkte en indirekte druk wel goedgekeur deur Britse kiesers en het die EU se tweede grootste ekonomie en van sy beste veiligheidsmagte verwyder. Brittanje en die VSA se AUKUS-alliansie het daarna ook geopolitieke frontlinies verskuif.

Hantering van polikrisis

Die interne drukkragte van veelgroei of multimorfose in Europa duur intussen voort. Ander skokke vir die Europese stelsel is afsonderlik maar hulle wisselwerking is deesdae by tye meer oorweldigend as die onderdele saam. Vir ontleders en besluitnemers voel dit soms asof hulle en hul instellings, prosesse en raamwerke hulle sin vir die werklikheid kwytraak, weens die uiteenlopende en kruissnydende stel uitdagings.

Edgar Morin, die denker oor kompleksiteit, het die verskynsel van polikrisis in die 1990’s die eerste keer beskryf. Jean-Claude Juncker, die Europese Kommissie se president tydens die massamigrasie van 2015 en die Brexit-gebeure, het in 2016 na polikrisis verwys. Die publiek in verskeie Europese lande merk ook dat regerende politici nie in staat lyk om alles te bemeester nie, of sigbaar sukkel.

Weens lank opgeboude stelsels kon mense ongeag hulle idees relatiewe veiligheid en welvaart beleef. Hulle kon selfs vergeet van die eerste sinjale soos Wladimir Poetin se waarskuwings en die Russiese geweldpolitiek in Oekraïne in 2014. Die onwilligheid van baie meningsvormers en leiers om die mislukkings van hul beleide oor migrasie en integrasie onder oë te sien, lei reeds jare tot pynlike leerkurwes onder burgers en gemeenskappe.

Bruno Kahl, die hoof van die Duitse buitelandse intelligensiediens (Bundesnachrichtendienst of BND) (Foto: KAY NIETFELD / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Bruno Kahl, die hoof van die Duitse buitelandse intelligensiediens (Bundesnachrichtendienst of BND), sê in Oktober 2022 die dominante uitkyk oor jare was om bedreigings te ignoreer of met morele of politieke idees te verdring. Te veel bestaande Wes-Europese denktenks, amptenare en politici se vorige rekord hieroor is plek-plek gehawend. Sommige regerings het selfs buitemense ingebring om te verseker dat sleutelaannames en gevolgtrekkings deurdringender bevraagteken en verbeter word. Soos een van hulle by ʼn konferensie oor die toekoms van oorlog in Amsterdam verklaar het, doen hulle dit al voel dit asof hulle een keer ʼn week metafories gesproke mekaar se gesigte inmekaar slaan.

Dit moet nog blyk watter lesse hierdie meningsvormers en leiers leer uit die waarskuwingsligte, die mislukking van afskrikking en die bloedigste oorlog op Europese grondgebied sedert 1945. Vir hulle, en vir die postheroïese samelewings in Wes-Europa, is dit ʼn tydperk vol onbekende uitkomste en ongebaande weë.

Geopolitieke grondverskuiwings

Europese leiers moet nie alleen ʼn veelgroei en polikrisis hanteer nie, maar hulle bevind hulself in ʼn wêreld waarin geopolitieke grondverskuiwings plaasvind. Die VSA is besig om sy ekonomiese, regulatoriese, tegnologiese en militêre mag intensief te gebruik om die sterkste supermag te bly. In plaas van vryhandel, volg president Joe Biden ʼn proteksionistiese nywerheidsbeleid wat ironies genoeg voortbou op sy voorganger Donald Trump se beleid hieroor.

Die VSA bevorder strategiese ontkoppeling van China binne die globale ekonomie. Om ʼn voorsprong “so groot as moontlik” in sleuteltegnologieë te kry is nou ʼn sentrale doel, volgens die Amerikaanse nasionale strategiedokument in Oktober 2022. Die VSA beperk China se toegang tot halfgeleiertegnologie, kapitaalmarkte en beleggingskanse deur uitvoerbeperkings. Die Biden-administrasie oorweeg verdere streng beheermaatreëls in gebiede soos kunsmatige intelligensie, biotegnologie, kwantumrekenaars en ander tegnologie. Intussen bevind Australiese navorsers dat China in 37 van 44 sleuteltegnologieë die voorloper is.

Pres. Joe Biden (Foto: MANDEL NGAN/AFP)

Die VSA is bewus daarvan dat sy ontkoppelingsbeleid teenoor China nie-Amerikaanse bedrywe mag aanspoor om die vakuum te vul. Dit plaas dus druk op sy militêr swakker Europese en Asiatiese bondgenote om soortgelyke toegangsbeheer in stel. Die VSA gebruik die huidige momentum teen Rusland daarvoor. Die VSA voer tans ook die grootste transformasie in sy veiligheidsposisie in ʼn generasie in Asië deur.

Seleksieproses

Die Europese reaksies op die spanning tussen die VSA en China wissel per party, regering, bedryf en kwessie. Dat groot rolspelers in Asië, Afrika en die Midde-Ooste oor die Russies-Oekraïense oorlog ongebonde posisies ingeneem het, het Europese magte onkant betrap. Die vermeende Europese sagte mag van waardes het werklik baie sag geblyk te wees.

China het toegang tot die 17 seldsame aardminerale wat ʼn sleutelrol speel by sake van windtorings en sonpanele tot slimfone en elektriese motors. Europese politici en amptenare is nou meer bedag daarop om afhanklikheid van China te beperk en alternatiewe verskaffers te soek. Etlike firmas probeer egter hul bestaande kanse in China nie benadeel nie.

Die veiligheidsektor in Wes-Europese lande kyk wel met arendsoë na bondgenote van Rusland en China. “Rusland is die storm, China is die klimaatverandering. So ons sal ons moet regmaak vir hierdie klimaatverandering in die komende jare”, was die boodskap van Thomas Haldenwang, die hoof van die Duitse Bundesverfassungsschutz (binnelandse veiligheidsdiens) in Oktober 2022.

Bruno Kahl van die BND het op 17 Oktober 2022 ook gewaarsku oor ekonomiese spioenasie deur China: “China probeer om deur kuberaanvalle wetenskaplike en ekonomiese kennis uit Duitsland te haal om teen 2049, die jaar van die honderdste verjaardag van die magsoorname deur die kommuniste, sy doelstelling te behaal om die grootste mag ter wêreld te word.”

Die patronaatpolitiek van die ANC en sy geopolitieke steun aan China sal dus verwikkeld bly met die intense mededinging tussen die VSA en China en Europese posisionering. Dat etlike myngebiede in Suid-Afrika neerslagte van die skaars aardminerale het, en dat ANC-faksies en Chinese mynkonsessies verwikkeld is, sal nie ongemerk verbygaan nie.

Die ANC se topsewe (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Europa beleef naas die impak van geopolitieke grondverskuiwings en oorlog ook demografiese verswakking, interne veelgroei en fel ideologiese stryde. Hierdie ontwikkelings sal totaal nuwe kulturele, ekonomiese en politieke ordes te skep. Wes-Europese denkers, amptenare, politici en sakelui word dus aan ʼn nuwe keuringsproses in Europa en wêreldwyd onderwerp. Dit bly te besien in watter mate hulle beter sal vaar en in watter mate hulle vervang moet word voor nuwe uitkyke, lewenskrag en prestasies na vore kan tree.

Afrikanerbeheerde organisasies en firmas sal voortgaan om hulle kulturele en ekonomiese bande met Europa te handhaaf en te bou. Terselfdertyd sal hulle soos voorheen bedag moet bly op verskillende strominge en onverwagse wendings op streeks- en wêreldvlak. Vir sommige van hulle sal strategiese samewerking met een of meer Europese rolspelers by projekte van desentralisasie, ontwikkeling, interkulturele skakeling en kulturele kragopwekking sinvol wees. Vir vele mag ʼn onafhanklike posisie en “ad hoc”-vennootskappe per projek egter ʼn goeie verstekopsie bly.

Hierdie is ‘n verwerking van die aanbieding gelewer by Akademia se ‘Konferensie oor die uitwerking van nuwe energiebelange op die desentralisering en sentralisering van politieke mag in Suid-Afrika’ op 29 Maart 2023. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee beklee die ere-leerstoel in veiligheidstudies by Akademia en is ʼn politieke ontleder in Nederland vir bedrywe in die Midde-Ooste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

‘n Uiters interessante, puik artikel!

Die verguisde president Trump se waarskuwing aan “meerderwaardige” NAVO-lede en die bewaarheid van sy woorde verskaf groot genoegdoening.
Ook die feit dat China die voorloper is in 37uit 44 sleuteltegnologieë behoort ego’s verder te knou.

Goeie advies in die laaste paragraaf.

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie leersame artikel! China bly meester beplanners. Hulle het vyf-jaar planne wat dekades vooruit beplan word. Êrens in die toekoms sal hul politieke bedeling egter verander. Dan sal hulle ook soos Amerika aanvoeter van verkiesing tot verkiesing. Intussen kan Afrikaners hierdie strominge aanwend om nuwe plaaslike staatkundige strukture in plek te kry. Die ANC weet nie watter perd om op te saal nie. Ons moet die geleentheid benut om dit brutaal uit te buit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.