Europese Unie kondig allemintige korona-hulppakket aan

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Francois Mori, Pool)

Duitsland en Frankryk se leiers, Angela Merkel en Emanuel Macron, het met ʼn plan vorendag gekom om €500 miljard beskikbaar te stel as hulp vir die lande van die Europese Unie wat besonder swaar kry onder die impak van die koronapandemie.

Kort daarna het die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, die voorstel aangegryp en nog €250 miljard bewillig, dus ’n hulppakket van altesaam €750 miljard. Daarvan is €500 miljard nieterugbetaalbare fondse en €250 miljard krediete met ’n baie lae rentekoers en ’n lang terugbetalingsperiode.

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Dit is egter onduidelik hoe die lande wat veral by die hulpfonds sal baat en reeds nou diep in die skuld is, soos Italië, Spanje en Griekeland, ooit daardie bedrae sal kan terugbetaal. Die vermoede is dus dat die hele €750 miljard eintlik as donasie gegee word en die skuld later afgeskryf sal word.

Die Duits-Franse tweemanskap het reeds met die Griekeland- en Euro-reddingspakkette die gewone rolverdeling gehad: Frankryk speel veral die rol van die sjarmante verkoopsman en die pleitbesorger van die arm Suide, terwyl Duitsland die rekening vereffen. In die verlede was Duitsland nog in ’n mate finansieel konserwatief en het byvoorbeeld die idee van Euro-effekte, wat die destydse Franse president Francois Hollande voorgestaan het, verwerp.

Giuseppe Conté. Foto: (Roberto Monaldo/LaPresse via AP)

Macron, Hollande se opvolger, en ook Italië se eerste minister, Giuseppe Conte, het aanvanklik die Euro-effekte herverpak en as korona-effekte probeer verkoop, maar Duitsland wou nie daaraan byt nie. Hoe Macron Merkel nou kon oortuig van die gesamentlike €500 miljard-hulppakket, bly vir eers ’n raaisel, alhoewel Merkel nie bekend is vir haar standvastigheid en beginsels nie en alles ondergeskik stel aan die begeerte om deur die meningsvormers geprys te word.

Hierdie tamaai hulpfonds sal wel ook die skuldvlakke van die lande wat finansieel stabiel is en meer konserwatief werk, opjaag – dit is nou (behalwe Duitsland) Oostenryk, Nederland en die Skandinawiese lande. Behalwe vir die hulpfonds wat deur die Europese Unie aan sy arm ledelande gegee word, het talle lande, by name Duitsland, reeds reusebedrae bewillig om die gevolge van die koronapandemie in hul eie land te versag.

Foto: Pixabay

Duitsland kon dit doen danksy rekordbelastinginkomste verlede jaar, maar Italië, Spanje en ander was reeds voor die koronapandemie diep in die skuld en het ʼn ekonomie wat sterk van toerisme afhanklik is – ’n sektor wat seker die hardste van almal deur die koronapandemie getref is. Eintlik kom die hulpfonds nou daarop neer dat alle EU-lande gesamentlik die verantwoordelikheid vir die skuld dra – iets wat wel volgens die verdrag van Lissabon verbied word, maar in praktyk reeds gebeur.

Van die €750 miljard gaan die grootste deel aan Italië (€172 miljard) en Spanje (€140 miljard) wat sowel deur die koronapandemie as die ekonomiese nagevolge besonder hard getref is. Ook Griekeland kry, gemeet aan sy klein bevolking, met €32 miljard ’n aansienlike deel, meer nog as Duitsland (€29 miljard) wat die grootste bevolking in die Europese Unie het.

’n EU-vlag voor die Europese parlementsgebou in Straatsburg, Frankryk. (Foto: Jean-Francois Badias, AP)

Die geld wat nou so uitgedeel gaan word, gaan eers as skuld op die kapitale markte opgeneem moet word. Dit sal neerkom op die Europese Reserwebank as kredietverskaffer, wat ook in die verlede alle nodige gelde vir die Euro-reddings beskikbaar gestel het. Volgens die Europese Kommissie se plan sal die skuld deur allerhande nuwe EU-belastings weer ingewin word, soos belasting op koolstofdioksied of op digitale dienste.

Duitsland se stem van rede en matigheid as dit by finansies kom, is iets van die verlede. Brittanje, wat ook altyd skepties was oor gesamentlike finansiële avonture waarvoor almal moet pa staan, is danksy Brexit nie meer in die EU nie, en dank seker hul sterre vir die Brexit-referendum en vir Boris Johnson.

Daar bly ’n groep van klein, spaarsamige lande in die EU oor wat hul teenkanting teen die plan uitgedruk het en slegs terugbetaalbare krediete wil toestaan. Dit is Oostenryk, Denemarke, Swede en Nederland. Of hulle egter teen die gesamentlike mag van Duitsland, Frankryk en die Mediterreense blok sal vasstaan, is te betwyfel.

Ursula von der Leyen. (Foto: Olivier Hoslet, Pool Photo via AP)

Of Von der Leyen, wat met hoogdrawende woorde die hulppakket van miljarde aangekondig het, eintlik weet wat sy daar belowe en hoe dit gefinansieer gaan word, weet nugter. Sy is nie bekend as iemand met deeglike ekonomiese kennis nie, net so min soos Merkel. Weer eens word groot emosie en patos bemoei: dit gaan, soos met die Griekeland-redding, die Euro-redding, die vlugtelingkrisis, die klimaatverandering (oor die groot geheel) oor die gees van Europa, oor solidariteit en saamstaan, oor die toekoms, en dit is blykbaar net nog dié een keer. Ondervinding wys egter daarop dat die volgende groot reddingsprojek net om die draai is.

Hoekom net die arm lande van Europa help wat onder korona se nagevolge gebuk gaan? Wat van Afrika, van Asië, van Latyns-Amerika? As dit oor globalistiese doelwitte gaan, is geen opoffering te groot nie en ken solidariteit geen grense nie.

Von der Leyen, Merkel, Macron en ander globaliste deel soos ’n wafferse Robin Hood geld aan ander uit wat hulle eers van iemand moes wegneem. Wel, nie van die rykes nie, want hulle is deel van die globalistiese elite, maar van Jan en San Alleman in die vorm van al hoe meer belastings en al hoe groter skuld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

En dit sal nie uitgehandig word met BBE reels nie, maar met regverdigheid aan almal!

Willem ·

Dit sal ook op die regte plekke uitkom daar is nie diewe soos hier nie

Therese ·

Die astronomiese ‘reddingsbedrae’ wat genoem word, in die EU en ook ander westerse lande, laat enige redelike persoon na sy asem snak. Geld groei nie aan bome nie, maar iewers word ‘n hele plantasie gestroop!
Intussen lag China in sy mou, want polities korrekte Westerse staatshoofde se renons in Donald Trump weerhou hul van noodsaaklike en daadwerklike stappe om toekomstige tragedies te voorkom.
Deel ten volle die sinisme wat deurskemer in hierdie artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.