Foucault en Jung: ’n pleidooi vir historiese normaliteit

Deur Daniël Goosen

Daniël Goosen.

Dit is algemene kennis dat die geskiedenis wat ons kinders op skool leer, onderlê word deur die ANC se ideologiese vertrekpunte. Dit is ’n eng vertolking van ons geskiedenis. Sekere stemme word daarin as boos bestempel en ook stilgemaak, terwyl andere weer as goed beskryf en ook verhef word. Die vraag is egter lankal nie meer of dit goed of sleg is nie. Daardie antwoord is redelik vanselfsprekend. Die ware vraag is, waar kom hierdie lees van die geskiedenis vandaan? Wat is die teorie agter hierdie teorie? En hoe kan dit gekritiseer word?

Die groot verrassing is dat die ANC se lees van die geskiedenis uit die mond van ’n oorle Fransman kom. Vir ons departement van basiese onderwys om kennis te neem van die Franse kafee-filosofie van die 1970’s is iets van ’n wonderwerk – aangesien die departement onder meer sukkel om handboeke betyds af te lewer. Tog, in hul gr. 10 tot 12 CAPS-geskiedeniskurrikulum sal mens tussen al die temas en assesseringsvereistes die departement se definisie van geskiedenis raaklees. Dit is nie veel meer as ’n paragraaf met ’n paar ondergaande punte nie. Dit bevat egter hierdie volgende sin: “The study of history also supports citizenship within a democracy by promoting human rights and peace by challenging prejudices that involve race, class, gender, ethnicity and xenophobia.” Op die oog af lyk dit onskuldig genoeg, maar ’n dieper lees van hierdie sin sal dit duidelik maak hoe gevaarlik hierdie stelling werklik is.

Om die probleem te identifiseer, moet ons by sy oorsprong begin, naamlik die Franse filosoof, Michel Foucault. Kennis moet geneem word van wat die man gesê het, gegewe die feit dat sy gees vandag oor die Westerse intellektuele kultuur heers. Of ons vandag praat oor vryheid van spraak, sensuur op sosialemediaplatforms, “cancel culture” en die linkse beheptheid met identiteitspolitiek – ’n begrip van Foucault bied vir ons ’n sleutel om hierdie hele skema te ontrafel.

Foucault het met ’n reduksionistiese sosiale program gewerk. Soos wat Karl Marx die mens tot ’n funksie van sy ekonomiese klas gereduseer het, so het Foucault die hele menslike toestand tot ’n kwessie van mag gereduseer. Die strewe na mag, die behoud van mag en ook die proses om ander van mag te ontneem – dit alles staan in die hart van sy vertolking van die geskiedenis. Die vooronderstelling waarop Foucault se analise rus, is dat die groep wat oor mag beskik, as die onderdrukker beskou moet word. Om mag oor ander uit te voer, sê Foucault, is per definisie boos, al het hy terselfdertyd volgehou dat daar nie iets soos ’n objektiewe oordeel oor iets gefel kan word nie. Ironies.

Foucault het geargumenteer dat die wyse waarop ’n sekere kultuur oor ’n idee nadink, met tyd verander. Neem byvoorbeeld die idee van seksualiteit. Volgens Foucault verander ons beskouinge oor seksualiteit. Vandag word seksualiteit op een manier gesien, gister het ons dit anders bedink. Alles met die vooronderstelling dat dit eintlik relatief is. Daar is nie ’n regte of goeie manier om daaroor na te dink nie, ons waardes en norme is slegs sosiale konstruksies van ’n bepaalde tyd. Niks meer of minder nie.

Volgens Foucault is die belangrike vraag wie diegene is wat hierdie norme en waardes vasstel. Foucault het aangevoer dat dit diegene met mag is, wat die samelewing organiseer – veral met die oogmerk om hul mag te behou en dus natuurlik ook “die ander” te marginaliseer. Foucault het hierby twee verdere standpunte gevoeg. Mag word eerstens gesentreer rondom sekere identiteitsgroepe en, tweedens, word taal – die openbare diskoers – gebruik om hierdie mag in stand te hou en uit te brei. Met hierdie skema in gedagte argumenteer Foucault dat heteroseksuele homoseksuele onderdruk – nie omdat een reg of verkeerd is nie, maar omdat heteroseksuele hul mag as die dominante groep in die samelewing wil behou. Op dieselfde wyse het hy ook die verhouding tussen mans en vrouens, tussen wit mense en mense van kleur, ensovoorts, benader. Ingevolge hierdie skema staan die een groep op ’n uitsluitende grondslag teenoor die ander groep. Jy het as indiwidu eintlik nie ’n stem hierin behalwe as ’n stem van die groep waaraan jy behoort nie. Jy is nie veel meer as net ’n avatar vir die groepsbelange nie. Dus, as die groep boos is, is jy ook boos. Ongeag van jou eie persoonlike sieninge, omdat hierdie proses, volgens Foucault, grootliks onbewustelik plaasvind.

In vele opsigte loop die skema van Foucault daarop uit om ’n groot sondaar uit te sonder: die wit Westerse man. Hy werk, onder meer, met die idee van wit heerskappy, ingevolge waarvan die Weste vanweë sy geskiedkundige onderdrukking van verskillende identiteitsgroepe per definisie ondermyn moet word. Hetsy of die onderdrukking op grond van ras, geslag, seksualiteit of etnisiteit was.

Enigiemand wat dus in die openbaar ’n voorspraak maak vir tradisionele Westerse kultuur of waardes moet as deel van die probleem afgemaak word. So ’n persoon word summier bestempel as ’n onderdrukker, of word gebrandmerk met enige van die relevante sinonieme soos rassisme, seksisme, homofobie, fascisme, ens. Ongelukkig het hierdie lesing van die geskiedenis weinig met feite uit te waai. Dit kan eerder as ’n postmoderne ideologie beskryf word.

In antwoord op hierdie ideologiese lees van die geskiedenis moet bepaal word wat ’n ideologie is. Die psigoanalis, Carl Jung, het ’n ideologie beskryf as ’n gebroke geloof. ’n Geloof wat blind op een been staan en wat met ’n halwe tong praat. Waar ’n goed gefundeerde geloof die wêreld en ons bestaan as kompleks, diep en multidimensioneel sien, huldig ’n ideologie ’n eenvormige en plat siening. Dit gee ’n raamwerk om die wêreld mee te interpreteer, maar dit is hoogstens tweedimensioneel. Jung bedoel daarmee dat ’n ideologie ’n denkstruktuur is wat om een idee wentel – vir Foucault is dit mag, vir Marx is dit die ekonomiese klassestryd – en wat die ganse menslike bestaan tot hierdie een element reduseer.

Ideologieë teer gewoonlik op ’n dieper en ouer waarde, soos in beide die bogenoemde gevalle, die waarde van geregtigheid. Geregtigheid moet geskied en mag of geld moet op ’n gelyke basis deur almal gedeel word. In die proses word diegene wat oor mag beskik, per definisie as boos bestempel en diegene sonder mag – ekonomies of andersins – neem ’n heilige gedaante aan.

Met ander woorde, die ganse geskiedenis word ’n spel tussen onderdrukker en onderdrukte – met die Westerse man wat die groot boosaard in hierdie drama speel. Die verdere byskryf is dat die Westerse man aan die hoogtepunt van sy sondes gemeet moet word. Met ander woorde, volgens hierdie projek is die Spanjaard wat in 711 n.C. deur Moslem-magte oorrompel is, eintlik ten harte dieselfde Spanjaard wat die inheemse bevolkings van Amerika in die 15de eeu onderdruk het. Die historiese konteks word nie in ag geneem nie, want die groep word gemeet aan hul foute – of hierdie foute nou eeue in die verlede of die toekoms is, is irrelevant. In ons eie konteks word Afrikanerhelde en -leiers op dieselfde wyse hanteer. Oudpresident Paul Kruger, wat per definisie ’n vryheidsvegter teen die koloniale orde was, word gelees as verantwoordelik en selfs aandadig aan apartheid en is dus ’n bose figuur. Dieselfde geld vir oudpresident MT Steyn, Koos de la Rey en Christiaan de Wet.

In dieselfde asem word die onderdrukte gemeet aan sy slagofferstatus en nie sy gegewe omstandighede nie. In Amerika word daar steeds verwys na slawerny as die hoofoorsaak van die ekonomiese toestand van die swart gemeenskap. In Suid-Afrika word apartheid steeds blameer vir omtrent elke probleem in die land, hetsy dit armoede of gebrekkige infrastruktuur is. Die idee dat iemand persoonlik verantwoordbaar vir sy/haar foute is of dat daar iets soos persoonlike verantwoordelikheid is, word eenvoudig verban.

Ingevolge die Foucault-skema kan daar inderwaarheid geen verstandhouding tussen verskillende kulture en gemeenskappe wees nie. Die departement van basiese onderwys se stelling dat hierdie vertolking van die geskiedenis vrede en menseregte gaan bevorder, is loutere bog. Slegs ’n opregte, gebalanseerde en wyse lees van die geskiedenis kan dit doen.

Kom ons gebruik die voormalige Amerikaanse president Donald Trump as ’n gevallestudie. Trump word gesien as die versinnebeelding van alles wat rassisties en seksisties is – dit alles met die verdere byskrif dat hy alles in sy vermoë doen om die “wit man” in sy magsposisie te behou. Hetsy dit nou sy ekonomiese weerstand teen China of sy Amerika-eerste-beleid is, word dit alles geïnterpreteer as ’n poging om sy “groep” se magsbelange te beskerm. Op sosiale media word hy vergelyk met die Emperor in Star Wars, met Sauron in The Lord of the Rings, en selfs met ’n fascistiese diktator. Enigiemand wat vir Trump in die verkiesing ondersteun het, word oor dieselfde kam geskeer. Volgens Foucault se skema het die media die onderdrukker geïdentifiseer. Stap twee is om die openbare diskoers oor te neem. Deur Trump van beide Twitter en Facebook te verban, asook deur enige iemand te probeer stilmaak wat hom ondersteun, het die linkse wêreld dit reggekry om nie net sy stem stil te maak nie, maar ook beheer oor die openbare diskoers oor te neem.

Carel Jung, om weer by sy voorbeeld stil te staan, het nie historiese karakters as net boos of net goed afgemaak nie. ’n Vaderfiguur, sê Jung, is altyd ’n argetipiese kombinasie van die welwillende koning en die bose tiran. ’n Kultuur is altyd dit wat leefbare orde skep en tegelyk reëls neerlê. Volgens hierdie benadering kan Trump eerder as ’n tragiese held uit een van Shakespeare se dramas gelees word: ’n Karakter met goeie bedoelings, maar met persoonlikheidsprobleme wat op die ou end sy ondergang beteken. Dink aan Othello of Macbeth. Dus, lees Trump nie as ’n bose tiran nie, maar eerder as ’n mens met al die probleme wat onvermydelik daarmee gepaard gaan. Iemand wat sy land se ekonomie opgelig en vrede in die Midde-Ooste bewerkstellig het. Tog, ook iemand wat weens sy konstante interne gevegte en ’n onvermoë om ’n hand na diegene aan die ander kant van die politieke spektrum uit te reik, op die ou end gefaal het.

So ’n siening van die geskiedenis en al sy karakters, lê die grondslag vir vrede en menseregte – as mens die departement se speletjie wil speel. Die geskiedenis word nie gelees as die stryd tussen goed en kwaad nie. Dit is nie net onderdrukker teen onderdruktes nie. Dit is eerder ’n storie met menslike karakters wat ’n rol binne ’n groter drama speel. Mense soos ek en jy wat goeie goed gedoen het, maar ook foute gemaak het. Dit is juis omdat hulle mense is dat ons iets by hulle kan leer. Daaruit kan ek en jy iets leer, want ons is ook mense met gebreke. Ons het beslis nie die gesag om ’n finale oordeel oor die geskiedenis te vel nie, want ons is deel daarvan. Ons kan maar slegs leer uit wat gebeur het met die hoop dat ons kan bou op dit wat goed, waar en reg is.

Die grootste tragedie, as jy my vra, is dat mens ’n pleidooi moet lewer vir iets so voor die hand liggend soos ’n gebalanseerde lees van die geskiedenis.

  • Daniël Goosen beskik oor ’n BA-honneursgraad in visuele kultuurstudies en doen vanjaar ’n internskap by die FAK.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andrew

Goed gestel. Die idiologiese stryd word deur die werste homself gevoer. Ek sien geen, maar geen rasse idiologiese optogte uit die oorste van die wêreld, afrika of suide van amerika. In SA was daar wel n paar sport siele wat hulle broeke by die knie vuil gemaak het . In amerika het linksie immigrante baie te sê oor rasse en klasse idiologie maar doen niks om die walglike situasies in hulle eie lande aan te spreek nie, dink maar net aan die korrupte Omar vrou. Kan ons enige terugvoer kry oor die vervolging van Christene in Pakistan? Meskien sal mnr… Lees meer »

annie

Trump is so aangeval dat enige maar enige aksie of

Ferryman

Trump het maar min in gemeen met Emperor Palpatine of Sauron en kan meer besskryf word soos President Dwayne Elezondo Mountain Dew Herbert Comacho uit die rolprent Idiocracy. Vladimir Putin en President Xi van China is meer soos Palpatine en Sauron.

Zombie

Vanuit ń Jungiaanse raamwerk sou mens ook kon sê dat mense hulle skadukant op Trump projekteer. Hy word dus die simbool van “boosheid” vir baie, omdat hulle nie hulle eie “boosheid” herken en erken nie.
As argetipiese vaderfiguur (wat onder andere goed en kwaad verteenwoordig), word Trump dus die “vas hermeticum” van die skaduwee of donker projeksies van ander. Dis mos baie lekkerder om te vertel hoe sleg ander is, in plaas daarvan om aan mens se eie skadukant aandag te gee.