Frankryk: Macron en Le Pen wen eerste ronde van presidentsverkiesing

marine-le-pen-en-emanuel-macron

Marine le Pen en Emanuel Marcon is deur na die volgende ronde van die Franse presidentsverkiesing. Foto: Facebook.

Die wenner van die eerste ronde van die Franse presidentsverkiesing is Emanuel Macron van die nuwe sentristiese beweging, En Marche (Ons beweeg vorentoe), met 23,7%. Die naaswenner is Marine le Pen van die regs-nasionalistiese Front National (FN) met 21,5%. Al twee sal deurdring tot die uitklopronde op 7 Mei. Reeds in die meningspeilings was hulle in ʼn kop-aan-kop-stryd gewikkel.

Daar was nog twee kandidate wat aanspraakmakers vir die volgende ronde was en wat dit amper gemaak het, Francois Fillon van die hoofstroom- konserwatiewe Republikeine met 19,9% en die ver-linkse Jean-Luc Mélechon met 19,6%. Daarna volg met ʼn lang afstand die kandidaat van die tans regerende Sosialiste, Benoît Hemon, met slegs 6,3%, en ses kandidate wat vir obskure klein partye of as individue gestaan het en almal minder as 5% elk gekry het.

Die uitslag was redelik naby aan die peilings en dus geen groot verrassing nie. Die uitslag is wel merkwaardig op sigself en iets wat nog nooit in die Franse presidentsverkiesing gebeur het nie: nie een van die kandidate van die twee hoofstroompartye, die hoofstroom- konserwatiewe Republikeine en die hoofstroom- linkse Sosialiste, kon na die tweede ronde deurdring nie. Trouens, die linkse kiesers is so teleurgesteld in die Sosialiste en die huidige president Francois Hollande, dat hulle eerder vir die ver-linkse Mélenchon gestem het, wat ʼn merkwaardige resultaat verkry het.

Die kandidaat van die Republikeine, Francois Fillon, was aanvanklik die gunsteling om te wen, maar ʼn onthulling oor ʼn moreel twyfelagtige aanstelling van sy vrou en buitensporige vergoeding vir haar werk toe hy eerste minister was, het hom waarskynlik die oorwinning gekos. Hy het egter sy kerngroep ondersteuners behou en die keuse van sy ondersteuners sal in die volgende ronde gewig dra.

Macron is in sekere sin ʼn Franse Obama, ’n welsprekende, grootliks ongetoetste leier met ʼn aantreklike voorkoms en ʼn eenvoudige, eintlik niksseggende maar mooiklinkende boodskap wat vir almal iets bied. Hy was voorheen lid van die Sosialistiese party en vir ʼn kort tydperk ook minister onder president Hollande, maar het bande met sy party verbreek, sy eie kitsbeweging, En Marche, rondom hom gebou en hom as gematigde hervormer wat alles vir almal bied, bemark. Eintlik het mense vir hom gestem omdat hy die versugting na ʼn nuwe gesig en ʼn beweging anderkant die twee hoofstroompartye verteenwoordig. Hy het oor talle vraagstukke ʼn taamlik buigsame mening, maar beskik oor die vermoë om die skare mee te sleur met mooiklinkende frases en het ook in die televisiedebatte goed gevaar. Dit het natuurlik ook gehelp dat die media oorweldigend aan sy kant was. Hoewel hy tot onlangs toe nog ʼn Sosialis was, kon hy hom suksesvol distansieer van president Hollande. In sekere sin was sy implisiete boodskap: Stem vir my as die konsensuskandidaat om ʼn oorwinning van Le Pen te verhoed, want ek kan, anders as Fillon of Mélenchon, almal in die middel verenig.

Marine le Pen het eintlik uitstekend gevaar as ʼn mens in ag neem dat haar party, Front National, lank die status van ʼn muishond gehad het en dat feitlik alle meningsvormers in Frankryk en die buiteland teen haar gekant is en Macron op die hande gedra het. Sy kon die beeld van haar party suksesvol hervorm en die skerp hoeke slyp, sonder om haar boodskap af te water: Frankryk eerste, ʼn terugkeer na ons waardes en tradisies en die inperk van immigrasie en Islam. Die FN is ook onder haar leierskap van ʼn splinterparty vir veral middeljarige en ouer mans met uitgesproke regse sienings in ʼn party met ʼn breë spektrum ondersteuners uit alle oorde en met ʼn duidelike beleid oor talle vraagstukke omskep, en dit is duidelik gevestig as krag in die Franse politiek.

Die sug van verligting wat die meeste meningsvormers en leiers van die Europese Unie nou laat hoor nadat hulle gunstelingkandidaat Macron net-net gewen het, verdoesel die feit dat meer as 40% vir kandidate aan weerskante van die politieke spektrum (Le Pen en Mélenchon) gestem het, en dat ook in Frankryk die bekende en stabiele politieke stelsel met die swaartepunt rondom die politieke middelpunt iets van die verlede is.

Immigrasie en Islamitiese terreur is een van die belangrikste vraagstukke van die Franse politiek en kort voor die verkiesing was daar ʼn Islamitiese aanslag op polisiemanne in Parys. Nogtans was die skok daaroor nie groot genoeg om nog groter getalle vir Le Pen te laat stem nie, en ook Fillon het sterk standpunt ingeneem teen radikale Islam. Die swak ekonomie is egter ook ʼn vraagstuk, en hier het die meeste kiesers vir Macron vertrou om te hervorm sonder om dinge te veel te skud. ʼn Oorwinning vir Le Pen sou immers die markte laat val en beleggers afgeskrik het, en Fillon se ekonomiese hervormingsvoorstelle was weer te radikaal vir die meeste Franse, gewoond aan ʼn 35 uur-werksweek, ʼn gewaarborgde aanstelling, aftrede met 60 en talle ander werknemersvoordele. Macron het ook hier iets vir almal gebied, al het hy hom dikwels weerspreek, wat die media nie juis verkondig het nie.

Vir die uitklopronde is die kanse waarskynlik die beste vir Macron om te wen, want alle ander kandidate beskou hom as die kleiner euwel teenoor Le Pen en raai hulle ondersteuners aan om vir hom te stem. Vir die Europese Unie se leiers en die gevestigde belange in politiek en ekonomie is sy verkiesingsoorwinning goeie nuus, want hy staan ten spyte van sy beeld as hervormer en ʼn nuwe aanslag vir ʼn voortsetting van die ou bekende hoofstroombeleid. Of hy gaan wen, hang egter ook af van wat nog tot dan gebeur. Dit is in die politiek altyd denkbaar dat ʼn massiewe terreuraanslag, of ʼn ernstige flater van Macron die skaal in Le Pen se guns laat swaai.

Wat wel duidelik is, is dat die bestaande Franse politieke stelsel met twee hoofstroompartye links en regs van die middel, wat mekaar gereeld afwissel, verby is. Die era van populisme is allermins verby, maar het juis ook in Frankryk aangebreek. Macron is immers ook ʼn populis in die sin dat hy eksplisiet teen die gevestigde partyspektrum staan en deur ʼn nuutgestigte beweging met min strukture eerder mense se versugtinge aanspreek as om met duidelike beleid sy ware kleure te wys.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Leonard van der Dussen ·

Le Pen het as partyleier bedank in ‘n slim politieke skuif om haarself as eerstens besorgd oor Frankryk as geheel te tipeer, bokant partybelange. Daar is intelligensie en gesofistikeerdheid in die Europese politiek: met ander woorde daar is beskawing.

Pietman ·

Franse gaan maar dieselfde foute maak as die blankes in SA. Gaan politieke mag afstaan aan ‘n vreemde kultuur en dan na die tyd kerm oor al die misdaad, terreurdade, addisionele sosiale kostes en onderdrukking.

apie ·

Die franse nasie sien daar heel anders uit deesdae. Dit gaan rof daar.

Therese van Schalkwyk ·

Puik artikel!

Ai, hoe verwens ek nou die aantreklike “Franse Obama” wat so te sê van nêrens op die toneel verskyn het. Beloof alles vir almal en beskou heel waarskynlik patriotisme as ‘n vloekwoord. Sterkte Frankryk!

Leopold Scholtz ·

Knap artikel, Sebastiaan. Braam, die korrekte spelling is Macron. Goeie dag vir almal!

Oom Harry ·

Macron, self `n Jood, is lid van die Rothschild-Rockefeller-Soros geldmag dinastie. Hy was direkteur van die Bank de Rothschild, is `n sosialis, glo aan globalisering, verteenwoordig kamtig nie `n spesifieke party nie welke feit eintlik `n rookskerm is om hom algemeen aanvaarbaar te maak. Dieselfde verhaal as met Obama se verkiesing speel sig nou af dws enige sogenaamd welsprekende charismatiese karakter kan uitgesoek en vooropgestel word. Engeland en die VSA het die geldmag groot knoue toegedien, maar of die Franse, al is hulle wispelturig en onvoorspelbaar, dieselfde paadjie sal loop – is `n ope vraag.

David Meades ·

Oom Harry, hoe seker is jy Macron is ‘n Jood? Hy het twee jaar vir Rothschilds se bank gewerk, net twee jaar. Ek slaan egter Sebastiaan se artikel hoog aan en dink hy ‘n man met ‘n toekoms. Die tyd sal leer wat gaan Macron regkry. Ek sou nie verbaas wees as hy die ou sosialiste hergroepeer agter hom en wanneer die algemene verkiesing in Junie gehou word, ‘n sterker steunbasis het nie. Ek din k hy is slim genoeg om te besef hoe die Franse nou dink en daarvolgens optree.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.