Geanker in gesinne

Heindrich Wyngaard (Foto: Verskaf)

Onlangs, op ʼn Europese toer saam met verteenwoordigers van instellings van die Solidariteit Beweging, word ek in ʼn vergadering met ʼn gasheerorganisasie in Hongarye opnuut sterk onder die indruk gebring van die durende rol van gesinne in samelewings.

Dit tref my dan dat ons in Suid-Afrika dalk meer dikwels op gemeenskappe fokus, terwyl die gesin in sowel ʼn geloofs- as maatskaplike konteks al minder aandag kry. Natuurlik moet ʼn mens versigtig wees om nie ons land te wil vergelyk met situasies wat in ʼn ander land vér van hier afspeel nie, maar dit is sinvol om ten minste die raakpunte te probeer identifiseer en lesse wat daaruit geleer kan word.

In Hongarye het die demografiese gevaarligte in alle erns tussen 2001 en 2005 begin flikker toe die bevolkingsgroei in dié sentraal-Europese land ʼn historiese laagtepunt bereik het. Slegs 1,29 kinders per vrou is gedurende daardie tydperk gebore; gevolglik het die totale aantal landsburgers vanaf 2001 se 10,19 miljoen tot 10,09 miljoen in 2005 afgeneem.

In die vergadering met – en in ʼn brosjure van – die genoemde gasheerorganisasie, Sentrum vir Fundamentele Regte (SFR), geleë in die hoofstad Boedapest, word ons meegedeel dat die destydse bevolkingsituasie bepaalde implikasies vir die land ingehou het. Hierdie toenemende afname in Hongarye se bevolkingsgetalle, het besorgdes in die burgerlike samelewing en die regering geglo, “het ʼn bedreiging ingehou vir die stabiliteit en toekoms van die nasie”.

Die brosjure (A snapshot of Hungary’s Family Policy) skets hoedat beleidmakers ingespring het om ʼn verandering teweeg te bring. Om, soos elders in Europa, op “onwettige migrasie” staat te maak, sou nie deug nie, het hulle besluit. Nuwe probleme sou boonop op dié wyse geskep word – en dié nuwe probleme, was die Hongaarse standpunt, “sou dan druk, tasbaar en voortdurend, op die nasie en vasteland plaas”.

Die regering het as ʼn Hongaarse oplossing tot ʼn probleem wat wyer strek ʼn landwye strategiese gesinsbeleid ontwikkel. “Ons onderskryf die siening dat demografiese probleme opgelos moet word deur staat te maak op ons eie hulpbronne, deur ons eie reserwes te mobiliseer en deur ons eie spirituele hernuwing,” sê die staatshoof, premier Victor Orbán, in die SFR se brosjure.

Hierdeur is die weg gebaan om spesifieke en geteikende finansiële en maatskaplike aansporings aan landsburgers te bied ten einde paartjies aan te moedig om meer kinders te hê, die “nukleusfamilie” te versterk en nasionale veiligheid te bewaak. Dit sluit in huiseienaarskap vir jong families wat voorop gestel word en ondersteun word deur gesubsidieerde lenings en nie-terugbetaalbare toelae; belastingkortings wat aangebied word aan paartjies wat in die huwelik tree; en nuwe werkende moeders, wat tyd afneem by die werk om vir hul nuwe toevoegings tot die gesin te sorg, ontvang 100% van hul vorige salaris (met net inkomstebelasting wat afgetrek word).

“Gesinsbeleid moet op die moeder gefokus wees en die funksionering van die hele land moet gesinsvriendelik gemaak word,” glo die premier. Dit strook met sy party se beleidsrigtings wat, soos Willie Spies ook onlangs in sy rubriek aandui, geskoei is op “liefde vir die land, die Hongaarse volk en Christenskap”. Maar dit is ʼn ideologiese ingesteldheid wat maak dat Orbán en sy Alliansie van Jong Demokrate deur teenstanders as “verregs” geëtiketteer word.

Wat ook belangrik was, hoor ons by ons gasheer, Péter Törcsi, operasionele direkteur van die SFR, was om stewig te staan teen die aanslag van “radikale gender-ideologie”. Die Hongaarse regering en die SFR glo rotsvas – in ooreenstemming met die Christelike geloof – dat “die ma is ʼn vrou en die pa is ʼn man”.

Ten spyte van die kritiek, begin die ingryping om Hongarye se “demografiese probleme” die hoof te bied, resultate te lewer. Die 2023-bevolkingsyfer van 10,15 miljoen begin weer nader beweeg aan 2001 se 10,19 miljoen. Waaraan dit toegeskryf word, is ʼn afname van 50% in aborsies, ʼn 100%-toename in huwelike en ʼn vrugbaarheidskoers wat met nagenoeg 30% gestyg het.

In dieselfde tydperk in Suid-Afrika, was die gemiddelde “vrugbaarheidskoers” 2,8 kinders per vrou met ʼn opvallende laer (hoewel konstante) 1,7 vir wit vroue teenoor dié van swart vroue (3,0), bruines (2,3) en Indiër en Asiër se gemiddeld van 1,9. Die land se totale bevolkingsgetal het van 47,2 miljoen in 2001 en 49,02 miljoen in 2005 tot ʼn geraamde 60,4 miljoen in 2023 gestyg.

Plaaslik is die demografiese uitdaging dus nie ʼn kleinerwordende bevolking nie, maar ʼn bevolkingsaanwas wat eweneens, soos die Hongaarse bekommernis verwoord is, “die stabiliteit en toekoms van die nasie” in gedrang kan bring.

Waaraan kan dié raakpunt met die situasie in Hongarye toegeskryf word? Omdat, soos sake tans staan, meer mense afhanklik sal wees van infrastruktuur wat in duie stort weens nie-instandhouding; werkloosheid, wat reeds hemelhoog is, sal toeneem; en groeiende getalle arm burgers sal van maatskaplike toelae afhanklik wees. Sodanige uitdagings sou moontlik gehanteer of beperk kon word as die land se ekonomie teen ʼn koers gegroei het wat die staatskas ʼn broodnodige inspuiting gee.

Helaas bly die staatskas honger weens korrupsie en buitensporige besteding op onder andere politieke ampsdraers – ʼn kommerwekkende werklikheid wat bygedra het tot Julie 2021 se oproer en plundery in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Die indruk wat die ANC-regering egter laat, is dat dit hulle beter pas dat die meerderheid landsburgers hier by ons in ʼn permanente toestand van afhanklikheid van staatshulp probeer oorleef. Op dié manier kan hulle mense laat glo dat dit net die ANC is wat vir hulle sal sorg, maar in die proses word weinig aandag gegee aan die maatskaplike verbrokkeldheid wat veroorsaak dat soveel mense se monde deur toelaes oopgehou word. Afwesige pa’s word nie tot verantwoording geroep nie; en afwesige ma’s maak staat op grootouers om die kinders te versorg.

Geen wonder dan dat vier uit elke tien kinders in Suid-Afrika in enkelouergesinne grootword nie, soos bevind is in ʼn opname van die Social Research Foundation. In die meeste gevalle is dié enkelouer die ma, weinig die pa. Maar die opname het ook bevind dat tot 55% van Suid-Afrika se enkelouers stem vir die ANC. Jy sou dink dat dit die party in ʼn goeie posisie plaas om die belangrikheid by ondersteuners te benadruk van die waarde wat stabiele gesinne vir die samelewing inhou, maar dit is duidelik te veel gevra.

Burgerlike organisasies, soos dié wat deel van die Solidariteit Beweging uitmaak, moet in hierdie verband die inisiatief dryf om gesinne te posisioneer as die anker en fondament van die samelewing – ten spyte van die ANC se politieke opportunisme en die voorspelbare aanslag wat verwag kan word uit die wêreld van “radikale gender-ideologie”.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heindrich Wyngaard

Heindrich Wyngaard is die uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Wyngaard getrakteer op ‘n trippie … deur wie? Die president van die Republiek van Flinkveria. Hy sal die bont gesin lei en troetel en beheer: Grootbaas en leier. Nee-dankie vir dié wals. Koebaai Afrikaners. Die verval van die wit dom nasie is voorspel. You can fool most of them most of the time… Dom!

R ·

Dit bekommer my dat alternatiewe vorme van gesinne, insluitend twee Ma’s of twee Pa’s, wat dikwels omsien na bloedjies wat te veel vir die staat of ander geword het, onder die valbyl kom. Ons het so ver gekom as ‘n nasie. Perspektiewe soos hierdie rakende die radikale gender-ideologie breek af, dit bou nie op nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.