‘Geen boer, geen voedsel, geen toekoms’

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Nadat die seën op ʼn Sondagmiddag aan tafel gevra is, terwyl die skaapboud of hoenderpastei en groente wag om opgeskep te word en die rooiwyn al ʼn rukkie lank staan en asem haal, is daar weinig mense wat daaraan dink dat dít wat op ons borde en in ons glase beland met groot toewyding deur ʼn boer geproduseer is. Ons aanvaar dié dinge as vanselfsprekend.

Elke ding wat ons eet of drink moes iewers deur iemand gemaak of geproduseer word. Welvaart en gebruiksmiddele is nie iets wat maar net daar is nie. Dit verg ʼn kundige entrepreneur wat al die produksiemiddele tot by winsgewendheid bestuur om te voorsien in die verbruikersvraag daarna. Dit moet winsgewend wees of dit kan nie volhoubaar geproduseer word nie.

Die wêreldwye inperking het die belang van die kos op ons tafels opnuut beklemtoon. Enige land wat selfvoorsienend in voedsel is, behoort te besef dat die grootste bate waaroor hy beskik sy produserende kommersiële boere is. Juis daarom is dit betreurenswaardig dat die regering hulp in die vorm van R1,2 miljard se skenkings aan die boere wat maar 1,9% van die land se kosmandjie voorsien, verskaf het. Daarteenoor ontvang die kommersiële boere – wat voedsel voorsien aan 68% van die bevolking wat reeds verstedelik het – geen hulp nie.

Maar ten spyte van die oënskynlik vyandige regering gaan dié boere voort om daagliks kos te voorsien – die grootste stabiliserende faktor in die land.

Ons boere beskik oor besonderse kennis en vaardigheid om in Suid-Afrika – wat wêreldwyd beskou word as ʼn marginale landbouland – steeds sukses te behaal. Hulle word inderdaad beskou as van die beste boere ter wêreld. Hulle positiewe ingesteldheid, gebou op geloof, is ʼn baie belangrike deel hiervan. ʼn Boer maak inderdaad ʼn plan om die dag van môre ʼn beter dag te maak.

Tydens ʼn oorsese besoek het ʼn ambassadeur van die VSA in ʼn persoonlike gesprek aan my genoem waarom hy soveel respek vir Suid-Afrikaanse boere het:

  1. Hy verwys eerstens na Suid-Afrika se klimatologiese omstandighede en meld dat hulle van die land ʼn natuurpark sou maak omdat dit nie sin maak om onder sulke omstandighede te boer nie;
  2. Ons boere is individueel steeds op die internasionale markte mededingend, waar hulle eintlik met regerings kompeteer. In sommige lande ontvang boere groot subsidies, terwyl die Suid-Afrikaanse kommersiële boere nie eens in ramptye enige hulp ontvang nie;
  3. In ander dele van die wêreld is ʼn regering die boer se grootste vriend, maar die persepsie van buite is dat dit in Suid-Afrika die teenoorgestelde is.

Die ambassadeur was beïndruk dat ons boere ten spyte hiervan steeds ʼn netto uitvoerder van voedsel is, en dat hy daaroor sy hoed vir ons afhaal.

ʼn Groot voordeel wat ons boere tot 1994 gehad het, was die besonderse navorsing en daaropvolgende puik voorligtingsdiens wat die jongste tegnieke en kennis van tegnologie tot die boere se beskikking gestel het.

Die staat se proefplase het deurlopend navorsing gedoen en die bevindinge tot die beskikking van die landbougemeenskap gestel. Jong gegradueerdes in die landbourigting het onder die toesig van ervare en kundige senior voorligtingsbeamptes as juniors by die voorligtingskantore begin werk.

Ten spyte van die klimatologiese beperkings in Suid-Afrika het landbouers geleer hoe om in elke gebied op die regte wyse met die regte kommoditeit te boer. Praktiese en suksesvolle boere het op statutêre instellings soos bewaringskomitees en landboukrediet-komitees gedien, wat meegebring het dat die beste kundigheid mekaar deurlopend kruisbestuif het. In daardie tyd het ons boere deur middel van grensskakel-komitees opleiding verskaf aan boere in die voormalige tuislande en is die kennis ook so aan hulle oorgedra.

Ongelukkig het die uiters kundige voorligtingsdiens grootliks in Suid-Afrika verlore gegaan. Ons het groot dankbaarheid vir private instansies wat nou die nodige navorsing doen en boere sodoende met kennis bemagtig. Indien boere nie gaan tred hou met die jongste tegnologie nie, gaan hulle die kompeterende vermoë verloor.

Landbouers besef al hoe meer dat hul grootliks op hulself aangewese is – saam met die instansies wat wel help om kundigheid en kennis tafel toe te bring – om steeds suksesvol te wees. Die hooftaak van landbouers is uiteraard om voedsel te produseer. Maar, wat dikwels nie verreken word nie, is die bydrae wat boere maak om die landelike omgewing te laat leef.

Die hoeveelheid werksgeleenthede wat geskep word – afhangend van die seisoen, digby ʼn miljoen saam met die afhanklikes – dra by tot ʼn beduidende hoeveelheid mense wie se bestaan van landbou afhang. Sodra noodgedwonge afleggings op plase gebeur, is daar soveel meer huishoudings wat skielik sonder ʼn inkomste sit. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, en dit lei dan dikwels tot misdaad.

Suksesvolle boere hou ʼn reeks positiewe aspekte vir die plaaslike omgewing in. Plattelandse dorpies is afhanklik van boere en hulle arbeiders se bydraes tot die plaaslike ekonomie. Dit gaan egter veel verder as dit. Die skool, kerk, kultuurlewe en sportaktiwiteite het ʼn bestaansreg omdat die boere in die omgewing suksesvol is.

Ons beleef nou hoe die een klein dorpie na die ander uitmekaar begin val soos wat die kommersiële boere al hoe minder begin raak. Vir stedelinge is die geleentheid om weg te breek plaas toe of ontspanningsaktiwiteite soos ʼn staproete aan te pak, ook al hoe meer onder druk. Die stabiliserende rol wat ons boere in die platteland speel behoort baie groter erkenning te kry.

Die familieboerdery wat oor geslagte heen konstruktief aan die land bou, se rol is toenemend onder druk. Buiten die klimaat wat in sekere dele van die land erge droogtes veroorsaak het, sit boere ook met ʼn ernstige veiligheidsituasie wat nie net die lewens van plaasbewoners bedreig nie, maar ook hul ekonomiese voortbestaan as gevolg van die plundering van produkte.

Maar die grootste bedreiging is die onsekere beleidsomgewing wat geskep word. Dit is ʼn groot rooi lig indien die regering dit grondwetlik wil maak dat die staat enige van jou bates kan vat sonder om daarvoor te betaal.

Talle ondernemings is nek omgedraai as gevolg van die manier waarop die inperking hanteer is. Ekonomies is Suid-Afrika oor die afgrond gedruk. Die hele markomgewing gaan noodwendig herrangskik word. Die vraag na produkte gaan bepaalde aanpassings nodig maak. Ons boere sal aanpas by die situasie en steeds hulle kant bring.

Die belang van die produksie van vesel, wyn en voedsel kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die voedsel wat verskaf word, is die broodnodige brandstof waarop die res van die land se ekonomiese aktiwiteite kan funksioneer. Neem die kos op die tafels weg en die beste fabrieke en nywerhede sal baie vinnig tot stilstand kom.

TLU SA se slagspreuk: “Geëet vandag? Bedank die boer en die plaaswerker – Geen boer, geen voedsel, geen toekoms”, moet mense laat besef dat die grootste bate van ons land gekoester moet word.

Wat kan verbruikers doen om te help? Verbruikers kan boere ondersteun deur as ʼn Vriend van TLU SA betrokke te raak. Besonderhede is beskikbaar op die webblad by www.tlu.co.za.

Word gerus deel van die landboufamilie by ʼn organisasie met die uitsluitlike doel om kommersiële boere veilig en volhoubaar op hul grond te hou. Sodoende kan ons verseker dat die broodnodige voedsel deurlopend op die verbruikers se tafels kom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Dankie Bennie van Zyl vir ‘n wonderlike berig. Dankie boere van Suid Afrika. Elke Sondag middag waaneer daai tafel kreun van die lekkergoed en reuke, dan se ons dankie boere van Suid Afrika…..maar dan kom die swart gordyn af, en ons vra hoe lank nog kan hulle aangaan, as daar nie politieke ingryping met plaas moorde kom nie?

Annette ·

Dankie vir `n puik berig Bennie. Ek haal my hoed af vir die boere en wil vir elkeen wat onder sulke moeilike omstandighede vasbyt, sê dankie! Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Kanjynoumeer ·

Politiek veroorsaak dat daar nie eers geluister word na uitsprake soos ‘Geen boer, geen voedsel, geen toekoms nie.’ Gekyk na statistieke van plaasaanvalle en moorde skeel dit die politici min.
Brutale aanvalle en moorde. 24/7 moet daar geboer word met n wapen aan jou sy om huis en haard en diere te beskerm. Boerdery is nie meer maklik in Suid-Afrika nie, maar dit is al wat n boer ken en sy enigste bron van inkomste.

Leon ·

Wat die ANC aanbetref, as daar nie boere is nie sal die VN mos kos verskaf. Of self Sjina sal dan kos verskaf. Hoekom dit self doen as daar koshulp van die VN af kom.

Kokerboom ·

Dankie Bennie vir ‘n puik artikel.Die feite spreek vanself.

Suzette ·

Die huidige regering het nog nie die drie bymekaar gebring nie. Weet ook nie of hulle ooit sal nie – die vlot is leeg – daar was nie ‘n tor om op te klim nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.