Geldenhuys se dood laat ’n duidelike leemte

Jannie Geldenhuys. Foto: Reint Dykema

Genl. Jannie Geldenhuys se dood laas Sondagaand het nie onverwags gekom nie. Vir baie mense was dit duidelik dat die wrede Siekte van Alzheimer sy verstand stadig, maar seker en tragies uitgehol het.

Ek onthou goed dat ek in 2007 ’n lang gesprek met hom op die systoep van sy huis in Pretoria gehad het. Tóé reeds moes hy soms sy kop op sy hande laat sak en lank en diep nadink om sy gedagtedraad weer op te tel.

Jannie Geldenhuys het ’n prominente rol in ’n beslissende tyd in Suid-Afrika se krygsgeskiedenis gespeel. As historikus wat afstand probeer behou en objektief wil wees, moet die lesers nie van my ’n onkritiese ophemeling van hom verwag nie, maar ek gaan ook nie venynig wees teenoor iemand wat homself nie kan verdedig nie.

Geldenhuys het in 1977 as generaal-majoor die bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse magte in Suidwes-Afrika – nou Namibië – geword. Dit was op ’n tydstip dat Swapo-insurgente kringe rondom ons soldate aan die grens gehardloop het.

Ons ouens het nie die mense of die omstandighede geken nie. En, laat ons eerlik wees, dikwels ook nie juis belang gestel nie.

Geldenhuys het verskeie maatreëls geneem om daardie oorlog om te draai.

Sommige daarvan was klein. Hy het my self vertel hy het bepaal dat infanteriepatrollies sonder rugsakke moes uitgaan, want dit maak die manne onnodig moeg. Met die swaar sakke op die rug is hul natuurlike neiging om effens vooroor te buk en op die grond te kyk, pleks van vooruit, waar Swapo se hinderlae wag.

Ander veranderings was groter. Hy het die afhanklikheid van wit dienspligtiges verminder en meer swart Suidwesters laat rekruteer, wat die omstandighede veel beter verstaan het.

Die grootste verandering was op die gebied van militêre strategie. Geldenhuys het verstaan dat Swapo die inisiatief behou solank hý bepaal waar en wanneer hy oor die grens wil infiltreer.

Hy het toe die regering oortuig dat die weermag nie passief suid van die grens moes sit en wag tot Swapo kom en pas dan reageer nie. Die weermag moes self die inisiatief neem om Swapo oorkant die Angolese grens te gaan uitrook en sy infiltrasies te ontwrig nog voordat dit kon plaasvind.

Dit het tot talle oorgrensoperasies, groot en klein, gelei. Die bekendstes, wat met brigade-grootte magte van stapel gestuur is, was Operasies Reindeer (1978), Sceptic (1980), Protea en Daisy (1981), en Askari (1983).

Geldenhuys het intussen hoof van die leër en in 1985 van die weermag geword, posisies waar hy sy beleid kon voortsit.

Die gevolg was dat die SAW in die vroeë jare tagtig die suidwestelike Angolese provinsie Kunene sodanig oorheers het dat Swapo tot 250 km noordwaarts teruggedruk is. Insurgente moes dié afstand met al hul wapens en kos stap en al die Suid-Afrikaanse patrollies ontwyk voordat hulle by die grens aangekom het.

En daar is hulle deur swerms infanteriepatrollies ingewag. In die laat tagtigs het insurgente so vyf tot ses dae gehad voordat die weermag van hulle bewus geword en hulle begin jag het.

Die statistiek wys dat die slagting onder die insurgente groot was.

Teeninsurgensie-oorlog is op generaalsvlak essensieel ’n strategiese oorlog. Om sukses te hê, moet jy besef die vyandige vegters is nie jou vernaamste teiken nie; sukses lê eerder daarin dat jy ’n wig tussen die plaaslike bevolking en die insurgente indryf. En dáárvoor moet jy die plaaslike bevolking se harte en verstande wen.

Geldenhuys het dit goed besef en groot sukses behaal. Dit was veral die geval in die Caprivi, Okavango en die Kaokoveld, maar minder in Ovamboland. Swapo het begin as ’n Ovambo-party, en tot op die einde kon die SAW daardie band net verswak, nooit verbreek nie.

Waar Geldenhuys ook ’n uiters waardevolle rol gespeel het, was tydens die vredesamesprekings met die Angolese en Kubane in 1988. Ondanks die feit dat die SAW en die departement van buitelandse sake weens verskillende kulture dikwels nie langs een vuur gesit het nie, het Geldenhuys en wyle Neil van Heerden, sekretaris-generaal van buitelandse sake, mekaar reeds vroeg gevind.

Hulle het afgespreek om alle verskille agterweë te laat en in belang van die land ’n verenigde front teenoor die vyand te stel.

In sy memoires vertel Geldenhuys hy en sy Kubaanse eweknie, genl. Ulises Rosales del Toro, het mekaar reeds kort ná hul eerste ontmoeting stewig in die oë gekyk. Rosales het Geldenhuys met verskriklike dreigemente tot toegewings probeer intimideer, maar die Suid-Afrikaner het sy man gestaan.

Hy het dit duidelik gemaak dat hy ’n afstammeling van dieselfde Boere was wat die magtige Britse Ryk drie jaar – 1899-1902 – rondgejaag het, en dat geen Kubaan hom dus sal intimideer nie. Hy en Rosales het mekaar nooit weer dieselfde bekyk nie, het Geldenhuys vertel.

Maar niemand is ooit volmaak nie. Waar Geldenhuys se sterk punt op die vlak van strategie en politiek gelê het, het hy ’n leemte op operasionele vlak gehad.

Tydens Operasies Moduler, Hooper en Packer (1987-’88) in die suidoostelike Angolese provinsie Cuando Cubango, het Geldenhuys – gesteun deur die hoof van die leër, genl. Kat Liebenberg – sekere minder goeie operasionele besluite geneem. Hulle het verkies om die Angolese offensief teen Unita op hoogs ortodokse wyse aan te pak en onortodokse voorstelle – wat, op die keper beskou, uit militêre oogpunt beter sou wees – te verwerp.

Dit word alles in detail beskryf in my boek Die SAW in die Grensoorlog 1966-1989, asook in ’n nuwe manuskrip, Die SAW en Cuito Cuanavale: Die Ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse Beplanning, wat tans by die uitgewer lê.

Geldenhuys is benadeel deur ’n feit wat nie sy skuld was nie: Hy was te jonk om gevegservaring in die Tweede Wêreldoorlog op te gedoen het, en te oud om in die Grensoorlog te veg.

Uiteindelik het alles egter goed uitgewerk. Die vyand het, mede deur Geldenhuys en Liebenberg se foutiewe beslissings, nie ’n uitklophou gekry nie, maar is voldoende seergemaak dat almal kon besluit genoeg is genoeg, kom ons maak nou vrede.

En sy positiewe rol tydens die vredesonderhandelings het meer as vergoed vir sy leemtes op operasionele vlak.

Geldenhuys was nie volmaak as militêr of as mens nie. Maar sy dood laat ’n duidelike leemte.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Jerry ·

Genl Jannie het tereg foute gemaak, foute waaruit hy egter bitter vinnig lesse geleer het en wat uiteindelik ook van hom n formidabele militere leier op operasionele vlak gemaak het. Inteendeel so was al die Generaals van daai tyd, hulle kon die lesse wat hulle geleer het self toepas en afwentel tot op die taktiese vlak met “lesse geleer” handleidings en “ken jou vyand” doktrines. Genl Jannie was n leier na wie jy kon opkyk en in wie jy kon glo en wie jou nooit in die steek gelaat het nie. Genl Jannie verdien net eer en respek, nie net as n uitstekende militaris, leier en denker nie, maar ook as n Godsvresende mens. Hy het nou sy plek gaan inneem by sy Skepper in die koningkryk van die hemele waar hy in vrede rus! Die vyand het geswig en kon nie staande bly voor Genl Jannie en sy weermag nie. Die wie onder hom gedien het en wie hy nou vooruit gegaan het sal hom vir al die regte redes onthou en sy vyande wat oorleef het, wel hulle het rede tot nadenke, hulle behoort die dag te vrees wat hulle dalk weer teen n Genl Jannie te staan mag kom!

Albaster ·

Ek het nie geweet die oorlog het so lank aangehou nie. Wat jammer is is dat die kommuniste wat ons daar beveg het nou toegelaat is om ons land oor te vat.

Leon ·

Operasionele besluite tydens Moduler, Hooper, Packer bemoeilik deur beperkte lugsteun en teenwoordigheid van 55 000 Kubaanse soldate.

Fanie ·

Leon, belangrike opmerkings! Daar was nooit meer as 3- 4000 Suid-Afrikaanse troepe nie. Dan, wat die Lugsteun betref, weet ek van geen ander oorlog waar grondmagte ten spyte van ‘n lugoormag gewen het. Genl Giulio Douhet, die pionier van ‘n lugstrategie- sou sy oë nie kon glo nie! (“Met lugoormag- oorwinning, sonder lugoormag- nederlaag!”)

Ian ·

Die lugoormag ding kan mens natuurlik lank oor praat – veral of dit takties of strategies was. Takties het ons gewoonlik lugoormag gehad, veral in die grondaanvalsrol. Strategies het ons eerder nie radaroormag gehad nie, as “lug”oormag, en moes ons hoofsaaklik in rooi radar opereer. Verder, strategies, as jy getalle vergelyk, het ons beslis nie gehad nie. Die moderne aanwending van lugkrag kan egter nie volgens die Douhet model gepeil word nie, want dit gaan alles oor “surge”; kan jy die regte hoeveelheid vermoeens op die regte tyd by die regte plek kry om die regte doelwitte te bereik. Opleiding, grondbemanning, inligting -alles as deel van ‘n sisteem. Die SALM het nie sy weerga in Afrika gehad nie.

Marthinus Willemse ·

In die begin was die polisie ontplooi op die grens, van die Atlantiese Oseaan, plek-plek tot by Swaziland. (Vir ons is gesê dat as die polisie nie ontplooi word nie, is dit oorlog; met die polisie, is dit net `n onrussituasie. Daar is baie verhale, bv van John Vorster wat olifante jag, waar `n polisiesersant met `n LMG die aanstormende bul doodskiet.)

My oorlede oudste broer was as polisieman vier keer op die grens. Ek het nie die syfers om dit te bevestig of ontken nie, maar die polisie, veral met hul spesmageenheid Koevoet, het gemaai onder die terrs. Die indruk wat ek gekry het, veral met die aksies van Jan Hougaard, was dat die polisie ingegaan het in Angola, met die doel om terrs te jag en dood te skiet, terwyl die weermag eerder defensief opgetree, en net uit selfverdediging teruggeskiet het. (`n Familielid kla, “Ons word ingestuur om die terrs dood te skiet, dan hoor Pik Botha in New York waar ons is, kry `n hartaanval, en eis dat ons terugtrek. More word ons weer ingestuur, net om weer deur Pik beveel te word om die grondgebied wat ons “afgeneem” het, terug te gee. Dit het ons in die oë van Afrika na swakkelinge laat lyk”)

Ek het verkies om my diensplig as soldaat, eerder as polisieman, te doen. Ek was `n sappeur, maar as mens na boeke oor die oorlog kyk, sou jy sweer dit was net infanterie en spesmagte wat aan die konflik deelgeneem het.

Ian ·

Jan, die man in die straat ken nie julle onbesonge rol nie, en sien julle maar net as infanterie. Ons weet beter. Dankie. Julle was manne. Ek dink nie ek sou dit kon doen nie.

Genie was die voetsoldate se held. Van my beste vriende was sappers.

Anton ·

Die Amerikaners moes by ons kom bakhand staan vir mynbestande en stofbestande voertuie vir gebruik in Afghanistan en Irak. Tegnologie wat ons al in die 80’s gebruik het.
Dan oor die kastige operasionele leemtes kan ek nie sàamstem nie. Alle teikens is deur ons gevegsgroepe uitgewis en was dit nooit die doelwit om in n konvensionele oorlog betrokke te wees nie. Cuito was nooit die teiken nie alhoewel die miljoene landmyne wat hulle geplant het die enigste ding was wat Kubaan, Rus, Mpla en Swapo gered het daardie dag.

Anton ·

Die mynvelde by Cuito het die Angolese en Kubane gered dis al

Anton ·

Onthou die doel was om die 55000 sterk Kubaanse wn Angolese opmars te stuit wat op pad was Namibie toe. Dit was gedoen deurdat ons hulle aan flarde geskiet het al die pad en hulle gevlug het na Cuito toe om daar agter hul mynvelde weg te kruip.

Syd ·

Die aanvang van Hooper, en die eerste beplande, oorwoë aksie vroeg Jan ’88 was krities; dit was op verskeie vlakke gunstig ontvang, maar helaas! op topvlak afgekeur. 14 Feb ’88 was darem beslissend, en het die SA magte in ‘n uiters voordelige posisie geplaas, maar net vir ‘n rukkie.

Jerry ·

Die ontplooiing van die SAW het dit ten doel gehad om te verhoed dat Swapo insurgente Namibie vanaf die grens met Angola kon binnedring. Koevoet spanne, tesame met Infanterie mobiele pelotons het inderdaad transgrensoperasies uitgevoer op insurgente wat hulle in die veiligheidsmagte vasgeloop het en probeer vlug het. Militere transgrensoperasies met aanvalle op FAPLA basisse was uitgevoer om die opbou van Swapo insurgente in groot getalle naby die Namibiese grens te stop. Tweedens het die SAW dit ten doel gehad om die guns van die Namibiers te wen vir vreedsame oorgang met opheffingsprojekte “to win the hearts and minds of the people”. Die SAW het reeds vroeg in 1985 n gesamentlike monitor kommissie aan die Angola kant by Ongiva op die been gebring waar gesprekke met FAPLA en Kubaanse ewekniee plaasgevind het, terwyl ons steeds transgrens aanvalle in ander dele van Angola uitgevoer het. Aan die begin van 1989 het die SAW weer n gesamentlike kommissie op die been gebring, maar hierdie keer aan die Namibiese kant naby Ruacana. Die kombinasie van kubaanse en FAPLA magte het tot by die laagwaterbrug van die Calueque damwal waar die Kuneni rivier vloei gevorder en wat nogal n gesig was om te aanskou. Tot voor daardie tydstip het ons hulle nog aan flarde geskiet. Ons het uiteindelik teen einde 1989 die veiligheidsmagte in Namibie gedemobiliseer wat die tweede fase was na vreedsame oorgang. Ons het dit alles gedoen, Ons vir jou Suid Afrika!

Herman G ·

Goeie artikel, jammer om te hoor oor Genl. Geldenhuys.
Dit is jammer dat hy, (en Kat Liebenberg en vele ander) nie Cuito Canavale van die ooste ingeval het nie. Baie van die plaaslike bevelvoerders het dit ook gegrief dat die SAW/ SAL hoofkwartier hulle “ge-icro manage” het. Ek kan nie onthou wat Genl Geldenhuys gese het oor Koevoet nie, maar baie generaals hat na die oorlog niks goed oor hulle te se nie. Dit is jammer want Koevoet het ‘n groot, groot rol teen SWAPO gespeel.
Baie waar oor die positiewe sy van hom – die SAW was baie, baie doeltreffend in teen-insurgensie en hy het ‘n groot rol daarin gespeel.
Dankie Generaal!

Anoniem ·

Generaal Jannie dankie vir Jou voorbeeld ! Jy is nou definitief in GOD se leër ! Rus sag, die troepies gaan Jou mis (Wat ‘n TYD in die Suid-Afrikaanse Geskiedenis waar Jy diep SPORE getrap het)

(Oud) Lt Kol. Fanie Kemp ·

Ek salueer u nagedagtenis Generaal Jannie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.