Geloftedag: Dié wat ons besiel

Ernst Roets. Foto: Ernst Roets/Twitter

ʼn Verkorte weergawe van Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, se Geloftedagtoespraak by die Bothaspas Geloftefees by Memel.

Ons is hier om die wonderwerk van 16 Desember 1838 te herdenk. ’n Wonderwerk wat, ons glo, nie sonder God se ingryping sou kon plaasvind nie. Die dag toe ’n paar 100 Voortrekkers teen 12 000 Zoeloes te staan gekom het. Toe skemer op die oggend van 16 Desember aanbreek, het die Voortrekkers opgemerk dat die ganse Zoeloeland hulle omsingel het.

Ons ken die geskiedenis van 16 Desember en die Gelofte wat daar afgelê is. Die slag wat onder leiding van Andries Pretorius gelei is in die nadraai van die moord op Piet Retief en sy manskappe, nadat hulle vir grond gaan onderhandel het by die Zoeloekoning, Dingaan. Die Gelofte wat Sarel Cilliers opgestel het en deur die Voortrekkers afgelê is, toe hulle gebuig het voor die Heilige God om ’n Gelofte aan Hom te doen, dat as Hy hulle sou beskerm en hul vyand in hul hand sou gee, hulle die dag en die datum elke jaar as ’n dankdag, soos ’n Sabbat, sou deurbring, en dat hulle ’n huis tot sy eer sou oprig waar dit Hom behaag en dat hulle dit aan hul kinders en hul kinders ná hulle sal oordra om met hulle daarin te deel, tot nagedagtenis, ook vir die opkomende geslagte. Op daardie manier, het hulle gesê, sal die eer van sy Naam verheerlik word deurdat die roem en die eer van oorwinning aan Hom gegee sal word.

Die uiteinde was dat meer as 3 000 Zoeloes gesterf het, terwyl slegs drie Voortrekkers gewond is. Die Buffelsrivier se kleur het verander na rooi van al die bloed. Dit is waarom die slag vandag nog bekend staan as die Slag van Bloedrivier.

Maar, die slag van Bloedrivier was nie die enigste buitengewone prestasie wat deur ons voorouers bereik is nie. Om die waarheid te sê, so groot soos wat dit was, is dit maar net een voorbeeld uit ’n lang lys van buitengewone prestasies wat Afrikaners hier aan die suidpunt van Afrika al bereik het. Dit is waaroor ek vandag met julle wil gesels.

Ons gaan vandag deur ’n moeilike tyd. Om dit te ontken, is naïef. Daar is baie mense wat vra of daar nog hoop is, mense wat sê dat hulle nie hul kinders in Afrika kan grootmaak nie. Mense wat opgegee het. Mense wat na binne emigreer – hulle woon in sekuriteitsoorde, van waar hulle slegs kop uitsteek wanneer hulle werk toe gaan of hul kinders by die privaat skool gaan aflaai, maar wat nêrens betrokke is nie. Mense wat die land verlaat. Ons sien dit alles.

Ons moet besef dat ons deur ’n moeilike tyd gaan. Ons moet ook besef dat ons nie uniek is in die sin dat ons in ’n stryd is nie. Sedert die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652 (as ons hom vir die doel van die oefening ’n Afrikaner kan noem) was daar nog nie een generasie Afrikaners wat nie in die een of ander stryd om oorlewing betrokke was nie. Elke generasie het sy eie unieke stryd gehad.

  • Jan van Riebeeck het sy eie, unieke stryd gehad toe hy sy Gelofte in 1654 afgelê het.
  • Adam Tas, ons eerste aktivis, het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1706 in die Kasteel se Swart Gat gegooi is weens sy protesoptrede teen die regering.
  • Piet Retief het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1837 in sy Manifes geskryf het dat hy “geen vooruitsig op vrede of geluk” vir sy kinders onder die Britse regering het nie.
  • Sarel Cilliers het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1838 die Gelofte van Bloedrivier geskryf het.
  • Paul Kruger het sy eie, unieke stryd gehad toe hy in 1899 verklaar het dat die Britte nie stemreg wil hê nie, maar dat hulle sy land wil hê.
  • Die rebelle van 1914 het hul eie unieke stryd gehad toe hulle teen die regering in opstand gekom het oor hul gedwonge betrokkenheid in die Eerste Wêreldoorlog.
  • So kan ons voortgaan oor die groot depressie, Republiekwording, die oorlog op die grens, die ANC se terreurdade, die onderhandelings vir ’n nuwe Suid-Afrika en natuurlik die unieke stryd wat met die Nuwe Suid-Afrika saamgekom het.

En nou is dit ons beurt. Ons is dus nie uniek daarin dat ons in ’n stryd gewikkel is nie. Dit is bloot ’n aflosstokkie wat deur ons ouers aan ons oorgedra is.

Maar op ’n dag soos vandag kan ons terugkyk na die geskiedenis en vir ’n oomblik in bewondering staan oor dit wat ons voorouers in hierdie land bereik het, oor die buitengewone prestasies, die opofferings en die heldedade.

Hierdie heldedade het reeds met die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652 gebeur.

  • In daardie tyd is daar in Europa gesê dat dit nie vir ’n Europeër moontlik was om langer as ’n jaar in Afrika te oorleef nie. Europeërs se immuniteit kon dit net nie oorleef nie. Maar ons voorouers het dit oorleef.
  • Toe Brittanje die Kaap in 1806 geannekseer het, het die Afrikaners gesê hulle sal nie deur ’n vreemde regering beheer word nie. Toe besluit hulle om, ten spyte van al die risiko’s, nog dieper in Afrika in te trek.
  • Daar was verskeie veldslae tydens die Groot Trek, waarvan die Slag van Bloedrivier sekerlik die bekendste is. Maar dit was maar net een uit ’n reeks voorbeelde. Kom ons neem die Slag van Vegkop – twee jaar voor die Slag van Bloedrivier – as voorbeeld. Die Ndebeles onder koning Mzilikazi het ’n leër van 5 000 krygers gestuur en Hendrik Potgieter se laer aangeval. Potgieter het verneem dat die Ndebeles op pad is en onmiddellik met voorbereiding begin. Hulle het die waens in ’n laer getrek en die spasie tussen die waens met doringtakke toegemaak. Maar Potgieter het slegs 35 mans gehad om hulleself teen 5 000 Ndebeles te verdedig. Die oggend van die aanval het die 35 Voortrekkermans besluit om die 5 000 Ndebeles in die veld te gaan ontmoet. Hulle het die hele oggend in die veld geveg en teen die middag omtrent drieuur teruggekeer na die laer en hulleself ingesluit. Daar het die slag in alle mag uitgebreek. Die mans het nie alleen geveg nie. Die vroue en kinders het gehelp. Elke man het twee voorlaaiers gehad. Terwyl die mans geskiet het, het die vroue en kinders agter hulle gestaan en kruit en lopers of koeëls in lope laat afgly om dit te herlaai. Een van hierdie jong seuns, wat net 11 jaar oud was, se naam was Paul Kruger. Daar was meer as 150 Ndebele-krygers vir elke Voortrekker. Teen die tyd dat daar 430 Ndebele-lyke rondom die laer opgehoop het, het hulle besluit om die hasepad te kies. Die mag van 5 000 kon slegs twee Voortrekkers doodmaak.
  • Op 6 Junie 1837 het Afrikaners die eerste maal in die geskiedenis van Suid-Afrika ’n leier in ’n demokratiese verkiesing verkies. Piet Retief is as die eerste goewerneur ingehuldig en Gerrit Maritz as regter-president.
  • Ná afloop van die Groot Trek het die Boere verskeie onafhanklike, selfregerende republieke oor die land gestig. Dit sluit in die Zuid-Afrikaanse Republiek, die Republiek van die Oranje Vrystaat, die Republiek Natalia, Die Republiek van Swellendam, die Republiek van Graaff Reinet, die Nuwe Republiek, die Zoutpansberg Republiek, die Republiek Goosen, Winburg, Potchefstroom, Kliprivier, Lydenburg, Utrecht, Klein Vrystaat, Stellaland en Upingtonia/Lijdensrust.
  • Maar die suidpunt van Afrika was strategies van groot belang vir die Brittanje wat in daardie stadium die magtigste ryk in die wêreld was. Nie net was hier goud nie, maar dit was ook ’n strategiese punt op die Afrika-kontinent. Dit het tot die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880 gelei. Hier het ’n klein volkie aan die suidpunt van Afrika die magtige Britse ryk verslaan en die oorlog uiteindelik gewen by die Slag van Majuba. Die Engelse het die berg bestyg en beset, wat natuurlik vir hulle ’n enorme strategiese voordeel gegee het. Een van die Boereverkenners het vir Piet Joubert gesê die Engelse is bo-op die berg, waarop hy geantwoord het: “Kom ons gaan haal hulle af.” Ten spyte daarvan dat die Boere moes skiet en laai terwyl hulle by die berg opklim, terwyl die Engelse van agter hul skuilings bo-op die berg bloot na benede kon skiet, het die Boere die slag gewen. Een Boer het gesneuwel en vyf is gewond. Aan die Engelse kant is 92 doodgeskiet, 134 is gewond en 59 is gevang. Dit het die einde van die oorlog beteken en die Slag van Majuba word tot vandag toe beskryf as een van die mees vernederende nederlae wat Engeland ooit gely het.
  • Maar Engeland was vasberade en ná die Slag van Majuba was dit nie lank nie, of hulle was terug. En so het die Tweede Vryheidsoorlog aangebreek. Die Engelse het gespog dat die oorlog voor Kersfees verby sou wees. Maar min het hulle geweet wat hulle sou tref. Later is daar met die Engelse gespot omdat hulle nooit gesê het voor watter Kersfees die oorlog verby sou wees nie. Dit is in hierdie oorlog waar relatief onbekende Boere – wat nie beroepsoldate was nie – internasionaal gerespekteerde militariste geword het. Die konsep van guerrilla-oorlog is hier vervolmaak. Dit was ook die eerste oorlog waar kamoefleerdrag gebruik is – iets wat vandag algemene praktyk vir soldate is. Die taktieke van generaals De Wet, De la Rey en ander word vandag nog by militêre skole bestudeer.
  • Maar dit was nie al waar die militêre vermoëns van die Afrikaners mense verbaas het nie. Daar is bereken dat die Suid-Afrikaanse Weermag, as hy sou wou, die vermoë gehad het om die ganse kontinent van Afrika, tot by Egipte, oor te neem. In hierdie tyd is wêreldgehalte- militêre voertuie en toerusting ontwikkel, wat die Rooivalk-helikopter en die G6-kanon insluit, om maar twee te noem.
  • Maar ook dit was nie al nie. Ons het nou begin by die Slag van Bloedrivier en ons praat oor politieke en militêre prestasies, terwyl van ons grootste prestasies op ander terreine, soos die kultuurterrein lê. Ons taal, Afrikaans, is een voorbeeld hiervan. Afrikaans is een van die jongste amptelike tale in die wêreld. Met die lewering van die eerste regsuitspraak in die appèlhof in Bloemfontein in die vroeë 1930’s was dit duidelik dat Afrikaans ontwikkel het tot ’n volwaardige regstaal. Maar dit het ook vinnig ’n akademiese taal geword. Die eerste MBA-program buite Noord-Amerika is in 1949 aan die Universiteit van Pretoria aangebied – in Afrikaans. Vandag is daar sowat een miljoen woorde in Afrikaans … en die taal groei steeds.
  • Afrikanerkultuur het ontwikkel in iets wat so uniek is dat dit nie met enige ander kultuur in die wêreld vergelyk kan word nie.
  • Ook op saketerrein het die Afrikaners buitengewone prestasies behaal, met sakereuse wat aan die suidpunt van Afrika opgespruit het en ’n wêreldwye impak gemaak het.
  • Anton Rupert was ook een van die stigters van die World Wildlife Fund. Jan Smuts was ’n toonaangewende stigter van die Volkebond, wat vandag as die Verenigde Nasies bekend staan.

Maar nou praat ons net oor die mans, terwyl ons grootste prestasies, ons grootste heldedade en ons grootste opofferings in Afrikanergeledere nie deur die mans behaal is nie, maar deur ons vroue en ons kinders. Een van die mees unieke kenmerke van die Afrikaner is die rol wat die vrou speel. As dit nie vir ons vroue was nie, sou die Afrikaner nooit kon bereik wat hy bereik het nie.

  • Die Slag van Bloedrivier is natuurlik voorafgegaan deur die massamoorde by Bloukrans en Weenen. Nadat die Zoeloekoning Dingaan die traktaat met Piet Retief geteken en sy manskappe vermoor het, het hy sy impies uitgestuur om die Voortrekkers uit te wis. Dit was Februarie 1838. Hulle het die gebiede wat vandag bekend staan as Doringkop, Bloukrans, Moordspruit, Rensburgspruit en ander gebiede aangeval. Die kampe is onverwags in die aand aangeval: 41 mans, 56 vroue en 185 kinders is doodgemaak. Daarby is 250 Khoi-Khoi en Basoeto wat die Voortrekkers vergesel het ook doodgemaak. Johanna van der Merwe was 13 jaar oud. Sy het in ’n boom geklim om van die impies weg te kruip. Hulle kon haar nie uit die boom trek nie en het haar toe aanhoudend met assegaaie gesteek. Sy is meer as 20 keer met assegaaie gesteek, maar het die slag oorleef. Sy is later getroud en het sewe seuns gehad voordat sy in die ouderdom van 62 byna 50 jaar later gesterf het.
  • Ná die moord op haar man, Piet Retief, het Lenie Retief vir haar familie in die Kaap geskryf. Sy het nie vir hulle geskryf dat alles verlore is nie. Sy het nie gesê dat sy moed opgegee het nie. Sy het nie gesê sy wil teruggaan of die land verlaat nie. Sy het geskryf en gevra dat hulle vir haar ’n kissie vrugtebome sal stuur, sodat sy dit kan plant in die nuwe land.
  • Maar die uniekheid van Lenie Retief se brief was nie die brief wat sy as individu geskryf het nie. Die uniekheid daarvan was die psige van Afrikanervroue.
  • Ná die oorlog het Susanna Smit en die vroue wat saam met haar was, verklaar dat hulle eerder kaalvoet oor die Drakensberge sal klim as om toe te laat dat ’n ander nasie weer oor hulle regeer.
  • In Pietersburg staan daar vandag ’n standbeeld van generaal Piet Joubert en sy vrou, Drienie. Dit is ’n standbeeld van die slag van Majuba. Generaal Joubert sit op sy perd, gereed vir oorlog. Lang hom staan sy vrou. Maar die opvallende van hierdie standbeeld is dat dit Drienie is wat vorentoe beur. Sy staan trots, met haar kop omhoog en haar arm uitgestrek, waar sy vir haar man wys waar die Engelse is. Drienie Joubert is een uit baie voorbeelde van boerevroue wat sommer saam op kommando gegaan het. Sy was saam met haar man in die laer by die Slag van Majuba. Dit is sy wat vir haar man uitgewys het dat die mense bo-op die berg rooi baadjies aanhet. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, het sy haar man weer in die veld vergesel, waar sy by verskeie veldslae was. Maar sy was nie die enigste nie. Verskeie ander vroue het dieselfde gedoen, insluitend Nonnie de la Rey wat by haar man in die veld aangesluit het.
  • Een van die grootste redes waarom die Tweede Vryheidsoorlog so lank aangehou het, waarom dit so ’n groot verleentheid vir Engeland geword het, was nie bloot omdat die mans so goed geveg het nie, maar omdat die vroue, van wie baie reeds in konsentrasiekampe gesit het, wat hulle kinders moes begrawe, vir hulle mans gesê het dat hulle nie durf opgee nie. In die oorlog het die Boerevroue ’n reputasie onder die Engelse ontwikkel as vroue wat besonder hardnekkig en strydlustig was en glad nie bang om Engelse offisiere trompop te loop nie.

In ’n brief, soortgelyk aan dié van Lenie Retief, het ’n Afrikanervrou ná die oorlog geskryf: “Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie. Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie. Ons besit tans vier perde, twee muile en ’n paar skape. Gister het ek ’n emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant. As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ’n boerdery op die been kan bring.”

  • Ja, terwyl baie van die mans na St. Helena of Ceylon gestuur is, was dit die vroue wat, ná die verwoesting van die oorlog, baie van die plase weer op dreef gekry het. Georgina Solomon, ’n stigter van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie, het vertel van Afrikanervroue wat hulleself in spanne van nege voor ’n ploeg ingespan het, omdat daar geen osse was om die ploeg te trek nie.
  • Dit is waarom mense vandag sê die storie van die Tweede Vryheidsoorlog is die storie van die vrou.
  • Ook ná die oorlog, ná die rebellie, in die tyd van die Groot Depressie was dit Afrikanervroue wat die toon aangegee het. Die Helpmekaarbeweging het sy ontstaan in die ekonomiese nadraai van die Rebellie van 1914 gehad. Die Rebellie was teen die inval van Suidwes-Afrika wat as deel van Engeland se oorlog teen Duitsland uitgevoer moes word. Die Rebellie het misluk en die rebelle is beboet en moes die koste dra. Eise teen die rebelle het £340 000 beloop. Vanuit hierdie finansiële puinhoop het Afrikaners begin mobiliseer om hulleself weer op te hef. Die Helpende Hand is op 6 Maart 1915 van stapel gestuur toe 500 mense in Betlehem vergader het om geld in te samel. Vroue en kinders het help blik skud en selfs van deur tot deur gestap om koeksisters te verkoop. Hulle het £231 863 in 1915 ingesamel, en £367 100 teen 1917. As hierdie bedrag na rand omgeskakel word, beteken dit dat die Helpmekaarbeweging van omstreeks 1910 ’n bedrag ingesamel het wat in vandag se waarde op meer as R171 miljoen sou neerkom.
  • Afrikanervroue is ook kenmerkend in hul vermoë om hulleself te organiseer in vrouefederasies en ander organisasies om vir hul mense te sorg.

Dit bring ons by die kinders:

  • Dit was ’n jong man genaamd Hendrik Biebouw wat vir die eerste keer in die opgetekende geskiedenis die woord “Afrikaner” gebruik het. Biebouw het in 1707 saam met sy vriende ’n groot geraas in die strate van Stellenbosch gemaak. Die plaaslike landdros het hulle beetgekry en gedreig om hom landuit te stuur, waarop Biebouw geantwoord het: “Ik wil niet loopen, ’k ben een Africaanderal slaat die landrost myn dood, of al setten hij mijn in den tronk. Ik sal, nog wil niet swygen.” Dit was natuurlik Biebouw se manier om sy tuishoort in Afrika te beklemtoon.
  • In die Groot Trek het die kinders se ouderdom nie as verskoning gegeld om hulle van grootmenswerk te onthef nie. Kinders het gehelp om goedere te pak en te dra, om waens te stoot, om kos te kry en selfs om te help veg wanneer dit nodig was. Ons het reeds gehoor van die jong seun genaamd Paul Kruger, wat later die president van die Suid-Afrikaanse Republiek sou word, wat gehelp veg het by die Slag van Vegkop, van die 185 kinders wat vermoor is by die Weenen-massamoord en van jong Johanna van der Merwe wat 21 assegaaisteke oorleef het.
  • Daar was ook Dirkie Uys, wat sy eie dood willens en wetens by die Slag van Italeni gestormloop het. Dirkie se pa, Piet Uys, was een van die leiers van die Groot Trek. By die Slag van Italeni het die Zoeloes die Voortrekkers oorrompel en die Voortrekkers moes vlug vir hul lewe. Piet Uys is gewond en hy het op die grond geval. Dirkie was 15 jaar oud, maar hy het saamgeveg. Hy was reeds voor sy pa toe hy hoor hoe sy pa vir die ander burgers beveel om hom daar te los en hulle uit die voete te maak. Dirkie het omgekyk en gesien hoe die Zoeloes op sy pa afstorm. Toe skree hy: “Ek sal sterf saam met my pa!” Hy het met sy perd op sy pa afgestorm en in die proses drie Zoeloes doodgeskiet, wat hulle vir ’n oomblik laat vlug het. Die Zoeloes het vinnig teruggekeer en Dirkie met ’n assegaai gesteek, wat hom van die perd af laat val het, reg langs sy gewonde pa. Daar is Dirkie Uys saam met sy pa, Piet Uys, oorrompel en doodgesteek.
  • Daar was Japie Greyling. Japie was 11 jaar oud tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Sy pa het hom verbied om saam te gaan veg en hy moes sy ma by die huis oppas. Een oggend het ’n afdeling Britse soldate onder bevel van kaptein Seely by Greyling se huis opgedaag. Seely het geweet dat daar onlangs burgers op die plaas oornag het en hy wou uitvind waar hulle is. Hy het Japie begin ondervra: Waar is die burgers? Waarheen is hulle op pad? Hoeveel is hulle? Japie het geweier om te antwoord. Seely het aangehou, maar Japie het gesê: “Ek sal nie sê nie.” Uiteindelik het Seely vir Japie gedwing om teen die muur voor die huis te staan. Hy het ’n vuurpeloton Britse soldate gekry om in ’n ry voor Japie te gaan staan en begin met die proses om Japie tereg te stel. Japie het besef dat hulle hom nou gaan doodskiet. Seely het een laaste keer vir Japie die kans gegee om vir hom te sê waar die Boere is in ruil vir sy lewe. Maar Japie het geantwoord: “Ek sal nie sê nie.” Die Britse kaptein was so beïndruk met die waagmoed van die Boereseuns dat hy sy soldate beveel het om die gewere te laat sak. Seely het na Japie gestap, sy hand geskud en die plaas verlaat. Ná die oorlog het Seely lank nog vertel van die dapperheid en waagmoed van Japie Greyling en die Boerekinders wat hy tydens die oorlog teëgekom het.
  • Ook die kinders in die kampe het groot indruk gemaak. Die bekende foto van klein Lizzie van Zyl in die Britse konsentrasiekamp is deur Emily Hobhouse gebruik as bewyse van die nagmerrie wat die Afrikanerkinders in Suid-Afrika moes deurmaak. Lizzie was maar net een uit duisende wat in die kampe gesterf het.
  • Maar ons kinders se heldedade het nie by die oorlog gestop nie.
  • Johan le Roux, ’n matriekseun van Hoërskool DF Malan in Meyerton, het ’n nasionale held geword by die Henley on Klip-busramp van 1970. ’n Skoolbus het op die treinspoor tussen Johannesburg en Vereeniging gaan staan net toe daar ’n trein teen volspoed na hulle toe op pad was. Johan was een van 23 kinders wat in daardie ongeluk dood is. Maar Johan kon daarin slaag om twee van sy vriende by die venster uit te stoot voordat die bus hulle getref het.
  • Dan is daar die kinderhelde van die Westdene-busramp van 1985, toe ’n dubbeldekkerbus met meer as 70 skoolkinders deur die sypaadjie gebars en in die Westdenedam weggesink het. Ouers en mense wat die gebeure gesien het, het later gesê hulle weet nie wat die ergste was nie: die geskree van die kinders, of die stilte wat daarop gevolg het. Maar ook in die donkerste tye het ons kinders helde geword. Een held was die 17-jarige Pieter Koen wat soos Wolraad Woltemade heen en weer geswem het om sy maats se lewe te red. Pieter het vyf kinders gered. Die sesde keer dat hy na die bus geswem het, het hy nie teruggekom nie. Ook die jong Danie Theron het net soos Pieter, heen en weer geswem en drie kinders se lewe gered. Hy het uiteindelik oorleef. Daardie dag is 42 kinders dood. In die Westdene-begraafplaas in Johannesburg staan daar vandag 36 kindergrafte in twee rye – ’n tragiese herinnering aan die gebeure van daardie dag, maar ook ’n herinnering aan die helde in ons geledere.
  • Dan is daar die kinders soos klein Nelmarie en Nasie van Eck wat in 1985 in ’n ANC-landmynaanval saam met hul ma, Kobie, gesterf het, asook die kinders wat weens die Amanzimtoti-bom gesterf het en vele ander.

Een ding is seker. Die heldedade, die opofferings, die swaarkry, die oorwinnings, die tragedies, die liefde, die hartseer, die vreugde, was nie verniet nie. Ons voorouers was, om Flip Buys aan te haal, gewone mense, wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het. Hulle het dit gedoen omdat hulle geglo het. Hulle het geglo in iets wat groter as hulleself is. Hulle het geglo in God. Maar hulle het ook geglo in hul gemeenskap. Hulle het geglo in hul deursettingsvermoë, in die prestasies van dié wat voor hulle was en hulle het geglo in die prestasies wat nog voorlê vir dié wat ná hulle gaan kom. Hulle het geglo dat daar ’n toekoms is. Hulle het nie moed verloor nie. Selfs in die donkerste tye, wanneer dit gevoel het of alles verlore was, het hulle hoop behou.

Die Britse filosoof Edmund Burke het gesê dat die samelewing ’n verbond is tussen dié wat lewe, die wat reeds dood is en dié wat nog nie gebore is nie. Ons kan inspirasie put by dié wat reeds dood is, wat ons kan besiel om die uitdagings wat ons vandag in die gesig staar in die oë te kyk en te konfronteer. Maar ons is dit ook verskuldig aan dié wat ná ons gaan kom om alles in die spreekwoordelike stryd te werp om ’n vryer, veiliger en meer voorspoedige toekoms vir hulle agter te laat as die een waarna ons tans kyk.

  • Dit is hierdie besieling wat gemaak het dat Lenie Retief steeds hoop gehad het nadat haar man vermoor is.
  • Dit is hierdie besieling waaraan Dirkie Uys vasgekleef het toe hy tussen die Zoeloes injaag om saam met sy pa te gaan sterf.
  • Dit is hierdie besieling wat die vroue en die kinders by Vegkop laat aanhou veg het.
  • Dit is hierdie besieling wat Japie Greyling laat weier het om te sê waar die Boere was terwyl hy in die lope van ’n hele vuurpeloton afgekyk het.
  • Dit is hierdie besieling wat ons oumas laat koeksisters bak het om miljoene in te samel, wat gebruik is om universiteite mee te bou.
  • Dit is hierdie besieling wat vandag steeds in ons is. Ons moet dit net besef.

Ons is gewone mense, maar ons het ’n geskiedenis wat besaai is met heldedade deur gewone mense. Dit is iets waarop ons kan roem. Dit is iets waaraan ons kan kleef wanneer ons vandag die moue oprol om ’n beter toekoms te skep vir dié wat nog nie gebore is nie, net soos wat dié wat reeds gesterf het vir ons gedoen het.

Daarom kan ons steeds sing:

Gee ons die manne, rein in al hul wandel

Manne met Trekkersbloed, trou in al hul handel

Dan is ons onbevrees, sal ons toekoms veilig wees

Gee ons die vroue, eerbaar in hul wandel

Vroue met Trekkersmoed, rein in al hul handel

Dan bly ons roem bewaar, dan bly ook ons volk gespaar

 Ons kan sing:

Nimmer gaan ’n nasie onder

As ons in gedagte hou

Al die adel, al die wonders van sy mannemoed en trou

Trots die wêreld se misnoeë

Trek ons vol vertroue voort

Ons is kinders van die Groot Trek

Nasie enig aan sy soort!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

André André ·

Dankie Ernst, Suid-Afrika van vandag, dis nou die een na 1994, het nie uit niks ontstaan nie, dit was nie sommer net die volgebde dag daar nie, sedert 1652 is daaraan gewoel en gewerskaf, geskaaf, baie dikwels, meer as baie dikwels met bloed en sweet, met moedeloosheid wat genadiglik kort van duur was, en dan het ons voorouers weer die kop laat sak en die stang vasgebyt. Die hele Suid-Afrika kan vandag daarvoor dankie sê, vir die pad wat die geskiedenis ons geneem het.

Peet J ·

Mnr. Roets u toespraak is onverbeterlik hoop net meer belangstellendes sal dit lees.

Strandloper ·

Dankie vir die lekker lees man! Soms is dit net iets kleins wat mens terug bring aarde toe en hoop gee vir die toekoms. Ons herkoms spreek van self.

Amanda Wait ·

Baie dankie Ernst Roets vir hierdie wonderlike skrywe. Baie bemoedigend en mag dit diegene wat net kla, aanspoor om met geloof, hoop, moed en daad die toekoms tegemoet te gaan.✝️????????????????✨

Kuhgirl ·

Een van die hoofredes waarom Afrikanervrouens hulle mans aangemoedig het om hulle teen die Engelse te verset, ook in 1795, was omdat hulle regte erg ingeperk sou word onder Britse bewind. Bv. slegs seuns erf en dogters nie. Iets wat die vele hedendaagse paternalistiese en chauvinistiese Afrikanermans gerus in gedagte kan hou.

Franco Scheffer ·

Goeie inligting behalwe daar was byna 470 man, nie 100 nie. Die vraag wat moet gevra word is hoekom het die god van die bybel die sterk goed voorbereide en gewapende strafkommando beskerm en nie die meer as 500 mense wat by Bloukrans vermoor was nie.

Hanlie ·

Mnr Roets, dit is ‘n puik toespraak. Trots om ‘n Suid Afrikaanse wit vrou te wees.

Willie Pretorius ·

Die soewereine God het dit so behaag vir Sy doel….

Devil ·

Hierdie hele mooi storie, al die heldedade, volksverhale, konsentrasiekampe, oorwinnings, hard werk, bid, hartseer, huil, bloedsweet, ALLES, net so weg gegee en nou was AL hierdie goed eintlik maar, op die ou einde, net mooi vir niks!

Ons is verraai!

Sannie ·

Ek het die afgelope week ‘n Engelse boek gelees wat ‘n breë blik oor die ontstaan van Pretoria en die lekker lewe wat veral die “hoë” Engelse daar geleef het. Opvallend was die doelbewuste uitlating van alles wat Afrikaans was. Veral die Eerste en Tweede Vryheidsoorlog is doelbewus vermy. Daar is slegs een reëltjie wat na die konsentrasiekampe in Irene as “vlugtelingkampe” verwys. Dis die soort leuenagtige vyand wat ons voorouers van destyds moes konfronteer! Pragtige stuk, Ernst!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.