Geloftedag: ’n Eksklusiewe geleentheid?

Sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument. Foto: Commons.wikimedia.org

Deur ds. Schalk Strauss

 16 Desember 1838. Die slag van Bloedrivier. Geloftedag. Afrikaner-volksfees. Perdekommando’s, tradisionele drag, skyngevegte en goeie Boere-vermaak. Dit is waarskynlik hoe die gemiddelde Afrikaner oor Geloftedag dink. Dit is óns dag, waarop óns volk die Here dank vir die wonder van óns voorgeslagte, die Voortrekkers, se oorwinning oor die magtige Zoeloe‑impi’s van Dingaan op die walle van die Ncomerivier. Vir ons is dit bykans ondenkbaar om te dink dat enige iemand anders as Afrikaners die dag om dieselfde rede as ons sal wil vier. Tog gee ons nie om wanneer Duitsers of Engelse of Franse of selfs Portugese wat met die Afrikanervolk geassimileer het en met sy geskiedenis assosieer, die dag saam met ons vier nie.

Eksklusief of inklusief?

Die oomblik wanneer die woord “inklusief” in dieselfde asem as iets soos Geloftedag gebruik word, rys die nekhare. In Suid-Afrika het die woord “inklusief” ’n kodewoord geword om dinge te relativeer en van hul unieke karaktereienskappe te stroop. Sedert 1994 staan Geloftedag as Versoeningsdag bekend. Die naamsverandering het juis gespruit uit die oproep tot groter inklusiwiteit. Hierdie vervreemding van die “eie” in die naam van inklusiwiteit, steek baie Afrikaners dwars in die krop sodat hulle hul aptyt vir die term “inklusiwiteit” heeltemal verloor.

Wanneer ons egter oor die aard van Geloftedag dink, is dit ’n vraag of ’n meer inklusiewe benadering nie tog geregverdig is nie. Verder is dit ook nodig dat ons soms ’n tree of wat terug gee sodat ons ons eie gebruike en gewoontes behoorlik onder die loep kan neem. Openbaar ons eksklusiewe denke oor die dag nie dalk ’n verkeerde beklemtoning ten opsigte van die belangrikheid van die dag nie? Wanneer jy die dag as volksfees eerder as ’n geloofsfees beskou, maak ’n eksklusiewe karakter vir die dag sin. Tog is die 1838-Gelofte ingebed in en het dit gegroei vanuit ’n vaste vertroue in God en ’n intieme verhouding tussen Hom en sy kinders.

Die aard van die Gelofte

Wanneer die Gelofte bestudeer word, is die geestelike aard daarvan onmiskenbaar. Enige buitestander wat die inhoud daarvan sonder enige agtergrondinligting bestudeer, sal tot die gevolgtrekking kom dat die Gelofte onmiskenbaar Christelik van aard is. Gelowiges bely hulle afhanklikheid van die Verbondsgod en onderneem om die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

Primêr was dit nie ’n stryd tussen Voortrekker en Zoeloe of tussen wit en swart nie. Dit was ’n stryd tussen lig en duisternis; tussen die Christendom en die heidendom. Tydens hierdie stryd het God nie ’n volk bewaar nie, maar sy volk. Hy het nie die Voortrekkers beskerm omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was. Die oorwinning by Bloedrivier was ’n Godswonder en as sodanig ’n uitvloeisel en bevestiging van die oorwinning op Golgota. Die rimpeleffek van hierdie oorwinning het nie net ’n beslissende invloed op die geskiedenis van die Afrikaner gehad nie, maar ook op dié van ander volke in Suid-Afrika.

Die gevolg van die wonder

In sy genade het God die eens magtige Zoeloeryk wat in sy trotsheid hom die reg toegeëien het om oor die lotgevalle van ander volke in Suid-Afrika te besluit, vernietig. Met die oorwinning by Bloedrivier is die skrikbewind van die Zoeloeryk, wat veral tydens die Mefecane hoogty gevier het, beëindig. Tot ’n groot mate is die binneland van Suid-Afrika gestabiliseer. Sodoende het God nie net ruimte geskep vir die Voortrekkers om te floreer nie, maar ook vir die ander volke van Suid-Afrika. Dr. Pieter Möller is dus reg wanneer hy in Die Boodskapper van Desember/Januarie 2018 tot die gevolgtrekking kom dat ander volke in Suid-Afrika hul vooruitgang tot ’n groot mate aan die slag van Bloedrivier te danke het.

Een van die merkwaardigste gevolge van die slag word egter deur dr. Peter Hammond beskryf. Hy noem dat daar voor die Slag van Bloedrivier, ten spyte van bykans agtien jaar se sendingarbeid onder die Zoeloes, geen bekerings gedokumenteer was nie. Ná die slag het die damwal egter gebreek sodat duisende Zoeloes tot bekering gekom en die Christelike geloof aangeneem het. Opnuut word die waarheid van die Dordtse Leerreëls (3&4:11) bevestig, naamlik dat God in sy genade en almag in staat is om die hardste hart te vermurwe en dit wat onbesnede is, te besny. Christen-Zoeloes het dus net soveel rede om die roem en die eer vir daardie oorwinning aan God te gee as wat Christen-Afrikaners het – al was hulle aan die verloorkant.

Die oorwinning by Bloedrivier het die deur vir die verspreiding van die evangelie en die vestiging van ’n Christelike beskawing in die binneland van Suid-Afrika geopen. Die onderneming in die Gelofte om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, het meer behels as die oprig van die Geloftekerk by Pietermaritzburg. Ten diepste was dit ’n onderneming om God se huis, sy kerk, in die binneland van Afrika te vestig. Hiervan getuig die sendingstasie wat by Dingaanstat opgerig sou word.

Kersfees en Geloftefees

Dit is duidelik dat Geloftedag en die gevolge van die oorwinning ten diepste elke gelowige in Suid-Afrika raak, ongeag sy nasionaliteit. Eersdaags herdenk ons weer die geboorte van ons Here Jesus. Hoewel Hy as “Koning van die Jode” gebore is, word sy geboorte nie eksklusief deur die Joodse volk gevier nie. Die gevolg van sy verlossingswerk op aarde was so ingrypend dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie hierdie wonderlike gebeure op ’n unieke wyse herdenk. Die rede? Want uiteindelik was Hy nie net “Koning van die Jode” nie, maar die Verlosser van die wêreld.

Op dieselfde wyse kan oor Geloftedag gedink word. Die wonder het op ’n spesifieke tydstip onder ’n spesifieke deel van God se kinders plaasgevind, maar die invloed daarvan was universeel.

Inklusiewe fees, maar met ’n eksklusiewe karakter

Wanneer Geloftedag dus primêr as ’n geloofsfees beskou word, behoort dit inklusief te wees. Christene wat glo in die oorwinning van die Lig oor die duisternis, behoort die dag te vier as ’n inheemse bevestiging van die Golgota-gebeure, ongeag hul etnisiteit. Die oorwinning by Bloedrivier was nie net ’n bewys van God se beskerming van sy kinders onder die Voortrekkers nie, maar dit was ook ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis en geestelike toekoms van ander volke in Suid-Afrika.

Met “inklusief” word dus bedoel dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie in Suid-Afrika saam met Christen-Afrikaners aan God die eer vir hierdie oorwinning moet gee. Dit impliseer nie noodwendig gesamentlike feesvieringe nie. Net soos wat God se kerk ’n unieke karakter onder verskillende bevolkingsgroepe aanneem, sal die feesvieringe ook ’n unieke of meer eksklusiewe karakter onder Christene uit verskillende bevolkingsgroepe toon. Hoewel die feesvieringe ’n eksklusiewe karakter mag vertoon, behoort die getuienis universeel te wees: Dat die roem en die oorwinning aan Hom gegee word!

By die Bloedrivierterrein is daar deesdae ’n brug tussen die plek waar die Trekkerlaer was en die plek waar die Zoeloemagte saamgetrek was. Die doel hiervan is om “versoening” tussen Afrikaners en Zoeloes te bevorder. Dit is egter ’n arbitrêre en humanistiese poging en daarom nie baie suksesvol nie. Wanneer Christus en die bevryding wat Hy vir beide groepe op daardie dag bewerk het, erken word, sal ons besef dat Hy die enigste brug van versoening kan wees.

  • Strauss is die redakteur van Die Boodskapper en hierdie artikel is met die vergunning van die APK op Maroela Media geplaas.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

John ·

Die dominee probeer hard. Geestelikes het deur die jare hard gewerk aan die land se politiek… maar altyd links van die pad gemik met charity as hooftema. Geloftedag is nie ‘n oologsverklaring nie, maar ‘n dankdag van ‘n volk met ‘n eed jeens die Vader. Afrikanereiendom-konfiskering (soos dominee se ou plasie) is nou in die gedrang. Dalk ook binnekort oom-dominee se preekstoel. Ons mag seker die Vader nader vir raad en hulp, of bid dominee net vir sy verste se geite en giere? Waar in die Bybel staan dit of werk dominee ook nou aan ‘n nuwe Bybel soos wat die NWBeweging eis?

Gemaskerde Sopbeen ·

Met ander woorde die slag van Bloedrivier was eintlik ‘n stryd tussen gelowige en ongelowige (volgens christene se standard)……….en dit wil voorkom asof die christene se god die zoeloe’s se voorvadergeeste ‘n hard klap gegee het………..waarna miljoene zoeloe’s toe die voorvadergeeste vaarwel toegeroep het, en begin het om die christene (wie duisende zoeloe’s plat geskiet het) se god aan te hang………..maar net tot 1992 toe die “christen blankes” hulleself oortuig het dat dit goed vir almal sal wees om die “vyand” van 1938 die heersers van 1994 af tot nou te maak…………en nou hol ons in ons duisende na ‘n klip monument en sê jammer dat ons dit nie elke jaar gedoen het nie? Luister julle na julleself?

lewies ·

Dit klink na verkeerde besluite? wat die OERSONDE van die mensdom is.

Awie Opperman ·

Geagte G. Sopbeen, daar kom ‘n dag waar elke knieg sal buig en bely dat Jesus waarlik die Seun van God. Ek hoop en bid dat my Here in jou hart sal werk sodat jou siening verander voor dit te laat is. God is lief vir jou ook.

Grassie ·

John – hierdie dominie is ‘n opregte, behoudende Boer en Afrikaner. Lees mooi wat hy skryf. Hy is nie ons vyand nie.

Thinus Erasmus ·

Mag ek dit net polities korrigeer: Inklusief met die (outomatiese) uitsluiting van die Afrikaner, want in vandag se terme is Afrikaner orals uitgesluit behalwe by die beskuldigde bank, waar ons enigste setel en woning is.
Ek was gister daar en het nie een RSA vlag, die ware een, gesien nie. Is dit reeds deur die ons eie Afrikaner uitsluitings gewete verban?
Ons is seker die enigste volk in die heelal waar die meeste lede trots is daarop om hul eie volk te verraai en dan baie trots te wees daarop dat hulle eintlik die volk verteenwoordig.

lewies ·

Realistiese Eksperiment: As die VLAG nie wapper nie. Verlang die mense nie terug na die tyd toe alles gewerk het. As hy wel wapper word hulle beboet of gevang.

Die gevolgtrekking sal elkeen maar vir homself moet maak.

Andre ·

Geloftedag was ‘n LEKKER DAG’ … wat vryelik gevier is deur almal wat wou.

Geen dwang!

Dis onnodig om so te wroeg!

‘Be happy!’

lewies ·

GELOFTEDAG IN PERSPEKTIEF: Die Here het deur die geskiedenis, Volke wat uit mense bestaan gebruik, om Sy verteenwoordigers te wees op plekke waar daar nie tot Sy eer opgetree is nie, reg te stel. Sy opdrag was duidelik. “Stel reg wat daar reg gestel moet word, terwille van My eer.”

Daar is hard probeer om hierdie opdrag uit te voer, maar helaas ons sien vandag dat daar dinge is wat ons anders kon doen, sodat ons land ‘n ware voorbeeld vir die res van die wereld kon wees. Hy het dit met Israel gedoen en waarom ook nie met ons. Dit is nie te laat nie!! GELOFTE DAG moet ook vir ons hierdie boodskap gee. “Sy opdag staan steeds vas, want Ons staan ook onder SY VERBOND. Sy opdrag het nog nie verander nie “doen wat julle moet doen terwille van MY EER alleen,

RG ·

Minder praat, meer aksie planne, punt gewys en op die man af sal help.

Thinus Erasmus ·

My punt is: Die mense wat die monument opgerig het, onder die vlag van hulle land, is nie meer welkom by die monument wat vir hulle vir hul nageslag opgerig het nie, ook nie hul vlag nie.

Waar is hulle? ·

Soos John hierbo sê: Die dominee probeer hard. Op watter planeet woon die broeder-dominee? Klink tipies as of hy uit die mond van die A-Bond praat. Waar is hierdie sogenaamde hordes “christen zoeloes”? Sedert die liberale Engelse sendelinge op strepe in Afrika uitgemoor was, het geen duit verander nie. Afrika is vandag nog nét so wild soos dit 400 jaar gelede was, maar nee, die dominee wil mos “almal” in sluit. Miskien sal Afrikanereiendom-konfiskering die dominee tot sinne ruk. …..of miskien nie!!

Jerry ·

Die eens magtige trotse Zoeloeryk wat homself die reg toegeeien het om oor die lotgevalle van ander volke te besluit, se boosheid het homself vernietig! Die eens magtige trotse Afrikanerryk wat homself toe ook daardie reg toegeeien het deur apartheid, se boosheid het daardie ryk gestop! Die magtige ANC wat hom nou daardie reg ook toeeien, se boosheid gaan hom ook vernietig! God is aan die kant van die lig en nie die duisternis nie, God is nie boos nie en vernietig nie, dit is die mens se boosheid wat vernietig, daarom is dit so belangrik dat die Afrikaner leiers die regte dinge met goeie eerbare bedoelinge, reg moet doen tot eer van God! Doen goed en goedheid sal jou volg, doen kwaad en kwaad sal jou volg. God het n verbond met Abraham gesluit omrede God instaat is om sy verbond en belofte gestand te doen. Geen mens is instaat om n verbond te sluit of n gelofte teenoor God te maak nie, want geen mens is instaat om sy beloftes of in die geval gelofte, gestand te doen nie! Die Afrikaner wat die gelofte teenoor God gemaak het, kon duidelik dit nie gestand hou nie! Net soos wat julle nie beloftes teenoor God moet maak nie, moet julle ook nie beloftes aan God se volk maak wat julle nie sal kan nakom nie!

Anton X ·

Dominee, gaan verkondig jou versoening in Australie, Niew Zeeland of Amerika. Hoeveel versoening moet ek nog. Moet ons almal se voete was. Vertel my dit, hoeveel het die Kween versoen. Sy het duisende van ons vroue en kinders vermoor. Het sy ooit gese jammer? NEE. Het ons die Engelse vermoor by die duisende en hul besighede en grond afgevat vir Afrikaner Ekonomiese Bemagtiging? NEE. Ons het gebou uit die ashope van verdriet en depressie om vir ons kinders iets beter te laat erwe.
Wat is dit met die nasie. Als word geplunder. Elke dag ‘n nuwe korrupsie. Biljoene verdwyn, en niemand word vervolg nie. Net gedood. Terwille van versoening. Niemand mag iets se wat ‘n ander se gevoelens seermaak nie. Regtig? Vertel daai storie vir Cecil John Rhodes. Ek kan hoor hoe hy en die Kween saam lag.
Dis tyd om die versoening opsy te skuif. Ons het probeer. Dit het nie gewerk nie. HULLE wil nie versoen nie, want dan het hul geen verskonings vir hul patetiese mislukkings nie.
Olie jou kettie dominee.
Jy gaan hom binnekort nodig kry.

Rudie Booyens ·

Ek glo d skrywer het God se hart kom blootlê. God het alle volke lief, verklaar die Bybel.
Ek ken talle Zoeloes wat Jesus in Sy verlossings krag leer ken het. Hulle lewens getuig daarvan.
Verseker was 16 Desember 1838 in die eerste plek ‘n reuse antwoord op gebed, en in. My opinie, ook die aanbreek van ‘n nuwe geestelike era in SA.
Wel gedaan dominee!

Kobus ·

Ds. Strauss, ek dank God vir die insig en vars perspektief wat Hy aan u geskenk het om hierdie geneësende woorde te kon skryf.

Fryingfrog ·

Ek is self in die APK, maar stem nie met alles hierbo saam nie. Die Jode vier nie Kersfees nie, dus kan hul dit ook nie inklusief of eksklusief vier nie. Bietjie van ‘n dinkfout. Die Gelofte is deur Afrikaners afgelê met die oog op die nageslag. Dit word ook so in die Gelofte genoem. Wat ons nóu in SA het, is dat hoofsaaklik die Afrikaners eenkant Geloftefees vier en hoofsaaklik die swartmense Versoeningsdag vier wat hul t.w.v. politiek ten koste van die geskiedenis verwring. (Gaan lees maar wat CR oor ons geskiedenis kwytgeraak het!) Eintlik het die twee feeste niks met mekaar in gemeen nie. Die uitgangspunte is totaal verskillend. Origens ‘n goed-geskrewe artikel wat ek ook reeds in Die Boodskapper gelees het.

VanAfrika ·

Alhoewel die Bybel sê ons mag geen belofte maak aan enige iemand nie, nie eens aan God, Sy Seun en die Heilige Gees nie, het ons voorgeslagte dit wel gedoen. Ek sou graag wil glo dat ek nie deel van daardie Belofte makery was nie, want ek voel dat iemand dit nie namens my moes gedoen het nie en ek nie belofte aan God wil of wou breek nie.
Soos baie ander beloftes wat al voor God gemaak en gebreek is, het ons hierdie een ook gebreek. Dan wil almal weet hoekom ons in hierdie penarie sit. God het net Sy voet uit ons lewe gelig omdat ons 16 Desember vergeet of vermy het of steeds vergeet en steeds vermy en nog steeds verskoning soek oor moet ons of moet is dit nie meer nakom nie. n Belofte is n Belofte en n Gelofte is n Gelofte, dis dieselfde bedoeling. Die Woord sê as om eerder n belofte te maak, laat jou ja, jou ja wees en jou nee, jou nee, met ander woorde, jou woord moet jou eer wees, daarom was en is dit nie nodig vir ons om enige beloftes te maak nie. Maar nou is hierdie Gelofte gemaak en soos ek God se Woord verstaan, gaan hierdie Gelofte nagekom moet word.

Janee ·

Ja-nee ons ken hulle, die christene wat die voorvadergeeste aanbid.

Wonder ·

Ek het ook gewonder hoekom stem SA se klomp wonderlike christene klokslag elke keer vir die ANC?

Anita ·

Daar was ‘n gelofte aan God gemaak, en ‘n gelofte kan nie verbreek word nie. Dit is nie wit teen swart nie, dit is die roepstem van Christene om hulp, dieselfde as persone besig is om te verdrink/ of in groot brande , dan bid ons ook dat God ons moet help. Hierdie dag moet deur elke christene onderhou word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.