Gemeenskap: Wat bedoel ons?

kerk-gemeenskap

Foto: Thepalmerperspective.com

Ons gebruik dikwels die term gemeenskap. Maar, wat behels die term? Wat is die kenmerke van ʼn ware gemeenskap? Die volgende aanhaling uit prof. Danie Goosen se boek Oor gemeenskap en plek – anderkant die onbehae is ʼn bondige uiteensetting van wat ons bedoel met die term gemeenskap en hopelik kan ons die gesprek oor die gemeenskapsgedagte deur werke soos hierdie aan die gang kry.

Wat beteken dit as ons sê dat die mens van nature ’n gemeenskapswese is?

Alhoewel deurgaans na hierdie vraag teruggekeer word, kan in aansluiting by bogenoemde opmerkings soos volg daarop geantwoord word. Dit hou met die twee eienskappe verband waarna hierbo as die konstituerende aspekte van gemeenskap verwys is, naamlik mede-verskyning en gemeenskaplike sake. Maar waarna verwys hierdie aspekte? Ons staan kortliks by elkeen stil.

Eerstens, mede-verskyning. Ons kan sê dat mede-verskyning na die dinamiese, aktiewe en selfs ekstatiese kante van gemeenskap verwys. In en deur ons mede-verskyning reik ons ekstaties bo-oor ons eie individuele grense uit en tree ons in verhouding met andere. In en deur ons mede-verskyning tree die self en die ander met ander woorde in ’n dinamiese verhouding. Hier val die klem op die gebeure tussen mense, op hulle interaksie, op die saamwees in die werkwoordelike sin van die woord.

Tweedens, die gemeenskaplike sake. Die verskynsel van gemeenskap het nie net met die werkwoordelike of die dinamiese te doen nie, maar ook met die substantiewe, die stabiele of die konstante. Dit wil sê dinge wat nie noodwendig aan die jongste modegier onderwerp is nie, maar wat eerder deur ’n sekere onveranderlikheid gekenmerk word. Laasgenoemde lê opgesluit in daardie dinge wat gemeenskappe met mekaar deel en wat oor tyd heen ’n vaste karakter verwerf. Ons noem dit die “gemeenskaplike sake”. Gemeenskaplike sake kan na ’n wye verskeidenheid van dinge verwys. So kan dit onder meer betrekking hê op subjektiewe oortuigings (soos etiese, estetiese en metafisies-godsdienstige oortuigings); maar ook op objektiewe kragte (soos gemeenskaplike families, geslagte, ekonomiese stande, asook talige, kulturele, nasionale en godsdienstige erfenisse). Maar na watter gemeenskaplike saak ook al verwys word (subjektief of objektief), in albei gevalle handel dit oor substantiewe sake, dit wil sê oor dinge wat aan die gemeenskap ’n eie identiteit, stabiliteit of karakter verleen.

Maar dit bring ons by die belangrike punt. “Gemeenskap” soos wat dit deurgaans in die werk gebruik word, is gemeenskap by grasie van die feit dat beide konstituerende aspekte tegelyk aanwesig is. Gemeenskap gebeur in en deur sowel die dinamiese mede-verskyning aan mekaar as die deelname aan gemeenskaplike sake, sowel die veranderlike as die stabiele, sowel die historiese as die tydlose. In en deur hulle onverbreeklike samehang en wisselwerking het ons met “volwaardige”’ gemeenskappe te doen.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Dream ·

In SA sal en kan ons nooit as een gemeenskap gesien word terwyl die politici verdeeldheid en haat verkondig nie. Jammer maar die reenboognasie is net ‘n droom van Mandela gewees, dit het en sal nooit ‘n realiteit word nie. Zuma en Kaders doen alles in hulle vermoe om die gemeenskap te verdeel langs kleurgrense heen, en solank dit gebeur sal geen gemeenskap ook saam staan teen enige probleem/gevaar/misdaad nie. Steeds verkondig die een groep die ‘struggle’ en apartheid terwyl daar na 22 jaar geen versoening op die gebied van regeringskant gedoen is nie, inteendeel, solank hulle dit kan blameer, hoef hulle niks aan hulle foute te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.