Gerugte oor globale resessie voortydig

uurglas-geld-rande-rand

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Sowat ʼn dekade ná die finansiële krisisse in die Verenigde State van Amerika (VSA) en daarna in Europa, bestaan daar nou weer vrese vir nuwe ekonomiese uitdagings. Verskeie ekonome en kommentators het die afgelope week of twee daarop gewys dat ʼn resessie in die Euro-sone, Brittanje en die VSA moontlik is en dat dit na die res van die wêreld kan versprei.

Die belangrikste om te erken, is dat die huidige ekonomiese uitdagings in veral Europa van ʼn ander aard is as dié wat die Europese skuldkrisis van 2009 veroorsaak het. Tóé was dit veral banke in Griekeland, Spanje en ander Suid-Europese lande wat in die moeilikheid beland het en wat deur Noord-Europese lande uitgehelp moes word. Vandag sien ons gesonde ekonomiese groei in Spanje, Griekeland en Portugal en matige groei in Italië, terwyl die huidige verlangsaming eerder in die Noorde van Europa plaasvind.

Duitsland se ekonomie het in die tweede kwartaal van vanjaar met 0,1% gekrimp en sou dié tendens (soos verwag) in die huidige kwartaal voortduur, sal dit beteken dat Duitsland in ʼn resessie verkeer. Die Duitse ekonomie is die vierde grootste in die wêreld en die grootste in Europa en baie ander Europese ekonomieë is afhanklik van uitvoere na Duitsland.

Ook in die tweede en derde grootste ekonomieë van die wêreld, China en Japan, bestaan daar kommer vir ekonomiese probleme. Japan se uitvoere het in Julie vir die agste maand in ʼn ry afgeneem. Die Chinese ekonomie beleef ook ernstige uitdagings met laer ekonomiese groei en toenemende werkloosheid terwyl maatskappye hul produksie na ander, meestal Asiatiese lande skuif, uit vrees vir die handelsoorlog met die VSA.

Daar is ook heelwat gerugte oor ʼn komende resessie in die VSA. Dit is egter totaal voortydig. Die Amerikaanse ekonomie is tans nog besonder sterk en toon minder uitdagings as die volgende drie groot ekonomieë van die wêreld.

Volgens die Instituut van Voorraadbeheer in die VSA is produksie in dié land steeds aan die toeneem, terwyl algemene voorraadvlakke en pryse bly daal. Werkloosheid is byna afwesig met ernstige arbeidstekorte in sommige industrieë waar daar veral oor die somermaande ekstra arbeid benodig word. Verder het die gemiddelde inkomste per huishouding ná belasting oor die eerste helfte van 2019 met 3,3% toegeneem, terwyl spaarkoerse tot ʼn uitstekende 8,1% gestyg het. Dit beteken dat Amerikaners heelwat meer geld het om te spandeer.

Uitvoere maak slegs 13% van die Amerikaanse ekonomie uit en dit is veral plaaslike koopkrag wat ekonomiese groei in die VSA dryf. Daarteenoor is China, Japan en Duitsland baie meer afhanklik van uitvoere. Ook Brittanje is afhanklik van uitvoere en ook dié land se ekonomie – die vyfde grootste in die wêreld – is weens onsekerheid oor Brexit, onder heelwat druk.

Dat ʼn volgende ekonomiese krisis of resessie heelwat lande oor die volgende paar maande kan tref, is so, maar daar is min rede om te glo dat ʼn groot, globale krisis soos in 2008 en 2009 weer op die horison is.

ʼn Spoedige handelsooreenkoms tussen die VSA en China, verhoogde spandering op infrastruktuur in Duitsland, ʼn ordelike Britse uittrede uit die Europese Unie en verdere ekonomiese herstel in Suid- en Oos-Europa kan alles bydra tot ʼn matige ekonomiese verswakking wat oor ʼn jaar of twee weer verby kan wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annie Webb ·

Dankie vir dié ingeligte, betroubare uiteensetting! Die gerugte van ‘n komende resessie in die VSA is deel van die Demokrate se strategie vir 2020: as hul meelopers in die hoofstroommedia die Amerikaanse publiek kan oortuig van die “komende resessie” en bv. die aandelemark negatief beïnvloed, kan hulle dalk pres. Trump “bykom”. Maar op hierdie stadium is die Dems se desperaatheid té sigbaar en die linkse media se invloed té erg aangetas dat hulle op so ‘n manier sukses kan behaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.