Geskiedenis van idees: 20ste eeu tot en met die Tweede Wêreldoorlog

Die Verdrag van Versailles word gefinaliseer deur afgevaardigdes na die vredeskonferensie Junie 1919. Hierdie verdrag het ‘n einde aan die Eerste Wêreldoorlog gebring. Dit word ook bestempel as een van die grootste onderliggende oorsake van die Tweede Wêreldoorlog (Foto: Ann Ronan Picture Library / Photo12 via AFP)

Die 20ste eeu is gekenmerk deur ʼn nog groter veelvoud aan idees en denkrigtings as vorige eeue. Dit is ook die eeu wat seker die grootste skommelings van enige tydperk gesien het.

Die voorspoedige tyd van die eeuwisseling tot en met die Eerste Wêreldoorlog met sy merkwaardige kulturele en tegnologiese ontwikkeling; die Eerste Wêreldoorlog waar Europa homself verskeur het; die tussenoorlogfase waar radikaal gebreek is met die verlede en geëksperimenteer is met nuwe kunsstyle, nuwe politieke ideologieë en nuwe idees; die Tweede Wêreldoorlog met sy verskrikkings en gruweldade wat Europa as wêreldmoondheid vir eers van die toneel verwyder het en die VSA en Sowjetunie as die twee onomstrede supermoondhede na vore gebring het.

“Abbesses” deur deur Hector Guimard, Franse argitek, ontwerper en prominente figuur van die Art Nouveau-styl (Foto: Wikipedia)

Duidelik was die nuwe tyd, wat reeds voor die Eerste Wêreldoorlog begin het, in die kuns en argitektuur sigbaar. Die bombastiese boustyl van die historisme van die laat 19de eeu met sy oormaat aan ornamente en vermenging van style is vervang deur die Art Noveau-styl met sy breuk met die verlede en met ʼn groot mate van vryheid, motiewe uit die natuur, ronde vorms en die gebruik van sensuele ornamente.

Na die Eerste Wêreldoorlog was daar selfs ʼn nog meer duidelike breuk met die prag en praal van die verlede en die vervanging met veral funksionele argitektuur, die Art Deco-styl. Die Duitse Bauhaus-styl het nugterheid en funksionalisme tot die uiterste gevoer. In die kuns is style wat abstrak en bisar was, soos Kubisme en Surrealisme, ontwikkel.

In die filosofie was daar verskeie rigtings, soos die Fenomenologie, wat skepties teenoor die absolute aanspraak van die natuurwetenskappe staan en eerder die vraag ondersoek oor hoe tot ʼn sekere insig gekom word, nie wat die insig of uitkoms is nie. Die analitiese en taalfilosofie ondersoek die betekenis wat taal aan begrippe gee en hoe dit die denke beïnvloed. Die filosofie van die bestaan ondersoek wat menswees uitmaak.

Die oorwinning van totalitêre ideologieë

Wladimir Lenin, Friedrich Engels en Karl Marx (v.l.n.r.) was belangrike ontwikkelaars van die sosialistiese idee.

Die tyd na die Eerste Wêreldoorlog het die opkoms van totalitêre ideologieë gesien. Die verwoeste lande en die honger en vertwyfelde bevolkings was vatbaar vir die maklike antwoorde wat Kommunisme in Rusland, Fascisme in Italië en Nasionaal-Sosialisme in Duitsland gebied het (ook in verskeie ander lande was soortgelyke ideologieë aan die opkom).

Alhoewel Kommunisme ekstreem links is en die ander twee ideologie as ekstreem regs gereken word, het hulle verbasend baie in gemeen, soos hulle klem op die sterk staat, die uitsonder van sekere groepe as sondebokke vir alles wat verkeerd gaan, beheer oor die ekonomie, uitskakeling van burgerlike vryhede en omvorming van mense tot ʼn willose massa deur middel van permanente propaganda. Totalitêr is ook dat alles aan die ideologie onderwerp word en geen ruimte vir die private gelaat word nie. Om mense met ander sienings uit te snuffel en aan die kaak te stel as gevaarlike ondermyners, is eweneens kenmerkend van sowel Kommunisme asook van Fascisme/ Nasionaal-Sosialisme.

Benito Amilcare Andrea Mussolini het Italië regeer as ‘n diktator vanaf 1922 tot 1943 (Foto: Keystone-France/Gamma-Keystone via Getty Images)

In Rusland het nog tydens die Eerste Wêreldoorlog die kommuniste onder Wladimir Lenin (1870-1924) met die sogenaamde Oktoberrevolusie gewelddadig die beheer oorgeneem, nadat die ou orde van die tsaar reeds enkele maande tevore met die meer gematigde Februarie-revolusie verwyder is. Lenin was die eerste een wat Marx se idees uit die 19de eeu in praktyk uitgevoer het, met sy eie vertolkings en aanpassings aan die spesifieke omstandighede van Rusland.

Terwyl Marx die idee gehad het dat die onderdrukte massas in opstand sou kom en die kapitalistiese stelsel ten gunste van ʼn kommunistiese een omver sou werp, het Lenin die idee gehad dat ʼn oortuigde elite die revolusie moet lei en dat na die revolusie die kommunistiese party alles moet beheer om die bestand van die revolusie te verdedig. Dit het ook beteken dat enige opposisie uitgeskakel moes word, wat alle metodes ingesluit het. Verder het Lenin die Marxistiese teorie op die hele wêreld van toepassing gemaak: deur die imperialisme van sy tyd het die kapitalisme ʼn wêreldwye verskynsel geword en kan dit nie meer net in een land beveg word nie, maar orals.

Anders as Marx, wat gereken het dat ʼn samelewing eers deur alle historiese stadiums moes gaan (dialektiese materialisme) voor die tyd vir ʼn kommunistiese revolusie ryp was, het Lenin gedink dat die revolusie ook in agterlike lande soos Rusland, wat volgens Marx se skema nog in die feodale fase was, kan begin en dan op die Weste sal oorspoel en ʼn wêreldrevolusie sou word. Die grootste deel van die uitvoering van Lenin se program het sy opvolger Josef Stalin op uiters grusame wyse en met miljoene slagoffers gedoen deur ʼn stelsel van vrees en totale kontrole. Lenin se idees is vandag nog gewild by linkse kritici van globalisme, wat met die mooi klinkende idee van Derdewêreld-bevryding-en-solidariteit te koop loop.

Die ander bepalende ideologieë, wat ewe totalitêr en grusaam was, maar wat nie dieselfde wêreldwye impak gehad het nie, was die Fascisme in Italië met Benito Mussolini as leier en die verwante Nasionaal-Sosialisme in Duitsland onder Adolf Hitler.

Portret van Adolf Hitler (Foto: Hachedé / Photo12 via AFP)

Beide verkondig die verabsolutering van die staat en eis die onderwerping van die bevolking daaraan. Die staatsleier het die opperste gesag en is deur sy eie gewaande uniekheid tot ewige leier beroep.

Verkiesings vind nie plaas nie en die idee van demokrasie en kompetisie van idees word verwerp. Die staat word gewoonlik as die verpersoonliking van ʼn volk of ras gesien en almal wat nie tot die volk behoort nie, word as tweedeklasburgers behandel.

Veral die Nasionaal-Sosialisme het die diskriminasie van minderhede tot die uiterste toe gevoer, tot so vêr as uitroeiing op enorme skaal. Nes in die kommunisme word ʼn fanatieke en lojale elite sonder intellektuele en kulturele vorming of godsdienstige verbintenisse as draers van die idee opgelei en elke aspek daaraan onderwerp. Geweld as middel tot ʼn doel word gereeld gebruik en die militêre word verheerlik. Die doel van die ekonomie is nie om welvaart vir die bevolking te skep nie, maar om die staat gereed te maak vir oorlog en uitbreiding.

Ten spyte van die menige ateïstiese ideologieë van verregs tot verlinks wat destyds selfs menige denkers meegesleur het, was daar altyd ook in die intellektuele kringe opregte Christene wat die Christelike leer verdedig en in die konteks van die tyd verduidelik het, soos GK Chesterton (1874-1936) en CS Lewis (1898-1965).

Denkers en idees van die eerste helfte van die 20ste eeu

Max Weber (1864-1920) was ʼn Duitse sosiale wetenskaplike en dosent en geld as een van die grondleggers van die sosiologie. Hy het ook belangrike idees en bydraes op die terrein van die geskiedenisvertolking en regskunde gelewer. Weber het deur sy boeke verskeie gevleuelde begrippe gevorm wat tot vandag toe gereeld aangehaal word, soos die Protestantse werksetiek, die onttowering van die wêreld, die etiek van oortuiging teenoor die etiek van verantwoordelikheid en die geweldmonopolie van die staat.

Max Weber (Foto: Wikipedia)

In die boek Die Protestantse werksetiek en die gees van Kapitalisme van 1904 speur Weber die vraag na hoekom die moderne Kapitalisme (wat in Weber se tyd baie sterk gevestig was en nog steeds die wêreldekonomie bepaal) in die Weste en nie byvoorbeeld in eweneens hoogs ontwikkelde beskawings soos China ontstaan het nie, en hoekom dit nie al vroeër in die Weste ontstaan het nie. Hy stel vas dat Protestantse, en veral Calvinisties gevormde lande, ook sterk kapitalisties en voorspoedig is (Katolieke lande minder).

Volgens Weber het Protestante ʼn roepingsbewussyn en sien hulle werk as ʼn roeping wat hulle tot eer van God uitvoer en dus spaarsaam en hardwerkend aanpak. Protestante het ook die Bybels gefundeerde siening dat geen werk benede jou is nie en jy dit wat God jou toedeel na die beste van jou vermoë uitvoer (“doen wat jou hand vind om te doen”, soos dit in die boek Prediker staan).

Protestante is ook deur hulle geloof geneig tot nederigheid en sal dus hulle welvaart nie wys nie, maar eerder hulle geld herbelê om goeie rentmeesters te wees (hierby pas ook die oordadigheid van Katolieke kerke, om van Boeddhistiese pagodes nie eens te praat nie, in vergelyking met die nugterheid van Protestantse kerke). Ook glo spesifiek Calviniste aan die uitverkiesing deur genade (en nie aan verlossing deur goeie werke, soos die meeste ander godsdienste, nie) en wys dus deur hulle werke dat hulle dankbaar vir hulle verlossing is.

Met die term “die onttowering van die wêreld” (Die Entzauberung der Welt) verwys Weber na die toenemende rasionalisering en intellektualisering van die Weste deur middel van die wetenskappe, wat geloof, die mistieke en onverklaarbare verban en dus die wêreld van sy betowering stroop.

Die etiek van oortuiging teenoor die etiek van verantwoordelikheid stel die twee dryfkragte waarvolgens mense optree teenoor mekaar. In die etiek van oortuiging tree mense volgens hulle waardes en morele oortuigings op, ongeag wat die uitkoms mag wees, terwyl hulle in die etiek van verantwoordelikheid juis die uitkoms in ag neem en bereid is om hulle eie oortuigings aan te pas as dit voordelig vir ander is.

Die geweldmonopolie van die staat vat die regsbegrip saam dat net die staat, deur middel van sy organe soos die polisie, die reg het om onder sekere omstandighede geweld uit te oefen, byvoorbeeld om ʼn misdadiger te skiet. Vigilantisme word daardeur onwettig verklaar.

Oswald Spengler (1880-1936) (Foto: Collection Roger-Viollet / Roger-Viollet via AFP)

Oswald Spengler (1880-1936) verwerk in sy monumentale werk Der Untergang des Abendlandes (die verval van die Weste), wat in 1923 verskyn het, die duidelike tekens dat die Weste reeds ʼn geruime tyd op die afdraande pad is. Hy gebruik die morfologiese geskiedenisbeskouing, wat leer dat geskiedenis veral bepaal word deur opgang en verval van volke en beskawings. Hy vergelyk verskillende groot beskawings van die verlede met mekaar en stel dieselfde patrone van geboorte en groei (lente), rypwording en bloeitydperk (somer), agteruitgang (herfs) en uiteindelike verval en dood (winter) vas, wat baie breedvoerig aan die hand van die politiek, kuns, argitektuur, literatuur, ensovoorts verduidelik word.

Die beskawings wat behandel en langs mekaar gestel word om hulle verskillende stadiums te kan beskryf, is die ou Egipte, Babilon, Indië, China, die antieke Grieks-Romeinse beskawing, Arabië (insluitend Israel) en die Weste. Hy ontken dat daar iets soos ʼn kulturele herlewing en hergeboorte kan plaasvind en sien die einde van ʼn beskawing as so onvermydelik soos die mens se dood. In elke beskawing is daar in die latere stadiums voortgesette oorloë en verloor die elite die geloof in hulle land en kultuur en wil net nog as individue optree wat wil geniet en ook nie meer voortplant nie. Dit lei daartoe dat later kultuurvreemde en onbeskaafde volke die gebiede van die beskawing oorneem, sonder om die eertydse beskawing te wil aanneem en voortsit. Die gedagte word deesdae in behoudende kringe dikwels bespreek met die oog op dekadensie aan die een kant, en massa-immigrasie sonder assimilasie, aan die ander kant.

Jose Ortega y Gasset (1883-1955) was ʼn Spaanse filosoof en skrywer met beduidende invloed op die Spaanssprekende wêreld van die 20ste eeu. Sy bekendste werk is die sosiologiese afhandeling “Opstand van die massas” van 1929. Hy onderskei tussen elite-mense en massa-mense. Eersgenoemde, ʼn klein minderheid, het dissipline, ontwikkel hulle vaardighede en streef na die bereiking van hulle outentieke persoonlikheid. Laasgenoemde is opportunisties, gemaksugtig, onverdraagsaam en het ʼn gebrek aan ʼn historiese bewussyn.

Die massa-mense dring danksy die demokratisering (algemene stemreg het na die Eerste Wêreldoorlog die norm in Europa geword) in die sfere voor wat eintlik aan die elite behoort en verdring hulle. Hulle eis regte op, sonder om aan die daarmee gepaardgaande verpligtinge te voldoen. Hy beskryf die vroeë 20ste eeu, waar mense ontwortel, op soek na rigting, vatbaar vir propaganda en eenvoudige ideologieë soos fascisme en kommunisme is. Dié omstandighede bring middelmatige, selfs ongure karakters na vore wat skielik leiers word, tot nadeel van almal. Ortega y Gasset was gekant teen enige vorm van nasionalisme en het reeds in die middel van die 20ste eeu iets soos die Verenigde State van Europa, wat deur die gemeenskaplike humanistiese grondslag saamgebind word, bepleit lank voor daar eers ʼn Europese Unie was.

Carl Schmitt (1888-1985) was ʼn Duitse staatsteoretikus en regsgeleerde. Weens sy samewerking met die nasionaal-sosialistiese bewind en sekere sienings wat in die rigting van Nasionaal-Sosialisme neig, is hy omstrede, maar geld ook as oorpronklike en bepalende denker wat konsepte ontwikkel het waarsonder die huidige tyd nie verstaan kan word nie. Schmitt verteenwoordig ʼn denkrigting van die vroeë 20ste eeu wat skepties staan teenoor die geloof in ewige voorspoed en tegnologiese ontwikkeling, wat die staat verabsoluteer en die liberalisme, veral die Anglo-Amerikaanse weergawe, verag – sienings wat ook onder linkses aanklank vind. Hy knoop ook by denkers van vorige eras aan soos Hobbes en Machiavelli.

Sentraal in Schmitt se denke is die staat en die politieke sfeer. In sy bekendste werk “Die konsep van die politieke” beweer hy dat die staat die samelewing, insluitende die konsep van die politieke en ook van die regte, voorafgaan. Die staat het die monopolie op die mag en op die uitoefening van geweld. Binne die staat het die uitvoerende gesag die primaat bo die wetgewende en regsprekende gesag. Sy siening van die mens is dat hy sowel goed asook sleg is en dus altyd ʼn bedreiging daarstel. Daarom werk hy ook met die konsep van vriend en vyand, waarvolgens mense hulle in groepe indeel en daarom ook in ʼn staat hulle hoogste vergestalting vind. Die onderskeid tussen vriend en vyand is wesenlik tot die menslike natuur.

Die essensie van politiek en van die staat is om ʼn vyand te identifiseer en te beveg. Oorlog is volgens dié denke die hoogste vorm van die uitoefening van politiek, omdat dit die mees ekstreme vorm van die bekamping van die vyand verteenwoordig. Daarom kan oorlog ook nie verban of afgeskaf word nie, want dit is deel van wie ons is. As enige organisasie (vakbond, godsdienstige groep of selfs multinasionale maatskappy) geweld gebruik, word dit daarmee polities en bedreig die staat se magsmonopolie. Die liberale konsep van die staat as noodwendige euwel, wat so ver as moontlik deur burgerlike regte aan bande gelê moet word, of die Amerikaanse konsep van die Civil Society wat bo die staat uitstaan en dit geleidelik vervang, word deur Schmitt verwerp.

Hannah Arendt (Foto: Wikipedia)

Hannah Arendt (1906-1975) was ʼn Duits-Joodse en later Amerikaanse politieke filosoof, politieke teoretikus en historikus. Alhoewel die meeste van haar werke en geskrifte na die Tweede Wêreldoorlog verskyn het, behandel dit veral die tyd van die totalitêre stelsels in die eerste helfte van die 20ste eeu.

Arendt is veral bekend vir haar in diepte ondersoek oor die wese van die totalitarisme. Sy het sowel die Nasionaal-Sosialisme, wat sy eerstehands ervaar het asook die Stalinisme, wie se misdade eers geleidelik na die Tweede Wêreldoorlog begin deursyfer het, in die bekende werk The Origins of Totalitarianism ontleed. Van groot waarde is haar vasstelling dat enige ideologie of wêreldbeskouing totalitêr kan word en terreur as middel gebruik. Net die Nasionaal-Sosialisme en die Kommunisme onder Stalin beskryf sy egter as totalitêr, nie elke diktatuur of eenpartystaat is per se totalitêr nie. Die opkoms van massa-samelewings en van imperialisme en die agteruitgang van nasionale state vergemaklik die opkoms van totalitarisme. Sowel die Nasionaal-Sosialisme asook die Stalinisme is imperialisties in hulle aard.

Wyd bekend is ook haar uitdrukking van die “banaliteit van die bose” wat die ondertitel van haar boek oor die hofsaak in Israel teen die koördineerder van die Holocaust, Adolf Eichmann, was. Sy is dikwels vir die uitdrukking gekritiseer omdat die bose nie “banaal” is nie, maar dit het die dieper betekenis dat totalitêre regimes net kan funksioneer as hulle behalwe vir werklik bose leiers ook opportunistiese, eenvoudige uitvoerders het wat geen motief vir hulle bose dade het nie. Of die beskrywing egter op Eichmann, ʼn fanatieke Jode-hater, van toepassing is, is ʼn ander vraag.

Sy het ook die vinger in die wond gelê van talle Jode wat met die Nazi’s saamgewerk het en hulle eie mense uitgelewer het, net om gunste te verkry. Sy verwerp ook die idee van ʼn kollektiewe skuld. As iemand wat sterk glo aan die mens se outonome optrede, beweer sy dat jy kies om ʼn totalitêre bestel te steun (aktief of as meeloper), of om daarteen in weerstand te wees, al is dit op passiewe wyse. Jy is nie teen jou sin ʼn “rat in ʼn stelsel” nie, jy kies om dit te wees. Verder het sy ook die mensdom bewus gemaak daarvan hoe vinnig ordentlike en gesiene mense by totalitêre regimes betrokke raak, al sou hulle in ander omstandighede so iets vêr van hulle wegwys. Ook die liberale, demokratiese regstaat is geen verweer teen ʼn hernude opkoms van totalitarisme nie, want die mens se aard verander nie.

Ook haar behandeling van die aard van revolusies (On Revolution) en die vergelyking van die Amerikaanse en die Franse revolusie het blywende waarde. Die Amerikaanse Revolusie het geslaag omdat dit politieke doelwitte in die middelpunt gestel het (vryheid, gelyke regte, federalisme, verspreiding van mag, ensovoorts), terwyl die Franse Revolusie misluk het omdat dit die sosiale vraagstuk, materiële behoeftes en filosofiese idees soos die progressivisme, in die middelpunt gestel het en met terreur absolute gelykheid wou bereik. Terwyl in die VSA die burgers die soewerein is, is dit in Frankryk die staat. Laasgenoemde lei tot totalitarisme.

Die skok oor die Tweede Wêreldoorlog, die absolute diskreditering van hiper-nasionalistiese ideologieë en die sterk rol van Amerikaanse Liberalisme het egter nie totalitarisme beëindig nie. Trouens, kommunisme se groot opgang het juis na die Tweede Wêreldoorlog begin, eers in Oos-Europa, dan in die ontwikkelende wêreld.

Hierdie artikel verskyn as deel van ‘n reeks wat handel oor die idee-geskiedenis van die mensdom. Die reeks ontleed die grootste idee-strominge wat oor die afgelope eeue die Weste soos wat ons dit vandag ken, help vorm het. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.