Geskiedenis van idees: Era van Rasionalisme en die Verligting

Die skildery “Weimar’s Courtyard of the Muses” deur Theobald von Oer, ‘n huldeblyk aan die Verligting wat Duitse digters Schiller, Wieland, Herder en Goethe uitbeeld (Foto: Wikipedia)

Die filosofiese en idee-era wat op die Renaissance en Humanisme gevolg het en wat grotendeels die 17de eeu bepaal het, was die era van Rasionalisme. Dit het oorgegaan in die era van die Verligting, wat grotendeels die 18de eeu oorheers het.

Soos ook met vorige eras, is die idee-tydperke verwant aan mekaar en is daar geen duidelik afgrensbare begin of einde nie.

Terwyl tydens die Renaissance veral Italië die bron van nuwe idees was, het die fokuspunt in die 17de en 18de eeu veral na Frankryk geskuif, met Parys as die sentrum. Trouens, Frankryk was vir sowat 200 jaar die belangrikste land van Europa en die meeste adellikes en geleerdes van die tyd het Frans gepraat en die Franse kultuur is as voorbeeld beskou.

Die plekke waar die nuwe idees ontstaan het, was nie meer die universiteite nie, maar klubs, politieke salons en verenigings, waar gerook en koffie gedrink is en die nuutste idees, boeke en artikels voorgestel en gedebatteer is. Anders as in vorige eras het ook vroue, steeds grootliks in die minderheid, deelgeneem. Die denke is veral gedra deur burgerlike intellektueles.

Portret van René Descartes (Foto: André Hatala [e.a.] (1997) De eeuw van Rembrandt, Bruxelles: Crédit communal de Belgique)

Die denke en idees van die Rasionalisme

Die Fransman René Descartes (1596-1650) geld as die grondlegger van die Rasionalisme. Bekend is veral sy uitspraak “Cogito ergo sum” (ek dink en daarom bestaan ek). Die Rasionalisme was in talle opsigte ʼn reaksie op die bloedige godsdiensoorloë wat op die Hervorming gevolg het. Terwyl Duitsland godsdienstig verskeur en deur die oorloë verwoes is, het lande soos Frankryk, wat katoliek gebly het en net indirek in die denominasieoorloë ingemeng het, ʼn tyd van voorspoed beleef, wat ook sy neerslag in die idee-geskiedenis gevind het.

Die Rasionalisme sien die bestaande wêreld as die enigste een wat daar is en stel nie belang in die dinge van die hiernamaals en spekulasie nie. Dit beklemtoon die intellek as die bron van insig en verwerp gevoel en geloof as subjektief en onbetroubaar. Om iets te betwyfel is wesenlik tot die Rasionalisme: niks word as gegewe aanvaar voor dit nie logies verstaan word nie. Descartes het groot klem op die verstand gelê en filosofie en wetenskap volgens ʼn herwaardering van die skolastiese en die deduktiewe metode, egter sonder die teologiese aspek, probeer beoefen.

Die Empirisme, met die aanskouing en kwantifiseerbaarheid as die oorheersende wetenskaplike metode, is nie meer as die beste bron van insig gesien nie. Daar was in dié tydperk ʼn tweestryd tussen Rasionalisme en Empirisme wat ook ʼn tweestryd tussen Franse rasionalistiese en Britse empiristiese idees en denkers was. Die Duitse filosoof, Immanuel Kant, het later gepoog om die twee metodes te versoen met sy teorie van kennis en begrip (meer hieronder).

Nie net in die natuurwetenskap is die Rasionalisme aangewend nie, maar ook in die soeke na algemeen geldige regs- en moraalbeginsels deur middel van die rede. Selfs in die teologie is die Rasionalisme deur sommige filosowe toegepas: Die argument vir die bestaan van God was nie meer geloof en openbarings nie, maar die logiese afleiding dat daar ʼn God moet wees as ʼn mens die beginsel van oorsaak en gevolg aanwend en byvoorbeeld die skepping se logiese samestelling aanskou.

‘n Uitbeelding van die Franse Rewolusie in die ikoniese skildery “Liberty Leading the People” (Foto: Wikipedia)

Die denke en idees van die Verligting

Rasionalisme en Verligting sluit bymekaar aan.

Terwyl die Rasionalisme egter in die enger sin op filosofie en wetenskap gefokus was, was die Verligting amper ʼn kultuur-politieke beweging wat veral op die mens en die samelewing gerig was. Ook in die Verligting is die verstand en rede bo alles verhef en die mistieke, bonatuurlike en daarmee saam ook God as spekulatief en vir Verligtes as irrelevant beskou. As reaksie op die groot lyding wat godsdiensoorloë veroorsaak het, is godsdienstige verdraagsaamheid bepleit. Daar was dan ook ʼn sterk klem op menseregte, by name die reg op lewe, die reg op vryheid en die reg op eiendom. Op die staatkundige terrein is die verdeling van die magte in uitvoerende, wetmakende en regsprekende mag bepleit om magsmisbruik te voorkom, ʼn konsep wat sentraal is vir die regstaat en die moderne demokrasie.

Ook die idee dat die soewereiniteit van ʼn staat by die volk en nie die koning lê nie, was nuut en revolusionêr. In die 17de en 18de eeu was absolute heersers egter nog die norm in Europa en die wêreld. Eers met die Amerikaanse Vryheidstryd en die oprigting van ʼn burgerlik-demokratiese republiek in 1776 is die ideale van die Verligting in praktyk vir die eerste keer verwesenlik. Die Franse Revolusie van 1789, wat ook deur die ideale van die Verligting aangevuur is, het egter redelik gou ontaard in Totalitarisme en het die voorloper van latere kommunistiese revolusies en stelsels geword.

John Trumbull se skildery “Declaration of Independence” beeld die opstelkomitee van die Amerikaanse verklaring van onafhanklikheid uit wat hul werk aan die Kongres voorlê. (Foto: US Capitol)

Soos met enige dominante idee-rigting was daar ook ʼn teenbeweging. Die Rasionalisme se oormatige klem op die verstand en die rede en die Verligting met sy klem op die mens en op regte het as teenbeweging die Sentimentalisme in die kuns en die Piëtisme in die godsdiens tot stand laat kom. Die Sentimentalisme het die emosies gevier. Die hunkering na die volmaakte oord op aarde was een sterk tema van die sentimentalistiese literatuur en kuns van die 18de eeu. Die Piëtisme beklemtoon vroomheid, Christelike spiritualiteit en wedergeboorte en het in die middel van die 17de eeu ontstaan.

Dit bestaan tot vandag toe voort in die evangeliese kerke asook in dele van die wêreldwye sendingbeweging. Kenmerkend vir beide teenstromings, wat ook in die 19de eeu met die Romantiek en Biedermeiers weer na vore sou kom, was die wegbeweeg van politiek en samelewing en heen wending na die persoonlike en innerlike.

Op die terrein van politieke filosofie was die Konserwatisme van Edmund Burke die teenbeweging tot die Verligting (meer hieronder). Die latere drie groot politieke ideologieë, Liberalisme, Sosialisme en Konserwatisme het eers in die 19de eeu hul beslag gekry, waar politieke deelname deur middel van partye meer algemeen geword het, maar hulle wortels strek tot in die 18de eeu. Locke en Smith was die voorvaders van Liberalisme, Rousseau van Sosialisme en Burke van Konserwatisme.

Thomas Hobbes (1588-1679) Engelse politieke filosoof (Foto: Ann Ronan Picture Library / Ann Ronan Picture Library / Photo12 via AFP)

Denkers en idees van die Rasionalisme en Verligting

Thomas Hobbes (1588-1679) was ʼn Engelse staatsteoretikus, filosoof en wiskundige. Sy denke en idees word bepaal deur skeptisisme asook ʼn meganistiese wêreldbeeld – dus die idee dat alles deur oorsaak en gevolg bepaal word. Bekend is veral sy werk “Die Leviatan” wat die totstandkoming van staatlike gesag verduidelik. Soos ook by ander staatsteoretiese denkers van sy tyd soos Rosseau en Locke, staan die gedagte van ʼn verdrag tussen heersers en oorheersdes, of die soewerein en die onderdane, voorop. Omdat die mens nie in staat is om op sy eie en sonder gesag vry en vreedsaam met sy naaste saam te leef nie, en die natuurlike oertoestand een van vrees en onsekerheid is, dra die mense hulle vryheid en selfbeskikking oor aan die soewerein, oftewel die heerser en die staat, wat daardeur absolute gesag oor hulle kry en hulle in ruil daarvoor beskerm teen vyande van binne en buite en ʼn geordende samelewing verseker.

Dit is egter geen ooreenkoms tussen gelykes nie, soos by Locke, maar eerder ʼn oorgawe wat uit die nood gebore is. Sy idee is ook vir die regverdiging van die absolutisme gebruik en word selfs vandag aangehaal om vir die nodigheid van ʼn sterk staat te argumenteer. Hobbes se idee staan dus in kontras met die latere liberale idees van die Verligting van ʼn vrye individue met onvervreembare regte. Hobbes het egter so geredeneer, nie omdat hy ten gunste van ʼn alles oorheersende staat was nie, maar omdat uit sy oorsaak-gevolg-denke die staat logies tot stand gekom het deur menslike nuttigheidsoorwegings.

Montesquieu (1689-1755) was ʼn Franse regsgeleerde, skrywer en staatsteoretikus wat veral deur sy idee van die verdeling van politieke magte tussen drie areas, oftewel die “trias politica”, blywende roem verwerf het. Sy idees van ʼn staat, gebou op regsbeginsels, het die stigters van die Verenigde State van Amerika beïnvloed en was ook in Brittanje, ʼn parlementêre monargie, gewild. In Frankryk, met die absolutistiese monargie van Lodewyk XIV en XV, is dit egter onderdruk.

Portret van Charles Montesquieu (Foto: Wikipedia)

Montesquieu het ook staat gemaak op historiese en antropologiese vergelykende studies om die totstandkoming van politieke stelsels te verduidelik. Volgens Montesquieu was die Frankryk van sy tyd verdeel in drie klasse – die monargie, die adel en die gewone burgers. Die regeringsgesag kom van die soewereine heerser en die administrasie. Die administrasie is opgedeel in die wetmakende, uitvoerende en regsprekende (juridiese) gesag. Hulle moet onafhanklik van mekaar funksioneer en mekaar balanseer om magsmisbruik te verhoed. Die “trias politica” is sentraal vir enige demokratiese regstaat. Montesquieu het ook drie staatsvorme en hulle beginsels onderskei – die erfmonargie, wat volgens die beginsel van eer regeer word; die republiek wat deur die beginsel van deugde gelei word en die tirannie of diktatorskap, wat volgens die beginsel van vrees gelei word.

Jean-Jacques Rousseau (1712-1778), skrywer, filosoof en opvoedkundige, word as een van die mees invloedryke denkers van die era van die Verligting gereken. Terwyl die klassieke idees van die Verligting geloof in die rede en die vooruitgang van die mens deur nuwe uitvindings en ontwikkelings was, het Rousseau die belangrikheid van menslike gelykheid en ʼn waardering vir die natuur en skeptisisme teenoor die wetenskap as ideale gestel. Sy idees lê in vele opsigte aan die wortel van huidige linkse sentimentele idees rondom omgewing en ʼn wêreldwye broederskap van volke.

Hy word ook as padbereier van die Franse Revolusie gesien, alhoewel hy dit self nie meer beleef het nie. Deurlopend in sy denke is die tema van die vernietiging van die ideale natuurtoestand deur die mens se strewe na vooruitgang. Bekend is sy uitspraak “die mens is vry gebore, maar lê orals in boeie” en sy idealisering van nie-Westerse inboorlinge as “edele barbare” in ʼn tyd waar Europa met die nie-Westerse wêreld toenemend in aanraking was en slawehandel asook eerste kolonisasie plaasgevind het, dikwels begelei deur rasse-vooroordeel.

Jean-Jacques Rousseau (Foto: Wikipedia)

Die tema wat ook Hobbes behandel het, naamlik hoe samelewings ontstaan, het Rousseau soos volg daargestel: die mens het in die natuurlike toestand vry, net onderworpe aan sy instinkte en gerig op die bevrediging van basiese behoeftes en onafhanklik van ander, geleef. Uit vrees vir omstandighede buite sy beheer, soos natuurrampe, het gemeenskappe begin vorm om saam sterker te wees. In die gemeenskap ontstaan egter ook kultuur en die wedywering met mekaar en daardeur ongelykheid. Ook die ontstaan van privaat eiendom, vir liberale denkers ʼn kernelement van menslike vryheid, is vir Rousseau die wortel van die kwaad wat tot konflik tussen mense lei weens gierigheid en uitbuiting.

Anders as wat dikwels voorgehou word, het Rousseau geen terugkeer tot ʼn natuurlike toestand bepleit nie, maar dit gewoon as onmoontlik beskou. Om die samelewing ten spyte van die menslike geneigdheid tot selfsugtige en bose optrede te orden, soek Rousseau die dryfkragte vir eties goeie optrede. Die Christelike etiek word daarby verwerp. Sentraal staan opvoeding en veral die “samelewingsverdrag”. Die verdrag kom tot stand deur die “algemene wil” (volonté general) van die mense te soek, wat meer is as die meerderheidswil of die somtotaal van die belange van die enkelinge (volonté de tous). Die algemene wil is om die samelewing of die staat te dien deur almal se belange in ag te neem. Dit is net moontlik deur die ontwikkeling van deugde wat verder strek as die eie belang. Dit stel Rousseau in kontras met denkers soos Smith, wat die individuele voordeel as sentraal sien. Met sy “algemene wil”-konsep was Rousseau ook die padbereier van latere grondwette van moderne republieke.

Edmund Burke (1729-1797)

Edmund Burke (1729-1794), ʼn Engels-Ierse politikus, ekonoom en filosoof, word as die grondlegger van konserwatiewe denke beskou en was krities teenoor die uitgangspunte en veral die gevolge van die Verligting. Hy was egter geen voorstander van die absolute monargie nie, maar het juis beperkings op die uitvoerende gesag, soos ʼn sterk verteenwoordigende liggaam, bepleit. Private eiendom is as voorvereiste vir persoonlike vryheid gesien. Burke het ook passievolle toesprake as parlementslid gehou en afhandelings geskryf oor die gevolge van magsmisbruik deur die koloniale moondheid Brittanje in Indië en die Amerikaanse kolonies wat teen Brittanje in opstand gekom het. Hy was ook teen slawerny gekant en het hom beywer vir onderdrukte minderhede soos die Ierse Katolieke binne Groot-Brittanje. Daarby was sy oplossing egter altyd ʼn terugkeer tot deugde en tradisie en beslis nie ʼn revolusie nie. Hy het die verwoesting wat die Franse Revolusie veroorsaak het juis reg voorspel en meegehelp om te verhoed dat Brittanje daardeur meegesleur word.

John Locke (Foto: Wikipedia)

Die Engelsman John Locke (1632-1704), ʼn mediese dokter en filosoof, word algemeen as die grondlegger van Liberalisme gesien met sy teorie van sosiale kontrak, wat sterk in die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring figureer. Daarvolgens gaan ʼn groep mense, om hulle vryheid en eiendom te beskerm, ʼn kontrak met die heerser of die staat aan. Dit is, anders as in die teorie van Hobbes, egter ʼn vrywillige kontrak wat op gelykheid berus en waar die staat aan wette wat sy mag inperk, gebonde is. Trouens, die staat bestaan net op grond van die kontrak en het geen hoër gesag as dit wat deur die burgers aan hom gegee word nie. Dit kan ook weer opgesê word en die staat is net ʼn konstruk om die belange van die burgers te beskerm, nie ʼn magtige Leviathan wat onbeperkte mag oor hulle het nie. As die staat sy gesag misbruik, het die burgers die reg tot weerstand. Dit is ook die rede hoekom in die VSA persoonlike wapenbesit ʼn grondwetlike reg is. Verder was ook Locke se filosofie oor die epistemologie, die self-gewaarwording, en oor die ekonomie van vraag en aanbod van betekenis. Locke het geglo aan menslike rede en verdraagsaamheid. Godsdiensvryheid en die skeiding van staat en kerk was ook belangrike idees van Locke.

Gottfried Wilhelm Leibniz (1646-1716), filosoof, wiskundige, wetenskaplike en diplomaat, was een van die groot verteenwoordigers van rasionalisme en het ʼn optimistiese siening van die mens en die wêreld gehad. Bekend is sy uitspraak dat ons “in die beste van alle moontlike wêrelde leef”. Anders as talle filosowe van sy tyd was hy ʼn oortuigde Protestantse Christen.

Gottfried Wilhelm Leibniz (Foto: Herzog Anton Ulrich-Museum)

Hy is nie werklik bekend vir een groot werk of een begrip wat met hom geassosieer word nie, maar het in talle filosofiese skrywes sekere idees neergelê wat veral die rasionalistiese gees van logiese redenasie asook van sy geloof uitstraal, soos die wet van kontinuïteit (“die natuur maak geen spronge nie”); optimisme (“God kies altyd die beste”); oorvloed (“ons lewe in die beste moontlike wêreld met ʼn groot hoeveelheid moontlikhede, want dit is deur God geskape en aangesien God volmaak is, kan Hy nie onvolmaak skep nie. Ons kan God erken in die volmaaktheid van die natuur”); genoegsame rede (“vir alles om te bestaan of om te gebeur moet daar ʼn voldoende rede wees”). Leibniz het hom ook bemoei met die metafisika en gedagtes oor die samestelling van die heelal en die begrip “monade” gevorm waaruit alles sou bestaan. Albert Einstein het voortgebou op Leibniz se “monade”-teorie en ook Einstein se teorie van relatiwiteit is deur Leibniz beïnvloed.

Adam Smith (1723-1790), Skotse ekonoom en filosoof, behoort ook tot die era van die Verligting en is veral bekend as die grondlegger van die teorie van die nasionale ekonomie. Hy het twee groot werke geskryf, die “Teorie van morele sentimente” en “ʼn Ondersoek oor die aard en wese van die voorspoed van nasies”. Veral laasgenoemde word met Smith geassosieer en het hom die titel as uitvinder van kapitalisme gegee. Eersgenoemde werk ondersoek die vraag oor hoe morele standpunte ontstaan. Hy was ook, saam met Locke, een van die vaders van liberalisme.

Portret van die politieke ekonoom en filosoof Adam Smith (1723-1790) (Foto: Wikipedia)

Smith se basiese idee in beide sy werke is dat eie belang nog steeds tot gedrag lei wat vir die samelewing van voordeel is, omdat die enkeling nie sonder die samelewing kan bestaan nie. Die voorwaarde is ʼn vrye maar wetsgehoorsame samelewing, waar die individu sy eie belange kan nastreef binne die raamwerk van die wet. Die individu se strewe tot persoonlike voorspoed is goed vir die samelewing as geheel as daar geen kunsmatige versperrings of bevoordelings soos monopolieë is nie en vrye kompetisie bestaan, wat verskeidenheid bevorder, pryse afbring en tot voordeel van die koper is.

Alombekend is ook Smith se term van die onsigbare hand, wat dinge in balans bring deur die kragte van die vryemark. Sy realistiese siening van die menslike natuur is baie nader aan die werklikheid as die van idealistiese denkers soos Rousseau en sy ekonomiese model het hom as die enigste werkbare een bewys. Ook vandag werk kapitalisme, oftewel die vryemarkstelsel, die beste in demokratiese en vrye samelewings, terwyl dit in nie-demokratiese samelewings gewoonlik deur mafia-agtige oligargieë misbruik word vir selfverryking ten koste van die res.

Die Duitse filosoof Immanuel Kant (1727-1804) was die denker van die Verligting par excellence. Bekend is sy uitspraak: “gebruik jou eie verstand: en “verligting beteken die mens se uitgang uit sy selfverskuldigde onmondigheid”. Sy eerste lewensfase was veral beïnvloed deur die rasionalisme en die sterk klem op die verstand, terwyl hy later meer krities teenoor die suiwer rede geword het en ook waarneming as bron van insig en kennis gesien het.

‘n Kontemporêre prent toon die Duitse filosoof Immanuel Kant, die voorste denker van die Verligting. (Foto: Diener / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Bekend is sy “Kritiek op die suiwer rede” (Kritik der reinen Vernunft) en sy teorie oor die totstandkoming van insig (Erkenntnistheorie). In sy teorie oor hoe insig tot stand kom, het Kant ʼn brug probeer slaan tussen die ou tweestryd tussen die rasionalisme (insig kom uit die verstand) en die empirisme (insig kom deur waarneming). Volgens Kant kom insig deur oordele te vel. Die mens neem iets deur sy sintuie waar.

Daar is egter geen objektiewe waarneming nie, omdat die verstand bepaal hoe die mens iets waarneem en daar reeds ʼn interpretasie deur die verstand gemaak word op grond van logiese en redelike denke (a priori). Deur nuwe waarneming kan egter afleidings en selfs wette gemaak word (a posteriori).

Kant se etiek word saamgevat onder die begrip van die kategoriese imperatief: “Tree op volgens beginsels wat jy terselfdertyd ook as algemene morele wet wil hê”. Dis eintlik net ʼn sekulêre weergawe van die Christelike etiek van “doen aan jou naaste soos jy wil hê aan jou gedoen moet word” en Kant het, as filosoof van die Verligting, probeer om etiese gedrag ook sonder geloof te verklaar en te bevorder.

Hierdie artikel verskyn as deel van ‘n reeks wat handel oor die idee-geskiedenis van die mensdom. Die reeks ontleed die grootste idee-strominge wat oor die afgelope eeue die Weste soos wat ons dit vandag ken, help vorm het. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.