Gesonde federalisme seëvier in stryd teen koronavirus

(Foto: pixabay)

Wat het Duitsland, Oostenryk, Australië en Kanada in gemeen? Hierdie lande is almal federasies en is lande wat uitstaan vir hul suksesvolle hantering van die koronapandemie tot dusver. Daarteenoor is Brasilië, Indië, België, Pakistan en die VSA ook almal federasies wat egter minder suksesvol was om die pandemie hok te slaan.

Terwyl voorstanders van unitêre state en opponente van federalisme die situasie in, byvoorbeeld, Brasilië gebruik om te probeer bewys dat federale state swak op die koronapandemie gereageer het, bewys dit wat in lande soos Duitsland, Oostenryk, Kanada en Australië gebeur het, die teenoorgestelde.

Met die uitbreek van die koronapandemie in Duitsland het dié land se sestien deelstate nou saamgewerk met die federale regering. Die feit dat die Duitse gesondheidsorgstelsel egter heeltemal gedesentraliseer is, was een van Duitsland se sterkste wapens in die stryd teen Covid-19. Die gesondheidsorgstelsel in Duitsland kon vinniger op plaaslike vlak reageer om die nodige stappe te doen om toetsing uit te rol, hospitale voor berei en gesondheidsorgwerkers te ondersteun.

Die teenoorgestelde was die geval in sterk unitêre state soos Italië, Spanje en Brittanje. Die sentraal beheerde gesondheidsorgstelsel in Brittanje het, weer eens, die uitdagings wat sentraal beheerde mediese dienste bied, uitgelig.

In Duitsland, ’n land met 83 miljoen inwoners waarvan ’n groot deel in die hoë-ouderdomskategorie val, is 9 000 mense tot dusver aan Covid-19 oorlede. In Brittanje met sy 67 miljoen inwoners is die sterftesyfer reeds 44 000.

Wat is die verskil tussen wat in Duitsland en Brittanje gebeur het? Aan die een kant speel samewerking en vertroue ’n belangrike rol. Aan die ander kant was die gedesentraliseerde benadering van federale lande ’n sterkpunt tot dusver, terwyl die gesentraliseerde gesondheidsorg burokrasieë in lande soos Brittanje meer uitdagings as oplossings geskep het.

In Duitsland dra individue en werkgewers saam by aan mediese dienste, terwyl die staat ʼn veiligheidsnet vir behoeftiges bied. Daar bestaan in Duitsland groot vertroue in die gedesentraliseerde gesondheidsorgstelsel wat deur deelstate en munisipaliteite bedryf word en individue neem eienaarskap vir ’n stelsel waartoe hulle self ook finansieel bydra. Daarteenoor bestaan daar in Brittanje groot wantroue in die enorme gesentraliseerde Nasionale Gesondheidsorgdiens.

Een groot voordeel in federale lande oor die afgelope drie maande was ook die gedesentraliseerde aard van laboratoriums en die wyse waarop deelstate in lande soos Duitsland en Oostenryk onafhanklike laboratoriums kon gebruik sonder om in burokratiese rompslomp vas te val.

Ook met die uitfasering van inperkingsmaatreëls was daar groot voordele in gedesentraliseerde besluitneming soos wat deelstate in lande soos Duitsland en Australië afsonderlik kon besluit teen watter tempo maatreëls uitgefaseer kon word en op watter wyse nuwe uitbrekings bestuur moes word.

Nou wat het in Brasilië, België en (in ’n mate) die VSA verkeerd gegaan? Die grootste probleem in al drie hierdie lande, maar ook ander federasies soos Indië en Pakistan, is die afwesigheid in samewerking tussen deelstate en vertroue in die politieke stelsel en leiers. In België is daar min vertroue, veral onder Vlaminge, in die federale regering en is die stryd teen die pandemie deur woordewisseling tussen die verskillende vlakke van regerings gekenmerk.

Ook in Brasilië en die VSA is samewerking en vertroue tussen die federale regerings en die regerings van deelstate op ’n laagtepunt. Dit beteken egter nie dat die federale stelsel misluk het nie, maar toon egter ernstige tekortkominge aan leierskap.

Die model wat in veral Duitsland, Oostenryk, Kanada en Australië gevolg is, is ’n bewys dat federalisme wat op gesonde beginsels van gedesentraliseerde mag, vaardige regeringsbestuur, wedersydse vertroue en hoë vlakke van vrywillige samewerking geskoei is, steeds ’n uitstekende model van regering is.

Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Human ·

“In ‘n mate die VSA” ! Die VSA het die hoogste syfers vir besmetting en sterftes. Wat het verkeerd gegaan, slimjan Bolsenaro en Don Tantrum Trump, twee uiters gevaarlike kalante, wat nie ‘n duit omgee vir hul lande se inwoners. Die wiel draai stadig, maar seker en die twee kalante se dag van afrekening is oppad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.