Groot fout om skietvoorvalle in die VSA aan politiekery te koppel

Tientalle wetstoepassers is na die Walmart ontplooi waar ‘n aanvaller minstens 20 mense doodgeskiet het. (Foto: Mark Lambie/The El Paso Times via AP)

Die afgelope naweek is 31 onskuldige burgers van die VSA en Mexiko binne die bestek van 13 uur in twee afsonderlike skietvoorvalle dood. Tientalle is beseer, sommige baie ernstig, met die dodetal wat waarskynlik verder sal styg. Hierdie twee skietvoorvalle het enkele dae plaasgevind nadat ʼn man drie mense by ʼn kosfees in Kalifornië afgemaai het.

Hierdie skietvoorvalle was nie die eerste van die jaar nie en sal ook nie die laaste wees nie. Elke jaar sterf honderde Amerikaanse burgers in sogenaamde massaskietvoorvalle. Die reaksie van verskeie politici en kommentators in die VSA, maar ook hier in Suid-Afrika, oor die rede vir hierdie skietvoorvalle en hoe dit voorkom kan word, spreek egter van naïwiteit of selfs ʼn politieke agenda wat nie in diens van ʼn veiliger samelewing staan nie.

Dit is veral die agtergrond van die 21-jarige Patrick Crusius wat Saterdagoggend mense voor die voet in ʼn supermark in El Paso, Texas, afgemaai het, wat tot ʼn venynige politieke debat aanleiding gegee het. Daar is genoeg bewyse dat Crusius Mexikaanse burgers en persone van Mexikaanse afkoms wat in die VSA woon in sy aanval geteiken het. Hy het in ʼn sogenaamde manifes, wat voor die skietery op die internet gepubliseer is, beweer dat mense van Mexikaanse afkoms Amerika oorneem en dat wit mense bedreig word. Crusius is dus tereg in die media as ʼn rassis uitgebeeld en sy skietery as ʼn haatmisdaad beskryf.

Pres. Donald Trump het ook die skietery in Texas as ʼn haatmisdaad beskryf en het baie sterk standpunt teen mense soos Crusius ingeneem. Wat egter verstommend was, is die wyse waarop presidentskandidate van die Demokratiese Party, sowel as ander liberale leiers, probeer het om Crusius se haatmisdaad met uitsprake van Trump te verbind, terwyl al die bewyse beskikbaar is dat Crusius lank voordat Trump president van die VSA geword het, reeds haat teen Mexikane gekoester het. Selfs die meeste Amerikaanse media kon die versoeking om Crusius se optrede met Trump te verbind, nie weerstaan nie.

Bewyse van die dodelike skietery wat enkele ure tevore naby die kuierplek afgespeel het. (Foto: Dan Sewell/Twitter)

Daar is egter uitsonderings. The Wall Street Journal, die gesaghebbende dagblad, wys egter in ʼn hoofartikel daarop dat Connor Betts, die man wat later Saterdag in Dayton, Ohio, op mense losgebrand en minstens nege persone doodgeskiet het, ʼn uitgesproke Demokraat met sterk linkse en selfs sosialistiese idees was. Betts het beplan om meer as 200 koeëls af te vuur, maar danksy blitsvinnige optrede deur die polisie in Dayton is hy binne 30 sekondes nadat hy begin skiet het deur die polisie gedood. As dit nie gebeur het nie, sou Betts se skietery waarskynlik tot selfs meer sterftes as die voorval in El Paso aanleiding gegee het. Betts het onlangs op sosiale media geskryf dat hy gemaklik vir die liberale senator van Massachusetts, Elizabeth Warren, sou kon stem. Die meeste media het egter hierdie inligting oor Betts geïgnoreer en eerder bly hamer op Crusius se regse ekstremisme.

The Wall Street Journal wys tereg daarop dat net so verkeerd soos wat dit sou wees om Warren die skuld vir Betts se optrede te gee, dit ook is om Trump vir die skietvoorval in Texas te blameer. Die politieke uitbuiting van die afgelope naweek, en ook vorige massa-skietvoorvalle deur politici wat ʼn mediadeurbraak wil maak, moet verwerp word.

Die realiteit is dat die mense wat hierdie massaskietvoorvalle pleeg uit verskillende politieke agtergronde kom. Net soos wat sommige konserwatiewes in die VSA eenvoudig te ver gaan met hul retoriek oor hul opponente, maak baie liberales hulself net so skuldig op sosiale media wanneer daar na mense wat anders as hulle dink, verwys word. Dat die politieke diskoers in veral die VSA die afgelope paar jaar te warm geraak het, is ʼn feit. Daar is egter nie ʼn verband tussen die politieke diskoers en die voorkoms van skietvoorvalle nie. In daardie opsig is dit byvoorbeeld belangrik om kennis teen neem van die feit dat daar net soveel, en soms selfs meer, massaskietvoorvalle plaasgevind het tydens die presidentskappe van Bill Clinton en Barack Obama as tydens die presidentskappe van George Bush en Donald Trump.

Foto: (AP Photo/Andres Leighton)

Hoewel massaskietvoorvalle baie media-aandag geniet, verteenwoordig dit verder ʼn baie klein persentasie van die totale skietvoorvalle in die VSA. In 2016, die laaste jaar ten opsigte waarvan goeie data beskikbaar is, is 38 658 mense in skietvoorvalle in die VSA dood. Daarvan was 22 938 selfmoordgevalle. ʼn Verdere 14 415 sterftes kan as moord beskryf word en daarvan was slegs 77 sterftes in massaskietvoorvalle.

Die realiteit is dat mense daagliks in die VSA doodgeskiet word. Groot stede soos Chicago, Detroit en Baltimore ervaar die afgelope paar jaar ʼn groot probleem met skietvoorvalle. Die moordkoers in die VSA is 5,3 per 100 000 mense. Dit vergelyk goed met Suid-Afrika waar amper 36 uit elke 100 000 burgers jaarliks vermoor word, maar vergelyk redelik sleg teenoor bykans alle ander Westerse lande waar die moordkoers meestal minder as een per 100 000 burgers is.

Wat is die rede vir die hoë moordkoers in die VSA? Die eerste argument wat ons gereeld hoor is dat dit direk verband hou met die hoë vlakke van wapenbesit in die VSA. Sowat 40% van alle Amerikaners besit ʼn vuurwapen of woon in ʼn huis waar iemand ʼn vuurwapen besit. In totaal besit Amerikaners byna die helfte van alle vuurwapens in die wêreld, sowat 393 miljoen wapens.

Die argument dat wapenbesit en skietvoorvalle direk met mekaar verbind kan word, dra egter nie genoeg water nie. Vier Europese lande met hoë vlakke van wapenbesit is Serwië, Finland, Switserland en Oostenryk. Al vier dié lande het egter uiters lae vlakke van moord wat met vuurwapens gepleeg word.

Wat wel waar is, is dat die proses om ʼn vuurwapen te kan koop in al hierdie lande meer omvattend as in die VSA is. Wapens wat vinnig groot lewensverlies kan veroorsaak is, anders as in die VSA, ook nie aan die publiek beskikbaar nie. Dat daar waarskynlik op hierdie twee terreine oor die volgende paar jaar veranderinge in die VSA gaan plaasvind, is waarskynlik. Dit gaan egter glad nie die probleem van moord wat met vuurwapens gepleeg word, oplos of wesenlik verbeter nie.

Mense kom byeen om te bid ter gedagtenis aan die oorledenes ná die massaskietery Sondag in Dayton, Ohio. Dié voorval, die tweede in minder as 24 uur in die VSA, het die lewe van etlike mense geëis. (Foto: John Minchillo, AP)

ʼn Mens moet versigtig wees vir huigelary in die hele wapendebat. Die Mexikaanse president, Andrés Manuel López Obrador, het ná die skietvoorval in El Paso te velde getrek teen wapenwetgewing in die VSA. Die realiteit is egter dat meer as 17 000 mense in die eerste ses maande van 2019 in Mexiko vermoor is en dat die moordkoers in Mexiko veel hoër is as in die VSA.

Terwyl die verskynsel van massaskietvoorvalle, waarby meestal jong wit mans betrokke is, kommerwekkend is, moet dit binne die perspektief van ʼn groter probleem van geweldsmisdaad in die VSA gesien word. Die redes vir hierdie jong mans soos Crusius en Betts se optrede moet in meer besonderhede ondersoek word. Betts het duidelik reeds sedert sy skooldae aan verskeie persone geopenbaar dat hy geweld wil pleeg. Hy het in die afgelope maande gereeld op sosiale media geskryf dat hy mense wil doodmaak. Hoe om sulke persone vinniger te identifiseer en die aanvalle te voorkom, moet ʼn prioriteit van die Amerikaanse owerhede wees.

Nog ʼn prioriteit moet wees om te verhoed dat mense met sielkundige probleme wapens kan bekom. Die groter vraag is egter hoe en hoekom is daar soveel jong mans in die VSA wat sulke lafhartige, siek misdade wil pleeg? Slegs wanneer daar by die kern van die probleem uitgekom kan word, kan dit regtig opgelos word.

Wat die konteks van massamoorde betref is die realiteit dat die oorgrote meerderheid van die moorde wat met vuurwapens in die VSA gepleeg word, in stedelike gebiede plaasvind. Terwyl die moordkoers in die VSA 5 per 100 000 burgers is, is die koers in Baltimore 55,8 en in Detroit 39,8. Daar is ʼn enorme probleem met geweldsmisdaad, veral tussen swart Amerikaners in stedelike gebiede. Terwyl massaskietvoorvalle en selfmoord met vuurwapens disproporsioneel hoog onder wit mans voorkom, is jong swart mans weer die daders en slagoffers in die meeste stedelike skietvoorvalle. Twee derdes van alle Amerikaners wat met ʼn vuurwapen doodgeskiet word, is swart mans. Ook hierdie probleem moet hanteer word.

Greg Zanis plaas kruise ter herinnering aan die slagoffers van die massaskietery by ʼn winkelsentrum in El Paso, Texas. (Foto: John Locher, AP)

Talle peilings in die VSA wys dat Amerikaanse burgers onder die indruk verkeer dat misdaad en veral moorde die afgelope paar jaar toegeneem het. Die teenoorgestelde is waar en die rede vir die publiek se persepsies oor misdaad hou waarskynlik verband met die wyse waarop die media oor veral skietvoorvalle berig en die wyse waarop dit veral die afgelope paar jaar verpolitiseer word.

Terwyl wapenverkope sedert 1994 skerp toegeneem het in die VSA, het die moordkoers afgeneem. Geweldsmisdaad in die VSA het van 1994 tot 2017 (die mees onlangse beskikbare syfers) met 49% afgeneem. Hoewel dit goeie nuus is, word daar sonder twyfel steeds ʼn ernstige probleem met geweldsmisdaad in veral Amerikaanse stede ondervind.

Die politieke kommentators en oorywerige politici wat enkele, tragiese skietvoorvalle op populistiese maniere wil uitbuit, maak ʼn groot fout. Die oplossing vir die skietvoorvalle lê slegs gedeeltelik by ʼn beter stelsel waar die koper van ʼn vuurwapen se agtergrond nagegaan word. Die eintlike probleem lê by die faktore wat mense tot geweld dryf en het heelwat meer te make met die soort gemeenskappe waarin mense leef. Vervreemding, die toenemende voorkoms van sielkundige probleme onder jong mense, swak ekonomiese en ander vooruitsigte en ʼn kultuur van geweld dryf mense tot misdaad en nie die grondwetlike reg om ʼn vuurwapen te besit nie.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
kla-kous

Uitstekende artikel

Will Oosthuizen

Dankie Jaco dat jy die situasie so objektief raakvat. Ongelukkig is die media en selfs die Suid-Afrikaanse politieke kommentators en RSG openlik anti-Trump in hulle kommentaar en beriggewing. RSG is slegs die Afrikaanse weergawe van CNN. Gelukkig is ons wat al vir jare in die VSA gelukkig en veilig woon en werk, ingelig met die ware feite op die grond.

Jimmy

Met ‘n bevolking van 320 miljoen wat steeds groei sal dit moeiliker word om die probleem aan te spreek, veral met immigrante wat instroom. Meer mense, meer wapens. En dan het die VSA ‘n groot weermag wat gereeld oorlog voer. Heelwat oud troepe het emosionele probleme. Amerikaners kan hulle vir erger voorvalle voorberei.

Krisjan

Hoe vergelyk 5.3 moorde/100 000 (VSA) goed met 36 moorde/100 000 (RSA) ???

Therese van Schalkwyk

Skitterende, gebalanseerde kommentaar oor hierdie onderwerp, Jaco Kleynhans!
Die opportunisme en blatante leuens en bedrog van die onderskeie presidentskandidate in die VSA laat ‘n mens sprakeloos.
Tot watter laagtes is Biden en kie, en politici oor die algemeen, verder in staat.