Hamerslag vir Zuma en ANC

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Vir die tweede keer in ’n kort tyd het pres. Jacob Zuma en die regerende ANC ’n hamerslag van ’n Suid-Afrikaanse regbank ontvang.

Eers was dit die konstitusionele hof wat bevind het die president het die Grondwet oortree deur belastingbetalers se geld vir die verfraaiing van sy persoonlike paleiskompleks te Nkandla aan te wend. Toe het die Pretoriase hooggeregshof beslis die terugtrek van 783 klagte van bedrog, korrupsie en rampokkery teen Zuma in 2009 was onregmatig.

Hierdie twee beslissings kan nie sommer as “besonderhede” afgemaak word nie. Uit ’n regsoogpunt gaan dit oor wesenlike sake; uit ’n politieke oogpunt raak dit die kern van ons demokrasie.

Kom ons begin by die begin.

Albei politieke partye wat die huidige Grondwet tot stand gebring het, die ANC en die ou Nasionale Party, het ironies genoeg voortgekom uit ondemokratiese agtergronde. Die ANC-leiding se denke is bepaal deur die USSR se weergawe van die Marxisme-Leninisme; die NP s’n was apartheid en die begeerte om swart verset – desnoods met geweld – te onderdruk.

Die stelsel waarvoor die ANC-leiers (van wie 95% ook lede van die SA Kommunistiese Party was) geveg het, was nie die liberale veelparty-demokrasie wat algemeen in die Weste voorkom nie, maar ’n Leninistiese eenparty-diktatuur. Die NP het moreel aanvaarbare idees van ’n groep Afrikaner-intellektuele uit die jare dertig en veertig (geografiese partisie) gekaap en in die praktyk tot voortgesette wit baasskap omgeskep.

Die NP het intussen eerloos selfmoord gepleeg, maar die ANC bepaal Suid-Afrikaners se lewens nog elke dag.

Dis waar dat die ANC die Grondwet – geensins perfek nie, maar ’n nuttige wapen vir dié wat dit teen magsmisbruik wil aanwend – aanvaar het. In pres. Nelson Mandela se bewindstyd het die party bo homself uitgestyg. Die toekoms het belofte ingehou.

Maar die momentum van die ANC se ondemokratiese verlede was eenvoudig te groot. Reeds pres. Thabo Mbeki het die skroewe ooreenkomstig sy Afrikanistiese ideologie begin aandraai, maar dit was pas Zuma wat daadwerklik pogings aangewend het om die staat volledig te kaap.

Anders as met Mbeki, doen hy dit nie soseer met ideologiese motiewe nie. By hom, so lyk dit, gaan dit om sy eie ego, sy mag en sy beursie.

Die uitwerking is egter dieselfde. Reeds in die jare negentig het die ANC in sy amptelike dokumente gekla hy is “in office”, maar nie “in power” nie. Dit was ’n woordgebruik wat reeds in die voorafgaande dekade gebruik is as waarskuwing teen ’n situasie waarin die “geldmag” die party verhinder om sy sosialistiese agenda deur te voer.

Sedertdien het die ANC sy sosialistiese ideologie tot groot mate prysgegee. Die indruk wat die party wek, is dat dit deesdae toenemend gaan om toegang tot staatsbronne om te melk.

Teen dié agtergrond het die ANC deur die jare sy beheer oor die staat stelselmatig vergroot. Die weermag en die polisie word deur ANC-kaders beheer wat getrou is aan Zuma. Dit geld vir verreweg die meeste belangrike staatsposte.

Selfs die openbare vervolger lewer in die praktyk eerder aan Zuma verslag as dat hy, soos dit hoort, ’n onafhanklike persoon is. Die terugtrekking van die 783 klagte teen die president, asook die kwaai kattegevegte die laaste jare in dié kantoor is ’n aanduiding daarvan.

Uit die oogpunt van Zuma en ’n groot deel van die ANC is dit egter ’n probleem dat die Grondwet en dele van die staatsmasjinerie steeds nie onder sy beheer is nie.

Die openbare beskermer is ’n voorbeeld. Ondanks onmenslike druk vanuit die ANC – soos aanklagte dat sy eintlik ’n “CIA-agent” is – het adv. Thuli Madonsela insake Nkandla bewonderenswaardige integriteit aan die dag gelê.

Wat dit des te merkwaardiger maak, was dat haar voorganger, adv. Lawrence Mushwana, ’n haas willose en gehoorsame werktuig van die ANC was.

Nou blyk dit dat ook belangrike dele van die regbank hul grondwetlike onafhanklikheid ernstig opneem. Die twee onlangse beslissings het die ANC tot in sy fondament geruk.

Dis geen wonder nie dat Zuma in die naweek in Mamelodi buite Pretoria gesê het dis nodig dat die ANC ’n tweederde-meerderheid moet kry, want dis die enigste manier waarop die land verander kan word. Wat hy eintlik bedoel het, is deur dié woorde verklap: “Deur vir die ANC te stem om meer mag te hê om te verander wat ons as ’n hindernis beskou, is absoluut belangrik.”

Dis duidelik dat hy na die Grondwet self verwys het. Die Grondwet is vir die president ’n “hindernis”.

Dié diagnose is, ironies genoeg, 100% in die kol. Die Grondwet maak dit vir Zuma en die ANC besonder moeilik om die ongebreidelde mag uit te oefen wat hy graag wil hê – nie meer ter inwerkingstelling van wat nog van sy sosialistiese ideologie oorgebly het nie, maar eenvoudig vir selfverryking.

Dít, terloops, is ’n goeie antwoord vir diegene wat meen ons Grondwet is niks werd nie. Natuurlik is die Grondwet ver van volmaak, maar dis nou eenmaal die een waarmee ons moet werk, en dit vorm dikwels ’n heel nuttige wapen vir die burgerlike samelewing teen die staat se almag.

Dit beteken nie dat alles nou uitstekend is en dat ons gerus kan gaan slaap nie. Inteendeel, as daar één ding is wat my bekommerd maak, is dit dat Zuma en sy kornuite ongetwyfeld woes aan die planne beraam is om die Grondwet te omseil.

Sy plan A is om ’n tweederde-meerderheid te kry sodat die Grondwet gewysig kan word. Elkeen wat iets van die Suid-Afrikaanse politiek weet, sal begryp dat die kans daarop minimaal is.

Met die gevolg dat ’n mens verkiesings vorentoe met arendsoë sal moet monitor. Verwag maar pogings om te kierang en te intimideer dat die biesies bewe.

Nog iets wat sonder twyfel gaan gebeur, is dat Zuma een van sy ondersteuners as Madonsela se opvolger gaan aanstel wanneer haar termyn later vanjaar ten einde loop. En kyk maar mooi, die regering gaan ook die regbank subtiel – en dalk minder subtiel – op allerlei maniere probeer manipuleer om verleenthede soos die laaste twee uitsprake vorentoe te vermy.

Dit laat die laaste skans: die burgerlike samelewing.

Laat dit nou net die week wees waartydens Internasionale Persvryheidsdag gevier word! Sonder om die prominente rol van aktivistiese organisasies soos AfriForum vir ’n enkele oomblik te ontken, speel die media – ja, ook die Afrikaanse koerante waarteen regses soms so vloek en skel – ’n onvervangbare rol. Dink bietjie verder, aan die stand van jou en my vryheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vaalseun

In die kol, Leopold. Stalin het gesê, “The people who cast the votes, decide nothing. The people who count the votes, decide everything.” Ons het in 1994 stembokse uit Soweto gekry om te tel waarin die stembriewe netjies ingepak was – almal vir die ANC.

Bernard

En nog steeds vee zuma sy agterent aan almal en alles af. Hy glo hy is onaantasbaar.

Penellope Jones

Daar sal dalk niks van kom nie. Sal heelmoontlik die pad loop van die Konstitutionele Hof se uitspraak rakende Nkandla – ‘n verskoning van een of ander aard en “apologie” net om dan saggies so tussen neus en mond te verdwyn.

Hendrik

Die meerderheid gaan nog steeds vir hom stem en die ander klomp gaan vir die EFF stem. Die ouens wat dink hulle gaan die bogenoemde meerderheid uitstem gaan vir die DA stem.

John

Die een tekortkoming in die grondwet, nl. dat die president nie in die pad gesteek kan word nie, is die crux in die hele sage rondom die president se skotteljons in die land se goudpot. Dis moeilik om uit die pot te klim en moeiliker om ‘n glibberige kalant daarin vas te vat. Stemdag in Augustus, gaan ‘n verreikende uitwerking op die land he. Die bakleiery tussen die unies en die nuwe bravado van die EFF gee verdere momentum aan die spulletjie. Die probleme rondom adresse vir kiesers, gaan erge misverstande meebring. As die VSA se inwonders nie eers hul… Lees meer »