Help baklei teen landboumeesterplan

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA (Foto: Maroela Media)

Na ’n proses van ongeveer 18 maande het sekere rolspelers die oggend voor die minister van landbou haar begroting aangebied het, ’n nuwe landbouplan, naamlik die “Agricultural Agro Processing Masterplan” (AAMP) onderteken. TLU SA was deel van die proses, of sou die beter bewoording eerder wees TLU SA het gepoog om deel van die proses te wees.

Van meet af was dit duidelik dat die ANC se transformasie-agenda – soos met alle vorige pogings van planne – die fondament sal wees.

TLU SA se insette het deurentyd gepoog om die ekonomiese beginsels te vestig as die fondament waarop die plan geskoei moet wees. Die markkragbeginsels het inderdaad die laaste sê wanneer dit by enige ekonomiese aktiwiteit kom soos wat landbou inderdaad dan ook is. Wanneer enige onderneming, soos bv. ʼn plaas, nie die markkragtoets slaag nie, sal mislukking die noodwendige gevolg wees.

’n Verskeidenheid aspekte is ter sprake wat in ’n bepaalde sinergie funksioneer en indien die aspekte nie hul rol korrek vervul nie, kan daar nie sukses wees nie. Selfs lande word getoets aan hierdie aspekte en Suid-Afrika is reeds voor Covid-19 ons getref het, afgegradeer na rommelstatus. Dit is inderdaad die prys wat betaal word indien ’n regering se beleidsomgewing nie die ekonomiese toets, maar ook ander aspekte soos ʼn veilige omgewing, slaag nie.

Reeds gedurende Mei verlede jaar het TLU SA ʼn voorlegging van 10 bladsye aan al die ander rolspelers in die waardeketting, sowel as die fasiliteerder van die AAMP-proses, deurgegee waarin die gevaar van transformasie, soos wat die ANC dit sedert 1994 ingefaseer het, uitgewys is.

Verskeie van die rolspelers in die waardeketting is met persoonlike besoeke ook gewys op die gevaar om ongekwalifiseerd die begrip transformasie te akkommodeer as ’n fondament waarop die plan geskoei sal wees. Verskeie aspekte, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), gelyke indiensneming, regstellende aksie, kaderontplooiing, grondhervorming en onteiening sonder vergoeding, is aspekte van ANC-beleid wat saamgevat kan word onder die begrip transformasie.

Om die resultate van transformasie te sien, is net om rondom ons te kyk en te sien hoe lyk Suid-Afrika vandag nadat die ANC in 1994 ’n werkende land in vele opsigte ontvang het. Om na staatsinstellings soos Denel, Eskom, die spoorweë, munisipaliteite, die SAPD, die SANW en infrastruktuur te kyk, kan die resultate van transformasie gesien word.

Die vraag kan tereg gevra word of daar een ding uitgewys kan word wat vandag beter funksioneer as wat die geval was toe die ANC dit op ’n skinkbord in ’n werkende toestand ontvang het.

Werkloosheid styg onder sy beleidsomgewing en die gepaardgaande armoede is ’n tydbom waarop ons sit, waarvoor dit blyk hy geen begrip het oor wat die enigste oplossing kan wees nie, naamlik dat die ekonomie moet groei.

Met sy beleidsrigting en veral kaderontplooiing waar kundigheid nie ter sprake is by aanstellings nie, is die kans vir ekonomiese groei feitlik nul en dan kan ’n endemiese korrupsie-kultuur daarby gevoeg word. Dit word betreur dat daar tydens verskeie geleenthede deur TLU SA, maar ook soveel ander rolspelers, beklemtoon is wat nodig is vir ekonomiese groei. Ten spyte daarvan volhard hy steeds op sy vernietigende pad om Suid-Afrika met ’n ideologie te verswelg, wat wêreldwyd nog net mislukking en armoede teweeggebring het.

Wêreldwyd is die lande wat hoofsaaklik welvaart skep diegene wat die beginsel van privaatbesitreg en ’n markgerigte ekonomie nastreef. Hulle ondervind uiteraard ook bepaalde probleme, maar anders as die model wat die ANC nastreef wat net armoede oplewer, is daar wel geleentheid vir welvaartskepping.

Dit is ’n feit dat indien ’n beginsel slegs 1% gebreek word, is die gesprekke daarna nie meer ’n beginselgesprek nie, maar dan word dit ʼn “persentasiegesprek”. Die toepassing van die ANC se transformasiebeleid breek hierdie beginsels. Dit lei daartoe dat een van die kernbelangrike aspekte vir die ekonomie om te groei, naamlik vertroue, ernstig benadeel word.

Dit is daarom hartseer dat die landbou-waardeketting die geleentheid gemis het om met die sterk wringkrag waaroor ons beskik, ’n ekonomies-gedrewe plan daar te kon stel waar mislukte politiek en ideologie eenkant neergesit sou kon word. Na vele pleidooie om ons standpunt te laat geld, blyk dit sover ons kon vasstel dat TLU SA die enigste instansie in die waardeketting is wat nie die plan afgeteken het nie. Daar is wel ander rolspelers in die waardeketting wat nie die geleentheid gehad het om deel te neem nie.

Die oomblik wanneer TLU SA deur al die jare ʼn ekonomies korrekte standpunt inneem en die ander rolspelers polities korrek optree, word ons beskuldig dat ons dan sogenaamd “regs” is. As dit dan so moet wees dat ekonomies volhoubare standpunte regs is, moet ons dan sommer verregs genoem word. Die politiese korrekte ondersteuning het ons land gebring tot waar ons ons tans bevind.

Suid-Afrika se inwoners kan die ANC se beleid nie verder bekostig nie. Die uitkoms daarvan is besig om elke inwoner in die land, en veral die jeug se toekoms, van hulle te steel. Wanneer rolspelers dan enigsins ondersteuning gee aan juis dit wat alles vernietig, naamlik transformasie soos wat dit toegepas word deur die ANC, veroorsaak dit gewis ’n klip in die skoen.

Reeds in 2005 het TLU SA ’n ekonomies‑gedrewe plan aan die ANC-regering voorgelê waarin enige nuwe toetreder wat graag wil boer, maar ook die verantwoordelikheid wat dit verg om te kan boer aanvaar, ’n billike geleentheid gegee sou kon word om betrokke te raak.

Geen bestaande produsent sou enigsins bedreig word anders as deur normale markkragte nie, soos dit hoort. Dit is anders as die wyse wat die ANC dit toepas, wat volgens sy eie erkenning ongeveer 95% mislukking veroorsaak met die dat die grond uit produksie gaan.

Elke verbruiker moet die vraag vra wat die transformasie-agenda se impak op voedselsekerheid is. Dit bring mee dat hierdie nuwe plan se uitkoms inderdaad ook die verbruikers gaan raak ten opsigte van beskikbaarheid en die prys van voedsel. Hierdie plan is inderdaad nie net ’n landbou-probleem nie, maar is ’n Suid-Afrika-probleem.

Enige landbouplan behoort te begin by die primêre produsente wat kos op die tafel van verbruikers plaas. Winsgewendheid by produsente veroorsaak volhoubaarheid en dit moet die fokus wees. Die produsente en die verbruikers is die belangrike rolspelers in die hele landbou‑waardeketting. Indien die twee nie daar was nie, het die ander rolspelers, wat gewis ook ’n belangrike rol vertolk, geen werk gehad nie.

Met ongeveer 68% van ons land se inwoners wat verstedelik het en inaggenome die belangrike rol wat voedsel speel om die ratte van elke ander instansie ook aan die beweeg te hou, kom ʼn mens by die besef dat ons produserende kommersiële boere die grootste bate is waaroor ons land beskik. Neem alle kos weg en daar sal dan vinnig besef word wat die waarde van ’n boer is.

TLU SA en die landbou-organisasie Saai het reeds gesprek gevoer en met die besef dat voedselsekerheid te belangrik is om op ’n onverantwoordelike transformasieweg daarmee om te gaan, gaan ons voort om alle moontlike middele in te span om ’n ekonomies volhoubare plan daar te stel. Daar is steeds geleentheid vir selfs diegene wat dit onderteken het, om ook aan boord te kom.

Individuele boere, verbruikers en instansies of organisasies wat dit erns het om seker te maak dat landbou kan leef sodat Suid-Afrika kan leef, kan gerus hulle hand opsteek en kom meedoen aan die daarstel van ’n ekonomies‑gedrewe landbouplan – ons is dit aan onsself en aan ons nageslag verskuldig.

Indien iemand graag die AAMP soos onderteken, wil bekom of betrokke wil raak om insette te gee, kan hul gerus ’n e-pos stuur na [email protected].

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.