Help só saam besluit oor die toekoms van ons Grondwet

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Verlede week het my goeie vriend prof. Koos Malan, staatsregsgeleerde, ’n prikkelende en baie reguit artikel oor die Grondwet geskryf, soos ’n mens van hom gewoond is. Dit vorm deel van ’n reeks van vyf, wat almal op Maroela Media gepubliseer word.

Ek wil vandag vriendelike kommentaar by die eerste gee en voorstelle doen oor wat hy dalk vir dié wat nog kom, kan oorweeg.

Malan se basiese standpunt kom daarop neer dat die Grondwet se waarde eintlik taamlik na aan nul is. Hy wys nie soseer gebreke in die dokument self uit nie (miskien kom dit nog), maar grond dit op die stelling dat die ANC hom in die praktyk eenvoudig nie daaraan steur nie. Die Grondwet hou nie stand teen die stormwinde in die politieke kragveld nie, is sy standpunt, as ek hom reg begryp.

Met baie – selfs die meeste – in die artikel kan ek saamstem. Malan is reg as hy sê die ANC het die tussentydse Grondwet van 1994 en die “finale” een in 1996 nie as eindpunt gesien nie, maar as (my woorde) ’n tussenstasie op die spoor na totale beheer oor die land.

Wat dit impliseer, is dat die fout nie primêr by die Grondwet lê nie, maar by die ANC. (Waarmee hy terloops saamstem met die standpunt wat die FW de Klerk-Stigting al herhaaldelik gemaak het.)

Wat is ’n grondwet? Baie antwoorde is moontlik, soos dat dit die struktuur van die staat en die regering bepaal, ensovoorts.

Maar as jy dit tot sy diepste kern reduseer, is dit eenvoudig die basiese waardes en reëls waarop ’n gemeenskap sy kollektiewe organisasie baseer. ’n Sosiale kontrak, as jy dit só wil noem.

Dit behoort die minimum van konsensus in ’n samelewing te reflekteer. Selfs al bevredig dit nie almal 100% nie, is dit – as dit goed is – die minimum waarmee ’n oorweldigende meerderheid van die bevolking moet kan saamleef.

Hierdie benadering het verskeie belangrike implikasies.

Ten eerste: Soos alle kontrakte en dokumente is ’n grondwet ’n dooie stuk gedrukte papier sonder enige mag. As ’n sterk groep in die samelewing daarop uit is om dié stuk papier minagtend eenkant toe te skuif en te maak soos hy wil, is daar niks wat die papier daarteen kan doen nie.

Die tweede vloei hieruit voort. ’n Grondwet kan dan geen mág hê nie, maar hy kan, as dit goed is, wel geság hê.

Daardie gesag moet wye aanvaarding in die samelewing geniet. Met ander woorde, mense moet insien dat die grondwet (ondanks die gebreke) netto in hul voordeel is, en dat hulle sónder die dokument – en alles wat daarmee saamhang – aansienlik slegter daaraan toe sal wees.

Daar is niks mee verkeerd om, hetsy uit akademiese of polities-aktivistiese oorwegings, op gebreke in die grondwet te wys nie (ek gaan dit self in dié artikel doen). Maar jy kan dit op twee maniere doen: Jy kan die hele grondslag waarop die grondwet berus, met sy gebreke en al, verwerp. Of jy kan opbouend wees, die leemtes uitwys en ’n konsensus probeer bou om dit te verbeter.

Kom ons kyk nou inderdaad na óns Grondwet.

Op 12 November 2014 het die destyds aftredende adjunk-hoofregter, Dikgang Moseneke, ’n toespraak gehou wat eintlik deur elke staatsregsgeleerde en politieke wetenskaplike gelees moet word. Hy het die Grondwet beskryf as “our joint and minimum ideological and normative choices of what a good society should be”.

Dié morele idealisme het Moseneke nie verblind nie. Nadat hy ’n klomp goeie dinge opgenoem het wat die howe danksy die Grondwet kon regkry, het hy – as ek kortpad kan vat – basies gesê die dokument ken te veel mag aan die president en die kabinet toe (bll. 16-18 van sy toespraak), en ’n klomp voorbeelde genoem. Dit het veral gegaan oor die aanstelling van mense in sleutelposte.

Ter illustrasie het hy vertel dat daar tydens die grondwetlike onderhandelinge verskil van mening was oor wie mense in openbare ampte mag aanstel. Destyds was die onderhandelende partye “happy to leave the power in the incumbent President, Nelson Mandela. He, after all, will do the right thing”. (Waaruit blyk dat Moseneke dit self ’n naïewe houding gevind het.)

Dis opgevolg deur die veelseggende vraag “whether the democratic project will be best served by a powerful central executive authority”. Nog sterker was die stelling wat hy vóór die voorbeelde gemaak het: “I suggest that in the next two decades we may have to revisit the dispersal of public power.

Daar is ook ander leemtes. Die ruimte wat vir die misbruik van regstellende aksie gelaat word, is eenvoudig te groot. Die beskerming wat vir Afrikaans en ander minderheidstale as openbare tale gebied word, is weer veels te klein.

Daar is geen behoorlike beskerming van minderheidsregte nie – en let wel, dit word hier nié bedoel as ’n kodewoord vir rassisme en apartheid nie. Immers, as ’n grondwet wye aanvaarding wil geniet, moet hy álmal dien, nie net sommige nie (dit was die fout van apartheid).

Nou kom ons by enkele voorstelle wat ek in alle vriendelikheid aan kritici van die huidige Grondwet aan die hand wil doen.

Ten eerste, kritiseer soos julle wil. Maar moenie die fondament waarop die Grondwet rus – regstaatlikheid – aantas nie. Moenie die baba saam met die badwater weggooi nie.

Onthou altyd: In die huidige krisis waardeur ons land gaan, bly daardie Grondwet, met sy onbetwisbare gebreke en al, ’n belangrike wapen in ons hand om Zuma-hulle se korrupsie en magsmisbruik te beveg.

Natuurlik is méér nodig. Maar al het Solidariteit en AfriForum se regsake nie almal geslaag nie, het ’n hele aantal wel welslae gehad – en daarmee het die ANC ’n paar gevoelige klappe in die gesig gekry.

Dis daardie vermaledyde Grondwet wat tussen ons en ’n openlike Zuma-diktatuur staan.

Die tweede aanbeveling spruit uit die eerste.

Dis nie voldoende om te kritiseer nie. Dís maklik. Dis die maklikste ding in die wêreld om FW de Klerk ’n verraaier te noem en die Grondwet te verwerp (nie dat Malan dit gedoen het nie).

Daarmee bereik jy net mooi niks. Kom liewer met konkrete voorstelle oor hoe om die Grondwet te verbeter.

Dit sal enersyds inhoudelike voorstelle moet wees, maar andersyds ook oor die roete wat ons na daardie bestemming moet voer. En dít, my vriende, gaan moeilik wees.

Dáárvoor het ons konstruktiewe denke nodig, nie afbrekende kritiek nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Ek wou nog sê ·

Ons Grondwet is goed maar soos die skrywer se met tekorte. Ek dink dit moet aangepas word soos die Swis stelsel wat werk.
Sal graag julle sienswyse wil lees.
Groetnis.

Eish ·

Baie goeie artikel, dankie. Ons gewone mense, die
“stemvee” soos een kommentator ons noem, wat elke dag in die vuurlyn die bloedprys betaal vir die regering se blatante ignorering van die grondwet vir sy eie duistere motiewe, is ongelukkig slegs op ons kritiek aangewese as uitlaatklep vir ons frustrasies. Die voer van die die stryd om sinvolle wysigings aan die grondwet is juis vir mense soos u en u kollegas. Dis hoekom ek my motor deur n gekwalifiseerde persoon laat diens by die fabrikaat se dienssentrum, dis hoekom ek en rekenmeester my besigheid se boeke laat doen en n dokter gaan sien indien ek ongesteld is en selfmedikasie geen positiewe resultate lewer nie. Kritiek is wel belangrik, want dit gee die belewing van burgerskap van die helhool in geen onduidelike taal, effektief deur.

John ·

Ons Afrikaners het toegelaat dat ons skippie na oorlewing vir na 1994 geleidelik knus in ‘n bottel met ‘n nou nekkie oorgebou word. Om uit se seil is net ‘n droom tensy dit weer stukkie vir stukkie afgebreek of die bottel gebreek word. Planne en voorstelle is 25 jaar te laat…

Ou Regsgeleerde Ystervark ·

Beste Leopold, Baie goeie opbouende kommentaar van jou. Hou asseblief vol daarmee.

Graag maak ek die volgende voorstel, naamlik dat al die Suid-Afrikaanse hooggeleerdes in konstitusionele reg onverwyld ‘n indaba hou en pro-aktief onverwyld ‘n konsep grondwet opstel wat kan dien as vertrekpunt of basislyn vir verdere gesprekvoerig oor ‘n “#Konsep Post 2019 Grondwet” Betrek ook ander regskundiges uit die buiteland. Betrek alle regstudente en politieke kommentatore om ook kreatiewe voorstelle in te dien vir ‘n wen-grondwet. Wat ‘n pragtige uitdaging aan ons konstitusionele regsgeleerdes om ‘n gesamentlike opbouende bydrae tot ‘n beter Suid-Afrika te lewer! Nou is die tyd om die saad te plant!

Boela ·

Met liberale en anti-Afrikaner konstitusionele regs’geleerdes’ soos De Vos en kie is jou voorstel gedoem. Dieselfde geld vir politieke kommentators (ek noem hulle eerder wispelturige manteldraaiers) soos Du Preez en Croucamp. Dink jy werklik hulle, tesame met #Rhodes/Fees/Alles must fall regstudente sal ‘n konstruktiewe bydrae tot die grondwetlike beskerming van, onder andere, minderheidsregte kan lewer? Droom voort, Ystervark!

Therese van Schalkwyk ·

“Daar is geen behoorlike beskerming van minderheidsregte nie” …
een van die leemtes in die Grondwet soos aangedui deur dr. Scholtz.

Hiérdie “leemte” alléén behoort alle grondwetkenners in Suid-Afrika, maar verál die kinderlik gelowige NP-grondwetlike onderhandelaars, slapelose nagte te gee.
Die beskerming van minderheidsregte in SA post 1994 moes tog as van die allergróótste belang beskou word gegewe die posisie waarin ons onsself bevind het, en die beloftes gemaak deur ons leiers.

Alle kritiek is dus welverdiend. Of die “leemtes” reggestel kan word, is sterk te betwyfel.

Sal prof. Koos Malan se opvolgartikels in die grondwet-reeks met groot belangstelling volg.

Vaalseun ·

Baie dankie vir jou insigte, Leopold, en dié van die ander kommentators. Die Presidensiële Infrastruktuur Koördineringskommissie bestaan net uit lede vanuit polities aangestelde poste soos nasionale ministers, premiers en uitvoerende burgemeesters – geen lede vanuit die professies, bedryfsektore of belangegroepe nie. Nêrens in die Grondwet word die vermoë om die regte wat die Grondwet belowe, erken en gekoppel aan die insette, ondersteuning, behoeftes, ontwikkeling, onafhanklikheid en beskerming van al die verskillende professies wat dit uiteraard moet lewer nie. Grondwette wat veronderstel is om te lei tot ‘n suksesvolle ekonomie en maatskaplike verbetering, is min werd in lande waar die Grondwet nie ook onafhanklike navorsing en konseptualisering van oplossings deur die professionele en tegniese beroepslui in die staats departemente en privaatsektore vereis, aanmoedig, erken en die aanwending daarvan verplig nie.

Stephan de S ·

Goeie inligtende artikel maar voordat Ystervark se voorstel van n konsep grondwet daadwerklik praktiese beslag kry, moet ons net eers besin oor die invloed wat dit sal he maw wie gaan daarvan kennis neem , wie gaan dit ernstig opneem? Sal dit nie maar net n oefening in futiliteit wees nie? Kan Leopold en Ystervark vir ons beduie wat die praktiese waarde daarvan kan wees. Totdat die vraag beantwoord is , bly Eish se kommentaar baie sinvol.

Kobus ·

Net een gedeelte van die gronwet wat op die lang termein werkbaar is:

235. Self-determination

The right of the South African people as a whole to self-determination, as manifested in this Constitution, does not preclude, within the framework of this right, recognition of the notion of the right of self-determination of any community sharing a common cultural and language heritage, within a territorial entity in the Republic or in any other way, determined by national legislation.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.